Die Groot Geloofswoordeboek: Manlikheid van God

Die Groot Geloofswoordeboek: Manlikheid van God

Manlikheid van God

Die vraag of God manlik is, is deur die feministiese teologie (*Fe­minisme) op die tafel gesit. Hierdie vraag is gebore uit die hart van vrouens wat vra hoe dit is dat almal wat in die Bybel belangrik is, mans is: konings, profete, priesters, Bybelskrywers, Jesus, die dissipels. Ons hoor net van die aartsvaders, van Abraham, Isak en Jakob, en nooit van enige aartsmoeders nie. En God self word manlik voorgestel.

Die kerk het die Bybel hierin gevolg: net mans kan priesters wees in die Katolieke Kerk, net mans kon eeue lank predikante wees in die meeste ander kerke. Wat sê dit vir die selfbeeld van vrouens? Moet hulle net deur die genade van mans leef? As God manlik is, ken Hy die gevoelens van vrouens? Kan Hy hulle verstaan? Daar is selfs radikale feministe wat die Christelike geloof afgesweer het omdat hulle oortuig is dat dit ongeneeslik mansgesentreerd is (an­drosentries, patriargaal). Die Katolieke Kerk hou inderdaad nog vas aan sy leer dat net mans priesters mag word omdat ‘n priester God moet verteenwoordig en God manlik sou wees.

‘n Mens moet versigtig wees met die gedagte dat God manlik is. Dis inderdaad waar dat God in die Bybel oorwegend manlik voor­gestel word, maar nie uitsluitlik nie. Daar word inderdaad meestal in manlike terme na God verwys (Vader, Koning, Hy), en Jesus wat Hom openbaar, is ‘n man. Ook na die Gees word in manlike terme verwys.

Maar daar word ook in vroulike terme na God verwys. Een van die mooiste beelde vir God is dat Hy vir ons sorg soos ‘n vrou vir haar kinders. Die verwysing in Deuteronomium 32:18 is merkwaar­dig, veral in die 1953-vertaling. In een enkele vers word God met ‘n vader én ‘n moeder vergelyk: die vader wat die kind verwek, en die moeder wat aan die kind geboorte gee. Die 1983-vertaling gee die Hebreeus ongelukkig nie volledig weer nie.

Verder word God vergelyk met ‘n ma wat nooit haar baba sal vergeet nie (Jes 49:15), en met ‘n ma wat haar kind veilig laat voel (Ps 131:2; Jes 66:13). Die sorg van die Here vir Israel tydens die woestyntog weerspieël die rol van die vrou wat aan die gesin kos en water voorsien. Hierdie sorg word spesifiek uitgedruk as Moses teenoor die Here kla: “Het ek dan swanger geword en hierdie hele volk in die wêreld gebring?” (Num 11:12). Die impli­kasie is duidelik dat die Here dit gedoen het; dus nogeens ‘n vroulike beeld. Elders lees ons dat die Here sê: “Ek self het Efraim leer loop, Ek het hulle op my arms gedra” (Hos 11:3) – ook beelde van ‘n vrou.

Jesus self word met die wysheid vereenselwig wat ‘n vroulike figuur is (Spr 8:1). ‘n Uitspraak wat volgens Lukas 11:49 deur die wysheid gemaak is, word in Matteus 23:34 aan Jesus toegeskryf. En elders (11:19) verwys Matteus na Jesus met die woorde: “Maar die wysheid is geregverdig deur haar werke,” ‘n sin wat ongelukkig glad nie herkenbaar is in die 1983-vertaling nie. Dit gebeur ook in Lukas 7:35 wat net so vreemd vertaal is. Jesus word dus met die vroulike wysheid gelykgestel.

Daar is ‘n laaste saak wat in hierdie verband belangrik is. Daar is ‘n taamlik algemene oortuiging dat mans en vrouens ver­skil­lende eienskappe het. Daar sou so iets wees soos ‘n algemeen manlike natuur, en ‘n algemeen vroulike natuur, al sal almal na­tuur­lik erken dat daar kleiner uitsonderings is. Mans sou dan ver­standsmense wees: vinnig, kreatief, vol inisiatief, hulle wil leiding neem, is in­gestel op mag en is mededingend, hul­le het teg­nologiese aanleg en ana­litiese denke. Vrouens sou ge­voels­mense wees: spontaan en kom­mu­nikatief, vol liefde, ver­draag­samer, hulle kan makliker ver­geef en vergeet.

Kom ons aanvaar vir die oomblik dat dit waar is. Watter van hierdie eienskappe sou ons die maklikste in God herken? Baie mense sal dadelik dink aan die manlike eienskappe van mag, inisiatief, leiding, kreatiwiteit, konfrontasie (Jesus teenoor die Fariseërs en bose magte). En daar kan min diskussie hieroor wees.

Maar wat van liefde, verdraagsaamheid, kommunikasie, ver­gifnis? Is dit nie net so belangrik, of dalk belangriker eienskappe van God nie? Is God nie manlik én vroulik as ons in hierdie ter­me aan Hom dink nie? Is sy een “kant” nie net so belangrik as sy ander “kant” nie? En is die een nie volkome afhanklik van die ander nie? Sê nou God het net mag en inisiatief gehad, en nie liefde en ver­draagsaamheid nie? Dit sou ‘n verskrikking gewees het.

Miskien is dit die beste om te aanvaar dat God wel “manlike” en “vroulike” eienskappe het, maar nie manlik of vroulik is nie, maar eenvoudig nie geslagtelik nie (beyond gender). Daar word trouens ook nie in die Bybel enige seksualiteit aan Hom toegeskryf nie, selfs al word sy verhouding met ons dikwels in terme van die huweliksverhouding uitgedruk.

In die Bybel word om ‘n paar redes oorwegend in manlike terme na God verwys. Eerstens is taal nou eenmaal so dat ‘n mens net in óf manlike óf vroulike terme na ‘n mens kan verwys, en nie in beide of in onsydige terme nie. God is nie ‘n “dit” nie. Omdat Israel in ‘n androsentriese (mansgesentreerde) same­le­wing geleef het, was dit vanselfsprekend dat hulle na God as manlik sou verwys. En verder kan ‘n mens ook aanvaar dat hulle inderdaad aan God as ‘n man gedink het. Maar dis nie deel van die boodskap van die Bybel nie. Geen faset van sy werk of ons heil word aan sy manlikheid verbind nie. Dit is eenvoudig deel van die kultuur van die tyd, net soos die ondergeskikte rol van die vrou. (*Onderdanigheid van die vrou, *Woord as titel vir Jesus)

 

Skrywer: Prof Adrio König