Die Groot Geloofswoordeboek: Die Onsterflike Siel

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Onsterflike Siel

Onsterflike siel

(*Siel, *Mens, *Tussentoestand, *Opstanding)

Dit is ‘n baie bekende uitdrukking wat vir sommige Christene ‘n besondere betekenis het. Hulle sien die taak van die kerk as “die redding van onsterflike siele”. Dit beteken dat mense tot bekering moet kom. En dit is inderdaad ‘n baie belangrike deel van die roeping van alle Christene en die kerk as geheel om mense na die Here toe te roep en te lei.

Die uitdrukking self, “onsterflike siel”, kom egter nie in die By­bel voor nie. Trouens, daar lees ons dat net God onsterflikheid be­sit (1 Tim 6:16). Ons lees wel dat ons by die opstanding on­sterflik sal word (1 Kor 15:53-54), maar dit beteken juis dat ons nog nie on­­sterflik is nie.

Mense kan daarvan verskil. Hulle kan daarop wys dat Pau­lus skryf dat die sterflike liggaam met onsterflikheid beklee sal word. Dit sou volgens hulle beteken dat net ons liggaam nog nie onsterflik is nie, maar ons siel natuurlik wel onsterflik is. Die moeilikheid hier­mee is dat Paulus anders daaroor dink (1 Tim 6:16). Verder is elders daarop gewys dat dit ‘n misverstand is om te meen dat Paulus in 1 Korintiërs 15 met “liggaam” net ‘n deel van die mens bedoel en die siel uitsluit. (*Opstandingsliggaam) “Liggaam” be­teken hier “die mens” sonder meer. Paulus skryf dus hier dat die mens onsterflik sal word by die wederkoms van Christus. By die bespreking van *mens is daarop gewys dat die mens ‘n een­heid is en nie uit twee of meer “onderdele” bestaan nie.

En tog moet ons volle respek hê vir mense wat met soveel nadruk praat van “onsterflike siele”. Wat hulle waarskynlik eint­lik bedoel, is dat elke mens ‘n ewige bestemming het, en dat ons ons lewe vir die Here moet gee sodat ons die *ewige lewe kan beërf.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Leë Graf

Die Groot Geloofswoordeboek: Leë Graf

Leë graf

As ‘n mens ‘n duidelike aanduiding soek of iemand werklik in die opstanding van Jesus glo, vra jy of Jesus se graf leeg was. As sy graf nie leeg was na sy *opstanding nie, was die opstanding iets anders as wat ons in die Bybel lees.

Daar is teoloë wat meen dat Jesus “geestelik” opgestaan het. Daar is verskillende voorstellings hieroor. Sommige dink net sy gees het voortgeleef, sommige dink Hy het net “in die harte van sy dissipels opgestaan”, wat dan waarskynlik iets beteken soos sy dissipels het ‘n nuwe waardering vir Hom gekry, of Hy het ‘n nuwe betekenis vir hulle gekry. Soms word die woord “hal­lusinasie” gebruik. Hierdie mense meen dat die opstanding deel is van ‘n ver­ouder­de wêreldbeeld toe mense nog geglo het iemand wat dood is, kan weer lewendig word. Maar vandag sou ons dan weet dit kan nie gebeur nie, en dan moet ons nie aanhou om iets onsinnigs te glo nie.

Enersyds moet ‘n mens hulle argumente baie ernstig opneem. Andersyds moet ‘n mens besef ons gee daarmee die evangelie self prys.

Ons moet mooi kyk na hulle beswaar: ons weet mense word nie weer lewendig nie. Maar dit het die dissipels ook geweet. Daarom het hulle nie die vrouens geglo toe hulle vertel hulle het die Here Jesus gesien nie (Luk 24:8-11). Die geleerde Grieke lag selfs oor die opstanding (Hand 17:32). Dis dus ‘n bietjie naïef om te dink ons is die eerste mense wat so slim is dat ons weet mense word nie weer lewendig nie.

En tog het hulle later wel geglo. Die opgestane Here Jesus het hulle oortuig. Dink maar aan Tomas wat sterk daarop gestaan het dat hy nie sal glo nie, totdat die Here Jesus hom ontmoet het. Dit pas dus nie eintlik goed in die prentjie in om te beweer dat Jesus maar net in hulle harte opgestaan het of dat hulle gehallusineer het nie. Hulle is deur ervarings oortuig van: “Ek sal nie glo nie” tot: “Ek glo, Here.”

Maar daar is wel een verskil. Natuurlik word mense wat dood is nie weer lewendig nie. Maar Jesus het nie maar net weer le­wendig geword nie. Hy het opgestaan. Dit is heeltemal iets an­ders. Iemand wat net weer lewendig word, gaan na ‘n ruk maar weer dood. Maar Jesus het deur die dood deurgegaan en ander­kant uitgekom, Hy het die dood oorwin, Hy het die dood agter die rug. En dit is die eerste en enigste keer wat dit nog ooit gebeur het. Die tweede keer moet nog kom, wanneer sy kinders Hom hierin sal volg.

Om dus uit die feit dat ons nie beleef dat iemand weer le­wen­dig word nie, af te lei dat Jesus nie opgestaan het nie, is om te vergeet dit was ‘n unieke gebeurtenis waarvan daar nog geen ander voorbeelde was nie. En om te ontken dat ‘n unieke gebeurtenis eenmaal eeue gelede plaasgevind het, terwyl jy geen toegang daartoe het nie, is nogal baie gevra.

Ten slotte net nog ‘n woord oor die leë graf. Geen Jood wat die Ou Testament ken, sou gepraat het van opstanding as die graf nie leeg was nie. Daarvoor is daar te veel nadruk op die fisieke as­pek van menswees. Begrippe soos “*heil” en “*vrede” het alles te doen met die konkrete lewe van die mens. En Paulus maak die evan­ge­lie volkome afhanklik van die liggaamlike opstanding. En onder “*opstandingsliggaam” verstaan hy nie net ‘n deel van die mens nie, maar die mens as sodanig (1 Kor 15). Daar is by hom geen moont­lik­heid dat daar ‘n opstanding kan wees, maar dat die lig­gaam nog in die graf is nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Eerste en Tweede Opstanding

Eerste en Tweede Opstanding – Jan van der Watt

Estelle vra:

Kan jy my asb verduidelik wat gebeur met die eerste opstanding en eerste oordeel, en dan met die tweede opstanding en tweede oordeel?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Openbaring vertel van die eerste dood en die tweede dood (Openbaring 2:11; 20:6,14; 21:8), wat natuurlik verwys na ons fisiese dood (die eerste dood) en sekere mense, wat nie in Jesus glo nie, wat in die ewige geestelike dood ingaan (die tweede dood). In Openbaring 20:5-6 word daar van die eerste opstanding gepraat in die raamwerk van die duisendjarige vrederyk. Die mense wat saam met Jesus die duisend jaar regeer het, het opgestaan (hulle het mos as martelare gesterf – 20:4 praat van die siele wat onthoof is) en daarom word dit die eerste opstanding genoem. Hoewel dit nie so genoem word nie, is die veronderstelling dat die ander wat later uit die dood opstaan die ‘tweede opstanding’ sal uitmaak. Ek is egter nie seker waarna die vraer verwys met die term eerste en tweede oordeel nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt




Hoekom is Jesus nie herken nie? – Opvolg

Hoekom is Jesus nie herken nie? – Opvolg – Jan van der Watt

Erika vra:

Ek het die vraag gevra hoekom Jesus nie herken is na Sy opstanding nie en verskil van die antwoord wat u gee. In u antwoord beweer u dat Johannes 20 daarop dui dat Jesus herkenbaar was, maar dis dan juis Johannes 20 wat vertel van Maria Magdalena wat Jesus vir ʼn tuinwerker aangesien het! Sy smeek Jesus om haar te wys wat van haar Meester se liggaam geword het. In dieselfde gedeelte moes Jesus éérs sy hande en sy aan sy dissipels wys voordat hulle buite hulself van blydskap was om Hom te sien. ʼn Week later toe almal weer bymekaar was, moes Jesus vir Thomas OORTUIG dat dit Hy was deur te sê: Bring jou vinger en kom sit dit in My wonde! Thomas het hom dus nie herken nie. Jesus het skielik tussen hulle gestaan (Lukas 24:36). Hulle het hulle boeglam geskrik, want hulle het gedink dis ‘n spook (Lukas 24:37). Jesus sê toe vir hulle: Hoekom is julle so bang, staan nader (Lukas 24:38). Kyk die merke op My hande en voete, dis Ek Jesus, kom vat aan My (Lukas 24:39). Nadat hulle gevat en gevoel het, het party van blydskap rondgespring terwyl ander Hom met oopmond aangestaar het (Lukas 24:40). Verder beweer u , sonder verwysing, dat Jesus nie meer Sy gewone liggaam gehad het nie, maar dat Hy met ʼn verheerlikte liggaam opgestaan het. Is dit nie hoekom Hy nie herken is nie? Die vraag is dan: Wat is ʼn verheerlikte liggaam? Die Emmaus-gangers het ʼn gewone menslike liggaam gesien, Maria Magdalena het die liggaam van ʼn tuinier gesien, en Sy dissipels het ʼn spook gesien. Het Jesus ná Sy opstanding ʼn totaal nuwe voorkoms gehad? Verwysing: Van der Watt, Joubert & Smit (2008) Geloof in Aksie Bybel.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Met Maria Magdalena se rol by die graf in Johannes 20 moet op die volgende gelet word: Kyk waarmee is sy die hele tyd besig: sy soek die liggaam van die Here wat weggeneem is – sy noem dit ‘n paar keer. Die skrywer wil dus aandui dat Maria se hele verwysingsraamwerk die dooie liggaam van Jesus is. Sy verwag dus nie die lewende Here nie en daarom word dit in 20:14 gesê dat sy nie geweet het dit is hy nie. As Jesus haar op haar naam noem (wat die tuinopsigter natuurlik nie geken het nie), herken sy Hom. Jesus ken die name van sy skape (Hoofstuk 10:1-10) en dan besef sy wie dit is. Die rede vir die onsekerheid is om die buitengewone van Jesus se opstanding te beklemtoon. Die dissipels het dit nie verwag nie en daarom die onsekerheid en onkunde as dit regtig gebeur. Dit is dus nie Jesus wat nie herkenbaar is nie, maar die dissipels en Maria wat Hom nie verwag en dus nie dadelik besef dat dit Hy is nie. Die klem lê glad nie op die feit dat hulle Jesus nie kan herken nie, maar op die feit dat hulle nie verwag dat dit Hy sal wees nie. Daarom geld die merke aan sy hande en sy sy as tekens dat dit regtig Hy is en niemand anders nie.

Wat sy liggaam betref – lees maar 1 Korintiërs 15 waar Paulus beskryf dat ons liggame met die opstanding anders sal wees, maar tog dieselfde. Die feit dat Jesus se liggaam nog lyk soos ‘n gewone liggaam bots nie met die gedagte dat die liggaam in aard ook ander kwaliteite het nie. Dit is dus soos ‘n menslike liggaam maar ook anders, want Hy kan eet, maar Hy kan ook deur deure loop – en dit met dieselfde liggaam.

Outeur: Prof Jan van der Watt