Salwing van jou huis

Salwing van jou huis – Kobus Kok

Sonja Pretorius vra: 

Ek het opgelees oor julle antwoorde oor salwing, maar ek bly nog steeds ‘n vraag hê. Wat beteken as iemand ‘n huis salf met gebed en olie gebruik? Kan enige iemand dit doen? Hoekom word dit gedoen? As jy die kind van die Here is en jy vertrou Hom waarom twyfel jy oor die seëninge van die Here oor jou en vir wie jy bid?

Antwoord

 

Prof Kobus Kok antwoord:

Ek stem saam dat geloof en vertroue in die Here nie plek moet maak vir ‘n soort bygelowigheid waar salwing met olie gebed of vertroue vervang nie. Baie mense dink dat indien hulle hulle huis, hond, kar of wat ook al salf, een of ander geestelike lagie van beskerming oor hulle sal wees. Dit kom neer op ‘n magiese of bygelowige aanwending van rituele. Die punt is dat die krag nie in die salwingsolie lê nie, maar in God. Die olie is net die teken wat jou daaraan behoort te herinner. Daarom kan mense maar hulle huis of hond salf, so lank hulle net nie dink die salwing het een of ander geheime of bonatuurlike krag nie. Indien hulle wel salwing sien as iets wat so ekstra beskermingslagie verseker, maak hulle hulle eintlik skuldig aan heidense denke. Die Jode het profete gesalf en selfs hulle huise, maar dit was ‘n teken wat heengewys het na die geestelike waarheid wat God aan hulle wou kommunikeer en is ‘n sigbare teken wat hulle daaraan sou herinner.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Salwing

Salwing – Marius Nel

‘n Leser vra:

Vraag 1: Ek wil weet, as mens sondig, verloor mens die Heilige Gees, al het jy Jesus baie jare gelede aangeneem en het in tale gepraat? Is daar ooit ‘n kans op herstel? Al weet jy dis verkeerd, maar word oorweldig deur swakheid vir ‘n oomblik, en doen dit dan weer.. en weer, al baklei jy daarteen en probeer so hard om dit nie weer te doen nie.

Vraag 2: Verloor mens jou salwing agv sonde? As jy nou iets doen, vergifnis vra met ‘n berou in jou, maar oor ‘n maand gebeur dit weer.. jy voel weer sleg en vra weer vergifnis.. wat gebeur met jou salwing? Vraag 3: Wat is Salwing presies?

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Lees gerus Romeine 6 waar Paulus verduidelik dat ons nie aanhou sonde doen nadat ons die genade van God gesmaak het nie, omdat ons uit dankbaarheid vir God wil leef. Ons behoort aan die Here, nadat die wet ons van sonde bewus gemaak het. Sy genade red ons. En wanneer ons weer sondig, vergewe Hy ons weer. Kyk ook na Romeine 7. Paulus erken dat daar nooit ‘n tyd gaan aanbreek wanneer ons ten volle die sonde op aarde sal kan oorwin nie. Daarom roep hy uit in Romeine 7:21-25 dat hy die goeie wil doen, maar elke keer die slegte doen. Wie sal hom kan red daarvan? Jesus Christus het hom gered, al is hy tegelyk geregverdigde en sondaar. Jy verloor nie die Gees as jy sonde doen nie, nes jy nie ophou om jou ouers se kind te wees wanneer jy hulle teleurstel nie. Maak dit sin?

 

Skrywer: Dr Marius Nel