Onsigbare dinge – Hermie van Zyl

Johan:

In Kolossense 1:16 praat Paulus van “alles wat nie gesien kan word nie”, maar in die Engelse New Living Translation (NLT) praat hulle van “kingdoms”. Beteken dit dat God ander koninkryke het behalwe die een waarvan ons leer in die Bybel?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Kolossense 1:15-20 is ’n hooglied op die allesoortreffende posisie van Christus ten opsigte van die skepping en die kerk. Nie net is Hy die Een deur wie God die skepping tot stand gebring het nie (v15-17), maar Hy is ook die Herskepper, die Hoof van die kerk, die Een deur wie God alles met Homself versoen het (v18-20).

Die vraag is verder waarom Paulus dit nodig vind om die unieke status en posisie van Christus in die skepping so te beklemtoon. Die rede vind ons in Kol 2:6-23 (veral v8,15-23). Uit hierdie verse lei ons af dat die Kolossense vasgevang was in die verering van onsigbare hemelmagte, waaronder engele (2:18). Die gevolg was dat die Kolossense Christus se posisie in die skepping nie na behore verstaan en geëer het nie. Hulle het minder van Hom gedink as wat hulle moes, en Hom gelykgestel met die engele en ander onsigbare hemelse magte, soos konings (letterlik: trone), heersers, maghebbers en gesagvoerders (1:16; vgl 2:15). Dis nie duidelik wie en wat hierdie trone, ensovoorts, was nie. Die meeste uitleggers sien dit as hemelwesens of hemelse kragte wat veral in Joodse kringe hoog aangeslaan is en belangrike posisies in die hemel sou beklee het. Van hierdie Jode het volgelinge van Christus geword en deel uitgemaak van die Christelike gemeente in Kolosse. Maar die gevaar was dat hulle Christus op een vlak met hierdie hemelse magte gestel het. Paulus wou dit toe aan hulle duidelik stel (met behulp van 1:15-20) dat Christus die unieke Seun van God, die sigbare beeld van God is (1:15). As sodanig heers Christus oor alles – sigbare én onsigbare dinge (1:16). En deel van hierdie onsigbare dinge is die konings, heersers, maghebbers en gesagvoerders waarvan ons in 1:16 lees. Dit is die hemelwesens waarvan ons hierbo gepraat het. Vertalers is dit egter nie altyd eens oor waarna die onderliggende Griekse begrippe verwys en hoe dit vertaal moet word nie. Daarom dat ’n vertaling soos die NLT die een term (kuriotētes) met “kingdoms” vertaal, maar die 1983-Afrikaanse Vertaling vertaal dit met “heersers”. Die pas vrygestelde 2020-Direkte Vertaling het weer “heersende magte”. Die punt is: Waarna dit ook al verwys en hoe mens dit ook al vertaal – hierdie hemelse magte / heersers is almal ondergeskik aan Christus. Hulle verbleek in die teenwoordigheid van die Seun, want Hy het hulle gemaak, hulle is sy dienaars, hulle is vir Hom geskep (1:16). Dit dien dus geen doel om hierdie skepsele te aanbid nie; die Een wat aanbid moet word, is die Seun, Jesus Christus.

’n Verdere kwessie is of hierdie hemelse magte goedaardig of vyandiggesind is. Soms wil dit lyk asof hulle vyandig is, soos in 2:15 waar Paulus daarvan praat dat Christus elke “mag en gesag” ontwapen en gevange geneem het. In 1:20 word in dieselfde trant gepraat – van God wat alles in hemel en op aarde met Homself versoen het; die implikasie is dat hulle vyandig is of ten minste van Hom vervreem is. Hier in 1:16 lyk dit egter eerder na goedaardige magte, want God Self het hulle geskep. En verder het Hy hulle vir – dit wil sê, tot voordeel en diens van – die Seun geskep. Hoe dit ook al sy, goedaardig of vyandiggesind, dit gaan oor onsigbare magte wat ’n mag uitoefen op die mens, in so ’n mate dat die mens daardeur geïntimideer word en graag in vrede daarmee wil leef. Vandaar die behoefte om die hemelse magte te vereer en te aanbid. En dit is hierdie dwaling onder die Kolossense wat deur Paulus bestry word.

Om saam te vat: Die NLT se “kingdoms” is maar net ’n poging om ’n moeilike begrip, wat ons nie eintlik weet waarna dit presies verwys nie, te vertaal. Dit gaan egter nie oor “ander koninkryke” naas die een waarvan ons in die Bybel lees nie. God het maar net een koninkryk – sy skepping, die kosmos – wat Hy deur Christus, sy Seun, regeer. Die begrippe in 1:16 verwys dus na onsigbare magte wat hoog aangeslaan is deur die Kolossense en deur hulle vereer of aanbid is, in plaas daarvan dat hulle Christus alleen aanbid het. Met Kol 1:15-20 wil Paulus dus die allesoortreffende posisie van die Seun teenoor hierdie onsigbare hemelse magte beklemtoon om sodoende die Kolossense van die dwaalspoor af te kry waarop hulle was.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Die Groot Geloofswoordeboek: Onsigbare/Sigbare Kerk

Die Groot Geloofswoordeboek: Onsigbare/Sigbare Kerk

Onsigbare kerk • Sigbare kerk

Daar is mense wat graag werk met hierdie onderskeid: sigbare en onsigbare kerk. Dit word gewoonlik so verstaan dat die sigbare kerk die amptelike ledetal van elke gemeente is, die boeklidmate. Die onsigbare kerk is die ware gelowiges. En die twee groepe is nie identies nie. Daar kan nie te veel fout gevind word met so ‘n onderskeid nie, behalwe dat dit nooit bedoel was om so te wees nie. Almal wat formeel aan die kerk behoort, is veronderstel om ge­lowiges te wees.

Dit word egter ‘n probleem as ‘n mens daaraan dink dat die eint­like kerk, die gelowiges, dan onsigbaar genoem word. Die be­doeling is natuurlik dat dit net onbekend is presies wie al­mal waar­lik gelowiges is. Maar dit kan tog nie met die woord “on­sig­baar” gedek word nie. Die gelowiges is tog juis sigbaar, of tenminste veronderstel om sigbaar te wees. Hulle moet hulle lig só laat skyn dat die mense hulle goeie werke sien en hulle Vader verheerlik (Matt 5:16). Dit maak dus nie goed sin om van ‘n onsigbare kerk as die eintlike kerk te praat nie. En die re­de vir hierdie probleem is een­vou­dig die anomalie dat mense op die boeke van die kerk staan, maar nie regtig aan die Here be­hoort nie. Met so ‘n onmoontlike si­tua­sie kan ‘n mens verwag om probleme te hê.

Hierdie probleme kom net na vore waar dit populêr is om aan die kerk te behoort. In die vroeë kerk het dit jou iets gekos, soms omtrent alles gekos.

Die verdere probleem is dat hierdie gedagte van ‘n onsigbare kerk dan gebruik word om te regverdig dat die kerk maar ver­deeld kan wees solank ons maar net in die onsigbaarheid een is: een in ons geloof en in ons verbondenheid aan die Here, al wil ons nie naby mekaar kom nie. Hiermee kom die ware motivering agter hier­die vreemde onderskeiding na vore: die onwilligheid om aan die Here gehoorsaam te wees en een gemeente te vorm tussen gelowiges wat kultureel of andersins van mekaar verskil.

Jesus self slaan die sigbaarheid van die kerk baie hoog aan. Ons sigbare eenheid moet die wêreld oortuig van Hom (Joh 17:20-23). En Paulus is oortuig dat ons eenheid net soveel ‘n vrug van die kruisdood van Jesus is as die vergifnis van ons sonde (Ef 2:16). Om van twee kerke te praat is net so sinloos as om van twee Gode en twee Christusse te praat.

 

Skrywer: Prof Adrio König