Was Paulus meer konserwatief as Petrus? ‘n Uitleg van 1 Timoteus 2:8

Was Paulus meer konserwatief as Petrus? ‘n Uitleg van 1 Timoteus 2:8 – Kobus Kok

1 Timoteus 2:11 en 12: Ek vra interessantheidshalwe: Het Paulus nie hier teenstrydig met die genade wat hy so baie verkondig het,opgetree nie? Is sy standpunt nie hier “wetties” nie? Dan ook nog: Hoekom het hy nog altyd net “Die Broers aangespreek? Dis vir my vreemd dat hy Petrus aanspreek oor sy Optrede oor die ou tradisie maar hy doen dit ook? Ek is ‘n ywerige Bybelleser en waarlik gelowig [70jr oud.} Sou graag u opinie wou hoor? Sterkte en seen.

Antwoord:

Was Paulus meer konserwatief as Petrus? ‘n Uitleg van 1 Tim 2:8

Op sommige plekke wil dit voorkom of Paulus meer konserwatief was as Petrus! Dieselfde Petrus teen wie Paulus homself teen ongeveer 48 n.C. openlik verset het omdat Petrus homself onttrek het van die heiden Christene in Antiogië toe lede van die moederkerk in Jerusalem wat nog streng aan die Joodse gebruike vasgehou het, daar aangekom het (lees Galasiërs 2:11-14). In die vroeë geskrifte van Paulus, te wete Galasiërs 3:28 en 1 Korintiërs 12:13, en latere geskrifte soos Kolossense 3:11 lees ons hoe Paulus dit duidelik maak dat daar nie onderskeid gemaak word tussen mense nie. Of jy nou ‘n Griek of Heiden, slaaf of vry, man of vrou is maak nie saak nie omdat almal in Christus gelyk is. Dit was die revolusionêre boodskap wat saam met die evangelie verkondig is wat Paulus van Christus ontvang het (Galasiërs 1:11). In Galasiërs 3:28 lees ons: 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één”. In die antieke tyd was mans baas. Dit was grootliks ‘n paternalistiese sisteem waarin mense hulle plek geken het. Vrouens se plek was by die huis en het in ‘n ondergeskikte posisie teenoor die man verkeer. Slawe en eienaars het ook nie met mekaar op sosiale vlak verkeer nie. Daar was streng onderskeid tussen verskillende groepe en eervolle mense het nie die grense oortree nie. Die boodskap van die evangelie was revolusionêr van aard en het teen die grein van die wêreld se manier van doen ingegaan. Aanvanklik was dit vir die eerste Christene baie bevrydend dat man en vrou, slaaf en vry, heiden en Jood as een voor God kon verskyn.

Volgens navorsing wil dit egter voorkom of dit soms probleme veroorsaak het. Sommige vroue het hulle grense so oortree dat dit eintlik skande gebring het oor die vroeë Christene. In die antieke tyd moes vroue hoofbedekkings dra. Vroue wat in die publiek sonder ‘n hoofbedekking verskyn het was meestal prostitute. In die konteks van die huis kon die vrou egter haar hoofbedekking afhaal. Die vroeë Christene het in huise bymekaar gekom. Tegnies was dit dus private ruimte en vroue kon hulle hoofbedekkings afhaal. Met tyd het die huiskerke nie meer net private ruimte gebly nie en eintlik die karakter van ‘n publieke ruimte gekry. Nou het dit ‘n etiese vraag geword. Moet vroue hoofbedekkings dra of nie? Indien mense van buite die kerklike gemeenskap dit sien kan hulle vinnig verkeerde afleidings maak en dink dat die Christene die grense van moraliteit en etiek verbreek. Paulus was ook sensitief daarvoor. Die laaste ding wat hy wou doen was dat Christene deur hulle lewenswyse aanstoot moes gee aan mense. Daarom het hulle op ‘n stadium besluit dat vroue eerder maar hoofbedekkings in die huiskerk moet dra omdat die huiskerke publieke ruimte geword het. In 1 Korintiërs 11:5 sien ons duidelik hoe die kwessie van eer en skaamte ter sprake kom: “5Maar elke vrou wat bid of profeteer sonder iets op haar kop, doen haar hoof, haar man, oneer aan, want dan is sy net soos ‘n vrou wie se hare afgeskeer is”. Paulus moedig hier sy gemeentelede aan om sensitief te wees vir die kulturele waardes van hulle tyd, eerder as om aanstoot te gee en oneer oor hulle te bring. In 1 Timoteus 2:8, wat ons die pastorale briewe noem en waarskynlik laat in die geskiedenis van die vroegste kerk van die eerste eeu geskryf is, sien ons dat daar nog steeds ‘n oproep gemaak word vir kulturele sensitiwiteit: 9Van die vroue wil ek hê dat hulle ook in hulle kleredrag waardig, beskeie en ingetoë moet wees. Hulle versiering moenie haarkapsels en goud of pêrels of duur klere wees nie, 10maar goeie werke, soos dit vroue betaam wat openlik bely dat hulle God dien. 11’n Vrou moet in die erediens stil en onderdanig wees en haar laat leer. 12Ek laat haar nie toe om daar onderrig te gee of oor die man gesag uit te oefen nie; sy moet stil wees. 13Adam is immers eerste gemaak, Eva daarna. 14Dit is ook nie Adam wat verlei is nie, dit is die vrou wat haar laat verlei het en die gebod oortree het. 15Maar sy sal haar redding vind in moederskap, as sy maar volhard in geloof, liefde en ‘n heilige lewe, en daarby beskeie bly.”

In die antieke tyd is geglo dat ‘n eervolle vrou beskeie en ingetoë moet wees. Aggressiewe vroue was met agterdog bejeën en het grense oortree. Dit mag dalk gebeur het dat sommige vroue die nuwe vryheid wat hulle in Christus beleef het volgens sommige te ver gevat het. Sulke vrouens het dan oneer oor hulle mans en oor die vroeë Christene as groep gebring. Daarteen het die vroeë Christene, en veral Paulus, gewaak.

Die implikasie daarvan is dat ons vandag ook sensitief moet wees vir ons eie kulturele konteks. Indien mens vandag sendingwerk in Mosambiek gaan doen, moet mens byvoorbeeld in gedagte hou dat eervolle vrouens in daardie land altyd rokke dra. Indien ons wat uit Suid Afrika kom daar sendingwerk doen, sal ons vroue natuurlikerwyse dikwels kort broeke of langbroeke dra. Vir die mense van Mosambiek is dit oneervol en hulle sal nie met die Christene wil assosieer nie. Die evangelie kan alleen met integriteit daar gebring word indien mens in daardie kultuur met sensitiwiteit en integriteit optree. Net so het dit in Paulus se tyd gebeur. Paulus was nie konserwatief nie, net sensitief.

 

Skrywer: Dr. Kobus Kok

 




Onderhou die wet

Onderhou die wet – Adrio König

Jaco vra:

Paulus het ‘n stryd om onder andere die Galasiërs te oortuig dat ons nie deur die onderhouding van die wet gered kan word nie, maar slegs deur geloof in Jesus Christus(Gal.3:1-20). Ons moet wel die wet onderhou, Jesus se self so. My vraag is: wie het besluit dat ons vandag slegs die 10 gebooie probeer onderhou en nie die Torah/Wet van Moses nie, soos beskryf in Die Groot Geloofswoordeboek? Verwys Paulus nie na die “volledige wet”(al 5 boeke) nie?

Antwoord:

Prof Adrio König antwoord:

Teen die einde van die stukkie in die Woordeboek word gewys op die feit dat Paulus juis die tien gebooie uitsonder as hy oor die wet, en selfs oor die hele wet skryf. Verder is Hebreërs duidelik oor die afskaffing van dit wat gewoonlik die seremoniële wet genoem word, die tempel, priesters, offers, omdat Christus dit vervul het. Lees die hele brief, maar veral hoofstukke 7, 9, 10. Ons weet ook dat Paulus die besnydenis verwerp vir gelowiges uit die heidene.

Daar is nie iewers ‘n duidelike uitspraak oor presies wat nog geld, en wat nie meer nie. Maar daar is tog dele wat eenvoudig nie meer vandag kan geld nie soos Jesus se eie uitspraak oor die gawe en die altaar (Mat 5:23). Ons het nie meer ‘n altaar nie. Maar ons interpreteer dit tog nog op so ‘n manier dat dit ook vir ons betekenis het. Omdat die Bybel, en veral die NT, nie een groot wet is wat presies sê hoe ons moet leef nie, maar ‘n boodskap oor God se reddingsdade, is dit nie vreemd dat elke detail nie presies uitgestippel word nie. Maar dis ook waar dat dit veroorsaak dat daar verskille onder gelowiges is, soos oor die Sabbat.

Outeur: Prof Adrio König




Afrokkeling van Paulus se gemeentelede

Afrokkeling van Paulus se gemeentelede – Jan van der Watt

Erika vra:

Volgens Filippense was daar mense wat Paulus se gemeentelede afgerokkel het terwyl hy in die tronk was. Wie was die mense en van watter geloof was hulle dan nou? Was dit dalk soos in vandag se tyd wat daar so baie kerke is wat claim dat almal in Jesus glo, maar ons is net nie een kerk nie of was dit mense wat nie in Jesus geglo het nie?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die moeilikheid om die opponente van Paulus in Filippense en ook in die ander briewe te identifiseer, is dat hulle nie by die naam genoem word nie. In daardie tyd het jy nie jou opponente by die naam genoem nie, want dit sou hulle eer gee. Jy het sydelings na hulle verwys om te wys hoe min jy van hulle dink. Ons het dus nie veel direkte inligting oor wie die opponente was nie, wat beteken dat ons maar intelligent moet raai met die inligting wat ons wel uit die briewe kry.

Wat duidelik is, is dat die opponente Jode was wat Christene geword het. Hulle het egter nie heeltemal met Paulus saamgestem oor die redding nie. Hulle wou gehad het dat Christene nog so halfpad Joods moet bly, hulle nog moet besny, nog van die eetreëls moet hou, en so voorts. Paulus het natuurlik geargumenteer dat Jesus deur sy Gees ons vrygemaak het en dat ons dus nie meer die soort van dinge hoef te doen nie. Dit het die twee groepe in konflik gebring.  Nou lyk dit of Paulus se opponente sy doen en late goed geken het en ook geweet het waar hy heen reis, want net as hy by ʼn plek was, daag hulle daar op. Dit was nie sommer net vir doen nie, want daar was geen posdiens, telefoon ens. waardeur daar vinnig nuus oor waar Paulus was, deurgegee kon word nie. Dit lyk of dit mense was wat hom moes ken en wat dieselfde kennisse as hy gehad het. Omdat hulle ook die opponente geken het, het die nuus waar Paulus was vinnig versprei. Nou wie sou hierdie mense wees wat Paulus geken het, maar tog teen hom was. Die geleerdes kyk na die gemeente in Antiogië waar Barnabas was en wat Paulus aanvanklik as sendeling gestuur het. Ons lees dat Paulus en Barnabas (wat hoog aangeskrewe was in die gemeente) ernstig van mekaar  verskil het en in Galasiërs 1-2 lees ons dat daar ook verskille was oor wat Christene mag doen en wat nie. Daar was ʼn groep wat alles nog Joods wou hou. Nou sê die geleerdes dat dit Joodse-Christene uit die gebied van Antiogië was wat meer Joods as Paulus wou wees en wat hom agtervolg het en sy boodskap van die vryheid van Christus oral beveg het. Daarom is hulle ook so maklik in die gemeentes opgeneem wat Paulus gestig het. Hulle het hulleself as die Christene uit die belangrike stad van Antiogië voorgestel, waar Paulus ook oorspronklik vandaan gekom het. Die gemeentes van Paulus was dus oop om hulle te ontvang. Nadat hulle eers daar aanvaar is, kon hulle teen Paulus, wat toe nie meer daar was nie, argumenteer en het skynbaar baie sukses gehad. Onthou, die gemeentes wat Paulus gestig het, het nie dominees of pastore wat opgelei is gehad nie. Hulle moes self sien en kom klaar – daarom was hulle nogal oop vir allerhande idees. Vandag nog kry ons ʼn groep wat hulleself Christene noem in daar die gebied naby Antiogië, naamlik die Ebioniete wat baie lyk op die opponente waarvan Paulus in sy briewe praat.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Paulus se vervolging van Christene

Paulus se vervolging van Christene – Jan van der Watt

Erika vra:

Hoekom het Paulus die Christene vervolg? Wat was dit wat die Joodse geloof en reëls en Fariseërs gehad het teen Jesus in Paulus se tyd? As ek dit reg verstaan het Paulus se vervolging van Christene plaasgevind omdat hulle in Jesus geglo het. Tog het hulle rede gehad om in Jesus te glo, want hy was toe reeds op aarde gewees, gekruisig en het opgestaan. Oorlewing moes dit tog so oorgedra het aan die Jode in Paulus se tyd? En hoekom moes die Christene doodgemaak word? Kon hulle nie maar soos vandag keuses gehad het nie?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ons lees van die eerste vervolgings reeds vroeg in Handelinge – van hoofstuk 6:8 af begin ons daarvan lees. Hoofstuk 7 vertel van Stefanus wat die eerste Christen martelaar was en in hoofstuk 8 lees ons hoe die Christene moes vlug vir hulle lewens. Die rede vir die vervolgings lees ons al in Handelinge 6:8-15. Van die Jode het gevoel dat Jesus se boodskap hulle tempel en wet bedreig het. Ons weet Jesus het gesê dat Hy die tempel gaan vervang (sy liggaam gaan die tempel word). In Matteus 5 en elders lees ons ook dat Jesus die wet anders interpreteer het as die Jode en ons lees verder op baie plekke dat Jesus die Sabbat nie gehou het soos die Jode dit gedoen het nie. Jesus het die dinge anders gesien. Die Jode het gevoel dat dit laster is en deur sake so bietjie aan te dik met valse getuienis het hulle die Christene se name deur die modder begin sleep en gesê dat hulle teen die Joodse godsdiens is en teen God laster. Nou het dit so gewerk dat die Romeine (wat die politieke heersers was) die Jode toegelaat het om oor hulle eie godsdienstige en kulturele sake self te besluit wat om te doen. Hulle Raad (waarvan ons ook in Handelinge 6 lees) het die reg gehad om mense wat teen die godsdiens oortree, reg te sien en dit is juis wat hier gebeur. Hulle het selfs met die Romeinse Ryk ʼn ooreenkoms gehad om mense wat in die buiteland hulle godsdiens skade aandoen te gaan vervolg. Daarom kon Paulus na Damaskus gaan om die Christene daar te gaan vervolg. Damaskus was nie in Israel nie en tog kon Paulus die Christene daar gaan vervolg.

 

Dit was onder andere hierdie oordrewe manier waarop die Jode aan hulle manier van godsdiensbeoefening vasgeklou het wat gemaak het dat hulle Jesus misgekyk het. Ons kry baie plekke in die Nuwe Testament waar die Christene self maar net wonder waarom die Jode nie glo nie – hulle het al die bewyse voor hulle en nogtans het hulle nie reageer nie. Lees maar Romeine 9-11 of Johannes 12:37-42 om agter te kom hoe die Christene met die probleem geworstel het.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt