Moslem Advertensies – Hermie van Zyl

Gaby vra:

Ek stap gister in ‘n Woolworths winkel in en sien in hulle vertoonvenster ‘n kennisgewing: “We welcome all our Muslim clients and employees”.
Hoe reageer ek as Christen ? Vermy ek die winkel? Ons Christene is volgens my mening altyd stil en laat sulke opmerkings veels te maklik nou maar net verbygaan.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord

Ons het hier waarskynlik met ‘n amptelike beleidsbesluit by Woolworths te doen, want hierdie advertensies het ook al by takke in SA verskyn. Ek weet nie of die besluit dalk te make het met veranderinge in die bestuur of direksie van Woolworths nie. Dalk is daar nou Moslems onder hulle wat op hierdie strategie aandring. Of dalk het dit gewoon net te make met groter inklusiwiteit ter wille van goeie besigheid. Maar waarom dan Moslems spesifiek uitsonder vir verwelkoming? Het hulle gekla dat hulle nie welkom voel nie? Of was daar nie (genoeg) halaal-kos in die winkels nie?

Indien hierdie advertensies spruit uit doelbewuste propaganda vir die Islam-geloof (wat ek betwyfel), sal mens uiteraard die saak met die plaaslike Woolworthstak of met hulle hoofbestuur moet opneem. Ons leef immers in SA (én Namibië) in ‘n sogenaamd oorwegend Christelike gemeenskap, al is die staat in SA formeel sekulêr wat geen spesifieke godsdiens bevoordeel nie. Vanuit hierdie agtergrond kan mens dus ‘n saak daarvoor uitmaak dat sulke advertensies, wat Islam-aanhangers bevoordeel, aanstoot gee aan die sentimente van Christenkliënte.

Aan die ander kant moet mens nie oorboord gaan in jou reaksie nie. Nie net leef ons in ‘n land en in tye waar godsdiensvryheid en -verdraagsaamheid – om goeie redes – toenemend belangrik word nie, maar ons aanbid na alles ook ‘n God wat sy son laat skyn oor goeies en slegtes. En as dít waar is, kan ons seker ook die son, by wyse van spreke, bietjie laat skyn oor die aanhangers van ander godsdienste, al is hulle min in getal in SA/Namibië? Op hierdie manier sal ons waarskynlik meer wen as verloor. Mens wen nie harte deur “bloedige kruistogte” te voer nie, maar eerder deur die genadige en liefdeshart van God in jou optrede bekend te stel.

Maar dit is inderdaad ‘n sensitiewe aangeleentheid wat met omsigtigheid, wysheid en Christelike liefde hanteer moet word. Ek sou sê dat mens eers die feite op die tafel moet kry. Wat sit agter hierdie advertensies? Is hulle relatief onskuldig, of is daar ‘n verskuilde godsdienstige agenda? En dan moet mens met Woolworths in gesprek tree en die Christelike kant van die saak stel. Dis nie dat ons die aanhangers van die Islam-geloof nie ook alles gun wat ons vir onsself opeis nie, maar die speelveld moet net gelyk gemaak word. Woolworths sal dan ook pertinente Christelike advertensies moet toelaat, of die praktyk heeltemal staak. (Hulle sal waarskynlik sê dat hulle tydens die Christelike feesdae genoeg “propaganda” gee aan die Christelike geloof.) Feit van die saak is, Woolworths is ‘n openbare besigheid en hulle moet al hulle kliënte se sentimente in ag neem. Ons hoef dus nie skaam te wees om ons stem te verhef nie, maar ons moet net die “stryd” op ‘n manier voer wat die Naam van Christus nie in oneer bring nie.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl

 




Moslems vir Christus

The issue of faith is not so much whether we believe in God, but whether we believe the God we believe in. —R.C. Sproul

Moslems vir Christus

J. D. Greear (Breaking the Islam Code) sê dat Moslems wat tot geloof in Christus kom een van drie faktore noem vir hulle bekering.

Hulle kry ‘n Bybel. Argumente maak nie ‘n verskil nie – dit oortuig hulle nie om Christus te volg nie – hulle word net beter Moslems.

Vra hulle om, byvoorbeeld, die Evangelie volgens Johannes te lees. Wat help is blootstelling aan God se Woord. Die Woord is kragtig. Laat die Heilige Gees toe om die Bybel te gebruik om harte vir Christus te wen. Charles Spurgeon het altyd gesê die Bybel is soos ‘n leeu in ‘n hok – as dit aangeval word, hoef ons dit nie beskerm nie. Al wat ons moet doen is om dit los te laat.

Hulle sien die liefde in die geloofsgemeenskap. Die Moslem gemeenskap is naby aan mekaar, maar hierdie nabyheid is op skande en wederkerigheid gebou. As hulle hierdie gemeenskap verlaat, word hulle uitgewerp en vervolg. Christene bied vir hulle ‘n alternatiewe gemeenskap – een gebou op liefde, genade, aanvaarding en vergifnis. Dit is vir meeste Moslems iets vreemds. ‘n Goeie manier om dit vir Moslems te wys, is om hulle na jou huis te nooi. Francis Schaeffer het gesê: Love on display is the most effective apologetic.

‘n Droom of visioen. Baie van ons is skepties oor drome of visioene. Baie Moslems wat Christene word, doen dit as gevolg van ‘n droom of visioen. Ons weet nie hoekom nie, maar dit lyk asof God dikwels drome of visioene gebruik om Moslems te kry om dieper oor Christus na te dink.

Dit moet ons nederig maak, want dit laat ons besef dat die mag vir verlossing slegs van God kom. Bid vir en bid saam met jou Moslem vriende. Dan staan jy terug en laat God toe om sy werk te doen.




Gaan die Jode en die Moslems hel toe?

Gaan die Jode en die Moslems Hel toe? – Kobus Kok

Saartjie Bester vra:

Ek weet dat die enigste weg na God is deur Jesus, maar is dit werklik so dat God die Jode en Moslems sommer net in die Hel sal laat beland? Dis dan die grootste meerderheid van alle nasies?

Antwoord:

Gaan die Jode en die Moslems hel toe?

Sjoe, watter uitdagende vraag, Saartjie! Ek onthou toe ek ‘n seuntjie was, kon ek gewoon nie verstaan hoe dit werk dat God so lief vir die Jode was en hoe hy hulle uitgekies het, gered het, telkens vergewe het en dan skielik besluit hulle is nie meer sy kinders nie. Dit was vir my ook nog altyd moeilik om te verstaan. In my hart is ek baie lief vir die Jode en kry ek hulle dikwels so jammer as ek kyk na dit wat die wêreld met hulle maak.

So met die tyd, toe ek teologie studeer het, het ek al meer begin verstaan hoe die Bybel oor die saak dink. Die Bybel is tog vol van die tekens van die genadige, liefdevolle God. Dit is hierdie God wat ‘n leier soos Moses kies en die volk uit slawerny red. Dit is dieselfde God wat in Jona die mense van Nineve ‘n tweede kans gee toe hulle eintlik verwoes moes word. Selfs nie eers Jona het kans gesien om die liefdevolle hart van God aan die mense te openbaar nie, maar God het ander planne gehad. Hy het ‘n plan en ‘n hart vir mense. Dit is hierdie selfde God wat lief is vir Dawid, wat hom uithaal agter die lammers en hom die herder van Israel maak. Kort daarna in 2 Samuel 11 maak Dawid die fout van sy lewe, vermoor Batseba se man en slaap met haar. Die kindjie wat sy kry gaan tragies dood. Maar dan omskep God alles en die einste Batseba gee geboorte aan koning Salomo. Dawid se mees dwase besluit word omskep as die God van liefde en tweede kanse die wyse Salomo gebore laat word. Dit is hoe ek vir God leer ken in die Ou Testament. God is regverdig en hy straf, maar hy is ook oneindig liefdevol en Dawid skryf Psalm op Psalm waarin hy die grootheid en majesteit van hierdie God besing.

In die Nuwe Testament dieselfde. Volgens Paulus en Johannes is dit God wat die verkeerde mense lief het, vir my en vir jou. Dit is hy wat na ons toe kom toe ons nog vyande van Hom was en toe ons hom nie liefgehad het nie – toe ons op ons lelikste was het hy Sy liedevolle hand uitgestrek en ons na sy vaderhart getrek soos ‘n pa wat uitreik na sy kind (vgl. Romeine, Johannes 3:16).

Ongelukkig is ons telkens soos die kinders wat God se hand wegstoot, wat Hóm verwerp. In ons doen en late is ons diegene wat teen hom besluit. Soos ‘n vader wat in sy hart huil as sy kind hom verwerp, net so kan ek myself indink dat God huil oor die manier waarop ons hom wegstoot. Tog bly sy hande en sy hart oop. Iemand het eenmaal gesê: “If God feels far away, guess who moved?” Ongeloof is nie God se skuld nie. Dit is ons skuld. Richard Hays, ‘n bekende Nuwe Testamentiese geleerde, skryf dat met die koms van Jesus het daar ‘n reuse magnetiese veld die wêreld binne gekom. Mense word daarna óf aan die positiewe kant óf aan die negatiewe kant daarvan geposisioneer.

By bybelkennis.co.za gaan dit oor hoe die Bybel oor bepaalde sake dink. As ek die Bybel reg verstaan, deur die bril van die Nuwe Testament, is dit volgens iemand soos Johannes baie duidelik dat daar net een weg is na die God van die heelal, en dit is deur Jesus (vgl. Johannes 14:6). Johannes sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” Vir Johannes is daar buite Jesus geen redding nie en in sy evangelie is diegene wat Jesus verwerp, nie kinders van God nie (vgl. Johannes 8:44).

Miskien is dit die heel veiligste indien ons die vraag of Jode en Moslems en  ander nou hel toe gaan of nie eerder oorlaat aan die God van die Skepping. Omdat God, Gód is, en nie ‘n mens is nie, staan ek persoonlik in nederigheid voor Hom en vertrou Hom vir sy oordeel sonder om een oomblik te twyfel oor sy wysheid. As jong seun het so ‘n vraag my baie gepla, maar nou pla dit my nie meer nie omdat ek met my hele hart glo dat die God van die kosmos vol liefde, regverdig, genadig en volkome wys is, meer as wat ek kan bid of dink. Daarom rus ek in die wete dat Hy weet wat Hy doen. Sy karakter is onbetwisbaar…

Intussen lê die appèl op my en jou om die evangelie te versprei, juis omdat ons glo dat die evangelie, die boodskap van redding, bestem is om die almal te bereik en omdat dit Jesus se laaste opdrag in Matteus 28:19 was: “ 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” In Jesus se laaste woorde sien ek die liefde en die gerigtheid van God in aksie eerder as die oordeel. Dit moet uiteindelik ook ons hart en gesindheid wees!

Outeur: Dr Kobus Kok