Die opstanding: ‘n Brug tussen twee wêrelde
Die opstanding: ‘n Brug tussen twee wêrelde
Hy was ‘n ateïs. Eendag lees hy Plato se Republic. In die boek vra Plato dat ons ons moet verbeel dat ons ‘n groep manne is wat in ‘n grot vasgevang is.
Al wat ons ken, is ‘n wêreld van flikkerende skaduwees as gevolg van die vuur. Ons ken net ‘n wêreld van skaduwees. Dit bring sekere vrae in hom na vore: Sê nou maar net hierdie wêreld is net deel van die storie? Sê nou maar net hierdie is maar net ‘n skaduwêreld? Sê nou maar net daar is nog iets – iets wonderliker – as hierdie wêreld?
Dit lei tot sy bekering – hy het so ‘n duidelike en oorweldigende beeld gesien dat dit ‘n reaksie van sy kant geëis het. Hy sien vir die eerste keer godsdiens as ‘n Godgegewe lens waardeur jy dinge kan sien – ‘n lig wat die skaduwêreld verlig.
As voormalige ateïs was die opstanding vir hom ‘n probleem. Het dit werklik gebeur? As dit nie gebeur het nie, kan ons tog nie die Nuwe Testament vertrou nie. Hoe pas die opstanding in die Christelike geloof? Hy besef dat die opstanding ‘n groter doel het as net om die identiteit van God te verduidelik.
Hy besef dat die opstanding hom gehelp het om swaarkry en pyn en onsekerhede te hanteer. Dit beklemtoon die Nuwe Testament se fundamentele boodskap van hoop. Al loop ons deur die doodsvallei weet ons dat God by ons is. Ons besef dat Christus se opstanding die vaste fondament vir ons hoop is. Diegene wat in Hom glo, weet dat hulle eendag saam met Hom sal opstaan.
Die opstanding verander nie net die manier waarop ons dink nie, maar ook die manier waarop ons leef. Die opstanding is ‘n brug tussen twee wêrelde – die alledaagse lewe en die helder lewe van Christelike hoop. Hierdie hoop is dat ons een dag die Nuwe Jerusalem sal belewe. Ons aanbidding op aarde is maar ‘n voorsmakie van ons aanbidding eendag in die hemel.
To go to heaven fully to enjoy God, is infinitely better than the most pleasant accommodations here. Fathers and mothers, husbands, wives, children, or the company of earthly friends, are but shadows. But the enjoyment of God is the substance. These are but scattered beams, but God is the sun. These are but streams, but God is the fountain. These are but drops, but God is the ocean.
Henk vra: ‘n Persoon beweer Jesus het net in Gees opgestaan en nie in Vlees nie. Ek weet Jesus het opgestaan, maar hulle vergeestelik alles en noem altyd Bybelverse. Ek wil weet hoe kan ek hom antwoord, want om hom te oorreed is half onmoontlik. Antwoord: Prof Francois Malan antwoord: 1. Vlees is ‘n baie breë begrip. Die Griekse woord sarks kan vertaal word as vleis (die ou Nederlandse woord ‘vlees’ wat nog vassteek in Afrikaans om verskillende dinge aan te dui, veral omdat ons nie wil sê ‘vleis en bloed’ nie, vgl. 1 Kor.15:50), maar dit kan ook liggaam, mense, menslik, nasie, menslike natuur, fisiese natuur, aandui in die Nuwe Testament. 2. In 1 Kor.15:35-57 verduidelik Paulus iets van die opstandingsliggaam, dat dit onverganklik is (v42), in heerlikheid (v43), in krag (v44), ‘n geestelike liggaam (v44), dat die laaste Adam (Christus) ‘n lewendmakende Gees is (v45), dat vlees en bloed nie aan die koninkryk van God kan deel kry nie (v50). Paulus sê met die opstanding sal ons almal verander word, dat ons verganklike liggaam met onverganklikheid beklee sal word, en ons sterflike liggame met onsterflikheid (vv52,53). Dit gee ons ‘n kykie in wat ons kan sê van Jesus se opstanding. Die Evangelies sê bv. dat Jesus sommer skielik voor die vroue gestaan het en dat hulle sy voete gegryp het en Hom aanbid het (Mat28:9). Die twee Emmausgangers het Hom eers nie herken nie, maar toe hulle saam met Hom aan tafel was en Hy vir hulle die brood gebreek het, het hulle oë oopgegaan en het hulle Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn (Luk.24:13-31). Toe Jesus dieselfde aand aan die dissipels verskyn met die merke van die spykers aan sy hande en voete, nooi Hy hulle uit om aan Hom te voel, want ‘n gees het nie vleis en bene soos hulle sien dat Hy het nie, en Hy het saam met hulle geëet (Luk.24:39-43). Die volgende Sondagaand verskyn Hy aan sy dissipels in ‘n kamer waarvan die deur gesluit is en Hy skielik tussen hulle staan (Joh.20:19). Vir Tomas nooi Hy die volgende Sondagaand uit om sy vinger in sy spykermerke te steek en sy hand in sy deurboorde sy (Joh.20:27). By die see gee Hy vir sy dissipels brood en vis om saam met Hom te eet by die vuurtjie wat Hy gemaak het (Joh.21:13). Dat Jesus liggaamlik opgestaan het, is seker, maar dit is met ‘n verheerlikte liggaam. As jy onder ‘vlees’ die mens se sondige natuur verstaan, dan het Jesus nie in die vlees opgestaan nie. As jy egter onder ‘vlees’ die menslike liggaam verstaan, dan het Jesus in sy menslike liggaam opgestaan, maar in ‘n veranderde liggaam wat deur ‘n geslote deur kan stap, verskyn en verdwyn, maar met ‘n liggaam wat die tekens van sy lyding dra en waarmee Hy eet en waaraan jy kan voel, nie ‘n gees nie. As jy sy verheerlikte liggaam ‘n geestelike liggaam noem in teenstelling met ‘n natuurlike liggaam wat vergaan, is dit volgens Paulus reg (1 Kor.15:44-49). As geestelike liggaam egter beteken dat Jesus nie liggaamlik opgestaan het nie, is dit verkeerd. Skrywer: Prof Francois MalanHet Jesus liggaamlik opgestaan?
Het Jesus liggaamlik opgestaan? – Francois Malan
Die kruisiging van Jesus
Die kruisiging van Jesus – Jan van der Watt
Jan vra:
Met die afgelope Paasnaweek en die gebeure rondom die kruisiging en opstanding van Jesus val my oog op Matth 27:51 waar hy sê die aarde het gebewe en die rotse het geskeur en verder Matth 28: 2: En daar kom ‘n groot aardbewing want die engel van die Here het uit die hemel neergedaal en die steen van die opening weggerol en darop gaan sit. Moet mens hierdie glo? So ‘n groot aardbewing en rotse wat skeur klink ‘n bietjie oordrewe om ‘n enkele klip weg te rol. Dit klink vir my maar redelik rof of het die skrywer bietjie aangedik?
Antwoord:
Prof Jan van der Watt antwoord:
In Matt 27:51-53 lees ons: ‘En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur; en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan. En ná sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan en in die heilige stad ingekom en aan baie verskyn‘. Die verse het al baie geleerdes aan die wonder gehad, veral wat die mense geword het wat uit die grafte opgestaan het. Die besondere gebeure is egter deur die Ou Testamentiese profesiee voorspel (bv. Jes 24:19; 29:6; Jer 10:10; Sag 14:4); selfs dat die dooies sou opstaan as God weer na sy mense toe kom, wat inderdaad met Jesus se koms gebeur het (Jes 26:19). Die aardbewing en rotse wat skeur is tekens daarvan dat God op daardie oomblik teenwoordig en aan die werk onder sy mense is. Mense het immers verwag dat as God betrokke is, daar dinge gaan gebeur wat mense nie kan doen nie. Al die dinge wat gebeur het, sou as bewys dien dat God in sy krag teenwoordig is – die Ou Testament het immers die soort dinge voorspel. Niemand kan meer twyfel dat Jesus werklik die Een is deur wie God op hierdie aarde optree nie.
As ons egter by die vraag kom of die dinge regtig gebeur het, kan ons dit eintlik nie na enige kant toe bewys nie – dit kan nie bewys word dat dit nie gebeur het nie, ook nie dat dit gebeur het nie. Ons het geen video-opnames of foto’s nie. Al wat ons kan doen is om te glo dat die getuienis van die evangeliste waar is; en geloof is nog nie historiese bewys nie. Dit beteken egter nie dat ons aan die boodskap dat Jesus die gestuurde van God was hoef te twyfel nie.
Skrywer: Prof Jan van der Watt
Die Groot Geloofswoordeboek: Opstanding
Die Groot Geloofswoordeboek: Opstanding
Opstanding
- Jesus se opstanding Algemene opstanding Opstandingsliggaam Verheerliking
- Jesus se opstanding
Daar is ‘n sin waarin die opstanding van Jesus die belangrikste element van die evangelie is. Dit is net van Jesus se opstanding dat Paulus sê ons kan maar die kerkdeure toemaak as Hy nie opgestaan het nie (1 Kor 15:12 ev). En daar is geen manier om sy opstanding te vergeestelik asof Hy net in ons harte opgestaan het terwyl Hy nooit regtig uit die graf gekom het nie. (*”Nuwe Hervormers”, *Leë graf) Die Jode van die tyd van Jesus het te fisiek oor ‘n mens gedink om enigsins van opstanding te kon praat terwyl sy liggaam nog in die graf is.
Dit is dan ook nie vreemd dat die apostels ‘n hele paar betekenisse aan die opstanding van Jesus geheg het nie. Sy opstanding was:
1. die begin van die eindopstanding
2. die oorwinning oor die dood
3. die oorwinning oor die bose magte
4. die bevestiging van die betekenis van sy kruis
5. deur sy opstanding kan ons nou reeds die sonde oorwin
Wat ‘n rykdom aan betekenis!
Die eindopstanding het al begin
Jesus se opstanding en ons opstanding by sy wederkoms is nie twee gebeurtenisse wat los staan van mekaar nie. Sy opstanding was die begin van hierdie algemene eindopstanding aan die einde van die tyd. Jesus het wel die opstanding verkondig gedurende sy aardse bediening, maar dit was nie iets nuuts nie. Die meeste groepe onder die Jode het alreeds geglo dat daar ‘n eindopstanding kom. Ons kry dit duidelik in die boek Daniël (12:2). (Dit is terloops die enigste duidelike verwysing na die opstanding in die Ou Testament. Die ander kan metafore wees van die herlewing van Israel by die terugtog uit ballingskap.)
Jesus het dus nie iets nuuts verkondig met sy boodskap oor die opstanding nie. Wat nuut was, radikaal nuut, is dat Hy opgestaan het. Dit was die ingrypendste wending in die geskiedenis sedert die skepping. Daar is immers net een opstanding aan die einde. Maar Jesus het opgestaan – dan het die eindopstanding begin! Dit is die eerste betekenis van sy opstanding: Hy het die einde ingelui. (*Wederkoms, *Tekens van die tye)
Anders as die Fariseërs het die Sadduseërs glad nie geglo dat daar ‘n opstanding sal wees nie. (*Pentateug) Daarom is hulle woedend (die 1983-vertaling se “onthuts” mis die punt heeltemal) oor wat die apostels verkondig het: Jesus het opgestaan en daarmee het die eindopstanding begin (Hand 4:2). Vir die Sadduseërs was dit een te veel. Hulle glo glad nie daar sal ‘n opstanding wees nie, en nou verkondig die dissipels dit het al begin!
Daar is meer getuienis hiervoor in die Nuwe Testament. Romeine 1:4 behoort te lees dat Jesus “op grond van die opstanding van die dooies (en nie “op grond van sy opstanding uit die dood” nie) aangewys is as die Seun van God”. En in 1 Korintiërs 15 is Paulus se hele argument dat dit sinloos is om te bely dat Jesus opgestaan het as die dooies nie opstaan nie. Jesus se opstanding is dus onlosmaaklik gekoppel aan die algemene opstanding. As daar nie ‘n algemene opstanding is nie, kon Hy nie opgestaan het nie, want sy opstanding is die begin van die algemene opstanding.
Dit is inderdaad die ingrypendste van al die betekenisse van Jesus se opstanding. Dit beteken dat die ou wêreld eintlik verby is en ons klaar met die een voet op die nuwe aarde staan. Dit is die betekenis van tekste soos 2 Korintiërs 5:17, wat eintlik moet lui: “Iemand wat met Christus verenig is, het deel aan ‘n nuwe skepping.”
Die mag van die dood is gebreek
Die tweede betekenis is dat Hy die mag van die dood gebreek het. Dit is opvallend dat die dissipels aan die begin die opstanding preek en nie die kruis nie. In al Petrus se preke in Handelinge verwys hy na die kruisiging as ‘n skanddaad van die Jode, maar die opstanding is die ingryping van God waarvan die apostels getuies is (Hand 2:23 ev; 3:15; 4:10; 5:30 ev). Selfs wanneer hy sondevergifnis aanbied, verwys hy nie na die kruis nie (Hand 3:19; 5:31). Eers baie later sal Paulus die waarde van die kruis as versoening vir ons sonde begin verkondig (Gal 1:4). (*Kruis)
Waarom begin die evangelie as opstandingsevanglie en nie as kruisevangelie nie? Omdat die nood in die Ou Testament nie *sonde was nie, maar die *dood. Vir sonde was daar voorsiening, die offers en sondebelydenis (2 Sam 12), maar die dood was ‘n vreeslike bedreiging. Dit het hulle gemeenskap met God beëindig. (*Dood)
En nou staan Jesus uit die dood op. Dit beteken Hy is sterker as die dood, Hy het die dood doodgemaak. Gelowiges hoef nie meer die dood te vrees nie. Teenoor Psalm 88:6 staan nou Filippense 1:21-23; teenoor die dooies “aan wie U nie meer dink nie, en van wie U u hand teruggetrek het”, staan nou: “Ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees.”
Die bose magte is oorwin
Die derde betekenis van Jesus se opstanding hou met die tweede verband: Hy het die bose magte oorwin. Die dood is ook ‘n mag. En as hierdie een oorwin is, is die ander ook. Die bose magte is ontwapen, in die openbaar tot spot gemaak, en meegevoer in die triomftog van Christus (Kol 2:15). (*Bose magte)
Bevestiging van die betekenis van die kruis
Die vierde betekenis is dat Jesus se opstanding eintlik ‘n daad van sy Vader was. Sy Vader het Hom opgewek (Kol 2:12). Die Vader het Hom opgewek as getuienis dat Hy sy offer aanvaar het en dat ons deur die geloof in Hom vrygespreek word (Rom 4:25). Die kruis van Jesus sou geen heilswaarde gehad het as Hy nie opgewek is deur die Vader nie.
Ons nuwe lewe
Die vyfde betekenis van die opstanding van Jesus is dat ons deur die doop met Hom verenig word sodat ons in sy verheerlikte opstandingslewe kan deel (Rom 6; Kol 2-3). Dit beteken dat ons nie langer slawe van die sondemag hoef te wees nie, maar ons lewe volkome aan God kan wy juis omdat ons aan Jesus se nuwe lewe deel het. (*Perfeksionisme, *Vereniging met Christus, *Doop)
Dit is volkome duidelik waarom Paulus geskryf het dat ons die hele evangelie verloor as ons die opstanding van Jesus verwerp. Ons verloor selfs die betekenis van die kruis.
- Algemene opstanding
Heelwat oor die algemene eindopstanding is nou reeds ingesluit onder Jesus se opstanding omdat sy opstanding die eindopstanding ingelui het. Die verwagting van ‘n algemene opstanding het eers baie laat in die Ou Testament na vore gekom. Dit is deel van die apokaliptiese wêreldbeeld (*Apokaliptiek) wat eers ná die ballingskap ontwikkel het. Vroeër in die Ou Testament het gelowiges geen positiewe verwagting gehad van die *dood en daarna nie. Die dood was vir hulle ‘n skrikwekkende bedreiging omdat hulle geglo het dit is die einde van hulle gemeenskap met God.
Die probleem waarmee hulle geworstel het, het voortgespruit uit hulle siening van *heil. Heil was nie iets toekomstigs nie. Dit was die seënende gemeenskap met God in hierdie lewe, en vrede en voorspoed was wesenlik deel daarvan.
Dit het egter beteken dat ‘n vroeë dood vir hulle die einde van hulle heilservaring was. En dis juis in hierdie nood waarin die opstanding uit die dood voorsien het. Daarom begin die evangelie as opstandingsevangelie. God antwoord op die diepste nood van sy kinders.
Eers gaandeweg het Paulus die heilsbetekenis van die *kruis na vore gebring. Ons kry dit die eerste keer in een van sy vroegste briewe, Galasiërs 1:4, maar daarna kom dit oor en oor voor.
- Opstandingsliggaam (*Mens, *Onsterflike siel)
Dit is ‘n woord wat maklik misverstand kan verwek, veral by mense wat meen ‘n mens bestaan uit twee dele waarvan dan net die een deel, die liggaam, begrawe word. By die opstanding moet daar dan met hierdie deel iets gebeur. Dit moet weer lewend gemaak en verheerlik word en dan met die ander deel herenig word. En eers dan het ons die verheerlikte mens. (*Onsterflike siel)
Skynbaar het Paulus anders daaroor gedink. As net die liggaam gesterf het en begrawe is, sou hy nie die hele evangelie van die opstanding afhanklik gemaak het nie (1 Kor 15:12 ev). Hy sou dan op die meeste kon skryf dat dit baie jammer sou wees as die liggaam nie ook in die heerlikheid sal deel nie, maar dat die ander deel wat nie dood is nie, die gees, of die siel, darem gelukkig by die Here is, en dat dit darem ook die belangrikste deel van die mens is sodat ons nie te sleg sou moes voel as daar nie ‘n opstanding was nie.
Maar dit is nie hoe Paulus daaroor dink nie. By hom is dit opstanding of niks. Waarom? ‘n Mens moet mooi kyk na wat hy skryf. Ons lees: “Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê?” (1 Kor 15:35). Die tweede sin is ‘n herhaling van die eerste sin, net in ander woorde. In die eerste sin gaan dit om die dooie mens wat opstaan, nie iets, ‘n deel, van die mens nie. En hy herhaal dit later: “So is dit met die opstanding van die dooies” (15:42).
Kan “die liggaam” in die tweede sin ook na die hele mens verwys? Natuurlik. Dis soos dit ook elders gebeur. (*Mens) In Romeine 12:1 lees ons in die Grieks dat ons ons liggame (somata) as ‘n lewende, heilige offer aan God moet wy. Paulus bedoel tog nie daarmee dat ons net ‘n deel van ons aan God moet wy en nie die ander deel of dele ook nie. Die “liggaam” staan hier vir ons hele menswees vanuit die oogpunt van ons daaglikse lewe. In ons elkedagse lewe moet ons volkome aan God gewy leef. As hy dan vra hoe staan die mens op en herhaal: “Met watter soort liggaam?” beteken “liggaam” die mens self, en sou ons kon vertaal: Watse soort menswees sal ons hê? Die antwoord is: ‘n verheerlikte liggaam wat beteken ‘n verheerlikte menswees. Ons sal verheerlik word, nie iets van ons nie. (*Opstanding van die vlees)
- Verheerliking
Wat beteken ‘n verheerlikte menswees? Paulus verduidelik iets daarvan in 1 Korintiërs 15:55. Hy vergelyk die verandering wat ons by die opstanding sal beleef met ander veranderings in die natuur. Ons verheerlikte lewe sal heeltemal anders wees as ons huidige lewe: ‘n koringplant lyk heeltemal anders as ‘n koringkorrel. Nou is ons verganklik, maar ons sal onverganklik opgewek word; nou gering, maar dan verheerlik; nou swak, maar dan in krag; nou natuurlik, maar dan geestelik; nou ‘n stoflike mens, maar dan ‘n hemelse mens; nou ‘n sterflike mens, dan onsterflik.
Die kontras verganklik-onverganklik oorheers hierdie verduideliking (15:42, 50, 52, 53, 54). En dit is ook die agtergrond van die uitspraak: “Vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie” (15:50). Soos ons nou is, kan ons nie aan die koninkryk deel kry nie. Maar ons gaan verander word, verheerlik word. Presies hoe? Selfs nadat Paulus baie sinne daaroor geskryf het, is alles nog nie eens naastenby duidelik nie. Waarom nie? Omdat dit om ‘n ander soort werklikheid gaan as dit wat ons ken. Paulus wou maar net ‘n paar buitelyne trek. Die skildery sal eers dán voltooi word. En ons gaan ‘n paar verrassings kry. (*Apokaliptiek, *Vervulling van profesieë)
Skrywer: Prof Adrio König