Wat is die doel van prediking?

 

Rather than seeking inspiration and meaning in life from the Bible, our culture has symbolically used  the dictionary, a symbol of knowledge, learning and enlightement – ­Glenn Pearson

Wat is die doel van prediking?

God se doel vir elke gelowige is transformasie – om meer en meer soos Christus te word. Dit beteken oortuigings soos Christus (dink soos Jesus), ‘n karakter soos Christus (om soos Jesus te voel) en optrede soos Christus (tree op soos Jesus). Die doel van prediking is transformasie van mense.

 Dié doel van prediking is nie inligting nie. In sommige gevalle is dit selfs nadelig – sommige mense hoe meer inligting hulle het, hoe trotser word hulle. Dit gebeur as inligting nie oorgaan in gehoorsaamheid nie

Natuurlik sluit prediking die oordra van inligting en onderrig in, maar dit gaan nie net daaroor nie. Die primêre doel van prediking is transformasie en gehoorsaamheid.

 As Jesus mense onderrig het, het Hy hulle gedurig uitgedaag – hulle moes iets doen nadat Hy hulle geleer het:

Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.” – Lukas 10:37

Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen – Johannes 13:17

En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het – Matteus 7:26.

 As ons van transformasie praat, praat ons van transformasie op die diepste vlak – op die vlak van dit wat ons glo en ons waardes. Ons praat van transformasie van lewens.

 




Is die prediking voldoende?

We know how God would act if he were in our place — he has been in our place. —A.W. Tozer

Is die prediking voldoende?

Op Kersfees en Paasfees is die kerk gewoonlik voller as op ander Sondae. Hulle verwys selfs daarna as die kerk se CEO’s – Christmas and Easter Only – bywoners. Hulle glo waarskynlik dat hulle hiermee hulle godsdienstige plig vir die jaar afgehandel het.

 

Maar selfs mense wat elke week die eredienste bywoon kan die belang hiervan oorskat – veral as dit net luister na ‘n preek behels. ‘n Student kan tog nie net lesings bywoon en dink hy kan slaag nie – hy moet darem buite die klas ook iets doen. Sy insig in die vak gaan hiersonder  nie dieper nie. Maar het ons ook nie ‘n meer uitgebreide sillabus gekry nie?  Ja, ons mag ‘n Bybel leesprogram volg, maar maak ons werklik erns met die sillabus se materiaal?

Is ons soos die student wat dieper delf? Ja, jy woon die eredienste by, maar jy maak ook tyd om dieper te delf deur persoonlike studie en gesprekke met ander gelowiges. Hoekom moet ons dit doen?  Die preek is nie genoeg  om die Skrif te leer nie – dit is ook nie veronderstel om te wees nie. Jy moet elders ook leer. Daarom kan die prediker gelowiges oproep en bemoedig om  toe te pas. Die prediker het die reg om breër konsepte wat op basiese kennis van die Bybel berus, te integreer, want hy aanvaar jy het hierdie basiese kennis elders geleer.

Wat is dan die nut van goeie prediking? Goeie prediking maak die luisteraars honger vir ‘n dieper leerervaring.; dit maak in ons die begeerte wakker om meer van God te weet. Bo en behalwe die preek moet ons ander leerervarings soek. Prediking en Bybelstudie is voordelig, maar saam vermeerder die voordele. Wat moet ons dan doen? Erken die preek is nie genoeg nie; kry ‘n groep of maat of studiegids om jou te neem na waarheen die waarheid van die preek jou oproep – steeds dieper.

Deeper, deeper, blessed Holy Spirit, Take me deeper still,

Till my life is wholly lost in Jesus, And his perfect will.

O deeper yet, I pray, And higher every day,

And wiser, blessèd Lord, In Thy precious, holy Word




Mag ‘n vrou mans leer?

Mag ‘n vrou mans leer? – Jan van der Watt

‘n Leser vra:

Ek wil graag meer weet oor “teachings” onderrig deur ʼn  vrou (met verwysing na die Bybel) en of daar ʼn  verskil is tussen “teaching en preaching” onderrig en prediking. Veral onderrig deur ʼn vrou aan mans en dan veral oor dogmatiek en nie net daaglikse onderwerpe soos Christelike siening oor finansiële begroting of algemene onderwerpe nie. Ek kom nou net terug van ‘n “uitreik” aksie na Malawi waar ek ‘n kralewerk opleidings sessie gaan aanbied het aan kerklede van ‘n kerk in Mangochi. Ek is sterk veroordeel omdat ek tydens ‘n bybelstudie nie net getuig het nie maar wel “geteach” het. Volgens diegene wat my veroordeel is dit ‘n taak slegs vir mans en hulle verwys veral na Timoteus en Titus, maar volgens my kennis is Timoteus in moeilike omstandighede geskryf aan die gemeente van Efese en Paulus wou veral vroue wat uitspattig was verhinder om die aandag af te trek van dit wat by ‘n byeenkoms moes plaasvind. Ek het altyd vir myself Priscilla en Akwila as voorbeelde gesien, maar kon aflei dat Priscilla wel kon onderrig gee aan die wat hulle huis besoek het. Is daar ‘n verskil dan tussen onderrig in jou huis aan mense wat jou besoek en onderrig op ‘n sendingveld?

 

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Mag ʼn vrou leer; veral, mag vroue mans leer? Dit is ʼn vraag waaroor die Christendom nog verdeel is. In die Roomse, Ortodokse en ʼn hele klomp Protestantse kerke beklee die vrou nog ʼn ondergeskikte rol as dit by hierdie sake kom, juis as gevolg van die gedeeltes in 2 Timoteus 2:11vv en natuurlik 1 Korintiërs 14. Daar is ook egter ʼn groeiende groep kerke wat voel dat die beperkings op vroue nie meer vir ons vandag geld nie omdat ons omstandighede van die omstandighede van destyds verskil. Byvoorbeeld, daar staan in 2 Timoteus 2:11 dat dit gaan oor die erediens, maar dit staan byvoorbeeld nie in die Grieks nie. Die vertalers het dit bygesit. Dit kan nie met 100% sekerheid gesê word watter situasie Paulus hier in gedagte gehad het nie. Die Gereformeerde kerkleer sê dat as ʼn mens nie 100% seker is nie, kan jy nie ʼn kerklike leerstelling op ʼn vers bou nie. Daarom is hulle huiwerig om vroue van die lering weg te hou op grond van ʼn teks wat nie heeltemal duidelik is nie. Die gedeeltes in 1 Korintiërs 14 gaan ewe-eens oor sosiale situasies in die antieke tyd waar vrouens wat in die openbaar praat as onbeleefd en onaanvaarbaar gesien is. Vroue se posisie vandag het verander – ons sien nie meer vroue wat hul opinies lug as onbeleefd nie en dit is ook nie vir ons onaanvaarbaar nie. Daarom kan vroue maar praat, want dit kommunikeer nie meer die boodskap dat hulle onbeleefd of rebels is nie. Destyds het vroue ook nie die geleentheid gehad om behoorlik opgelei te word in die godsdienstige dinge nie, iets wat ook vandag nie meer waar is nie. Kerke wat vroue dus toelaat om te leer en te onderrig neem hierdie verskille ernstig en argumenteer dat die redes waarom Paulus die vroue verbied het vandag nie meer daar is nie. Daarom kan en moet vroue toegelaat word om hulle volwaardige posisie in die gemeente in te neem.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt