Die Openbaring aan Johannes – Die dier se tien horings (17:12-18) – Francois Malan
17:12-14 Met die tien horings, wat tien konings voorstel, dui Openbaring hulle totaliteit en volledigheid aan. Die tien konings in hulle verbondenheid aan die dier verteenwoordig die totale aardse teenstand teen die Lam. Daarvoor stel die konings soos een man hulle krag en volmag tot die beskikking van die dier. Hulle doen sy werk vir hom. Aan hulle word slegs een uur se gesag toegeken – die simboliese ‘een uur’ word drie maal gebruik (18:10,16,19) om die oordeel oor Babilon te bekragtig. Die konings se een-uur-regering staan teenoor die 3½ jaar – die helfte van 7, slegs ‘n halwe tyd van die regering van die dier (13:5) en die 1,000 jaar – die volle tyd – wat die gelowiges saam met Christus regeer (20:4). Soos die prag van Babilon in een uur verdwyn, is die 10 konings se heerskappy kort, skaars ‘n oogwink op die kosmiese kalender.
Die konings stel simbolies die bose heersers op die aarde voor, heersers wat onderdanig is aan die antichris. Die een uur is ‘n aanduiding van die bose se mislukte opgang, ‘n regering wat reeds verslaan is deur God se liefdesdaad in Christus. Die konings se kortstondige mag word onderstreep deur 17:14 met ‘n oorlog wat hulle onmoontlik kan wen. Die Lam sal hulle oorwin want Hy is die Heerser van die heersers (letterlik so in Deutr. 10:17; Dan 2:37,47) en die Koning van die konings (die Romeinse keiser het bekendgestaan as die koning van die konings oor die verskillende volke in sy ryk) – selfs die 10 konings se volmag kom van die Here af, wat aan hulle die verantwoordelikheid gegee het om te regeer (Rom 13:1), maar wat hulle misbruik het. Saam met die Lam is die mense vir wie die Here uit die duisternis na die Lig toe geroep het, dié wat God deur sy Seun gekies het, en wat getrou vasgehou het in hulle gehoorsaamheid aan die Lam en sy woord, getrou aan Hom wat vir hulle geslag is en opgestaan het.
17:15-18 Die hoofstuk sluit met geweldsbeelde om die bose se ironiese selfvernietiging te skilder. Die groot prostituut Babilon sit/bly op die waters (Jer. 51:13), as beeld vir al die volke, skares, nasies en tale. Dit sluit almal in wat in opstand is teen God. Maar die opstandelinge raak onderling verdeeld en begin mekaar vernietig (die mense dien die groot prostituut-regeerder met groter ywer as vir die afgode. Daarom word die onderkonings en die dier jaloers op die groot koning/die groot prostituut). Die 10 horings/konings en die dier sal die prostituut haat:
Hulle sal haar verlate maak soos ‘n geskeide vrou (die woord ‘verlate’ verwys na ‘n woestyn, en na ‘n vrou wat verlaat is; vgl Eseg 32:15) en nakend (vg. 3:18, Die Laodisense moet by die Here wit klere kry om die skaamte van hulle naaktheid te bedek: 16:15 jy is geseënd as jy jou klere byderhand het, sodat jy nie naak loop en die mense jou skaamte sien nie) Babilon se uiterlike naaktheid bewys haar innerlike armoede, maar ook haar verarmde ekonomie, naakte politiek en afwesigheid van egte geestelike lewe haar vleis eet (soos die voëls van 19:21) en haar met vuur verbrand (sy is soos die dier bestem vir vernietiging; 17:11; 19:20).
Die toneel beskryf die selfvernietigende aard van die boosheid – ‘n waarheid wat deurlopend in Openbaring verkondig word, bv. die vier bose ruiters op die perde wat uitgaan om te verwoes (hfs 6; vgl. Eseg 38:21). Boosheid en onreg dra in sigself die saad van hulle eie vernietiging, en aan die einde val hulle hele gebou inmekaar. Paulus sê die toorn van God word geopenbaar waar God mense oorgee aan hulle eie begeertes en verwerplike denkwyse (Rom 1:24,28). So val Babilon die Grote deur die onderlinge verdeeldheid onder bose mense en magte (vgl. Mat 12:26; Mark 3:26).
Skrywer: Prof Francois Malan