Die Openbaring aan Johannes – Briewe aan die sewe gemeentes (hoofstukke 2-3) – Francois Malan
Die sewe briewe is waarskynlik gebundel gestuur aan elk van die sewe gemeentes wat die hele kerk verteenwoordig, want die probleme van elkeen het in al die gemeentes voorgekom. Elke brief het ses afdelings gehad wat met die goeie begin, afdaal na die moeilikhede in die gemeente, wat aan die einde weer kan styg met die ommekeer tot ‘n nuwe toestand:
a aanhef aan die leier van die gemeente
b die profetiese woord met ‘n toepaslike eienskap van iemand net soos die Seun van die Mens
c sy kennis van die stand van die gemeente
d sy opdrag om te onthou, te bekeer, of aan te hou, volgens die gedrag van die gemeente
e sy oproep om te luister na die Gees
f sy belofte aan dié wat oorwin.
Dit is die orde van die eerste drie briewe. In die laaste vier word v en vi omgeruil. Drie as die getal van God en die hemel, vier van die aarde, wat saam die voltooide getal sewe van God se verbond met die aarde aandui. Die vier-drie kombinasie word herhaal in die 7 seëls en 7 trompette.
Efese (2:1-7)
a Soos in al sewe briewe, skryf Johannes die brief aan die engel (angelos) van die gemeente – waarskynlik die voorganger of leraar as verteenwoordiger van die gemeente.
Efese was die hoofstad van die Romeinse provinsie Asië, aan die weskus van die huidige Turkye, met die indrukwekkende tempel van die vrugbaarheidsgodin Artemis, een van die sewe wonders van die antieke wêreld, met duisende priesteresse, tempelprostitute en priesters. Dit was ‘n lewendige handelstad op die hoofweë en skeepsroetes. In die tempel van keiser Domitianus van Rome (81-96 n.C) is hy as god vereer en aanbid, en waarskynlik in sy tyd is Johannes na Patmos verban.
b Die opdrag om te skryf kom van Hom ‘wat die sewe sterre in sy regterhand hou’ om die gang van die heelal op koers te hou en die voorganger van die gemeente in sy belangrikste hand, sy regterhand, styf vashou (kratos sterker as ‘het’ in 1:16) om hom te lei en te bewaar. Hy ‘wat tussen die sewe goue kandelare rondbeweeg’ – in die midde van al sy gemeentes op aarde, sien Hy alles wat aangaan en is Hy by hulle om hulle te lei en te beskerm. Dit wat Johannes sê is wat die Here self sê.
c ‘Ek ken jou dade’ – die goeie en verkeerde wat Hy van die leier/gemeente sien:
c1 Hy ken hulle onvermoeide arbeid (kopos onder moeilike omstandighede), en hulle volharding/uithou (hupomone die woord kom 7 maal in Openbaring voor 1:9; 2:2,3,19; 3:10; 13:10; 14:12) onder die moeilike omstandighede. Dit gaan hier om aktiewe weerstand teen die valshede van die dwaalleraars, bv. soos van die Nikolaïte in 2:6,15, wat aangepas het by die stroom van die wêreld en sy valshede aanvaar het. Volgens 14:12 word hulle uithou uitgespel as vasstaan by God se gebooie en geloof in Jesus.
c2 Hulle kan nie die selfaangestelde apostels verdra (bastazo) nie, wat deurspek is met boosheid en agterbakse slinksheid, en geen gestuurders van Christus is nie, maar die boodskap van Christus verdraai; hulle het dié mense deeglik ondersoek en uitgevind hulle is leuenaars (vgl. 1 Jn 4:1-13; en Paulus se opdrag aan die ouderlinge van Efese in Hand 20:29).
c3 Daarteenoor het hulle die uithou (hupomone) en aanhou vermoë, en verduur (bastazo) baie ‘ter wille van My Naam… sonder om moeg te word.’
c4 Hulle haat/verafsku die werke van die Nikolaïte (nie vir hulle as persone nie), wat die Here ook haat/verafsku. – wat aangepas het by die heersende keiseraanbidding, afgodsdiens en onsedelike lewe van Efese en dit propageer. Die naam Nikolaos beteken ‘oorwinnaar van die volk.’ Die suggestie is dat hulle die volk van God oorwin deur hulle te oortuig om aan te pas by die maatstawwe en waardes van die Grieks-Romeinse kultuur. Maar die gemeente se harde werk om die dwaalleer te weerstaan slaag nie, oor ‘n ander rede:
c5 Die verkeerde in die gemeente:
‘Maar Ek hou dit teen jou: dat jy jou eerste liefde verlaat/verwerp het’ – die passie vir die waarheid, die ywer vir jou godsdienstige geloof, kan so maklik ontaard in ‘n liefdelose heksejag teen die mense van wie jy verskil. Die Efesiërs lewe nie meer uit die selfopofferende liefde van God en Christus vir die wêreld nie, en dit is te sien in hulle liefdelose optrede teenoor mekaar en ander mense, ook teenoor hulle vyande.
d Die oplossing:
d1 ‘Onthou waarvan jy afgeval het’ (en die gemeente saam met hom) – vergelyk die huidige stand van jou liefde met wat dit was; beleef opnuut die eerste liefde in julle gedagtes, hoe julle was aan die begin van julle geloofsreis (soos die verlore seun wat vanuit sy posisie tussen die varke teruggedink het aan die lewe in sy vader se huis).
d2 ‘Bekeer jou’ – draai terug in jou gemoed/denke/ingesteldheid (metanoia) – ‘n hartsverandering.
d3 Doen die werke wat jy eers gedoen het – begin weer doen met dieselfde selfopofferende liefde van voorheen. Dra weer vrug wat by die bekering pas (Lk 3:8).
d4 Die dreigende gevaar:
‘Anders, as jy nie tot bekering kom nie, sal Ek na jou toe kom en jou kandelaar van sy staanplek af verwyder.’ – sonder liefde sal daar nie meer ‘n gemeente in Efese wees nie (Turkye is vandag 99% Islam).
e Die erns daarvan word beklemtoon: die een wat ‘n oor het, hoor/luister wat die Gees vir die gemeentes sê – dit beteken gehoorsaamheid aan Christus wat deur die Heilige Gees liefde in ons werk deur ons aan die liefde van God te verbind. ‘Gemeentes’ dui daarop dat al die gemeentes hierdie brief en waarskuwing moet hoor.
f Aan die een wat oorwin – (nikaoo) om te oorwin word 15 maal in Openbaring gebruik. Dit beteken om volhardend te glo aan die oorwinning wat Christus aan die kruis en met sy opstanding oor die sonde, dood en die Bose behaal het en dit nou as die Lam teen die Dier toepas (17:14), deurdat ons in die geloof aan Jesus, die oorwinnaar, vashou.
Aan dié wat oorwin gee die Here die genade om van die boom van die lewe in die paradys van God te eet (paradys is die Persiese term vir ‘n omheinde tuin). Die simbool van ‘die boom van die lewe in die middel van die tuin’ van Genesis 2:9; 3:22-24 word gebruik om iets te sê van die ewige lewe saam met God – dit wat Adam en Eva verloor het deur hulle ongehoorsaamheid. ‘Die boom van die lewe’ word ook in Op 22:2,14,19 gebruik om die gelowige se deelwees van die ewige lewe te beskryf as versekering, en die ongehoorsames se verlies daarvan te onderstreep as waarskuwing.
Skrywer: Prof Francois Malan