Die duiwel as aanklaer – Hermie van Zyl

Jan vra:

Boodskapteks: Openbaring 12:7-11 vertel van ‘n oorlog wat in die hemel gekom het tussen Migael en sy engele en die draak en sy engele met lg wat uit die hemel op die aarde neergewerp is – die groot draak, die ou slang wat duiwel en Satan genoem word.

Vers 10 sê: “Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.” (1933/53 Afrikaanse Vertaling.)

Uit hierdie verse lyk dit vir my dat Satan terwyl hy nog in die hemel was sekere van “ons broeders” by God aangekla het, dag en nag. Toe hy uitgewerp is uit die hemel het hierdie funksie van hom verval. Maar as mens vers 11 lees, skuif die tyd vorentoe omdat hulle (die broeders) die Satan oorwin het deur die bloed van die Lam en die woord van hulle getuienis.

Iemand verklaar dat die Satan nog in die hemel kan verskyn om ons voor God aan te kla.

Hoe moet mens hierdie verse verstaan asseblief?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraag, soos ek dit verstaan, gaan daaroor of die Satan nog steeds gelowiges in die hemel voor God kan aankla, veral in die lig van Op 12:8,10 waar staan dat die Satan uit die hemel gewerp is.

Dat die Satan tradisioneel as die aanklaer van gelowiges bekend gestaan het, moet teen die agtergrond van Job 1:6-9; 2:1-6 verstaan word (kyk ook Sag 3:1-2). In Job word Satan beskryf as een wat toegang het tot die hemel, waar die hemelwesens in God se teenwoordigheid verkeer. So het Satan vir Job by God beswadder, as iemand wat God net dien omdat dit met hom goed gaan. Wat hierop volg, is bekend: God “oorhandig” Job aan Satan sodat dié met Job kan maak wat hy wil (behalwe om hom dood te maak), om te kyk of Job God nog sal dien as dit met hom sleg gaan. Die Satan as die aanklaer van gelowiges onderlê ook ‘n teks soos Rom 8:33: “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry.” En God spreek die “aangeklaagdes” (gelowiges) vry op grond van die soendood van Christus aan die kruis. Daar is dus geen grond vir die aanklagtes meer nie. Dieselfde gedagte kom ook in Op 12:10 voor, waar staan dat Satan die aanklaer van die gelowiges is. Maar na ‘n oorlog in die hemel tussen die engele (onder aanvoering van die aartsengel, Migael) en die draak (= Satan) het lg die onderspit gedelf en is toe uit die hemel gegooi (Op 12:7-9). Hierdie “oorlog” is eintlik net ‘n beeldryke voorstelling van die oorwinning wat Christus oor Satan behaal het, op grond van sy offerdood aan die kruis (Op 12:11).

Weens Satan se uitwerping uit die hemel kan ‘n mens aflei dat hy nou nie meer toegang het tot die hemel nie en gevolglik nie meer die gelowiges by God kan aankla nie. So ‘n afleiding is korrek, maar dan moet ons nie die eintlike bedoeling en gevolg van hierdie uitwerpingstoneel uit die oog verloor nie. Hierdie toneel wil nie soseer sê dat Satan nou geen verdere mag het en dat hy geen verdere verwoestingswerk kan aanrig nie, maar wil eerder beskryf wat agter die skerms in die hemel gebeur het en wat die uitwerking daarvan op die menslike geskiedenis is. Satan se uitwerp uit die hemel skuif naamlik die toneel reg vir die verdere konflik tussen die Satan en die kerk op aarde. Aangesien hy geen mag meer in die hemel het nie, rig hy nou sy woede op die kerk op aarde. Dit sal lei tot die finale veldslag waar die duiwel se mag ook op aarde gebreek word, hy dan in die poel van vuur gewerp word en die nuwe hemel en aarde tot stand kom (beskryf in Op 19-22).

Om hierdie toedrag van sake verder te verduidelik, kan ons let op hoe die verhaal in Op 12 ontvou. Dit bestaan uit drie groot tonele: 1. 12:1-6 vertel hoe die draak probeer om Jesus te vernietig. Hy kry dit egter nie reg nie omdat Jesus sy missie voltooi en in die hemel opgeneem word. 2. 12:7-12 vertel vervolgens hoe die duiwel se mag in die hemel gebreek word. Waar hy altyd in ‘n sekere sin nog “vrye toegang” tot die hemel gehad het, word hy nou uitgewerp. Hy het geen plek meer daar nie. Hy verloor sy “reg” om die gelowiges aan te kla. 3. 12:13-17 vertel dan hoe die duiwel, nadat hy die stryd teen God en Christus verloor het, nou sy woede ten volle rig op die kerk op aarde as die volgelinge van Jesus, uiteindelik ook sonder sukses.

In die tweede toneel (12:7-12) vervul vers 10-12 ‘n besondere rol. Dis eintlik ‘n soort tussenpose, ‘n lied om die oorwinning oor Satan te vier. Enersyds word die uitbanning van Satan uit die hemel gevier, maar andersyds word daar by wyse van vooruitskouing reeds ‘n loflied aangehef oor die oorwinning wat nog gaan kom, so asof dit reeds plaasgevind het. Want die Satan gaan nou sy woede op die kerk laat neerkom. Maar daar word reeds ‘n loflied gesing oor die gelowiges wat deur die bloed van die Lam en deur hulle getuienis oor die evangelieboodskap van verlossing, die oorwinning behaal het (v11). Vers 13 tel dan weer die draad by vers 9 op om te sê hoe die duiwel, nadat hy uit die hemel gegooi is, nou probeer om die kerk op aarde te vervolg.

Enersyds moet ons dus sê dat die duiwel inderdaad uit die hemel gegooi is; hy kan nie meer voortgaan om die gelowiges aan te kla voor God nie. In stede van aanklagte het Christus nou met sy versoeningsdood sy plek in die hemel ingeneem en tree Hy vir die gelowiges in by God (Heb 7:25; 9:24). Soos Rom 8:33 sê: “God self spreek hulle vry”. Maar dit beteken nie dat die duiwel nie op aarde met sy verwoestingswerk teen die kerk kan voortgaan nie. Inteendeel, hierdie woede van die duiwel sal voortgaan tot en met die wederkoms van Christus. Maar die uiteindelike oorwinning is verseker met die oorwinning van Christus aan die kruis en deur sy opstanding. Dít is juis wat besing word in die loflied van Op 12:10-12.

 

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Die sewe geeste – Francois Malan

‘n Leser vra:
Verduidelik vir my asb die sewe geeste.

Antwoord
Prof Francois Malan antwoord
In Openbaring 1:4; 3:1; 4:5; 5:6 word verwys na die sewe Geeste as die benaming van die Heilige Gees in sy veelvuldige en omvattende werking.

In 1:4 is hulle voor die troon van die Here, sy werktuie om sy opdragte uit te voer; in 3:1 is dit Jesus wat die sewe Geeste van God het om sy werke uit te voer; in 4:5 is hulle 7 vuurfakkels wat brand; in 5:6 is hulle die Lam se sewe horings (wat sy mag aandui) en sewe oë (sy alwetenheid) wat oor die hele aarde heen gestuur is.

Die dinamiese beelde van die sewe Geeste beklemtoon die aktiewe teenwoordigheid en krag van die Heilige Gees in die wêreld. In Jesaja 11:2 word van die Gees van die Here gesê dat Hy die Gees is wat wysheid en insig gee, wat raad en sterkte gee, wat kennis verleen en eerbied vir die Here.

Die getal sewe is in Openbaring ’n aanduiding van volledigheid of volkomenheid wat toegepas word op die 7 gemeentes, lampe, sterre, Geeste, seëls, trompete, bakke, plae, horings, engele, donderslae, koppe van die dier, krone, oë, berge en konings.

In Sagaria 4:2 is reeds gepraat van die kandelaar bo-op ’n oliebak met sewe tuite en sewe lamppitte in elkeen, wat in Sagaria 4:10 uitgebrei word met die sewe oë op die klip voor Jesua as die sewe oë van die Here wat oor die hele wêreld kyk. Dit word verduidelik met die woord van die Here aan Serubbabel wat die tempel moet herbou na die ballingskap: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige (Sag 4:6).

In Johannes 14:16-17 sê Jesus: ‘Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander helper/trooster/voorspraak gee sodat Hy ewig by julle kan wees, Hy is die Gees van die waarheid….Julle ken Hom omdat hy by julle bly en in julle sal wees.’ In Joh 15:26 ‘wanneer die Gees van waarheid van die Vader af kom, sal Hy oor My getuig.’ Joh 16:8: Hy sal die wêreld oortuig van sonde (omdat hulle nie in My glo nie), en van geregtigheid (dat Jesus deur sy offer aan die kruis dié wat in Hom glo se verhouding met God reggemaak het), en van oordeel (oor dié wat nie in Jesus glo nie).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Openbaring aan Johannes – Jesus kom alles herstel (22:15-21) – Francois Malan

22:15 Die honde (onreines) bly buite. Vyf van die ses kenmerke van die ongelowiges wat in die poel van vuur en swawel gegooi is, is reeds in 21:8 genoem. Die sesde, die honde (NAV dwaalleraars), word in die Bybel gebruik vir verskillende soorte onrein en kwaadwillige mense: Deutr. 23:17-18 vir ‘n manlike prostituut; Mt 15:26 vir heidene; Flp 3:2 vir dwaalleraars. Almal wat valsheid liefhet en doen, word soos hulle leier die Satan, wat die hele wêreld verlei (12:9; 13:13-15). Mense wat nie hulle klere in die bloed van die Lam was nie, bly buite.

22:16 Jesus bevestig die egtheid van sy engel se getuienis oor al hierdie dinge, wat die engel bekendmaak aan ‘julle,’ Johannes en sy broers en susters, die profete (22:9), wat weer God se wil aan die gemeentes bekendmaak. In 1:1 is reeds gesê dat Jesus sy engel gestuur het om dit alles aan Johannes te wys. Telkens het die engel die gesigte vir Johannes verduidelik.

Jesus noem Homself die wortel en nakomeling van Dawid as vervuller van die profesie van Jes 11:1-2,10: ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra; iemand uit die geslag van Isai sal ‘n vaandel wees vir die volke – dit word hier gestel as beloftes oor die Messias/Christus/Gesalfde, wat gesalf is met die Gees van die Here (vgl. Rom 1:3; Openb 3:7; 5:5).

Hy is ook die helder Môrester (vgl. Num 24:17), dit is die belofte dat die lang nag van verdrukking besig is om te wyk voor die nuwe dag wat breek, die nuwe bedeling wat aanbreek (vgl. Openb 2:28 se belofte aan die wat oorwin). Die sterrekykers uit die Ooste het sy ster gesien (Mt 2:2). Christus beloof die môrester aan almal wat vashou aan wat hulle het, totdat Hy kom, aan dié wat oorwin oor die verleiding van die dier (Openb 2:28).

22:17 Die noodsaaklkheid om die skepping te herstel is ‘n prominente tema in die epiloog, soos ook gesien in die sewevoudige herhaling van die werkwoord: ‘kom!.

22:7      Kyk, Ek kom gou!

22:12    Kyk, Ek kom gou!

22:17    Die Gees en die bruid sê: Kom!

En laat elkeen wat luister, sê: Kom!

En laat elkeen wat dors het, kom

En laat elkeen wat die water van die lewe begeer, kom, verniet! (vgl. 21:6; Jes 55:1)

22:20    Ja, Ek kom gou!

Amen! Kom, Here Jesus!

Driemaal belowe Christus dat Hy gou kom (22:7,12,20), Die Gees en die bruid en Johannes dra die boodskap oor aan die gemeentes en aan elkeen wat dors na die evangelie. Tot op die laaste bladsy nooi God dié uit wat geestelik dors is om te kom drink van die water wat lewe gee (vgl. Jn 4:13-15; 7:37; 1 Kor 10:4). In Jes 43:3 4, 48:10 is water ‘n metafoor vir die verlossing wat God gee). Die bruid is die kerk wat getrou bly aan Jesus en sy opdrag om mekaar lief te hê soos Hy ons liefgehad het tot aan die kruis (vgl. die gelykenis van die 10 meisies in Mt 25:13).

22:18-19 Jesus waarsku enigeen wat moedswillige aan die woorde van hierdie boek se profesie verander dat hy/sy die ewige lewe kan verloor en die strawwe van die profesie kan ontvang (vgl. Dt 4:2; 12:32; Spr 30:5-6; Gal 1:8-9). Openb 1:2 noem die inhoud van dié boek die woord van God, naamlik die getuienis deur Jesus Christus (Jn 1:1 Jesus is die Woord van God). Daarom is die woorde van hierdie boek so belangrik. Wie dit verwerp of vervals verwerp vir Jesus en vir God) en verloor Jesus en God deur aan die woorde toe te voeg of weg te neem (vgl. Jn 5:23; 15:23; 1 Jn 4:15;2 Jn 9).

22:20 Soos Openbaring 1:1 begin met die openbaring deur Jesus Christus…om aan sy diensknegte te toon wat binnekort (tachu) gaan gebeur, eindig die boek met ‘n bevestiging deur Jesus:

Ja, Ek kom gou (tachu).

 Daarop reageer Johannes wat al die gesigte gesien het, om die verlange van die hele kerk uit te druk met die gebed:

Amen (voorwaar), Kom, Here Jesus!

(dit is dieselfde as die Aramese bede van die ou kerk in 1 Kor 16:22: marana ta ‘Kom, Here!’).

Ons verlossing bly onvolmaak totdat Christus kom. Vir die vervolgde gelowiges van Johannes se tyd en van elke tyd is dit ‘n angstige smeekroep om verlossing uit hulle verdrukking, met die blye uitsig op Jesus se wederkoms om finaal alles reg te stel wat verkeerd is.

22:21 Die boek begin met ‘n seëngroet in 1:3 waarmee God se guns afgesmeek word op die sewe gemeentes (beeld vir die hele kerk) sodat hulle onder sy sorg gelukkig sal lewe: Geseënd is die een wat dit voorlees en ook hulle wat die woorde van die profesie hoor en wat daarin geskryf staan, nakom.

So sluit die boek ook met ‘n seëngroet dat die genade van die Here Jesus sal bly by al die lesers en gemeentes waar dit voorgelees word. Die boek het ook begin met die bede dat die genade en vrede van God en Christus en die Heilige Gees hulle deel sal wees (Openb 1:4). Genade verwys na God se vrye en oorvloedige gawe wat Hy onverdiend uit sy groot liefde gee.

Met die vreugde van ‘n bruid wat wag op haar bruidegom wag elke gelowige op sy/haar Here en Verlosser se koms met die bede:

Amen. Ja kom Here Jesus!

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Jesus kom oordeel (22:12-14) – Francois Malan

22:12-19 is Jesus se slotwoorde. Dit word in sewe uitsprake weergegee.

22:12 Die uitspraak van 22:7 word herhaal: ‘Kyk, Ek kom gou!’ Openb 1:1,7 het begin met ‘wat binnekort (gou) moet gebeur…Kyk, Hy kom met die wolke en elke oog sal Hom sien..’ Die dringendheid van die wederkoms word beklemtoon deur die nabyheid daarvan telkens voorop te plaas, sodat die lesers te alle tye gereed sal wees met blye verwagting op die koms van die bruidegom (Mt 25:1-13).

En die beloning (misthos betaling na verdienste) is by My, om elkeen volgens sy optrede te beloon vir goeie of slegte gedrag, beloon of vergeld:

Openb 3:11 praat van jou oorwinnaarskrans (stefanos) vir die gemeente Filadelfia wat Hom nie verloën het nie; Jesaja 40:10 lui letterlik: sy loon (sakar) is by Hom en sy vergoeding (pe‘ullah) is voor Hom. Dit word gesê aan die ballinge in Babel oor hulle verlossing en terugkeer na Jeruslem. Die loon van 22:12 is vir die volgelinge van Christus om vir ewig volmaak saam met Christus te wees in die nuwe Jerusalem.

In Openb 2:23 sê die Here vir dié in Tiatire wat die vrou Isebel volg: Ek sal elkeen van julle beloon volgens julle dade; Ps 24:4 bid om die vergelding van die goddelose mense ooreenkomstig hulle dade, hulle bose optrede…laat hulle kry wat hulle verdien. Jer 17:10 Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand. Ek laat die mens kry wat hy verdien, vir wat hom toekom vir wat hy doen.

Met die finale oordeel kom Christus alles in die skeppng op hulle regte plek sit, waar hulle hoort. Vir sy volgelinge wat volhard in geloof en vertroue op Hom, beteken dit die ewige lewe van vreugde in die ewige teenwoordigheid van God (22:4). Vir ongelowiges is dit ‘n verskrikking om vir ewig sonder God te wees, oorgegee aan mekaar se begeertes, verwerplike denkwyses en onbetaamlike optredes (Rom 1:24,28).

22:13 Christus se uitspraak oor Homself as die Alfa en die Omega, soos in 1:17 (vgl. 2:8) word ook deur God van Homself gesê in 1:8 en 21:6. By God het alles begin en by God word alles voleindig. Dit kom reeds van Jes 44:6 af: Ek is die eerste en die laaste, buiten My is daar geen God nie (vgl Jes 41:4; 48:12). As die Woord van God het Christus die eerste woord met die skepping gespreek (Gen 1:2; Jn 1:3,10; Hand 17:28; 1 Kor 8:6; Kol 1:16; Hebr 1:2; Op 3:14), en spreek Hy ook die laaste woord oor die ou skepping en die begin van die nuwe skepping. Hy is anders as al die skepsels, ewig. Alle dinge bestaan deur en tot Hom en die Vader, as die sin van hulle bestaan, vir wie hulle lewe.

Die Vader oordeel niemand nie, maar het die volle oordeel aan die Seun oorgegee (Jn 5:22). Daarom oordeel Hy oor alle dinge, en beloon Hy ook elke mens volgens wat hy/sy gedoen het. God het alles (die ganse skepping) onder sy voete gestel en Hy het Hom as Hoof bo alles aan die kerk, wat sy liggaam is, gegee, die volheid van Hom wat alles in almal (in al sy volgelinge) vervul (Ef 1:22-23) – Hy vervul ons met sy liefde, sy blydskap, sy vrede….(vgl. die 9 aspekte van die vrug van die Gees in Gal 5:22-23).

22:14 Die sewende en laaste seën is ook vir dié persone wat deur hulle lewe besig is om hulle stolas vir die hemel te was – hulle lang togas, wat hulle as volgelinge van Jesus en kinders van God aandui. In 7:14 is gesê dat hulle die vuil van hulle vorige bestaan wit gemaak het (gereinig het) in die bloed van die Lam. Dit dui op ‘n daaglikse reiniging deur ‘Ons Vader’ op die 5e versoek van Lk 11:2 ‘vergeef ons (elke dag) ons sondes…’; Mt 6:12 ‘vergeef ons (daagliks) ons skulde…’, en Joh 13:10 ‘iemand wat gebad is (deur Jesus), het nie nodig dat iets anders as sy voete gewas word nie, omdat hy reeds heeltemal skoon is.’ Joh 15:3: Julle is alreeds rein deur die woorde wat Ek vir julle gesê het – deur in Jesus te glo as die Here wat oor jou lewe regeer met sy woord, bewys jou geloof in Hom dat jy deur Hom skoon gewas is aan die kruis (vgl. Openb 3:4,18).

Adam en Eva het in die tuin van Eden gebly waar die boom van die lewe is, maar het nie die reg gehad om daarvan te eet nie. Mense wat deur geloof in Jesus aan Hom verbind is, het die reg/volmag om die nuwe Jerusalem in te gaan en van die boom van die lewe te eet – ‘n simbool dat hulle die ewige lewe het (Jn 3:36), en die reg het om kinders van God te word (Jn 1:12).

Skrywer:  Prof Francois Malan