“We should be careful to get out of an experience all the wisdom that is in it – not like the cat that sits on a hot stove lid. She will never sit down on a hot lid again – and that is well; but also she will never sit down on a cold one anymore.” – Mark Twain
Paulus se toesprake in Handelinge
Ons moet kontekstualisering benader met ‘n bewustheid van ons eie kulturele voorveronderstellings – daardie aannames wat ons oor die Bybel en sy boodskap maak wat ons eers raaksien as ander kulture vrae oor die Skrif begin vra.
Ons het gelet dat elke kultuur ‘n gemengde aard het (goeie en slegte elemente in alle kulture). Ons het ook die noodsaaklikheid om die boodskap van die Bybel aan te pas by ‘n spesifieke kulturele konteks bevestig. Paulus het vir ons ‘n basis vir kontekstualisering (Romeine 1 en 2), ‘n motief vir kontekstualisering (1 Korintiërs 9) en ‘n basies formule vir kontekstualisering (1 Korintiërs 1) gegee. In Handelings sien ons hom waar hy sy boodskap aanpas by verskillende groepe.
In Handelinge 13 preek Paulus vir ‘n aantal gelowiges – Israeliete en godvresendes (heidene wat die Bybel geglo het en in sinagoges bymekaar gekom het, maar nie besny was nie). In Handelinge 14:6 – 16 preek Paulus vir ‘n groep politeïste – hulle het nog in die ou gode ook geglo. In Atene (Handelinge 17:16 – 34) preek hy vir ‘n groep gesofistikeerde heidene – mense wat nie eintlik meer in gode glo nie. Hulle glo in ‘n aantal filosofiese sienings – soos Stoïsyne en Epikureërs. In Handelinge 20:16 – 38 is Paulus in Milete waar hy die ouderlinge van Efese toespreek. In Handelinge 21:27 – 22:22 praat hy met ‘n vyandige skare Jode. In Handelinge 24 – 26 is Paulus in Sesarea. Daar speek hy vir Feliks, Festus en Herodes Agrippa en Bernice toe – hoë regeringsamptenare met uiteenlopende kulturele agtergronde.
In hierdie toesprake verskil Paulus se aanbieding van die evangelie afhangende van sy gehoor. Ons moet onthou dat ons net gedeeltes van hierdie toesprake het en daarom moet ons versigtig wees as ons gevolgtrekkings maak. In Handelinge 17 word hy onderbreek voor hy klaar gepraat het. Tog is daar sekere patrone herkenbaar.
- Die verskille tussen die toesprake.
Hy haal gesag aan, maar dit verskil. By Bybelgelowiges haal hy uit die Skrif en vir Johannes die Doper aan; by die heidene redeneer hy vanuit die algemene openbaring en die grootheid van die skepping. Die Bybelse inhoud wissel ook. Hy verander die volgorde waarin verskillende waarhede aangebied word; ook die klem wat hy op verskillende aspekte plaas. Met Jode en godvresendes spandeer hy min tyd oor die leer van God en gaan reguit na Christus. Met heidene spandeer hy die meeste van sy tyd om die konsep van God te ontwikkel By die Grieke en Romeine gaan hy eers na die opstanding en nie die kruisiging nie.
Praat hy oor sonde met die Jode maak hy dit duidelik dat die wet hulle nie kan vryspreek nie – hulle morele pogings kan hulle nie red nie (13:39). Praat hy met heidene is sy benadering dat hulle hulle rug op waardelose dinge moet draai – hulle sinlose gode moet los en hulle tot die lewende God moet bekeer (14:15 – 17). Paulus varieer sy gebruik van emosie en rede, sy woordeskat, sy inleiding en gevolgtrekkings, sy beelde en illustrasies, sy identifisering met dit wat sy gehoor pla, wat hulle hoop en hulle behoeftes. Hy pas sy aanbieding van die evangelie by sy gehoor aan.
- Die ooreenkomste tussen die toesprake
Daar is geen standaard aanbieding van die evangelie nie, maar daar is net een evangelie vir al die hoorders: die evangelie dat Jesus die Here is (11:20); die evangelie/goeie nuus (14:7, 14:21 en 16:10); die boodskap van verlossing (13:26); die boodskap van sy genade (14:3); die evangelie van God se genade (20:24); die woord van sy genade (20:32). In elke preek is daar ‘n uitdaging: mense word vertel dat hulle verstaan van God en die werklikheid verkeerd is. Jode word vertel dat, alhoewel hulle glo dat hulle God verstaan, dit nie so is nie. Vir heidene word gesê dat hulle geglo het dat hulle die wêreld verstaan, maar hulle het die skepping totaal misverstaan. Daar is net een God en Hy het alles geskep. Beide word vertel van ‘n God wat magtig, maar tog goed is (13:16 – 22; 14:17).
Daar is ook ‘n persoonlike uitdaging oor sonde. Jode probeer die wet onderhou en heidene gee hulle aan afgode oor wat nie kan bevredig nie (13:29; 14:15). Beide probeer hulleself red en beide misluk.
Dan is daar die verkondiging van Christus as die antwoord/oplossing vir hulle sonde. Met heidene beklemtoon Paulus die opstanding om te bewys dat Jesus die goddelike Verlosser is wat na hierdie wêreld gekom het – die Koning. Met Jode wys Paulus daarop dat die verbondsbeloftes vervul is in ‘n lydende Messias. Vir beide Jode en heidene word gesê dat Jesus in die geskiedenis ingebreek het om ons verlossing te bewerkstellig.
Paulus se toesprake wys vir ons dat versigtige kontekstualisering Bybels geregverdig en noodsaaklik is. Daar is geen universele, kultuurvrye formulering van die evangelie wat vir almal aanvaarbaar is nie. Paulus dink nie dit is noodsaaklik dat hy die volledige evangelieverhaal in een enkele sitting moet oordra nie. Heidense nie-Jode word geleidelik verder gevoer – hy vestig eers sekere basiese beginsels sonder dat hy noodwendig reguit na die werk van Christus gaan.
Hierdie evangeliewaarhede word nooit op dieselfde wyse oorgedra nie, maar dit is tog duidelik dat hulle dieselfde inhoud het – die wese van God as regverdig en vol liefde; die wese van ons sonde en verlorenheid; die werklikheid van wat Jesus bereik het – verlossing vir ons; die noodsaaklikheid om hierdie verlossing deur geloof en genade te ontvang.