Die oue weerklink in die nuwe. Die eggo’s van die Ou Testament in die Nuwe Testament – Jan van der Watt

Die boodskap van die Nuwe Testament het nie sommer uit die lug geval nie. Jesus het nie sommer een dag opgedaag en niemand het geweet waarom nie. Nee, die Nuwe Testament is die tweede episode van God se verhaal met sy mense op aarde. Die Nuwe Testament begin nie nuut nie, maar is gewortel in die Ou Testament. Hoewel die verhaal van Jesus vars en nuut is, is dit ook die ou-ou tyding van die Skeppergod wat ’n pad met sy mense deur die wêreld stap. Om dus te verstaan waarom daar sekere dinge in die Nuwe Testament gebeur en waarom dit juis op die manier moes gebeur, is dit dus belangrik dat mens die verhouding tussen die Ou en Nuwe Testament goed verstaan. Die nuwe groei immers uit die oue.

’n Basiese veronderstelling is natuurlik dat die God waarom dit gaan, gister, vandag en môre dieselfde is. Dit is sy verhaal, beide in die Ou en in die Nuwe Testament. Daarom kan mens verwag dat dit nie twee afsondelike verhale is nie, maar een verhaal waarin die verskillende temas en drade nou met mekaar vervleg is. Die verhaal van die Ou Testament word dus in Nuwe Testament voortgesit. Verwagtings uit die Ou Testament, profesieë, voorbeelde van hoe God is en optree, dit alles vloei deur na die Nuwe Testament.

Daar is natuurlik een verskil – in die verhaal van God in die wêreld het daar in die Nuwe Testament een ‘karakter’ bygekom, naamlik Jesus Christus, die Seun van God. In en deur Hom het die ou verhaal van God met die wêreld nuut geword. Hy is nie verniet Immanuel genoem nie, want Hy het God naby sy mense gebring. Die ware lig sou nou oor die wêreld skyn (Joh 8:12) sodat mens in díe lig God se teenwoordigheid by sy mense beter sou kon sien. Daarom word die Nuwe Testament ook NUWE Testament genoem; dit gaan oor God se nuwe plan en ooreenkoms deur Christus met sy mense in die wêreld.

Die spore van die Ou Testament lê diep in die Nuwe Testament. Hier volg voorbeelde van die belangrikste voetpaadjies wat uiteindelik op die Nuwe Testament uitgeloop het. Sekere sentrale gebeure in die Ou Testament was vir die Christene veral belangrik. Gebeure soos die skepping, die uittog (eksodus) uit Egipte, die ballingskap in Babilonië was baie belangrik, omdat dit draaipunte in die geskiedenis van Israel was waarin hulle God baie nodig gehad het. Dan het die vroeë Christene ook baie geleer uit die voorbeelde wat ‘godsmanne’ soos Abraham, Moses of koning Dawid gestel het. Daarom duik die figure gedurig in die Nuwe Testament op as voorbeelde. Natuurlik is daar ook die profete soos Jesaja of Esegiël; die gelowiges word gedurig herinner aan hulle woorde en hoe dit betekenis het vir die Christene. Dit help hulle om die betekenis en boodskap van Jesus soveel beter te verstaan.

In die volgende artikel gaan ons kyk na spore van die Ou Testament wat diep in die Nuwe Testament lê. Ons gaan by die skepping begin.




Het die Ou Testament nog iets te sê vir ons kultuur?

The sun had never risen in China without finding me on my knees – Hudson Taylor, sendeling in China, wat elke oggend om 5 uur vir twee uur lank gebid het.

Het die Ou Testament nog iets te sê vir ons kultuur?

Kan die Ou Testament nog iets vir ons sê? Dit is tog duisende jare verwyder van ons tyd en ons probleme, Die Ou Testament kan tog nie hedendaagse probleme soos globalisering, die digitale revolusie, kloning, ens hanteer nie.

 Ons moet vir geen oomblik dink dit is maklik om die Ou Testament te lees en sy wyshede te ontdek nie. Tog met toegewyde studie en gebed kan ons baie wys word.

Die Hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat ‘n man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2 Timoteus 3:16 – 17). Waarvan praat Paulus hier? Hy praat van die Ou Testament, want dit is al wat hy gehad het.

 Daar is verskeie maniere waarop die Ou Testament met vrug met ons praat – vandag.

  • Dit verduidelik ons kultuur

As jy tydens die pouse instap by ‘n toneelstuk kan jy nie verwag om te verstaan wat daar aangaan nie. Jy sal allerhande verkeerde gevolgtrekkings maak oor wat daar aangaan. As ons net die Nuwe Testament lees, kom ons in die middel van die verhaal daar aan. Ons kan nie verwag om te weet waaroor die verhaal tot dusver gegaan het nie. Die Ou Testament ontvou hierdie drama beginnende by ‘n goeie en mooi skepping. Daarna volg die mense se tragiese val in sonde. In Genesis 3 begin toneel 3 van die verhaal: die hoop op verlossing. Toneel 4 is dan waar alles nuut gemaak word – die klimaks van die verhaal. Ons sal nie in staat wees om ons kultuur te beskrywe sonder dat ons die hele drama gesien het nie.

  • Dit verskaf morele standaarde vir ons kultuur.

In die Ou Testament kry ons seremoniële wette wat net tydelik was, maar tog die komende Messias uitgebeeld het en na Hom verwys het. Met sy koms het hierdie wette verval. Ons kry ook siviele/burgerlike wette Hulle is daar vir die spesifieke geskiedkundige tyd waarin Israel geleef het. Hulle doel was om die volk te beskerm te midde van vyandige bedreigings. Daar is sekere permanente beginsel in hierdie wette, maar die toepassing en strawwe word tot Ou Israel beperk – tot sy vernietiging deur die Romeine in die jaar 70 nC. Maar derdens het God sy permanente, onveranderlike morele wette, soos saamgevat in die tien gebooie,  aan ons gegee. Hierdie wette word in die Nuwe Testament bevestig. Dit is baie maklik om die beginsels in hulle te ontdek – beginsels wat vandag steeds geld en toegepas moet word.

  • Dit gee hoop vir ons kultuur.

God gee vir ons die wet om ons lewens te orden, maar gereeld verbreek ons hulle. Dit lei tot persoonlike, ekonomiese, sosiale, morele en geestelike gevolge – net soos met Israel die geval was. Dink maar aan Noag se tyd, die toring van Babel, die tye van die rigters … Die Ou Testament teken ‘n donker prentjie van die sonde, maar elke keer kom die Here en ons kry nuwe leiers wat Hom gehoorsaam Elke keer word die herskep. Watter hoop bied dit nie vir ons vandag nie.

  • Dit fokus ons kultuur op Jesus Christus

Die Ou Testament bevat tussen 300 en 400 profesieë oor Jesus Christus Vanaf Genesis 3:15 is die hoop van Israel op die beloofde Messias – ‘n Verlosser wat sal kom en die bose sal oorwin.  Aan die Emmausgangers verduidelik Jesus die Skrif – en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het (Lukas 24:27). Hy sê vir die Fariseërs: As julle Moses geglo het, sou julle in My geglo het, want hy het van My geskrywe (Johannes 5:46). Ons kan nog verder teruggaan: Abraham, julle voorvader, het hom daaroor verheug dat hy die dag van my koms sou sien (Johannes 8:56). Jesus Christus is God se boodskap van hoop en hernuwing aan die wêreld Ons moet beide Testamente gebruik om die kollig op Hom te skyn – die enigste Verlosser.

  • Dit roep ons op om ons kultuur te evangeliseer

Ons kry die gevoel dat God in die Ou Testament al sy aandag op Israel, ‘n klein volkie, fokus. Hy het vir Abraham en Israel gekies om deur hulle sy plan uit te voer. Maar sy uiteindelik doel was om deur Abraham en al sy nakomelinge al die nasies van die aarde te seën. Ons kry dieselfde in Jesus se groot opdrag aan sy dissipels: Gaan dan na al die nasies toe (Matteus 28:19).

 God gee die Ou Testament aan spesifieke mense op ‘n spesifieke tyd op ‘n spesifieke manier – Hy doen dit op so ‘n manier dat dit steeds kragtig en relevant vir ons in 2013 is.




Moet ons nog die Ou Testament lees en bestudeer?

The more powerful and original a mind, the more it will incline towards the religion of solitude. – Aldous Huxley, skrywer (1894-1963)

Moet ons nog die Ou Testament lees en bestudeer?

Hierdie is ‘n vraag wat my pla. Doen ons Bybelstudie gebruik ons gewoonlik die Nuwe Testament … of die Psalms. Luister ons na preke berus dit gewoonlik op ‘n gedeelte uit die Nuwe Testament. Ons kan met reg vra of ons nog die Ou Testament moet lees en bestudeer. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer. Ek gaan begin met die vraag: Moet ons nog die Ou Testament lees en bestudeer? Daarna gaan ek ‘n paar blogs spandeer aan Levitikus met al sy wette en voorskrifte.

 

Graeme Goldsworthy (The Goldsworthy Trilogy) sê die gebiedendste rede vir Christene om die Ou Testament te lees en te bestudeer, is die Nuwe Testament. Die Nuwe Testament getuig dat Jesus van Nasaret die Een is deur wie en in wie al God se beloftes vervul word. Hierdie beloftes kan ons slegs verstaan uit die Ou Testament: die vervulling van die beloftes kan slegs in die konteks waarin hulle gegee is, verstaan word.

Die Nuwe Testament veronderstel dat sy lesers ‘n kennis van die Ou Testament het. Alles wat vir die Nuwe Testamentiese skrywers van belang is, is deel van die een verlossingsgeskiedenis waarvan die Ou Testament getuig. Die Nuwe Testamentiese skrywers kan nie die persoon en werk van Jesus Christus, of die die lewe van die Christelike geloofsgemeenskap, losmaak van die geskiedenis wat reeds in die Ou Testament begin het nie.

Dit is ook van groot betekenis dat die Nuwe Testamentiese skrywers gereeld aanhaal of verwys na die Ou Testament. Daar is ten minste 1 600 direkte aanhalings uit die Ou Testament in die Nuwe en etlike  duisende Nuwe Testamentiese gedeeltes  wat sinspeel op of Ou Testamentiese verse weerspieël. Natuurlik is daar nie noodwendige kontinuïteit in denke nie – in sommige is daar selfs ‘n teenstelling tussen Ou en Nuwe Testamente. Wat ons egter nie kan ontken nie, is dat die boodskap van die Nuwe Testament sy oorsprong in die Ou Testament het.

Hoe meer ons die Ou Testament bestudeer hoe duideliker word die oortuiging van Jesus, die apostels en die Nuwe Testamentiese skrywers: Die Ou Testament is die Skrif en die Skrif wys na Jesus Christus.

Ja, dit klink alles goed en wel, maar wat van ‘n boek soos Levitikus? Sewe hoofstukke oor offers; drie hoofstukke oor die priesterdiens; vyf hoofstukke oor rein en onrein … Dit is tog ontoepaslik vir ons; dit is tog onsinnig om dit te lees – of is dit nie? Daarna gaan ons nou kyk.




Tipologie

Tipologie – Francois Malan

Eugenie vra:

Ek sal graag inligting/verwysings wil bestudeer van hoe die Ou Testament tipologies van die Nuwe Testament is, bv. Daniel – Openbaring, Die ark – Christus, ens.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Bybelse sin verstaan ons tipe as ‘n Ou-Testamentiese figuur, wat in sy persoon of werk ‘n sekere skadubeeld, of afspieëling, vertoon van Christus se persoon of werk.

So is priesters, profete en konings van Israel volgens hulle ampte beskou as tipe van die komende Messias (die Hebreeuse woord vir ‘gesalfde’, in Grieks ‘Christus’). Priesters is gesalf (Eks.30:30) en konings is gesalf (1 Sam.9:16). Moses is ‘n profeet genoem in die profesie dat die Here ‘n profeet soos Moses na vore sal laat kom (Deutr.18:18). Petrus verwys daarna toe hy die volk toespreek en verklaar dat Jesus die beloofde profeet is (Hand.3:22). Jesus is die profeet, priester en koning van God se volk by uitnemendheid, die gesalfde van die Here (Hand.4:26 wat Ps.2:1-2 aanhaal). Jesus vergelyk bv. sy drie dae dood met die profeet Jona se drie dae in die maag van ‘n groot vis (Mat.12:40). Hebr.10:21 noem Hom die groot priester (vgl. ook 5:6,7; 7:17,21). Jesus is die koning (Mat.2:2; Joh.1:50); die koning van die konings (Openb.17:14). So word Jesus gesien as die tweede Adam (1 Kor.15:45; Rom.5:14 letterlik: Adam wat ‘n tipe was van die Een wat sou kom, NAV daar is ‘n ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom), as die seun van Dawid (Mat.22:43-45; Joh.7:42; Rom.1:3), as die Kneg van die Here van Jes.52-53 (Mt.8:8; Lk 7:7; Flp.2:7).

Daar is ‘n verskil tussen ‘n tipe en ‘n simbool. ‘n Simbool het veral betrekking op sake, ‘n tipe uitsluitlik op persone. Die simbool het geen betekenis in sigself en in sy verskyningsvorms nie, maar in wat daardeur afgeskadu of afgebeeld word. ‘n Tipe het egter betekenis in sigself, in sy eie bestaan, afgesien van wat hy afbeeld en tipeer.

‘n Simbool kan ‘n voorwerp, woord, teken, ens. wees, as voorstelling van ‘n bepaalde begrip. Dit is ‘n sinnebeeld – ‘n sinlik waarneembare aanduiding van ‘n geestelike begrip, ‘n voorwerp waaraan betekenis gegee word. Die kruis is bv. simbool van Christus se lyding en dood, van die gelowige se sterwe aan homself, van die Christendom. Die bloed van die lam wat aan die deurkosyne van die Israeliete gesmeer is sodat die doodsengel die huis sou ‘oorslaan’ (‘passover’, Eks.12:13) word bv. deur Paulus in 1 Kor 5:7 op Christus toegepas as ons paaslam, vgl. Jn 1:29; 1 Petr.1:19; Openb.5:6,12; 7:14; 12:11; 13:8, ens.

Die vraag oor die ark en Christus is meer ‘n simbool. Die Hebreeuse woord vir ark (teba) beteken kis of doodkis. Daarop sinspeel 1 Petr.3:18-21, dat Jesus in die dood ingegaan het en opgestaan het uit die dood (doodskis), en dat ons gered word soos Noag en sy gesin in die ark (doodskis) te midde van die water, en ons doop in Christus beteken ook dat ons saam met Hom sterwe en dat ons gered word deurdat ons saam met hom opstaan tot ‘n nuwe lewe, waarvan die doopwater ‘n simbool is (vgl. Rom.6:3-11). In 1 Kor.10:1-6 word die wolk, manna, water uit die rots as voorbeelde en waarskuwings gebruik (die Griekse woord vir ‘voorbeelde’ is ook tupoi.)

Ook die vraag oor Daniël en Openbaring val meer op die terrein van ‘n simbool. Altwee het ‘n apokaliptiese (openbarings) perspektief, wat God se groot uitkoms verwag, as ‘n ingrype van God in die geskiedenis. Dit is deel van ‘n wye apokaliptiese (openbarings) literatuur wat veral in tye van verdrukking van gelowiges geskryf is in Ou- en Nuwe -Testamentiese tye.

Daniël maak gebruik van diere-simbole, bv. die vier diere, ‘n leeu, ‘n beer, ‘n luiperd en ‘n vreeslike vierde dier sonder naam (hfs.7), ‘n ram en ‘n bok in hfs.8. Daar is ook plant-simbole, bv. boom van die lewe in hfs.4, verskillende metale in hfs.2, sterre 12:3, engele hfs.10, en getalle, wat ‘n belangrike rol speel. Die wêreldgeskiedenis word in eras of eeue verdeel, gebaseer op die getal sewe. Nommer 10 is ook belangrik. Albei 7 en 10 word gebruik om volmaaktheid/voltooidheid of beperktheid uit te druk. Die metafore in Daniël het verskillende waardes. Party is simbolies van aard, terwyl ander na spesifieke persone en gebeure verwys. Die boek Daniël gebruik allegoriese (sinnebeeldige) metodes om die geheimenisse te interpreteer. Die verskillende diere en metale word verklaar as spesifieke konings (8:20). Mat.28:18 (vgl. Lk.1:33; Openb.11:15) verbind die mag van die opgestane Jesus met die magte van die menslike wese van Dan.7:14, en Dan.2:44-45 se klip word ‘n simbool van die koninkryk van God wat Jesus op aarde kom vestig het, waarvan Jesus die koning is en Hy dwarsdeur die NT as koning gesien word.

Ook Openbaring maak gebruik van diere-simbole: die lam (hfs.5,14), draak (hfs.12), diere uit die aarde as lam en draak, en uit die see as bok, luiperd, beer, leeu (hfs 13), perde (hfs.6,19), metale: geel koper (hfs.1) ystersepter (hfs.2), goue krone (hfs 4), edelstene (hfs.21), plante: bome (hfs.22); sterre (1:16,20; 2:1; 3:1;; 8:10,11,12; 9:1; 12:1) môrester (2:28; 22:16), engele dwarsdeur die boek (hfs 1,2,3,5,7,8,9,10,11,12,14,16,17,18,19,21,22), en getalle: 2 getuies, 3 trompette, weë, 4 wesens, engele, hoeke van die aarde, winde, 6 se onvolmaaktheid (7-1=6), 7 vir volledigheid of volkomenheid: gemeentes, lampe, sterre, Geeste, seëls, trompette, bakke, plae, horings, engele, donderslae, koppe van die dier, krone, oë, berge, konings; 8 een meer as die volmaakte vir Jesus, 10 afgerondheid: vingers, dae van verdrukking, draak se horings, konings, 10x10x10=1000, 12 vir die volk van God of die kerk: 12 sterre van die vrou, 12 poorte van die nuwe Jerusalem, 12 apostels, elke stam van Israel 12000, 12x12x1000= 144,000 gelowiges, 12×3 getal vir God x 4 getal vir die skepping druk die volheid van God se plan simbolies uit; 3½ twee getuies soveel dae dood, vrou 3½ jaar versorg in die woestyn, 666 as getallewaarde vir die Griekse en Hebreeus letters van die alfabet vir keiser Nero.

In hulle gebruik van simbole is die boek Daniël ‘n voorloper van Openbaring, maar dit is nie werklik tipologies nie.

Die Ou-Testamentiese geskrifte is egter deur Jesus Christus en die apostels en die vroeë kerk beskou as ‘n versameling van voorspellings wat na Hom verwys as die verlosser van Israel en van die wêreld, al noem die Ou Testament Jesus nêrens nie, en al het die Ou-Testamentiese skrywers nie so ‘n man soos die Jesus wat die Evangelies en die Briewe voorsien nie. Die Ou Testament kan egter slegs gelees word as ‘n boek met immer groeiende verwagting. Die belofte van ‘n land aan die vaders voor Moses, die gedeeltelike inname van die land deur Josua, die bevestiging van die koningskap en priesterskap wat nooit voltooi word nie, maar steeds uitsien na ‘n nuwe verbond deur die profete, hoe die verlossingsdade van die Here, veral die verlossing uit Egipte, die profete laat uitsien na ‘n nuwe Dawid, ‘n nuwe Eksodus, ‘n nuwe verbond, ‘n nuwe stad van God, waardeur die oue ‘n tipe van die nuwe word wat vooruit wys (Jer.31:31; 32:40 voor die ballingskap, en Eseg.16:60; 34:25; 37:26 in die ballingskap). Dit word dan opgeneem in die Nuwe Testament deur Jesus (Luk.22:20; Paulus 1 Kor 11:25; 2 Kor.3:6; Hebreërs 8:6-13;9:15; 12:24). Die Ou-Testamentiese wet en erediens met sy offers en priesters word deur Hebreërs beskou as slegs ‘n afbeelding en skadubeeld van die hemelse heiligdom (8:5; 9:23; 10:1), ‘n voorafskaduwing van wat kom, soos die skaduwee van iemand wat om die hoek kom – as hyself om die hoek kom, kyk jy nie meer nie die skaduwee nie, maar na homself.

Die Ou-Testamentiese profete se belangstelling was verdiep in God se nuwe verlossings aksie, waarvan hulle slegs die tekens gesien het, en waarvan die ou Dawid, Eksodus, verbond, stad van God ‘n tipe geword het van die nuwe wat nog kom. In verband met die saligheid wat die opstanding van Christus gebring het sê 1 Petrus 1:10-12 dat die profete die genade wat ons nou ontvang het deeglik en noukeurig ondersoek het, dat dit die Gees van Christus was wat in hulle was, wat vooruit verkondig het dat Christus moet ly en daarna verheerlik word. Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle profeteer, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir ons wat in Jesus glo. Jesus bring ‘n nuwe manier van verklaring van die Ou Testament, waarin alles van die Ou Testament na Christus wys (Luk.24:27; Joh.1:45; 5:46). Elke bladsy van die Nuwe Testament weerklink met die wete dat ons in ‘n nuwe bedeling van God se aktiwiteit lewe. Soms word dit genoem die tyd van vervulling (Gal. 4:4; Luk.4:21; Mat. 11:4-6). Die Ou Testament word nou gelees as God se openbaring wat die voorloper is van Christus se koms, vol aanwysings na die Here wat aan die kom is. En die boeke van die Nuwe Testament haal telkens gedeeltes uit die Ou Testament aan ter stawing en verduideliking van wat hulle sê, kyk maar na al die teksverwysings in die Nuwe Testament wat in voetnote aangegee word, byvoorbeeld in die eerste 4 hoofstukke van Matteus, Paulus se behandeling van die sluier van Moses in 2 Kor.3:7-18; Romeine 9-11 oor God se genadige uitverkiesing van Israel. Eintlik is die hele boek Hebreërs ‘n besinning oor die Ou Testament vanuit die Christusgebeure met toepassing op sy lesers. En Openbaring wemel van die Ou-Testamentiese aanhalings, omdat die skrywer beelde uit die Ou Testament gebruik vir sy troosboodskap aan sy lesers wat vervolg word. Tipologie is maar ‘n onderdeel van hierdie groter gebruik van die Ou Testament in die Nuwe Testament.

 

Skrywer: Prof Francois Malan