SABBAT: DIE RITME VAN VERSOENING

If you are drawn into a controversy, use very hard arguments and very soft words. –C.H. Spurgeon

Sabbat: Die ritme van versoening

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Sabbat is ‘n dag wat opsy gesit is wat vorm aan ons karakter en identiteit gee. Dit is ‘n plek en tyd waar ons weer met God die bron van ons lewenskrag verbind. Die bekende rabbi en filosoof, Abraham Joshua Heschel sê dat die sabbat eternity in disguise is.

Vandag werk ons nie meer om te leef nie – ons leef om te werk.  Ons is trots dat ons so hard werk; dat ons nie tyd het om die sabbat te onderhou nie. Nêrens lees ons egter in die Bybel dat ‘n rusdag nie meer nodig is nie.

Harde werk is ook ‘n probleem vir leraars. Dit gebeur dikwels tot nadeel van ons gesin, ons stiltetyd. Die sabbat/Sondag is teen ‘n kultuur wat trots is daarop dat hy altyd besig is; wat ontspanning as luiheid sien.

In Eksodus 16 lees ons van die volk wat teen sy leiers murmureer: As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet! Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.  God gebruik dit egter as ‘n geleentheid om sy voorsiening en oorvoed te demonstreer – Hy gee aan die volk kos uit die hemel – manna. Elke dag moes hulle ‘n porsie manna optel, maar op die sesde dag ‘n dubbele porsie, want op die sewende dag was daar geen manna nie.

Chad Myers (The Biblical Vision of Sabbath) sê dat ons drie belangrike lesse uit hierdie gedeelte moet leer:

Die les van genoeg

Hulle het volgens elkeen se behoefte bymekaargemaak (16:18). Hulle moes net genoeg vir een dag bymekaarmaak. Kyk ons vandag na die enorme verskille tussen ryk en arm in die wêreld kom die vraag onwillekeurig by ons op: Wanneer het ons genoeg? Hoeveel geld/klere/motors/ens het ons werklik nodig? Dieselfde geld ook vir die gemeente: Wanneer het die gemeente genoeg en moet hy arm gemeentes help? Hierdie les van genoeg is belangrik, want dit leer ons om nie die lewe en welstand van ander te bedreig deur te veel vir onsself te neem nie.

Die waarde van herverspreiding

Manna kon nie gestoor word nie – daar het miet ingekom en dit het gestink (16:20). Hulle kon nie die manna opstoor om later teen ‘n profyt te verkoop nie. Hulle kon dit ook nie opspoor as versekering vir toekomstige tekorte nie. Israel moes sy rykdom sirkuleer en nie konsentreer nie. God voorsien oorvloedig vir ons sodat ons oorvloedig met ander kan deel.

Sabbatsgeloof en –dissipline

Om die Sabbat/Sondag te onderhou is eintlik ‘n geloofsdaad – ons vertrou dat die wêreld sal voortgaan sonder die insette van mense. Ons sê daarmee: God is in staat en gewillig om te voorsien. Dit beteken in werklikheid sewe dae voorspoed vir ses dae se werk. Hierdie benadering is later uitgebou tot die sabbatsjaar (Eksodus 23:10 – 11) en die hersteljaar (Levitikus 25:35 – 42).

Volgende keer gaan ons na die oorvloed wat God voorsien kyk.