Die Openbaring aan Johannes – Die nuwe Jerusalem is die bruid, die vrou van die Lam (21:9-22:5) – Francois Malan

21:9-11 Een van die sewe engele van 15:1 met die laaste plae (7 bakke) wat die einde van God se toorn kom aankondig, het Johannes deur die Gees vergesél na ‘n groot en hoë berg se uitsig op die neerdalende heilige stad Jerusalem, om die versierings van die bruid te sien (vgl. die berg Sinai met Moses by God, Eks 19:3; 34:4,5; berg Nebo vanwaar Moses die hele Kanaän gesien het, Deutr 34:1; Eseg 40:1 vanwaar Esegiël afgekyk het na Jerusalem).

Die versierings van die bruid Jerusalem is die teenpool van die prostituut Babilon se uiterlike versierings om mense daarmee te verlei en na haar toe te trek. Die bruid word die vrou van die Lam genoem (Jes 54:5-6), wat Hy deur sy selfopofferende liefdesoffer na Hom toe trek (Jn 12:32-33; Openb 1:5: aan Hom wat ons liefhet en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het…kom die heerlikheid toe vir ewig; 3:9 ongelowige Jode sal erken dat Ek, die Seun van die mens, jou liefhet). Sy vrou word deur Hom beklee met sy liefde (Jes 61:10 soos ‘n bruid met haar juwele). Die vrou Jerusalem was vol van die heerlikheid van God wat daarin kom woon het. Sy heerlikheid het deur haar na buite gestraal met ‘n glans wat net soos dié van ‘n baie kosbare edelsteen gelyk het, soos kristalhelder jaspis (diamant). So is ook die Een op die troon in 4:3 beskryf. Die liefde van die God van liefde, wat in die gelowiges kom woon het, straal deur hulle uit. Hulle het mekaar lief soos Jesus hulle liefgehad het (Jn 13:34).

Die vrou van die Lam, sy kerk, wie se name in God se boekrol opgeskryf is, vertoon die karaktertrekke van die Lam wat uit liefde vir ons geslag is, en die onderlinge liefde van gelowiges straal uit (Op 12:11 hulle wat die aanklaer oorwin het op grond van die bloed van die Lam…het nie hulle eie lewens liefgehad nie, selfs nie in die aangesig van die dood nie). Die nuwe Jerusalem, die nuwe hemel op die nuwe aarde, waarin die God van liefde woon, word gekenmerk deur die liefde (in 20:9 word sy die geliefde stad genoem, wat die Lam as sy bruid so liefgehad dat Hy vir haar gesterf het, en dié liefde werk nou in en deur hulle voort – volgens die voltooide deelwoord vir liefhê). Dit is die heerlikheid van God (vgl. Jn 1:14 sy heerlikheid is vol van sy onverdiende genade oor mense en van die waarheid oor God se liefde vir die wêreld, wat in sy Seun gestalte gekry het, Jn 3:16).

21:12-14 Die perfekte ekstragroot mure en poorte verskaf ‘n veilige plek vir sy inwoners, en sy reusagtige grootte verseker dat niemand uitgesluit word nie. Veelvoude van die goddelike getal 3 x die skepping se getal 4 = 12 dui op die volheid en insluiting van die nuwe skepping.

By die 12 poorte staan 12 engele wag om te keer dat enige onreinheid daar inkom, soos die gerubs wat die tuin van Eden bewaak (Gen 3:24). Op die poorte is die name van die 12 stamme van Israel geskryf om die gelowiges van die Ou-Testamentiese-bedeling te verteenwoordig (soos in Eseg 48:30-35), en op die 12 fondamente van die stadsmuur die name van die 12 apostels van die Lam wat die gelowiges van die Nuwe-Testamentiese-bedeling simboliseer – die kerk is gebou op die fondamente van die apostels (Ef 2:20, die eerste getuies oor Jesus as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem, Jn 1:29; vgl. ook 1 Kor 3:10-11). Met die 3 poorte aan elk van die 4 kante van die stad het reisigers gelyke toegang tot die stad uit al vier rigtings van die aarde, Oos, Noord, Suid, Wes,

21:15-17 In Openb 11:1 het Johannes ‘n gewone meetstok soos ‘n staf gekry om die tempel te meet om daarmee aan te dui dat die stad aan God behoort. Die spesiale nuwe Jerusalem word deur ‘n engel gemeet met ‘n spesiale goue meetstok om die stad van suiwer goud te meet (21:21). Die stad is ‘n volmaakte kubus met 12,000 stadia (ongeveer2,200 km) in lengte, breedte en hoogte, om haar volmaaktheid te simboliseer. Ook die muur is 12×12=144 el hoog wat die OT en NT-gelowiges aandui, en dat hulle aan God gewy is (Eseg 42:20; Jer 31:39-40). ‘n Volmaakte kubus-stad is simbool vir die ideale ewige verblyf van God met sy volk. Die afstande is nie van belang nie maar hulle is simboliese getalle wat die volledige getal van die gelowiges van God en die ewige volmaakte saamwees van God en sy volk simboliseer,.

(Vgl die kubieke mate van die allerheiligste waarin die ark van die verbond staan, 1 Kon 6:20; as afbeeldings van die hemelse dinge, Hebr 9:23,28; as skaduwees van die toekomstige dinge, Hebr 10:1,14, van ‘n volmaakte bruid vir die Lam, Hebr 10:14).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Vir ewig saam met God (21:5-8) – Francois Malan

In 21:5-8 is God self aan die woord (Hy wat op die troon sit):

21:5-7 God se aankondiging dat Hy alles nuut maak, word versterk met die finale uitspraak: Dit is gedoen/afgehandel! Ek is die Alfa en die Omega (1:8; die eerste en laaste letters van die Griekse alfabet), die Begin en die Einde (Jes 44:6; 48:12) – Hy is self die bron en sin van die lewe en die doel van alle bestaan. Johannes moet die woorde neerskryf vir elke tyd, ook vir ons tyd, om dit te lees en te weet dit is God se woorde en daarom getrou en waaragtig.

Aan die einde van hulle pelgrimstog na die nuwe beloofde land voorsien God presies waarna die volhardende reisigers smag: Dié wat dors is, sal Ek laat drink uit die fontein van lewegewende water, verniet (doorean ‘n vrye gawe; Openb 22:17; Jes 55:1; Jn 4:14: in die gelowige word dit ‘n fontein wat opborrel tot die ewige lewe). Die belofte aan dié wat volhard in hulle geloof en gehoorsaamheid aan Christus in die 7 gemeentes, word vervul

(2:7: hy sal eet van die boom van die lewe wat in God se paradys staan; 2:11 hy sal nie skade ly deur die tweede dood nie; 2:17 aan hom sal Ek van die verborge manna gee; 2:28 Ek sal aan hom die môrester gee – ‘n aandeel aan Christus se status as die blink môrester (22:16) wat die nuwe dag aankondig; 3:5 Ek sal sy naam nie uit die boekrol van die lewe skrap nie; 3:12 Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak wat nooit weer daar sal uitgaan nie; 3:21 sal Ek hom saam met my op my troon laat sit – alles beelde van die ewige lewe saam met God in die nuwe hemel op die nuwe aarde).

‘Water van die lewe’ wat God voorsien, gee lewe vir ewig, want Hy is die bron van alle lewe. ‘Wie oorwin, sal hierdie dinge beërf’ – vir ewig as sy vrye erfporsie (Rom 8:17, ‘en Ek sal sy/haar God wees en hy/sy sal my seun/kind wees’ (soos in 2 Sam 7:14; Eseg 11:20; vgl. Lev 26:12; Sag 8:8).

21:8 Om die belofte van ewige geluk, saligheid, heil te beklemtoon word ‘n waarskuwing gegee aan dié wat nog huiwer en ’n kompromie met Babilon oorweeg. Dié wat kompromieë maak en nie die versoekings van die dier weerstaan nie, word uitgesluit uit die nuwe Jerusalem en vir ewig oorgelewer in die brandende poel van vuur en swawel – die lafhartiges wat swig voor die druk en geweld van die wêreld, ongelowiges wat nie die goeie nuus van Jesus Christus glo nie, losbandiges (perverte, veral seksuele perverte), moordenaars, onsedelikes/prostitute, towenaars, afgodedienaars, en alle leuenaars. Die sondes wat gelys word kom reeds voorheen voor, in 13:8 afgodsdienaars, 17:2 onsedelike gedrag, 17:6; 18:24 moordenaars, 18:3 losbandiges, 18:23 towenaars. Slegs die eerste twee van die sewe, lafhartiges en ongelowiges, is nie voorheen genoem nie, maar word hier bygevoeg om met die voltal 7, alle sonde te verteenwoordig, vgl. 21:27 niks wat besoedel is en niemand wat iets gruweliks en vals gedoen het, sal ooit toegang tot die nuwe Jersalem kry nie, slegs diegene wat suiwer deur God se genade in sy boekrol van die lewe opgeteken is.

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die nuwe hemel en die nuwe aarde (21:1-4) – Francois Malan

Die ontknoping van die verhaal van Openbaring (21:1-22:5) is die veilige aankoms van die pelgrims in die nuwe beloofde land, ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. Die skepping is herstel, orde is uit die chaos geskep en elke ding is op sy regte plek. Die karakters van vernietiging is in hulle regte plek, die poel van vuur, en dié wie se name in die boek van die lewe geskryf is, is in hulle regte plek, die Nuwe Jerusalem.

21:1-4 Johannes sien die nuwe hemel en die nuwe aarde wat die ou hemel en die ou aarde vervang, en die see wat skei bestaan nie meer nie. Die see is gesien as die oorsprong van die bose (12:18-13:1) – die oorsprong en blyplek van die bose het geen plek in die nuwe hemel en nuwe aarde nie. Die huidige aarde wat verkrag is, en beroof, en verskeur is, gevul met woede en vergelding, met seerkry en pyn, kan nie bly nie, en hoort ook nie voort te bestaan nie. Die aarde was die woonplek van die dier en sy makkers uit die see en uit die aarde (hoofstuk 13). Die ou aarde was die troon van Babilon, die groot prostituut (hoofstuk 18). Daarom moet die ou aarde weg.

Die nuwe skepping is anders as die eerste skepping. Johannes gebruik telkens die woord kainos ‘nuut,’ iets wat nog nie tevore bekend was nie, en die kwaliteit van die nuwe aandui (2:17 ‘n nuwe naam; 3:12 ‘n nuwe Jerusalem en ‘n nuwe naam; 5:9 en 14:3 ‘n nuwe lied; 21:1’n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde; 21:2 die nuwe Jerusalem; 21:5 Ek maak alles nuut).

Die andersheid van die nuwe word in negatiewe terme beskryf deur te noem wat nie meer deel is van die nuwe aarde nie: die see (21:1), die opgaarplek van boosheid en chaos (13:1; vgl. 11:7); dood bestaan nie meer nie, ook nie rou of gehuil of pyn nie (21:4; vgl. Jes 25:8; 65:19); niks wat vervloek is nie (22:3); nag, lamplig, die son bestaan nie meer nie (22:5,23); die beperkings van die ou skepping is verwyder want die eerste dinge het verbygegaan (21:4).

Die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde begin reeds in Jesaja 65:17-19 (vgl. Jes 2:1-5; 18:7; 59:20), met sy profesie oor die terugkeer van die ballinge uit Babel na ‘n nuwe Jerusalem, wat hier in Openbaring sy finale vervulling kry in die kerk van Jesus Christus as die nuwe Jerusalem, wat gereedgemaak is soos ‘n bruid vir die Lam, en waar God self by sy volke sal woon. Die nuwe hemel en die nuwe aarde word een in die nuwe Jerusalem waar God en sy dienaars woon. Die nuwe Jerusalem is ‘n simbool vir God en sy mense se ewige woning, maar die stad van God is ook ‘n simbool vir die gelowiges as volk van God, burgers van God se koninkryk waarin die God van liefde alleen regeer soos ‘n goeie herder.

Johannes sien die oorsprong van die nuwe skepping: dit daal neer ‘van God af uit die hemel’ (vgl. 3:12). Dit is ‘n gawe wat van God kom. Johannes beklemtoon dit deur dit tweemaal van die nuwe Jerusalem te skryf (21:2,10). Dit is in kontras met Babilon wat hemelwaarts reik op ‘sewe berge’ (17:9). Die nuwe Jersalem daal neer op ‘n groot en hoë berg (21:10; Jes 2:2-3 die berg van die Here; Eseg 40:1-2 in ‘n visioen word Esegiël op ‘n baie hoë berg neergesit waar die nuwe tempelkompleks staan in die glorie van die onverdiende genade van die magtige teenwoordigheid van die Here (Eseg 43:7,12) om Israel skaam te maak oor hulle oortredings (Eseg 43:10); Miga 4:1-2 gebruik die simbool van die hoë berg van die Here wat seën bring vir al die nasies. Die nuwe hemel en nuwe aarde wat God geskep het en uit die hemel neerdaal as die woonplek van God beteken dat die skeiding tussen hemel en aarde en God en mens verdwyn, om plek te maak vir een wêreld waar God saam met sy dienaars lewe, en hulle almal as volgelinge van die Lam saam lewe in die selfopofferende liefde van die Lam.

Johannes hoor toe ‘n harde stem van die troon (van God en die Lam) af, wat die neerdaling van die nuwe hemel en die nuwe aarde wat hy gesien het verklaar, soos dit wat hy sien telkens verklaar word met wat hy hoor. Driemaal word gesê: by die mense, by hulle, by hulle (21:3):

Kyk, God se woonplek (letterlik: sy skene, tent, tabernakel) is by die mense – soos met die uittog

Hy sal by hulle woon (letterlik: skenoosei Hy sal tentopslaan) – dieselfde woord as in Jn 1:14 ‘die Woord het mens geword en onder ons kom woon (tentopslaan).’

hulle sal sy volke wees en God sal self by hulle wees as hulle God.

Die verbond wat God by Sinai gesluit het, word nou vervul: Ek sal by julle bly en julle God wees, en julle sal my volk wees (Lev 26:11-12; Jer 31:33; Eseg 37:27). Met die koms van Jesus as Immanuel, God by ons, is dit reeds vervul, en met die Heilige Gees wat in ons kom woon, word dit uitgewerk. Maar die verhouding tussen God en sy volgelinge, wat nou reeds bestaan en geglo word, en iets daarvan beleef word, sal in die ewigheid gesien en ten volle uitgeleef word soos God wil (vgl. 1 Kor 15:28 God sal alles in almal wees).

Daar sal geen trane meer wees nie (7:17; Jes 25:8) – geen leed, smart of pyn meer nie

Die dood sal nie meer daar wees nie – dood, die oorsaak van al die leed, het met die sonde van die mens begin (Gn 2:17).

Want, die eerste dinge het verbygegaan – alles wat herinner aan die ou hemel en die ou aarde.

Skrywer:  Prof Francois Mlan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die laaste oordeel (20:11-15) – Francois Malan

Die laaste oordeel word baie kort beskryf (bv. in vergelyking met Matteus 24-25), maar die finaliteit daarvan word beklemtoon. Alle boosheid word beëindig, alle opstand teen God uit die weg geruim, en die pad skoongemaak vir die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die laaste gedeelte van die boek, vanaf hoofstuk 14, het telkemale na die finale oordeel van God verwys (vgl. 14:7 die uur van sy oordeel het aangebreek).

20:11 Johannes sien ‘n groot wit troon en dat die aarde en die hemel wegvlug sonder om ‘n wegkruipplek vir die teenwoordigheid van die Een wat op die troon sit te vind. Vir die ou skepping, wat saam met die mens aan ‘n sinlose bestaan onderwerp was, as slawe van vernietiging (Rom. 8:20-22) is daar geen plek meer te vind nie. Die ou aarde en hemel word vervang met die nuwe hemel en die nuwe aarde (vgl. 2 Petr 3:7). Al wat oorbly is die onvergelyklike onbesmette (groot in majesteit en suiwer wit) troon en die blywende teenwoordigheid van die Een wat daarop sit, wat Johannes in hoofstuk 4 gesien het. Alles wat skeiding gemaak het tussen God en die mens en die skepping word verwyder.

20:12 Die oordeel geskied volgens wat elke mens self in sy lewensboek geskryf het met elke woord en daad en gesindheid (vgl. Dan 7:10 se boek met die aanklagte). Dit weerspieël elke skrywer se keuses, òf uit gehoorsaamheid en toewyding aan God, en sy/haar liefde tot hulle medemens, òf aan die dier en sy wêreld van betowering en verleiding, en sy/haar liefde vir hulleself.

Die boek van die lewe is die register van die Lam wat Hý opteken ( Eks 32:32-33; Ps 69:29; Jes 4:3). Terwyl die eerste boek die mens se verantwoordelikheid boekstaaf, word God se genade in die boek van die lewe opgeteken. Die name in die boek van die lewe berus alleen op die Lam se geregtigheid waarmee Hy die gelowiges vrygekoop het met sy liefdesoffer (vgl. Openb. 13:8 se Lam wat geslag is). Volgens 17:8 is hulle name deur die eeue in die boek opgeskryf, van die skepping van die wêreld af (vgl. Daniel 12:1-2); Openb 3:5 sê: wie oorwin oor die versoekings van die bose, se name sal nie uit die boekrol van die lewe geskrap word nie. Dwarsdeur Openbaring word beklemtoon dat gelowiges moet volhard in hulle geloof in Jesus en in die liefdesgebooie van God (bv. 14:12); dit gaan oor ons getuienis oor Jesus, met woorde en met ons lewe, waarin die Heilige Gees ons lei en in ons werk (19:10).

20:13-15 Die dood en die doderyk word in hulle regte plek, die ewige vuur, gegooi, nadat almal teruggegee is, wat reeds in die doderyk was. Dood bestaan nie meer nie, ook nie die doderyk as ‘n wegkruipplek vir die toorn van God nie (vgl. Ps 139:8). Saam met die dood en die doderyk word dié mense wie se name nie in die boek van die lewe opgeteken is nie, in hulle bestemde plek, in die vuurpoel gegooi as simbool vir God se ewige straf (vgl. Openb 19:21; Joh 3:36).

Die ‘tuin van Eden’ in 22:1-5 met sy breë rivier met water van die lewe en bome wat deur die jaar vrugte dra, met God en die Lam altyd teenwoordig, is ‘n simbool van die ewige hemelse volmaakte lewe saam met God en die Lam en met mekaar. So is die ewige vuur die simbool van die ewige straf en algehele godverlatenheid. Romeine 1:18,24,28 sê die toorn van God word geopenbaar deurdat Hy hulle oorgee aan hulle self, hulle eie begeertes, aan ‘n verderflike denkwyse sodat hulle onbetaamlik teen mekaar optree.

Dit gaan hier nie oor ‘n nuwe hofsitting nie, maar slegs oor die bekendmaking van God se oordeel, wat in Jesus klaar gevel is (Johannes 5:22: Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die volle oordeel aan die Seun oorgegee. Jn 3:36: Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, inteendeel, die toorn van God bly op hom. Met die bekendmaking van die oordeel op die laaste dag is die Vader en die Seun betrokke (22:1).

Elkeen word op sy regte plek gesit. Uit die chaos in die ganse skepping word weer orde geskep deur die koms van die nuwe skepping met sy nuutheid en skoonheid, wat in hoofstukke 21-22 beskryf word.

Skrywer:  Prof Francois Malan