Die seëls van Openbaring – Hermie van Zyl

Michelle vra:

Ek wil graag weet hoeveel tyd verloop tussen die sesde seël (die wederkoms) en die sewende seël?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Dis seker ’n logiese vraag om te vra as mens kyk hoe die sewe seëls in die Openbaringboek aan die orde gestel word. In Op 6 word vertel hoe die eerste ses seëls een na die ander oopgemaak word. Hulle stel die oordele van God oor die aarde in werking. Maar dan is daar ’n onderbreking tussen die 6e en 7e seël: Op 7 vertel vervolgens van die verseëling van die 144 000, asook van die groot menigte wat voor die troon van God versamel. En eers in Op 8 word dan vertel hoe die 7e seël oopgemaak word. ’n Mens kan dus seker vra hoeveel tyd daar tussen die 6e en 7e seël se oopmaak verloop het. Maar gesien binne die groter raamwerk van Openbaring is so ’n tydsvraag nie beantwoordbaar nie en ook nie vreeslik belangrik in terme van wat Openbaring aan ons wil meedeel omtrent die einde nie. Kom ek verduidelik.

In Openbaring is daar drie groepe beelde wat die oordele van God op aarde in werking stel: Eerstens die sewe seëls, (Op 6; 8:1); tweedens die sewe trompette (Op 8:2; 8:6-9:21; 11:15-19); en derdens die sewe wraakbakke (15:7; 16:1-21). Die groot vraag is wat die verhouding tussen die drie groepe is. Indien dit so verstaan word dat hulle in kronologiese volgorde geplaas moet word – met ander woorde, dat hulle opeenvolgende gebeure beskryf – ontstaan die vraag hoe hierdie gebeure in verband gebring moet word met die verloop van die wêreldgeskiedenis. Want elke groep beskryf min of meer dieselfde oordele en dieselfde afloop van gebeure, naamlik die eindoordeel. Daarom verstaan geleerdes dit eerder so dat die drie beeldgroepe parallel geplaas moet word; met ander woorde, hulle beskryf elkeen dieselfde tyd en gebeure, naamlik die straf van God wat die wêreld – meer spesifiek die ongelowiges – tref. Die oordele word ook so beskryf dat die tweede en derde beeldgroepe teruggryp na die vorige groep; hulle “herhaal” dus die vorige straf en oordele, maar terselfdertyd kom daar ook nuwe elemente by soos die wêreld na sy einde toe spoed. Verder, daar is ’n toename in intensiteit te bespeur. Byvoorbeeld, by die sewe seëls word ’n kwart van die mense getref, by die trompette ’n derde, en by die wraakbakke word al die mense geraak; laasgenoemde loop dus uit op die totale vernietiging van die bestaande orde, wat op sy beurt die koms van die nuwe hemel en aarde inlui. Hierdie siening van die drie beeldgroepe, wat deur die meeste uitleggers van Openbaring aanvaar word, word “progressiewe parallellie” genoem. Dit beteken dat die drie groepe parallelle beskrywings van dieselfde eindgebeure is, maar dat die tweede en derde groepe dit elke keer ’n stappie verder neem.

As mens dit so sien, word dit duideliker dat dit hier glad nie oor berekenings gaan van hoe lank elke groep oordele sal duur of wat die tydsverloop is tussen byvoorbeeld die sesde en sewende seël nie. In elk geval is daar ook ’n soortgelyke verposing tussen die sesde en sewende trompet (vgl 10:1-11:14). Met hierdie “verposings” word die tydstempo van die verhaal verstadig; daar word as ’t ware asem geskep om die toneel tydelik te verskuif na die hemel en die leser ’n blik te gee op wat “agter die skerms” aan die gebeur is terwyl God se oordele die aarde tref.

Nog ’n rede waarom aanvaar word dat die drie beeldgroepe dieselfde gebeure beskryf, is die volgende. Ons vraagsteller noem in haar vraag dat die sesde seël oor die wederkoms van Jesus handel. Op 6:12-17 sê dit weliswaar nie in soveel woorde nie, maar beskryf dit eerder as die aanbreek van die “groot dag” van oordeel. Maar saaklik kan ons dit wel gelykstel aan die wederkoms van Jesus. Maar nou beskryf die sewende trompet ook die laaste oordeel (11:15-19), en so ook die sewende wraakbak (16:17-21 en verder). Die punt is: ons kan tog nie drie afsonderlike en kronologies opeenvolgende wederkomste aanvaar nie. Dit is dus waarskynliker dat die skrywer die drie beeldgroepe gebruik om telkens dieselfde gebeure te beskryf, maar dan, soos reeds gesê, in stygende intensiteit.

Verder, gee die “verhaaltyd” dalk vir ons ’n aanduiding van hoeveel tyd verloop tussen die sesde en sewende seël? (Daar is ’n verskil tussen die tyd wat gebeure in die werklike tyd sou neem om af te loop en die tyd wat in die verhaal aan die gebeure toegeken word; laasgenoemde is dan die “verhaaltyd”.) Ongelukkig help die verhaaltyd ons nie veel nie, want nadat die sesde seël se gebeure afgeloop het (6:17), word die tussen-toneel of verposing van Op 7 bloot met ’n “daarna” (letterlik: “na hierdie dinge”) aan die orde gestel (7:1; vgl ook die “hierna” van 7:9). En die skrywer gee ook geen aanduiding van hoe lank die gebeure van Op 7 geduur het nie. Die volgende wat ons lees is wanneer die sewende seël oopgemaak word (8:1). Die skrywer is dus kennelik nie geïnteresseerd in tydsverloop nie, maar eerder in die koppeling van gebeure en die simboliese impak daarvan. Die punt is: die verhaaltyd gee ons geen aanduiding van hoeveel tyd daar tussen die sesde en sewende seël verloop nie. Dit sou dus blote spekulasie wees om afleidings te maak oor hoeveel tyd sou verloop tussen die finale oordeel of wederkoms van Jesus (sesde seël) en die sewende seël (hervatting van oordele van God). Mens kan nie die gebeure van die sesde en sewende seël so tydsgewys aan mekaar verbind nie; dis nie die bedoeling van Openbaring nie.

Ten laaste, waarom sou dit die sesde (voorlaaste) seël wees wat die laaste oordeel beskryf, maar by die volgende twee beeldgroepe is dit die sewende (laaste) trompet en wraakbak? Dit is omdat die sewende seël in werklikheid nie ’n afsonderlike inhoud het nie maar die sewe trompette se oordele in werking stel (8:1-2,6). Dit dui weer eens op die vervlegting van die drie beeldgroepe en is nog ’n rede waarom hulle as parallelbeskrywings van dieselfde eindgebeure beskou word.

Om saam te vat: Openbaring nooi ons nie uit om berekenings te maak oor presies hoe die eindgebeure sal verloop of hoe lank elke “fase” sal duur nie, maar maak eerder met allerlei beeldryke voorstellings ’n appèl op ons geloofsverbeelding. Dit gee ons ’n kykie in God se bestuur van die wêreld met die oog op die finale koms van sy koninkryk. Dié anti-Christelike magte sal deur Hom geoordeel en uiteindelik vernietig word. Gelowiges sal ook swaarkry, maar dis alles die geboortepyne van God se nuwe wêreld wat aan die kom is. Intussen mag ons in die geloof seker wees dat ons toekoms veilig is by God, maak nie saak watter lyding en verdrukking op ons pad kom nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die duisendjarige vrederyk – Jan van der Watt

Vraag

Ek wil graag weet of die 1000 jaar vrede op aarde gaan wees of in die Hemel? Waar in die Bybel kan ek dit duidelik sien? Party sê dis in die Hemel omdat die aarde dan heeltemal verwoes sal wees maar soos ek verstaan gaan Satan na die 1000 jr losgemaak word en die mense versamel uit die 4 hoeke van die aarde en ook die geliefde stad omring; maar hoe gaan satan dit doen as die aarde dan heeltemal verwoes is?

Antwoord

Prof Jan van dr Watt antwoord:

Die leser se vraag oor die duisendjarige vrederyk raak ’n interessante vraag aan, maar bevat ’n paar misvattings, daarom het hy of sy die vraag gestel. Op ons webwerf is daar ’n hele paar artikels wat oor temas rakende die 1000jarige vrederyk gaan – tik maar net ‘duisendjarige’ as soekterm in en die artikels oor die eindtyd, Openbaring 20, chiliasme ens. sal daar gekry kan word. Die duisendjarige vrederyk word op net een plek in die Bybel genoem, naamlik in Openbaring 20:1-6 (daar is ’n artikel oor die gedeelte op Bybelkennis.co.za). In Openbaring 19 word daar vertel van die aardse magte wat hulle rieme styfloop teen die Ruiter op die wit perd  (Jesus) en vernietig word. Hierdie magte (die dier en valse profeet wat in hf 13 as die trawante van Satan beskryf word word in 19:20 in die poel van vuur gegooi) is egter  net die instrumente van Satan. Die duiwel word dan vir 1000 jaar gebind en die martelare heers vir 1000 jaar. Die wêreld is dan nog nie vernietig nie – dit gebeur eers in hf 21:1. As die 1000 jaar verby is, word die Satan losgelaat en probeer weer vir ’n tydjie om Jesus te oorwin, maar sonder sukses. Die Satan word dan finaal vernietig (20:7-10) en dan vind die finale oordeel plaas, waarin die gelowiges wat goed gedoen het van die ongelowiges wat nie aan God gehoorsaam was nie, veroordeel word. Dan kom die nuwe Jerusalem (hf 21).

Die vraag hoe die 1000jarige vrederyk verstaan moet word, was van die begin van die Christendom af ’n vraag. Party het aarvaar dat dit fisies ‘n 1000 jaar is waar vrede op die aarde gaan heers, voor die Here finaal kom. Ander meen weer dat die 1000 jaar simbolies is, en nie presies duisend jaar nie. Hulle beweer dan dat dit byvoorbeeld die periode tussen die eerste koms van Jesus en die tweede koms beskryf. Jesus het immers die duiwel met sy eerste koms uitgewerp (Joh 12:31) en so geestelike vrede vir die gereddes gebring. As mens mooi na die teks kyk, sien mens dat net martelare gaan opstaan. Dit maak die volgende verklaring baie waarskynlik: In die Ou Testament het mense geglo dat goeie gelowiges ’n lang en gelukkige lewe uit die hand van God gaan ontvang. Dit is hulle beloning vir hulle vroomheid. Tog is daar gelowige soldate wat as martelare vir God gesterf het om sy volk te verdedig. Hoewel hulle dus vroom was, het hulle nie ’n lang en gelukkige lewe gehad nie. Het God nou in die steek gelaat en sy belofte gebreek? Nee, God sal hulle op ’n spesiale manier weer opwek en aan hulle die lewe teruggee wat hulle verloor het (lees 2 Makkabees 6 en 7). Daarom, net voor die finale oordeel, wek God die martelare  op en beloon hulle met 1000 jaar (die volledige getal) vrede en heerskappy. Dan gaan die proses voort en die nuwe Jerusalem kom.

’n Laaste opmerking: Openbaring 20 praat glad nie van die wegraping nie en in die konteks vind ons ook niks daarvan nie. Ander tekste uit die Bybel is eers in die 18e eeu deur ’n klein groepe Amerikaanse Christene met Openbaring 20 in verband gebring en toe het die teorieë oor die 1000 jarige vrederyk begin, wat  met die wegraping verbind word.  

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Oordeel of lewe? – ’n verstaan van Openbaring 20

Oordeel of lewe? – ‘n verstaan van Openbaring 20

1.   Inleiding:

Ons leef onder die indruk dat almal op die laaste dag geoordeel gaan word.  Maar is dit regtig so?  As ‘n mens na Openbaring 20 kyk, wil dit lyk asof daar ‘n duidelike onderskeid gaan wees tussen gelowiges en ongelowiges by die oordeel, amper te vergelyk met Matteus 25. 

2.   Gelowiges se situasie (Openb. 20:4-6):

Hierdie paar verse gee vir ons ‘n belangrike agtergrond oor die posisie van gelowiges op die laaste dag.  Johannes sien die siele van die gelowiges waar hulle saam met Jesus regeer vir die volle duisend jaar.  Dat hulle op trone sit en regeer, bevestig dat hulle lewendig is.  Dat dit al die gelowiges verteenwoordig, word onderstreep deur die belangrike onderskeid wat in vers 6 gemaak word tussen die eerste opstanding en die tweede dood.  Slegs die wat aan die eerste opstanding deel het, sal nie deur die tweede dood (die ewige dood) getref word nie.  Dus verteenwoordig hierdie groep al die gelowiges van alle eeue wat in Christus sterf.  Anders sou dit beteken dat gelowiges wat nie aan die eerste opstanding deel het nie, die tweede dood moet ontvang.  Dit sou teenstrydig wees met die uitspraak dat elkeen wat sy klere in die bloed van die Lam was, gered word. 

Die feit dat hierdie gelowiges lewendig is, beteken dat hulle nie geraak word deur die oordeel waarvan ons in Openbaring 20:11-15 lees nie.  Hulle is immers nie dood op die dag van oordeel nie.  Hulle is lewend vir die volle tydperk tot op daardie dag.  Vir gelowiges is daar dus, aldus Johannes, niks om te vrees op die dag van oordeel nie.

 

3.   Ongelowiges se situasie (Openb. 20:11-15):

Vir die ongelowiges geld die oordeel van God soos ons in Openbaring 20:11-15 lees.  Hulle het nie saam met die gelowiges deel aan die eerste opstanding nie (vgl. Openb. 20:6).  Die uiteinde vir hierdie mense is die tweede dood, of ewige dood. 

In Openbaring 20:12-13 lees ons dat hierdie mense, die dooies, deur die dood teruggegee word vir die oordeel.  Interessant is dat Johannes homself ook daarvan weerhou om te sê dat hierdie mense lewendig geword het.  Hulle word slegs deur die dood en die doderyk en die see teruggegee.  Hierdie mense word dan geoordeel “volgens wat daar in die boeke staan oor alles wat hulle gedoen het.” (vgl. Openb. 20:12).  Hulle dade word die bepalende faktor vir toegang tot die lewe of verwerping in die hel.  En omdat hulle dade die bepalende faktor is, kry God nie hulle name in die boek van die lewe nie (vgl. Openb. 20:15).  Hulle uiteinde is dus die hel. 

Hier is ‘n verdere belangrike punt wat gelowiges se posisie onderstreep by die oordeelsdag.  Gelowiges word nie geoordeel volgens hulle dade nie, maar op grond van Christus se verlossingsdaad aan die kruis.  Wie sy klere was in die bloed van die Lam (Openb. 7:14 en 22:14) het deel aan die ewige lewe.  Hulle sal ook deel hê aan die eerste opstanding en dus nie die straf van die tweede dood hoef deur te gaan nie.  

 

4.   En wat van die duisend jaar?:

Oor die duisend jaar is daar wyduiteenlopende menings.  As ons dit simbolies sou verstaan, verwys die duisend jaar na die tydperk tussen Jesus se hemelvaart en sy wederkoms.  In hierdie tydperk sal al die gelowiges wat doodgaan, saam met Christus regeer.  Hulle sal opstaan in die eerste opstanding waarvan ons in Openbaring 20:4-6 lees.  Aan die einde van die duisend jaar is die oordeel van God.  Gelowiges word egter nie geoordeel nie, omdat hulle hulle klere gewas het en dit wit gemaak het in die bloed van die Lam.  Hulle sal net voortgaan met lewe in ewigheid in God se nuwe wêreld.  

 

Skrywer: Ds Fanie Rudolph