Die Groot Geloofswoordeboek: Verhouding Ou en Nuwe Testament

Die Groot Geloofswoordeboek: Verhouding Ou en Nuwe Testament

Verhouding Ou Testament-Nuwe Testament

Tradisionele formules

Tradisioneel word minstens drie skemas gebruik om die ver­houding tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament te ver­duidelik: óf dié van belofte en vervulling, óf dié van ou verbond en nuwe verbond, óf dié van wet en evangelie. Die eerste siening lui dat die Ou Testament die belofte(-s) (of profesieë) is wat in die Nuwe Testament vervul word. Die tweede siening is dat die Ou Testament die ou verbond is (wat afgeskaf is), en die Nuwe Testament die nuwe verbond waarin ons nou leef. Die derde is dat die Ou Testament die wet is wat eintlik deur die evangelie van die Nuwe Testament vervang is. Soms hoor ‘n mens selfs dat die oordeel van God in die Ou Testament oorheers, maar in die Nuwe Testament die liefde van God.

In sommige van hierdie skemas is daar inderdaad ‘n stukkie waarheid. Natuurlik is daar profesieë in die Ou Testament wat in die Nuwe vervul word. Maar nie eens ‘n tiende van die Ou Tes­ta­ment is profesieë nie. En intussen is daar in die Nuwe Tes­tament self ook ‘n aantal profesieë.

Dit geld ook van wet-evangelie. Natuurlik is die wet in die Ou Testament en die evangelie in die Nuwe. Maar daar is baie meer as net die wet in die Ou Testament, en die wet speel ook in die Nuwe Testament nog steeds ‘n belangrike rol. En daar is tog seker ook evangelie in die Ou Testament. Wat van Jesaja 53 en Psalm 23?

Die derde verhouding, ou verbond-nuwe verbond, berus eg­ter op ‘n groot misverstand. (*Abrahamverbond) Die Ou Tes­ta­ment is baie meer as die ou verbond. Die ou verbond is die Sinaiverbond (Jer 31:31), maar die verbond met Abraham is lank voor Sinai gesluit en loop deur tot vandag. Christus het hierdie verbond aan die kruis ook vir die heidene oopgemaak, en die *doop lyf ons vandag nog in hierdie verbond in (Gal 3:14, 26-29).

In die loop van die kerkgeskiedenis was daar ook ander mooi skemas. Augustinus het gesê die Nuwe Testament is verborge in die Ou Testament teenwoordig, en die Ou Testament het ten volle ontluik in die Nuwe. Ook dit is mooi, maar te min. Die saak is ingewikkelder.

Eintlik is die twee Testamente so groot, en het hulle so ‘n ryk verskeidenheid aan inhoud dat ‘n mens min hoop het om een enkele formule te kry wat die volle waarheid vertel. Trouens, dit is waarskynlik glad nie moontlik om die twee in hulle geheel, as twee groot eenhede, sinvol met mekaar te vergelyk nie. Daarom gaan ons ‘n ander pad loop.

 

Vergelyk bepaalde sake

‘n Mens kom baie verder as jy bepaalde sake in die Ou Testament ver­gelyk met bepaalde sake in die Nuwe Testament. En dan vind ‘n mens dat daar verskillende verhoudings ter sprake kom. Kom ons ver-gelyk ten eerste die boodskap oor die skepping en dan die tempel soos dit in die twee Testamente voorkom.

Oor die skepping sluit die Nuwe Testament direk by die Ou Testament aan, maar voeg by dat Christus saam met die Vader die Skepper is (Joh 1:1-3; Kol 1:16). Ons kan dus van ‘n verrykende aansluiting van die Nuwe Testament by die Ou Testament praat.

Maar met die tempeldiens en die offers is dit anders. Die hele tempeldiens word uiteindelik afgeskaf (Christus vervang die tem­pel), maar terselfdertyd ook vergeestelik: ons word die tem­pel waar­in die Heilige Gees woon. Net so die offers. In die Ou Testament is daar ‘n hele reeks offers wat by bepaalde geleent­hede gebring is. In die Nuwe Testament gebeur twee dinge met hierdie offers. Die offer van Christus vervang al hierdie offers (Hebreërs). In hierdie sin het ons dus ‘n skerp breuk tussen Ou Testament en Nuwe Testament. Maar in ‘n ander sin vergeestelik die Nuwe Testament ook hierdie offers, want die apostels beveel die Christene om nou hul lewens as offers aan die Here te wy (Rom 12:1). In die geval van die tempel en die offers sou ons dus van ‘n skerp breuk én van ‘n vergeesteliking tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament kon praat.

As ons ‘n oomblik kyk na die openbaring van God, is daar ‘n wonderlike verryking tussen die twee Testamente. In die Ou Tes­tament gaan dit om God as die God van Israel. Daar is sprake van die Gees van God, maar as die Heilige Gees regtig uitgestort word, is dit ‘n baie ryker openbaring van die Gees. Die gawes van die Gees en die vrug van die Gees maak die gelowiges se lewe baie ryker.

Daar is ook sprake van die Messias wat sal kom, van ‘n die­naar van die Here wat sal ly, van ‘n groot profeet wat beloof is, en van ‘n Seun van die mens. Maar wat ‘n verrassing as al hierdie ver­wagtings in een Persoon vervul word. En hoe verrassend ver­vul Hy sommige van hierdie profesieë; só dat selfs die mense wat die Ou Testament uit hulle koppe geken het, Hom nie eens herken nie. Hier het ons ‘n verhouding van verrykende verrassings tussen die twee Testamente.

Wat ons dus nou gekry het as ons bepaalde sake/persone in die twee Testamente met mekaar vergelyk, is:

•             ‘n verrykende aansluiting

•             ‘n skerp breuk én ‘n vergeesteliking

•             verrykende verrassings

En daar is baie meer moontlikhede.

 

Oorgange binne elke Testament

Maar daar is ook heeltemal ‘n ander manier om na hierdie saak te kyk. Tot dusver het ons dinge in die twee Testamente met mekaar vergelyk. Maar daar is interessante oorgange binne elke Testament.

Binne die Ou Testament is waarskynlik die belangrikste oor­gang in die hele Bybel: dié tydens die *ballingskap. Die bal­ling­skap was soos ‘n aardbewing in die lewe van die volk. Hulle kon hoege­naamd nie oorleef sonder dramatiese veranderings in hulle geloof nie. Die vastigheid en sekerheid van die stad en die tempel het verdwyn. Dit was hulle versekering dat God by hulle is.

Die grootste verandering was hulle siening van die werk­lik­heid. Voor die ballingskap het hulle histories en natuurlik na die werklikheid gekyk, maar tydens die ballingskap het hulle ‘n apo­kaliptiese (“bonatuurlike”) (*Apokaliptiek) siening van die werk­likheid ontwikkel. Hulle was oortuig dat die ballingskap meer was as ‘n oorwinning van die Babiloniërs. Dit was ook meer as die straf van God oor hulle ontrou. Dit was die bose mag­te wat op aarde oorgeneem het. Hulle het chaos gesaai en wou die mensdom vernietig.

Dit is die agtergrond van die groot verskil tussen die Ou Tes­tament in die tyd van die profete voor die ballingskap, en die tyd van Jesus. In Jesus se tyd is omtrent elke tweede mens onder die mag van bose geeste, iets wat heeltemal onbekend was in die Ou Testament. In Jesus se tyd verwag hulle ‘n wêreldeinde, ‘n algemene opstanding van die dooies en ‘n nuwe aarde, alles dinge wat in die tyd voor die ballingskap heeltemal onbekend was. Ons kan Jesus se bediening net verstaan in die lig van hierdie oortuiging dat die bose magte oorgeneem het. Daarom kondig Hy die koms (herstel) van God se heerskappy aan as Hy duiwels uit mense uitdryf (Matt 12:28). (*Koninkryk van God) Hierdie radikale breuk het binne die Ou Testament voorgekom.

In die Nuwe Testament het die veranderings ook nie altyd so skie­lik en dramaties plaasgevind nie. Jesus leef in ‘n sekere sin nog in die Ou Testament, die tyd van die Sabbat, die tempel, die priesters en die offers. Die apostels gaan self nog gereeld tem­pel toe en op ‘n baie laat stadium gaan Paulus nog spesiaal Je­rusa­lem toe vir die Joodse Pinksterfees en ‘n spesiale offer (Hand 20:16; 21:26). Die breuk met die tempel kom eers laat en geleidelik. ‘n Mens sou dus kon sê dat die Ou Testament nog diep in die Nu­we Testament voortgaan.

Ons moet dus nooit die twee Testamente as twee soliede blok­ke teenoor mekaar stel nie. Daar was beweging en oorvleueling binne-in hulle. In ‘n sin gaan die Ou Testament nog tydens Jesus se aardse bediening in die Nuwe Testament voort. Dis byvoorbeeld eers ná die opstanding dat ons die doopbevel, die sendingbevel en die verdwyning van die *Sabbat kry. Dus ook binne die Nuwe Testament kry ‘n mens bepaalde belangrike oorgange.

 

Skrywer: Prof Adrio König