Die Openbaring aan Johannes – Die seëls word oopgebreek (6:1-17) – Francois Malan

Die verhaal van die sewe seëls is verdeel in 4+3=7; vier, die getal van die aarde, vertel die verhaal van die verwoesting op die aarde deur die vier perderuiters (6:1-8); drie, die getal van die hemel, vertel van gebeure in die hemel (6:9-11; 8:1) en geweldige ontwrigtings op aarde (6:12-17). Hoofstuk 8 bring ‘n verposing in die verhaal van die verwoesting met die oopbreek van die sewe seëls (sfragida) deur die teenpool daarvan, met die verseëling (sfragizoo) van die gelowiges met die seël (sfragis) van God, en ‘n beskrywing van die plek waar Johannes en die gelowiges staan, tussen die oopmaak van die sesde en die sewende seël, die tussentyd, met verwagting, maar nog nie die voltooiing van die reis nie. Dit is soos die Israeliete se trek deur die woestyn, na die bevryding uit Egipte, maar nog nie in die beloofde land nie, tussen die chaos en verwoesting van hierdie tyd, en die kalmte en orde van die nuwe tyd. Dit is die tyd en plek van die ballingskap in ‘Babilon’ (simbool van die onderdrukking en dekadensie van Rome) aan die eenkant, en die reis na die nuwe Jerusalem, aan die anderkant. Die oopbreek van die seëls beskryf ook gebeure van ons dag wat wag op vervulling aan die einde. Johannes beskryf die vinnige disintegrasie tot wanorde wat hy sien, en hy hoor die belofte van die herstel van die gebroke skepping deur die Messias wat aan die kom is (22:17,20).

 

Vier ruiters (6:1-8)

6:1 Die Griekse woord ercho kan soms beteken ‘gaan,’ soos in die 1983-vertaling, as opdrag aan die ruiters – hoewel die opdrag om te straf van God af kom, en nie van die lewende wesens af nie; maar ercho word eintlik gebruik vir ‘kom’ en dikwels juis ‘kom’ teenoor ‘gaan,’ soos korrek in die 1933/53-vertaling, wat egter foutief daarby gesê het ‘kom kyk.’ Die 2014-vertaling het slegs ‘kom,’ soos in die Griekse teks. Die ‘kom’ word verskillend verklaar as ‘n opdrag aan Johannes wat moet kyk, of, in die betekenis van Openb. 20:17,20, as ‘n roep tot die Here Jesus om te kom verlos (en te oordeel). Dan is dit wat Johannes sien en wat hy hoor twee teenpole: hy sien die seëls word oopgebreek en die orde van die skepping disintegreer onder die oordeel van die Lam; maar hy hoor telkens een van die lewende wesens wat tot die Lam roep om die gebroke skepping te kom heelmaak. So word die mens se boosheid ingeweef in God se genade plan. Die oordeel kom uit God se almag en heiligheid waardeur Hy sonde en onreg nie ongestraf laat bly nie, maar vir die gelowiges het Christus reeds die straf gedra. So word ‘kom’ ook ‘n oproep aan die goddeloses om tot Christus te kom.

6:2 Johannes sê hy het gesien, en hy roep dringend: ‘kyk’ – kyk goed na die wit perd en sy ruiter met sy boog en oorwinnaarskroon, wat oorwinnend optrek om te oorwin. Op die oog af lyk dit soos die Woord van God wat op ‘n wit perd as regter kom oordeel (Openb 19:11-16), maar as jy mooi kyk, sal jy die valse christusse en valse profete van Markus 13:5,6,22 in hierdie ruiter raaksien. Pyl en boog is simbole van Apollo, die Griekse god van profesié en propaganda. Met sy kroon lyk hy soos Christus, maar dit is ‘n stefanos, ‘n oorwinnaarskroon van ‘n atleetvegter, en nie Openb 19:12 se baie konigskrone nie (diademata); met sy boog oorwin hierdie ruiter met geweld, Openb 19:15 se ruiter oorwin met die vlymskerp swaard van sy mond en sy getuienis aan die kruis. Hierdie ruiter kom eintlik met sy valse propaganda die sending van die ander drie ruiters voorberei deur die mense te verlei, met die wit perd van propaganda, verleiding en opstokery.

6:3-4 Die Lam breek die seëls waardeur die oordeel van God die mense aan hulle eie begeertes oorgee en hulle mekaar vernietig (Rom 1:18,24,26). Die vuurrooi perd bring bloed en vernietiging van lewens deur oorlog. Hy verteenwoordig Markus 13:7-9 se oorloë en gerugte van oorloë, nasie sal teen nasie in opstand kom, en koninkryk teen koninkryk. Hy neem die vrede weg met die swaard (die groot swaard van Rome se simbool van hulle militêre mag); dit spel oorlog en geweld – letterlik staan daar: die mense sal mekaar slag (sfrazoo, genadeloos met geweld), soos die pax Romana (Rome se ‘soort’ vrede), wat 95% van die bevolking onderdruk met slawerny, kruisigings, veldslae, swaardgevegte en gevegte met diere in die arena. Rome se vrede vir sy 5% elite sal plek maak vir die ware vrede wat God en sy Christus uit gernade bring (Openb.1:4).

6:5-6 Toe die Lam die derde seël oopbreek het Johannes die derde engel hoor roep: ‘kom!’ En hy het gesien: ‘kyk! (gee aandag!): ‘n swart perd! (in 6:12 word die son so swart soos ‘n harige sak). Sy ruiter hou ‘n skaal vas om kos af te weeg in ‘n skaars tyd. Hy verteenwoordig hongersnood ná verowering en doodslag. Johannes hoor ‘n stem wat tussen die vier lewende wesens opklink wat die gevolge van die hongersnood aandui: vir ‘n arbeider se dagloon (‘n Romeinse denarius) kan hy slegs ‘n kwartmaat koring en ‘n driekwartmaat gars bekostig – koring en gars, die stapelkos in die Romeinse provinsies – genoeg vir een dag, maar baie duurder as gewoonlik vanweë die inflasie wat die pryse van produkte geweldig opstoot. Olyfolie is noodsaaklik vir lampe, offers, om kos mee te kook, en wyn die veilige alternatief vir besmette water en vir feesviering, dit moet nie beskadig word nie. Vir die hongersnood word ‘n grens gestel deur die stem vanuit die lewende wesens, sodat mense in die noodsituasie kan bly lewe met harde werk. In 8:7 en 16:3 word dit egter veel erger – in 8:7 verbrand ‘n derde van die aarde, in 16:3 gaan alles in die see dood. (Toe Domitianus in 92 n.C. beveel het dat die helfte van Palestina se wingerde uitgekap moes word om plek te maak vir graanlande was die reaksie so heftig dat hy sy bevel moes terugtrek).

6:7-8Toe die Lam die vierde seël oopbreek, roep die vierde lewende wese: ‘Kom!’ Sy ruiter, met die naam ‘Dood,’ ry op ‘n grys-groen perd, die kleur van ‘n lyk. Kort op sy hakke volg ‘Dood’ se metgesel Hades (doderyk) wat die dooies opslurp (in die Bybelse tyd het mense gedink die doderyk is ‘n plek onder die aarde waarheen mense afdaal as hulle sterf). Hulle twee word beperk tot ‘n kwart van die aarde, wat hulle op vier maniere uitwis: met die swaard, hongersnood, ‘n dodelike siekte, aardse wilde diere.

Die viertal word in 6:7-8 viermaal herhaal: die vierde seël, vierde lewende wese, vierde van die aarde, vier plae – om die aard en omvang van die plae op aarde te beklemtoon (vgl Eseg 14:21).

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – God en die Lam word geprys (5:11-14) – Francois Malan

5:11-12 Die tweede lied van die engelekoor:

Wat Johannes sien word geïnterpreteer deur wat hy hoor. Die sirkels om die troon brei uit tot tienduisende maal tienduisende en duisende maal duisende; ontelbaar baie, soos in Daniël 7:10. Met harde stemme roep hulle uit dat Hy, as die Lam wat geslag is, waardig is om sewe lofprysings te ontvang (die volle getal): vier loof Hom, drie aanbid Hom. Hy word geloof vir:

a sy krag waarmee Hy die mag van die Bose verbreek het deur sy liefdesoffer van Homself aan die kruis. Dit is die krag van sy liefde, liefdesmag. Daarom het God aan Hom al die seggenskap gegee in die hemel en op die aarde (Mat. 28:18).

b sy rykdom – in Joh..12:32 het Jesus al van sy kruisiging gesê: as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek – met sy liefdesoffer trek Hy mense na Hom toe (vgl. ook Op. 3:18 wat verwys na die ware rykdom van geloof en vertroue op God). Sy nederige liefdesoffer staan teenoor die prag en praal van die sedelose vrou, die groot stad Babilon, waarmee sy die volke verlei het (17:4; 18:16).

c sy wysheid, die wysheid van God, wat, deur die dwaasheid van die kruis, die ‘wysheid’ van die wêreld aan die kaak gestel het (1Kor. 1:24,30) – God se wyse plan – ‘n gekruisigde God – is dwaasheid in die oë van die wêreld.

d sy sterkte verwys na die dinamiek in sy sterwe, om daardeur die dood en die Bose vir eens en vir altyd te oorwin, deur die sondelas van die wêreld te dra, en die mag van sonde en dood te verbreek.

Die laaste drie lofprysings aanbid sy verhoogde status, die Lam wat staan aan die regterhand van God.

e eer – die eer vir die uitvoering van God se plan kom alleen die Lam toe vir sy oordeel oor die wêreld, en redding van die geroepenes. Die eer en die heerlikheid wat aan God gebring word (4:11) kom ook die Lam toe. Dit getuig van die eenhied tussen die Seun en die Vader.

f heerlikheid – die glans van sy liefdesoffer aan die kruis verduidelik: God is liefde (1 Joh. 4:8,10). Sy heerlikheid is die glans van sy liefde, die glans van God se liefde vir die wêreld, wat sy Seun gegee het, en die glans van die Seun se liefde wat Homself gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kry (Joh. 3:16,36).

g lof – wat met dankbaarheid gesing word vir sy aanvaarding van sy leierstaak uit God se regterhand, en lof omdat Hy alleen daartoe waardig is, bekwaam daarvoor en vertroubaar daarmee.

5:13-14 Die derde lied, die hele skepping sing: eer aan God en die Lam.

Die skepping se vier afdelings word genoem: die hemel, die aarde, onder die aarde, die see – alles daarvan en daarin hef die pryslied aan – op die oomblik is die bose geeste in die lug, onder op die aarde, in die see, en is mense op die aarde nog in opstand teen God, maar die geskiedenis loop aan totdat alles en almal God en die Lam prys (vgl. 1 Kor. 15:23-28). Die inhoud van die lied herhaal van die elemente van al die liedere in hoofstukke 4-5 en word afgesluit met die bevestiging deur die vier verteenwoordigers van die hele skepping se ‘Amen’ en die 24 verteenwoordigers van die Ou en Nuwe Testament se gelowiges wat neerval in aanbidding

In hoofstuk 4 is God aanbid; in hoofstuk 5:11-12 is die Lam geprys, en hier in 5:13-14 word God en die Lam aanbid deur die hele skepping. Daarteen staan hoofstuk 18 met die weeklagte van konings, handelaars en matrose oor die verlore glorie van Babilon. Hoofstukke 4-5 openbaar hoe die kruisgebeurtenis in die verlede die huidige en toekomstige verloop van die geskiedenis bepaal. Van Bo af gesien word mag en sukses beskryf in terme van die beeld van die Lam wat geslag is en nou aan God se regterhand staan. Van onder af gesien word mag en sukses gesien deur Babilon se oorheersing, onderdrukking en selfverheerlikking.

As gelowiges het ons deel aan Christus se oorwinning wat Hy oor die Satan aan die kruis behaal het. Deur ons getuienis met woord, daad en lewenswyse verkondig ons sy oorwinning op elke lewensterrein. Ons is deel van ‘n verbete stryd in die samelewing en in ons eie lewe, maar sing nou reeds oor die uitslag daarvan (vgl. Ef 6:10-18).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die Lam (5:6-10) – Francois Malan

5:6 Johannes hoor van die leeu, maar hy sien ‘n Lam, soos een wat geslag is, staan (!). Tussen die troon en die vier lewende wesens en die ouderlinge staan die opgestane Lam. Openbaring gebruik ‘die Lam’ 28 maal (4×7) as metafoor vir Jesus se persoon en werk (in 7:17 word die Lam voorgestel as herder van die gereddes; in 17:14 oorwin die leeu uit die herder-koning Dawid se nageslag. Die leeu oorwin egter as die Lam saam met sy geroepenes in hulle stryd teen die dier en sy tien konings; vgl. 12:10-11). Deur die bloed van die paaslam aan die kosyne is Israel gered uit die Egiptiese slawerny (Eks. 12:21-23,31). God oorwin deur die liefdesoffer van Jesus, deur sy sterwe en opstaan uit die dood word ons verlos uit ons sondeslawerny (28 simboliseer sy volmaakte wêreldwye oorwinning: 4=aarde x 7=volmaakte getal ). God se offerlam verteenwoordig die manier waarop God se krag en wysheid in die wêreld vertoon word.

Die horing is ‘n beeld vir krag, en sewe horings sê: die Lam het volmaakte krag. Die sewe oë sien en ken alles as die alwetende God (vgl. Sag. 4:10: die sewe oë van die Here kyk oor die hele aarde). Die sewe oë is die volheid van die Gees wat dwarsoor die wêreld aan die werk is om mense met die Lam se liefdesoffer na God en die Lam toe te lei. Die alsiende, alwetende, alomteenwoordige Lam beliggaam die volheid van God se Gees.

5:7 Op plegtige dramatiese wyse beskrywe Johannes: die Lam ‘het nader gegaan, en die boekrol geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit.’ Daarmee aanvaar Hy, wat ten volle daarvoor bekwaam is, die taak om God se plan met die wêreld uit te voer.

5:8-10 Die betekenis van sy aanvaarding van die taak word gesien in die reaksie van die skepping daarop: die lewende wesens en die ouderlinge val voor Hom neer in ootmoedige aanbidding; die ouderlinge met (i) liere (10snarige harpe) vir begeleiding van hulle lied (soos in 14:2 en 15:3; vgl. Dawid se lier wat die bose verdryf, in 1 Sam. 16:23) (ii) met goue bakke wat gevul is met wierook, wat die gebede van die heiliges verteenwoordig. God luister na die gebede van die gelowiges, en dit het ‘n invloed op die verloop van die geskiedenis (in 8:3-5 laat dit God se trompetoordele losbreek).

Die lewende wesens en die ouderlinge sing saam ‘n nuwe lied (soos in Ps. 33:3 om die planne van die Skepper te loof; Ps. 40:4 gesing deur die verlosde; Ps. 96:1 vir die Here se reddingsdade; Ps. 98:1 vir sy oorwinning; Ps. 149:1 vir sy goedheid; Jes. 42:10 vir sy verlossing uit die ballingskap). Hier besing hulle die kruisdood en opstanding van Christus wat die hele wêreldgeskiedenis in ‘n nuwe rigting stuur. Die lied word in drie dele verdeel:

  1. die Lam word geloof – Hy is waardig om die geskiedenis te lei deur elkeen van die seëls (sfragidas wat opgedruk word) oop te maak. Elke mens kan Jesus, wat uit liefde vir die wêreld gesterf het, vertrou met sy/haar lewe, met elkeen se toekoms en geskiedenis en met die geskiedenis van die wêreld.
  2. want Hy is geslag (esfages dodelik wond) soos Jes. 53:7 se dienaar van die Here wat soos ‘n lam na die slagplek gelei word. Sy oorwinning word nie op die slagveld behaal nie, maar by die slagpek Golgota. Met sy bloed het Hy mense vir God gekoop, soos op die slawemark, om deel van God se gesin te word; uit die vier windstreke van die aarde word mense deur God teruggekoop: ‘uit elke stam, taal, volk, nasie,’ om lid van God se familie te word (die omvattende uitdrukking kom 7x in Openbaring voor: 5:9; 7:9 se groot menigte voor die troon; 10:11 aan wie die boodskap verkondig moet word; 11:9 die aardbewoners wat hulle oor die lyke van die gelowiges sal verheug; 13:7 wat aan die gesag van die dier oorgegee is; 14:6 aan wie die engel God se oordeel aankondig; 17:15 die mense wat by die sedelose vrou bly). Hier beklemtoon die uitdrukking die wêreldomvattende betekenis van Jesus se kruisdood, maar ook dat dit mense is vanuit al die groepe, en nie alle mense voor die voet nie (Joh 3:16 sê ‘dié wat in Hom glo;’ Joh. 6:37: Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; 6:65).

c. Die Lam het hulle ‘n koninkryk en priesters van God gemaak, wat oor die aarde sal regeer – ‘n beeld uit Eksodus 19:6-7: op Sinaiberg sê die Here vir Moses: ‘As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees,’n koninkryk wat My as priesters dien en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Die nuwe eksodus verlos ons van ons sonde (Op. 1:5 Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader), ook verlos van die verdrukking van die nuwe farao (Op. 12-13). Op grond van Christus se kruisdood deel gelowiges in sy liefdesheerskappy oor sy skepping en herskepping, wat as priesters saam met Hom ly en vir ander intree in by God.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Nie as die Leeu nie, maar as die Lam, is Hy waardig (5:1-14) – Francois Malan

Die visioen in hoofstuk 4 juig God toe as die Skepper en Alleenheerser van die wêreld. In hoofstuk 5 word God toegejuig as die Verlosser en Redder van die skepping. Drie maal sê Johannes: ‘Ek het gesien: 5:1,6,11 om ‘n nuwe afdeling in te lei. Hy sien:

5:1-5 ‘n boekrol verseël met sewe seëls in God se regterhand;

5:6-10 die Lam wat geslag is; Hy staan, het sewe horings en sewe oë, en neem die boekrol, die vier lewende wesens en 24 ouderlinge val voor Hom neer en sing ‘n nuwe lied;

5:11-14 die engele en die hele skepping sluit by hulle aan om God en die Lam te prys.

Die verseëlde boekrol (1-5)

5:1 Die regterhand is simbolies vir God se mag om te red en regverdig te oordeel; Moses en die Israeliete sing van sy reddende en straffende regterhand, in Eks. 15:6; Ps. 20:7 sing van die kragtige verlossingsdade van sy regterhand; Ps. 48:11 U regterhand is vol geregtigheid; Jes. 41:10 letterlik: Ek ondersteun jou/hou jou vas, met my regterhand van geregtigheid. Die boekrol in God se regterhand het te doen met sy plan van verlossing en geregtigheid, sy regverdiging van gelowiges en sy regverdige oordeel oor ongelowiges. Dit bevat God se beplanning vir die verloop van die geskiedenis wat voorlê. Soos ‘n kontrak, bevat die buitekant die opsommende inhoudsopgawe van die binnekant. Op Eseg. 2:10 se boekrol, aan albei kante volgeskryf, was klaagliedere, treurliedere en smart-roepe geskryf. Die sewe seëls beklemtoon die volledige geslotenheid van die inhoud.

5:2 Die toekoms moet oopgesluit word – volgens Eseg. 2:10 maak God self die boekrol oop. Hier tree ‘n sterk engel na vore en roep met ‘n harde stem, sodat almal in die heelal dit kan hoor: ‘Wie is waardig om die boekrol oop te maak en die seëls daarvan te breek?’ Met die oopmaak van elke seël vanaf hoofstuk 6 ontvou God se verlossing en oordeel. Waardig? – wie het die gesag en bekwaamheid om God se verlossingsplan en sy oordeel deur te voer, en aan wie kan die toekoms van elke mens en die hele wêreld toevertrou word? Die sterk engel tree drie maal op: 5:1 by die ontvouing van die toekomsgeskiedenis; 10:1-2 by die oopmaak van die boekrol wat Johannes moet opeet, as verduideliking van sy rol as verkondiger; 18:21 by die aankondiging van Babilon se vernietiging.

5:3 Die uitnodiging word gerig aan enigiemand in die hemel, op die aarde, of onder die aarde – dit sluit aan by die tipiese Joodse drielaagheelal: hemel vir die bonatuurlike wesens, aarde of mensewêreld, en die onderaardse waar die geeste sou woon. Selfs in die hemel is daar niemand nie, want God se plan vir sy huishouding is afhanklik van iemand met die volle gesag en wat ten volle met die mensdom identifiseer.

5:4 In 4:1 is reeds gesê Johannes sal sien wat hierna gaan gebeur. Maar alles het nou tot stilstand gekom en dit lyk asof God se alleenheerskappy op aarde nie gaan bereik word nie. Daarom huil Johannes oor die hopeloosheid van die situasie en oor die vrye voortgang van die bose op aarde.

5:5 Maar een van die ouderlinge troos en bemoedig hom, want daar is een wat waardig is: ‘Kyk! (let fyn op) die Leeu uit die stam van Dawid, die wortel/afstammeling van Dawid het oorwin om die boek met sy sewe seëls oop te maak. ‘Het oorwin’ – Jesus het die magte van die bose oorwin met sy dood en opstanding. Hierdie ongewone soort oorwinning deur lyding en skynbare neerlaag is die hooftema van Openbaring en ‘n voorbeeld vir getroue gelowiges om na te volg. So anders as die wêreld wat op mag vertrou om te wen.

In Genesis 49:9 voorspel Jakob, voor hy sterf, vir Juda, wat met sy nageslag sal gebeur: jy is ‘n leeu…soos ‘n leeumannetjie wat deur niemand opgejaag word nie. Jy sal altyd heers, jy sal aanhou regeer. Jesaja 11:1-10 sê vir die ballinge in Babilon: ‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp (riza) van Isai, ‘n loot uit sy wortels (riza) sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus…Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel…Hy sal regverdig en betroubaar regeer…wolwe en skape sal saam wei…niemand sal kwaad aanrig nie…die nasies sal na hom vra.’ Hieruit het die Jode verwag dat die Messias sou oorwin deur militere welslae, en kon nie glo dat die man aan die kruis hulle beloofde koning is wat met sy liefde kom oorwin het nie.

Skrywer:  Prof Francois Malan