Die Groot Geloofswoordeboek: Sinoptiese evangelies
Sinoptiese Evangelies
Matteus, Markus en Lukas word die Sinoptiese Evangelies genoem. Die woord “sinopties” is afgelei van ‘n Griekse woord wat “saamkyk” beteken. Deur van die Sinoptiese Evangelies (ook Sinoptici genoem) te praat bedoel ons dat hulle saam na Jesus kyk, dat hulle ongeveer dieselfde oor Jesus skryf. Dit staan dan teenoor Johannes wat ander dinge beklemtoon. Johannes gee baie lang gesprekke weer tussen Jesus en die “Jode” (Joodse leiers). Die Sinoptici het nie sulke gesprekke nie, maar eerder meer geskiedenisse van wat Jesus gedoen het, baie meer wonderwerke, en veral meer duiweluitdrywings. Die Sinoptici noem net een besoek van Jesus aan Jerusalem, die een aan die einde toe Jesus daar gevang en gekruisig is, terwyl Johannes drie besoeke aan Jerusalem vermeld (2:13 ev; 5:1 ev; 7:10 ev). Dit beteken dat Jesus volgens Johannes die grootste deel van sy bediening in Jerusalem werk, terwyl Hy volgens die Sinoptici feitlik sy hele bediening in Galilea is.
In die opstandingsverhale kry ons nog ‘n goeie voorbeeld van die verskille. Die verhale van die Sinoptici stem in ‘n groot mate ooreen terwyl Johannes heeltemal sy eie verhaal oor die opstanding het. Die Sinoptici het dus “saam gekyk” na die lewe van Jesus. Dit beteken nie dat hulle alles presies dieselfde oor Jesus skryf nie, maar dat daar groot ooreenstemming tussen hulle is terwyl Johannes meer sy eie pad loop.
Oor die probleme wat die verskille in die Evangelies na vore bring, kyk by *Sinoptiese probleem.
Vandag word taamlik algemeen aanvaar dat Markus eerste geskryf is, en Matteus en Lukas sy Evangelie gebruik het toe hulle hulle Evangelies geskryf het. Lukas skryf ook uitdruklik dat hy van bronne gebruik gemaak het (1:1-4), en daar is inderdaad groot ooreenstemmings, soms selfs woordeliks, tussen Lukas, Matteus en Markus. Hulle het waarskynlik ook ‘n ander bron gebruik, die sogenaamde Q-bron, wat net ‘n lys uitsprake van Jesus bevat. Matteus was waarskynlik van hierdie bron afhanklik vir sy weergawe van die Bergrede (5-7). Maar dan is dit ook interessant om te kyk na elkeen se “eiegoed”, soos dit genoem word; dit wil sê die dinge wat nét Matteus het, en wat nét Lukas het.
Lukas het byvoorbeeld ‘n aantal verhale oor vrouens wat die ander twee nie het nie:
• die engel wat aan Maria verskyn (1:26 ev)
• Maria se besoek aan Elizabet (1:39-45) en haar loflied (1:46-56)
• die opwekking van die weduwee van Naïn se seun (7:11 ev)
• die straatvrou wat agter by Jesus se voete staan en huil (7:36 ev)
• vrouens wat vir Jesus gesorg het (8:1-3)
• Jesus se besoek by Marta en Maria (10:38-42)
• die vrou wat uitroep oor die bevoorregte vrou (11:27-28)
• die gebreklike vrou (13:10 ev)
• die gelykenis van die vrou en die verlore geldstuk (15:8-10)
• die gelykenis van die weduwee en die regter (18:1-8)
• Die vrouens wat saam loop en huil terwyl Jesus sy kruis dra (23:27-29)
Dit is regtig ‘n indrukwekkende lys. Dit is verreweg die grootste deel van die “eiegoed” van Lukas, waaruit ‘n mens kan aflei dat hy besondere belangstelling gehad het in die vrouens in Jesus se bediening. Waarom? Daar is mense wat oortuig is dat hy aan vrouens ‘n besondere plek wou gee en veral wou aantoon dat Jesus vrouens ‘n bepaalde plek en regte gegee het wat hulle nie in die Ou Testament en in die Joodse samelewing gehad het nie. (*Feminisme)
Daar word taamlik algemeen aanvaar dat hierdie drie Evangelies in die laat sestigerjare van die eerste eeu geskryf is, dus meer as 30 jaar na die opstanding van Jesus. Johannes is dalk nog baie later geskryf, dalk eers teen die einde van die eerste eeu.
Skrywer: Prof Adrio König