Oorlog – Jan van der Watt

Pieter vra:

Is oorlog tussen lande sonde?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

In die Nuwe Testament word passifisme sterk voorgestaan. Neem byvoorbeeld Openbaring: daar word nêrens gesê dat gelowiges wapens moet opneem as hulle vervolg word nie. Hulle enigste wapen is die Woord en die verkondiging daarvan (vgl. hf. 11). God sal verder sorg vir geregtigheid en oordeel en sal vir sy volk sorg (hf. 12 – nie een van hulle sal skade aangedoen word nie – hf. 14:1-3) – Jesus is immers altyd by sy gemeentes (hf. 2-3).

Jesus self neem nooit ’n wapen op om die Romeine omver te werp nie. As Petrus Malgus se oor afkap om Jesus te probeer beskerm, dat berispe Jesus hom en maak Malgus gesond. Ons lees ook nie van Paulus of Petrus wat geweld aanstig of oproep tot oorlog nie.

Dit is die een kant van die saak. Die ander kant is dat party meen dat Jesus self blykbaar geweld gebruik as Hy die handelaars met hulle diere met ’n swepie uit die tempel uitjaag (vgl. Joh 2:15). Sommige verklaarders meen egter dat die swepie nie vir die mense bedoel was nie, maar vir die diere, wat beteken dat Jesus nie so gewelddadig teenoor die mense was nie. Dit lyk moontlik omdat die Joodse ‘polisie’ Hom glad  nie keer nie. Die ander gedeeltes waarna mense wys om geweld te regverdig is dat Jesus sê Hy het nie vrede gebring nie, maar geweld en die swaard. Pa’s sal seuns oorgee om doodgemaak te word, en omgekeerd, ma’s hulle dogters ens. (vgl. Mat 10:27-36). Die gedeeltes verwys egter na ongelowige familielede wat gelowiges gaan vervolg en verwerp en nie omgekeerd nie. Gelowiges moet getrou bly aan Jesus te midde van sulke gedrag van die kant van die ongelowiges. 

Nou is daar verwysings na oorloë op plekke in die Nuwe Testament waar daar van die einde van die tyd gepraat word (bv. Mat 24:6; Mk 13:7-8). Dit sal tekens wees dat die einde van die tyd oppad is, hoewel dit nog nie die einde is nie. Dit is egter duidelik dat die oorloë nie die Christene is wat oorlog maak nie, maar dat dit tekens is van die bose wat net voor die laaste oordeel verwoed gaan losbars. Daarom word daar gesê dat die oorloë daar moet wees – eintlik was oorloë nog altyd daar omdat die wêreld nog altyd aan boosheid blootgestel is.

In die Ou Testament word daar baie van oorloë en gevegte gepraat. God beveel selfs sy volk om oorlog te maak teen volke wat teen God is. Met die koms van Jesus het die Vredevors egter gekom en sy volgelinge kom leer om in vrede en liefde met mekaar saam te leef. Hulle moet nie onder mekaar baklei nie (bv. Kol 3:12-17) en moet dus ook nie oorlog onder mekaar maak nie. Dit sou teen God se wil (en dus sonde) wees. As ongelowiges oorlog maak is dit onder andere ’n teken van hulle ongelowigheid en strewe om te heers en hulle mag te laat geld.

Nou moet genoem word dat teoloë deur die eeue in die kerk baie oor hierdie saak gedebateer het en die opinies het in alle rigtings gegaan. ’n Sterk siening is dat oorlog nie goed is nie, maar as ’n mens se lewe of besittings bedreig word, mag jy dit verdedig. Selfverdediging of om die slegte te beveg is dus volgens hierdie teoloë geregverdig. Jesus se dissipels dra wel twee swaarde, maar dit is vir selfverdediging en nie om met ander ‘oorlog te maak’ nie (Luk 22:38).

Om dus saam te vat: vanuit die perspektief van die Nuwe Testament moet gelowiges nie oorlog maak nie en moet hulle die wraak aan God oorlaat, veral as hulle as Christene vervolg word. Baie toeloë meen egter dat as jou lewe deur die ‘bose’ onregverdig bedreig word, het jy die reg om dit te beskerm.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Die Here se oorlog – Francois Malan

Annelize vra:

Waar staan die volgende in die Bybel asb?

Hierdie is nie julle oorlog nie maar Myne

 

Antwoord

Prof Francois Malan atwoord

In 2 Kronieke 20: 15 staan: ‘So sê die Here vir julle (mense van Juda en inwoners van Jerusalem): Moenie vrees nie, moenie bang wees vir hierdie groot menigte nie (Moabiete, Ammoniete, Meüniete van Edom af), want hierdie oorlog is nie ’n saak vir julle nie, maar vir God.’

Toe Josafat die berig kry van die groot menigte het hy in die hele Juda ’n vasdag uitgeroep om die hulp van die Here te vra, vgl. die gebed van Josafat in die tempel (2 Kron 20:5-12). Toe kom die Gees van die Here daar in die midde van die gemeente op die Levitiese sanger Jagasiël en hy kondig die woorde van die teks hierbo aan.

Daarna het Josafat en al die mense van Juda en Jerusalem voor die Here neergeval en Hom eer betoon en die Leviete-kore het die Here met hulle sang geprys.  Die res van hoofstuk 20 vertel dan hoe die Here hulle verlos het en hoe hulle die Here daarna weer geloof het.

Vergelyk ook 2 Kron 32:20-21 se kort opsomming van 2 Konings 18-19  se verhaal van Hiskia en die bedreiging van die Assiriërs en die Here se ingryping na Hiskia se gebed (2 Kon 19:35); en die Here se uitredding van Moses en Israel uit die hand van die Egiptenaars in Eks 14 (14:13-14).

In die Nuwe Testament word die groter ingryping van God besing dat Jesus, die Seun van God, self God, uit sy groot genade vir al die sonde van die wêreld kom sterf het om ons van die mag van die sonde en die dood, en die magte van die bose te kom verlos, wat ons bloot ontvang deur in Jesus te glo en Hom te volg.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Soldate in die Nuwe Testament

Soldate in die Nuwe Testament – Coen Slabber

Op die webblad is daar drie artikels oor oorlogvoering in die Ou Testamentiese tyd. In verskeie gedeeltes in die Nuwe Testament word daar ook na soldate verwys. As ons kyk na films wat handel oor gebeure van daardie tyd, kry ons amper die indruk dat daar ‘n soldaat op elke straathoek was. Was dit so? Kom ons kyk eerstens na wat ons weet van soldate in Judea en Galilea in Jesus se tyd. Darna gaan ons kyk na tonele in die evangelies waarby soldate betrokke was.

Soldate in Judea en Galilea

Herodes die Grote: Sy persoonlike leër het bestaan uit Jode sowel as buitelandse huursoldate. Rome het drie legioene aan hom geleen. Hierdie legioene moes die invallers uit Parthië uitdryf. ‘n Legioen in die Romeinse leër het uit 3 000 tot 6 000 soldate bestaan. Teen die tyd van Jesus se geboorte het Herodes egter nie meer Romeinse troepe gehad nie. Hy het wel heelwat Joodse soldate gehad plus een eenheid (kohort) elk van huursoldate uit Duitsland, Gallië (die huidige Frankryk) en Thrasië (‘n antieke land geleë wes van die Swartsee en noord van die Egeïese See). ‘n Kohort het bestaan uit ses afdelings van 100 soldate elk. Herodes het wel ‘n paar Romeinse raadgewers en offisiere gehad.

Herodes Antipas. Hy het ook sy eie leër gehad. Ons weet egter min van sy leër – sy soldate was waarskynlike Jode en buitelandse huursoldate.

Pontius Pilatus. Sy setel was Sesarea Maritima, die provinsiale hoofstad van die Romeine. Daar was vier kohorte soldate en ‘n kavallerie. In Burg Antonia, in Jerusalem, was nog ‘n kohort gestasioneer. Hulle het die fort en die asenaal beskerm. Vir die groot Joodse feeste het die goewerneur na Jerusalem gereis. Daar het soldate saam met hom gekom. Hulle was tydelik in die Praetorium, die goewerneur se paleis, gestasioneer. Romeinse soldate het gewoonlik met vaandels, wat hulle gode vereer het, gereis. As hulle na Jerusalem gereis het, het hulle die vaandels agtergelaat, want die Romeine het probeer om die godsdienstige gebruike van die land waar hulle gestasioneer was, te eerbiedig. Hierdie soldate is hoofsaaklik in Sirië gewerf en hulle gebruikstaal was Grieks. Die senior offisiere was waarskynlik Italianers.

Die hoëpriester. Die Romeine het die hoëpriester toegelaat om Jerusalem en Judea te regeer. Die goewerneur het egter die hoëpriesters aangestel en verwyder en slegs die goewerneur kon die doodstraf instel. Die soldate van die hoëpriester se primêre taak was polisiëring, maar hulle kon ook die stad beskerm.

Met hierdie as algemene agtergrond kan ons nou kyk na tonele in die evangelies waarby soldate betrokke was.

Die soldate en Johannes die Doper (Lukas 3:14): Ons lees dat soldate na Johannes die Doper gekom het en hom uitgevra het. Omdat Johannes veral in Galilea opgetree het, was hierdie waarskynlik soldate van Herodes Antipas – Jode.

‘n Offisier kom na Jesus (Matteus 8:5 – 13): ‘n Offisier kom na Jesus. Hy vertel vir Jesus dat sy slaaf verlam is en baie pyn verduur. Hierdie was waarskynlik ‘n centurio – ‘n hoofman oor honderd. Dit is baie onwaarskynlik dat daar Romeinse soldate in Galilea, waar hierdie gebeurtenis plaasgevind het, gestasioneer was. Hierdie offisier was waarskunlik ‘n nie-Joodse huursoldaat en offisier in die leër van Herodes Antipas.

Jesus word gevange geneem (Johannes 18): Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde … Hierdie was waarskynlik soldate van die Romeinse afdeling in Jerusalem. In vers 12 lees ons: Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem. Dit maak dit duidelik dat hier ook Romeinse soldate betrokke was. Dit was waarskynlik nie ‘n volle afdeling – 100 soldate – nie.

Jesus voor die hoëpriester (Matteus 26 en 27): Ons lees dat Petrus by die wagte in die binnehof van die hoëpriester se woning gesit het (26:58). Johannes sê dat een van hierdie wagte wat daarby gestaan het vir Jesus geklap het: Antwoord jy die hoëpriester so? (18:22). Markus vertel dat die wagte Hom geklap het toe hulle Hom wegvat – na die vonnis uitgespreek is (14:65). Hierdie soldate het Jesus opgepas voor Hy aan Pontius Pilatus oorhandig is.

Jesus voor Pilatus (Matteus 27): Pilatus gee Jesus oor om gekruisig te word. Nou lees ons: Daarna vat die soldate van die goewerneur vir Jesus in die ampswoning in en bring die hele leërafdeling rondom Hom bymekaar. Hulle trek toe sy klere uit en gooi Hom ‘n pers mantel om. Hulle vleg ‘n doringkroon en sit dit op sy kop en gee Hom ‘n stok in sy regterhand … Hulle het op Hom gespoeg en die stok gevat en Hom oor die kop geslaan. Hierdie is die afdeling wat saam met Pilatus van Sesarea gereis het. Hierdie soldate was meestal Siriërs – mense wat die Jode gehaat het.

Jerus voor Herodes Antipas (Lukas 23): Herodes was in Jerusalem vir die Paasfees. Daarom stuur Pilatus vir Jesus na Herodes. Herodes se soldate het Hom toe met veragting behandel. Hulle was waarskynlik Jode.

Die kruisiging (Lukas 23): Omdat slegs Rome die doodstraf kon voltrek, was dit Romeinse soldate wat betrokke was by Jesus se kruisiging.

Die graf (Matteus 27): Die priesterhoofde en die Fariseërs oortuig Pilatus dat Jesus se graf vir drie dae veilig bewaak moet word. Hulle het die graf verseël en die wag daar laat bly. Met Jesus se opstanding lees ons: Van skrik vir hom (die engel van die Here) het die wagte gebewe en soos dooies geword. Omdat hulle toegelaat het dat Jesus uit die graf “ontsnap” het, was die wagte se lewens in gevaar. Die piester- en familiehoofde het geld bymekaar gemaak en vir die wagte gegee op voorwaarde dat hulle vertel dat Jesus se dissipels sy lyk gesteel het. En as die goewerneur daarvan hoor, sal ons hom tevrede stel en sorg dat julle nie bekommerd hoef te wees nie.

Ons kry ook verwysings na soldate in Handelinge en Paulus gebruik soldate as beelde in van sy briewe.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Oorlogvoering in die Ou Testament (3)

Oorlogvoering in die Ou Testament (3) – Coen Slabber

Ons het reeds na vestingstede en maniere om vestingstede in te neem, gekyk. Maar jy het ook mense/soldate nodig. Het Israel ‘n weermag gehad?

Na die uittog uit Egipte was Israel georganiseer in stamme en afdelings. In Numeri 2 lees ons van hierdie kamporde. Hierdie stamme was later die basis vir die militêre orde. In Numeri 31 kry Moses ‘n opdrag van die Here om die Midianiete te straf. Elke stam moes ‘n duisend man stuur om te gaan veg. Ons lees dat daar bevelvoerders oor ‘n duisend en oor ‘n honderd man was. Elke soldaat was onder die beheer van sy eie leiers. Sekere mense is vrygestel van militêre diens: diegene wat ‘n huis gebou en dit nog nie betrek het nie; wie ‘n wingerd geplant het en nog nie van die druiwe geëet het nie; wie verloof geraak het, maar nog nie getroud was nie; diegene wat bang was en gebewe het (Deuteronomium 20:5 – 8).

Hierdie was nie ‘n permanente weermag nie. Sodra daar ‘n krisis opduik, is die manskappe opgeroep. Sodra die krisis verby was, is die manskappe weer huis toe. Die voorsiening van voorrade (byvoorbeeld kos) was die verantwoordelikheid van elke stam. Toe Isai vir Dawid stuur om kos vir sy broers te neem, stuur hy sommer iets saam vir die aanvoerder van die afdeling (1 Samuel 17:18). In Rigters 19:10 lees ons dat 10% van die manskappe uitgesoek is om kos by die volk te gaan haal.

Later kry ons ‘n mate van spesialisering. So was die manne van Bejamin baie bedrewe met pyl en boog en die manne van Naftali met spies en skild (1 Kronieke 12:24 – 38). Die soldate is nie betaal nie, maar het elkeen ‘n deel van die buit gekry.

Eers na die koningskap ingestel is, het Israel ‘n professionele weermag gekry. Saul het vir hom drie afdelings van ‘n duisend man elk uit Istrael gekies as sy leër. Hy was bevelvoerder oor twee afdelings en Jonatan oor een (1 Samuel 13:2). Dit was nodig, want die Filistyne het Israel voortdurend geteister. Later het Saul vir Abner as hoof van die leër aangestel. Die aantal voltydse soldate was maar min, maar Israel het ‘n groot reserwemag gehad (1 Kronieke 27:1 – 15).

Toe Dawid vir Saul gevlug het, het hy ‘n kerngroep van 600 manne by hom gehad. Toe hy koning word, het hy vir Joab as die bevelvoerder van die professionele leër aangestel. Benaja is aangestel oor die koning se Filistynse lyfwag (2 Samuel 8:17 – 18). Dit is interessant dat Dawid nie Israeliete gebruik het vir sy lyfwag nie. Daar word ook elders van huursoldate melding gemaak. Ons lees van Ittai die man uit Gat (2 Samuel 15:19) en Urija die Hetiet (die man van Batseba – 2 Samuel 11:6).

Salomo het ‘n sterk weermag op die been gebring. Hy het 1 400 strydwaens en 12 000 ruiters gehad (1 Konings 10:26). Die perde en waens moes hy invoer uit onder andere Egipte. Dit het baie geld gekos. Hierdie swaar las wat hy op die inwoners geplaas het, was een van die redes vir die skeuring van die ryk.

Laastens kyk ons na ‘n paar spesifieke strategieë wat gebruik is.

(a) Salomo se paleis se fondamente was van groot, duursame klippe van vyf meter en vier meter. Die mure van die groot voorhof rondom is gebou van drie lae gekapte klip en een ry sederhoutbalke (1 Konings 7:10 – 12).

(b) In Josua 8 lees ons van die inname van Ai. Hier volg Josua ‘n interessante strategie. Hy stuur manne om agter die stad plek in te neem. Hy en van die ander manskappe val van voor af aan. Hulle vlug sodra die inwoners van die stad agter hulle aankom. Sodoende lok hulle die verdedigers uit die stad uit. Die manskappe agter die stad sou die stad aanval en aan die brand steek. Eers toe die mense van Ai die rook uit die stad sien trek, besef hulle dat Josua hulle uitoorlê het.

(c) Daar was destyds reeds sprake van sielkundige oorlogvoering. Koning Sanherib van Assirië stuur drie van sy senior amptenare en ‘n groot leërmag om Jerusalem in te neem. Die hoof-adjudant onderhandel met Hiskia se amptenare. Hy praat hard sodat die manskappe op die muur alles kan hoor. Eljakim, Sebna en Joag (Hiskia se amptenare) vra die hoofadjudant om eerder met hulle Aramees te praat, want hulle verstaan dit, maar die manskappe sou nie verstaan nie. Die hoofadjudant weier – hy skreeu hard in Judees (2 Konings 18 – 19). Die hele doel was om die manskappe bang te maak.

Hierdie was ‘n kort oorsig oor oorlogvoering in die Ou Testament. Lesers wat meer inligting verlang, kan enige goeie Bybelse woordeboek gebruik.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber