Die Openbaring aan Johannes – Sardis (3:1-6) – Francois Malan
Sardis (huidige Sart) lê 48km suid-oos van Tiatira (72km reg oos van Smirna/Ishmir). Dit was die hoofstad van die Lidiese koninkryk (680-547 v.C.) en van sy laaste koning die legendariese ryk Kroesus (wat die tempel vir Artemis in Efese laat bou het en een van die sewe wonders van die antieke tyd was). Sardis het ‘n sterk amper oninneembare stadsvesting (akropolis) gehad, maar is in 546 v.C. deur die Perse ingeneem. Dit was ‘n handelstad met goud, tekstiel, en ander ware; met ‘n groot tempel vir Artemis. Dit is tans een van die bes-gerestoureerde ou stede in Turkye, met sy marmerstraat en winkeltjies, ruïnes van die groot Joodse sinagoge, wat die Romeinse owerheid aan die Joodse gemeenskap geskenk het, langs die palestra (stoeiskool), sportveld, en imposante gimnasium met ‘n groot binneshuise swembad.
3:1 Die groet gee die beskrywing van Christus wat by die gemeente se situasie pas: ‘Dit sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het’ – in 1:4 verteenwoordig die sewe geeste voor die hemelse troon die volheid van die Gees van God, die veelvuldige en omvattende werking van die Heilige Gees. Volgens Sag 4:2 verteenwoordig die ligpunte die teenwoordigheid van die Here self. Die lig van die Here het Serubbabel gemotiveer om die tempel te voltooi. So wil die Gees die sluimerende gemeente in Sardis opwek uit hulle geestelike dood om weer te lewe.
Die sewe sterre is die sewe leiers van die sewe gemeentes. Die verhoogde Christus hou die sewe sterre in sy hand, beeld van sy heerskappy en bewaring deur die Gees van God oor die gemeentes en oor die leiers van die gemeentes.
Van Sardis word aan die begin niks goeds gesê nie. Die leier (en daarmee die gemeente) word net deur sy tekortkoming getipeer: ‘Ek ken jou dade, jy het die naam dat jy lewe, maar jy is dood’ – die gemeente dink hy lewe, maar van Bo in sy binneste gesien is hy dood. Sy uiterlike voorkoms en innerlike realiteit bots. ‘n Naam behoort die identiteit van die gemeente te tipeer (Efesiërs verdra en hou uit vir Christus se Naam, 2:3; Pergamum hou vas aan Christus se Naam 2:13). Sardis se leraar het wel die naam dat hy geestelik lewe, maar hy is geestelik dood. Hulle gee al hulle aandag aan die verkeerde dinge.
3:2 Die diagnose is geestelike slaperigheid – ‘n slaap in selfversekerheid. Die medisyne is die geestelike dissipline van waaksaamheid en noukeurige onderskeiding. Hulle het die belangrike geïgnoreer en aandag gegee aan die onbelangrike in die christelike lewe. Die tragiese agteruitgang word gestuit met ‘n reeks opdragte: wees wakker, versterk, onthou, gehoorsaam, verander jou denke en optrede!
‘Wees iemand wat steeds waaksaam is (Mt 24:42), en versterk diegene wat nog oor is (die paar egte gelowiges in die gemeente, 3:4) maar op die punt staan om dood te gaan (selfs die paar egte gelowiges), want Ek het gevind dat jou dade in die oë van my God nie voldoende is nie’ – om waaksaam te wees beteken om jou aandag toe te spits op wat belangrik is in die oë van God. Dit word vergelyk met ‘n huiseienaar wat waak teen ‘n dief in die nag.
3:3 ‘Onthou dan hoe jy die boodskap ontvang en daarna geluister het. Bewaar dit, en bekeer jou! (verander julle denke en optrede wat op die onbelangrike dinge fokus);’ as hulle nie waaksaam is nie, waarsku die Here dat Hy sal kom wanneer die gemeente dit nie verwag nie; dan is die tyd vir bekering verby, en hulle moet weet hulle huidige lewe is nou reeds nie aanvaarbaar voor God nie.
Hulle stad het in die verlede geslaap in die vertroue dat hulle vesting sterk genoeg is om alle vyande te keer. Maar in 567 v.C. het een van die Persiese soldate van Kores een nag gesien hoe ‘n Lidiese wag teen die berg afkom om sy helm wat oor die afgrond geval het, op te tel. Die Perse klim toe teen dieselfde skeur in die loodregte rots op en oorval die slapende stad van Kroesus. So sal dit met die gemeente ook gaan as hulle nie hulle denke en lewenswyse radikaal verander en steeds waaksaam is om soos volglinge van Jesus te lewe nie.
3:4 ‘Julle het egter ‘n paar name (mense) in Sardis, wat nie hulle klere besoedel het nie, en hulle sal saam met my lewe in wit klere, omdat hulle dit werd is.’ – teenoor die naam-Christene is daar egter ‘n paar egte gelowiges in die gemeente. Hulle uiterlike optrede getuig van ‘n rein innerlike, wat deur die bloed van die Lam gereiging is (7:14) en daarom is hulle waardige metgeselle en getuies van Christus in die stad en vir ewig. Hulle bly waaksaam, en steur hulle nie aan die onbelangrike en verkeerde lewenswyse om hulle nie. Deur hulle lewe en getuienis moet hulle die kern vorm van die herstel van die gemeente.
3:5 Die probleem van Sardis is verbind aan die leier en gemeente se naam dat hulle lewe, wat nie ooreenstem met hulle innerlike aard nie. Maar die oorwinnaars oor die verleidings van die wêreld om hulle se lewe stem ooreen met hulle naam. Hulle naam sal nie uit die boek van die lewe, die register van die burgers van die nuwe stad, die boekrol van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrap word nie (13:8; 17:8; 20:12,15; 21:27; Flp 4:3; Eks 32:32-33; Ps 69:29; Dan 12:1; vgl. ook Ps 9:6; 87:6; Jes 4:3). Christus sal ook oor die name van sy getroue getuies voor sy Vader en sy engele getuig, bevestig dat hulle in sy boek van die lewe opgeskryf is as mense wat die liefdesoffer van die Lam van God aanvaar het en daarvolgens lewe (Mt 10:32; Lk 12:8). In die Hellenistiese wêreld is iemand wat ‘n gruwelike misdaad gepleeg het, se naam ook uit die stad of staat se register verwyder, met al die burgerregte daaraan verbonde.
3:6 Die boodskap van die Gees is vir alle gemeentes in alle tye bedoel.
Skrywer: Prof Francois Malan