Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Regverdiging

Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Regverdiging – Adrio König

Regverdiging

Die begrip regverdiging is een van die kernbegrippe van die kerkhervorming. Lurther se vraag: Waar kry ek ‘n genadige God, was ten diepste ‘n vraag hoe hy geregverdig kan word d.i. hoe hy in die regte verhouding met God kan kom. Hy het goed geweet van die geregtigheid van God, en dit was juis sy vrees: God is self regverdig en daarom eis Hy geregtigheid van ons. Ons het dit nie. Daarom staan ons onder sy oordeel. Waar kry ek ‘n genadige God?

Maar toe ontdek hy God eis nie net geregtigheid nie, Hy gee dit ook. Trouens God se geregtigheid is selfs nog veel omvattender as dit. God laat geregtigheid geskied, wat in die OT beteken Hy straf die goddelose en red die hulpelose. God se geregtigheid beteken dat Hy ‘n Vader vir die weeskinders is en ‘n beskermer van die reg van die weduwees (Ps 68:6). Daarom eis die profete ‘n regverdige samelewing waarin die reg van die verdruktes beskerm word en die armes gehelp word, maar die verdrukkers verbrysel word (Ps 72:4).

Maar natuurlik het dit nie Luther se probleem opgelos nie – eerder vererger, want in die NT lees ons dat almal onregverdig is en die hele wêreld strafwaardig voor God (Rom 3:12,19). Dus opnuut die vraag: Waar kry ek ‘n regverdige God?

En dan die verrassing: God spreek die goddelose vry … as hy of sy glo (Rom 4:5). Dit gaan nie meer daarom of ek regverdig is nie (trouens ons het almal gesondig en is vervreem van God, Rom 3:23), maar of ek glo in Hom wat die goddelose regverdig. Toe ons nog sondaars was, het Christus vir ons gesterf (Rom 5:8). Toe ons nog vyande was, is ons deur die dood van sy Seun met God versoen (Rom 5:10). Glo dit! Dis die evangelie.

Regverdiging is om, terwyl ek skuldig is, deur God vrygespreek te word op grond van iemand anders se geregtigheid (dus nie my eie nie), en wel op grond van Christus se geregtigheid wat aan my toegereken word. Sondevergifnis is niks anders as regverdiging op grond van Christus se verdienste nie.

Maar Hy spreek my vry om my ook vry te maak, vry van die onreg in my lewe, vry om reg te doen, vry om geregtigheid in die samelewing te vestig.  Daar is geen regverdiging sonder heiliging nie. Dit sou goedkoop genade wees. God gee nie om hoe ek lyk as Hy my moet regverdig nie, maar Hy gee om hoe ek daarna lyk. Maar dit bring ons alreeds by die heiliging.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (4)

Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (4)

  • Geloofsekerheid

Veral onder Evangeliese Christene is ge­loof­sekerheid ‘n baie po­pulêre woord. Dit lei ook geen twyfel dat dit ‘n sterk Bybelse basis het nie. Veral Johannes maak baie daarvan dat ons moet weet dat ons die ewige lewe het (Joh 3:36; 1 Joh 3:1; 5:10-12). Hierdie sekerheid word gewoonlik gestel teenoor die gedagte dat ‘n mens maar net jou bes kan doen of vir die beste hoop of “darem nie so ‘n groot sondaar is nie”. Wie op Jesus Christus vertrou, is verlos. Dit hang nie van ons probeer of hoop af nie.

En tog is die woord “geloofsekerheid” nie sonder sy eie pro­bleme nie. Dit gaan na alles nie om die sekerheid van my verlossing nie, maar om my verlossing. In ‘n liefdesverhouding is daar klaar ‘n skroef los as die een huweliksmaat soek na sekerheid van die ander een se liefde. Die vraag behoort eintlik nie te wees: “Is jy seker van jou verlossing?” nie, maar: “Is jy verlos?” En ‘n mens is verlos as jy Jesus as Verlosser ken.

 

  • Regverdiging (Vryspraak)

Regverdiging is ‘n woord wat die meeste van ons baie selde ge­bruik. Dis half ‘n vreemde woord. En tog is dit die sentrale woord by Paulus, en ook by die ou Kerkhervormers. By hulle hoor ons oor en oor dat ons nie deur ons eie bydrae/*goeie werke ge­regverdig/vrygespreek word nie, maar net deur die geloof, dit beteken net uit genade, dit beteken net op grond van Christus se verdienste. Hulle het dié bood­skap by uitstek in Romeine en Galasiërs gekry (Rom 3:21-31; Gal 2:15 ev; 3:1-9).

‘n Mens kan onderskei tussen regverdiging en reg­ver­dig­making, net soos tussen heiliging en *heiligmaking. Regverdiging beteken dat God my uit genade regverdig verklaar terwyl ek nog ‘n sondaar is. Regverdigmaking beteken dat Hy my lewe verander sodat ek ook in myself regverdig word. Maar dis eint­lik deel van *heiligmaking. Dit gaan in regverdiging oor die vraag hoe ‘n sondaar gered word terwyl jy nog ‘n sondaar is, en in heiligmaking of regverdigmaking oor die vraag hoe Hy dan jou lewe verander om by Hom te pas.

Reg-verdiging hou net soos “*ge-reg-tigheid” verband met die woord “reg”. God se geregtigheid beteken dat Hy reg doen, en as God ons regverdig, bring Hy ons in die reg-te verhouding tot Hom. Die feit dat God ons moet regverdig, veronderstel dus dat ons nie in die reg-te verhouding met Hom is nie. Deur ons sonde is ons onder sy oordeel. Ons verdien sy straf. En juis omdat ons sondaars is, is daar niks wat ons kan doen wat ons straf kan wegneem en ons saak by Hom kan reg-maak nie.

Maar God het sy Seun gegee om in ons plek iets te doen. Hy het die offer gebring wat ons met God versoen. (*Versoening) Wanneer ons nou op Christus vertrou, bring God ons in die regte verhouding met Hom deur ons sonde te vergeef. Hy doen dit op grond van Christus se kruisdood.

Die wonder van wat hier gebeur, is dat alles buite ons plaas­vind. Christus het die offer vir ons gebring, in ons plek, sonder ons betrokkenheid, lank voor ons nog gebore is. Dat God ons regverdig, hang dus nie van ons af nie. God ondersoek ons nie eers om seker te maak dat ons goed genoeg is nie. Die geregtigheid wat ons nodig het, bring Hy van buite ons na ons toe. Dit beteken dat dit nie saak maak hoe ons lyk nie. Paulus skryf uitdruklik dat God die goddelose mense vryspreek/regverdig (Rom 4:5). Hy doen dit omdat Iemand anders voorsien het wat ons nie in onsself het nie. Dit maak dus nie saak hoe my verlede of my hede is nie. Ek kan selfs die swartskaap van die familie wees. My regverdigheid kom van buite my. God neem my aan omdat Jesus gedoen het wat reg is, omdat Hy die pad na Hom oopgemaak het. Hy reken my Christus se geregtigheid toe.

Hy doen dit wanneer ek glo. Dit beteken nie dat ek met my *ge­loof tog iets moet bydra nie. Ek glo juis dat ek niks het nie, maar dat Jesus genoeg gedoen het in my plek. Die feit dat ek glo, beteken juis dat ek niks het om aan te bied nie. My geloof beteken dat ek op Iemand Anders vertrou wat my saak by God reggemaak het.

Maar ek moet glo. Ek is nie vanself gered of geregverdig om­dat Jesus die offer gebring het nie. As ek nie op Hom vertrou nie, word ek nie gered nie, want dan kan ek net met my eie on-geregtigheid voor God staan. Ek het niks in myself op grond waarvan God my regverdig kan verklaar nie.

 

Analitiese regverdiging, Sintetiese regverdiging

As ons ‘n bietjie geleerd wil klink, onderskei ons tussen analitiese reg­ver­diging en sintetiese regverdiging. Analitiese regverdiging be­te­ken dat God ons as’t ware analiseer of ontleed en dan in ons ge­noeg goed vind omdat Hy ons eers regverdig gemaak het. Ons is dus in onsself reeds regverdig, goed genoeg, voordat Hy ons reg­verdig verklaar. Hy maak ons eers regverdig en dan verklaar Hy ons regverdig op grond van ons eie toestand.

Die Protestante het altyd die Katolieke beskuldig dat dit is wat hulle glo. Die probleem daarmee is dat Hy my dan regverdig op grond van my eie toestand, maar ek kan nooit seker wees of ek regtig in myself volkome regverdig is nie. Al is dit God wat my eers regverdig maak, kan ek nog altyd alles wat God in my doen deur my ongehoorsaamheid vertroebel. Dit gaan beteken dat ek onseker bly of ek regtig geregverdig of gered is.

Daarteenoor het die Protestante altyd geleer dat God die god­delose regverdig of vryspreek soos dit uitdruklik in Romeine 4:5 staan. Hy maak nie eers die goddelose regverdig in hulleself en spreek hulle dan vry omdat hulle regverdig is nie. Hy spreek die goddelose vry terwyl hulle nog goddeloos is. Hy spreek my vry op grond van vreemde geregtigheid, geregtigheid wat nie binne-in my is nie, geregtigheid wat aan my toegereken word, Christus se ge­regtigheid. Ek moet my saligheid buite myself in Jesus soek. En dit is wat onder sintetiese regverdiging verstaan word. Christus se geregtigheid moet by my nie-regverdigheid bygevoeg word (met my “gesintetiseer” word) sodat ek op grond daarvan vrygespreek kan word.

As dit die geval is, kan ek seker wees van my redding, want dan maak dit nie saak hoe ek in myself lyk, en wat ek al weer verkeerd gedoen het nie. Dan lê die grond vir my regverdiging/redding buite myself, vasgeanker in Jesus self.

Dit beteken natuurlik nie dat dit nie saak maak hoe my lewe lyk nie. Onder *heiligmaking kyk ons daarna. Natuurlik moet ek aan die Here gehoorsaam wees. Natuurlik gaan Hy my lewe verander. Natuurlik moet ons nie soos ongelowiges lyk nie (Ef 4:17 ev). Maar dit beteken nie dat Hy my op grond van hierdie veranderde lewe van my regverdig nie. Dan sou ek nooit seker kon wees of ek al aan sy standaard voldoen het nie. Daarom aanvaar ek dankbaar dat ek nie op grond van my eie toestand gered word nie. Christus is my sekerheid.

Maar as jy nou moeg gedink is, vergeet dit alles en vertrou net op Jesus. Dan is alles reg.

 

Skrywer: