Seksualiteit
Seksualiteit – Jan van der Watt
‘n Leser vra:
As Christene is dit ‘n sonde om “seks speelgoed” te gebruik. Net jy en jou man. Hierdie is ‘n vraag wat baie tussen ons vrouens opkom en eintlik weet nie een van ons of dit reg of verkeerd is nie.
Antwoord:
Prof Jan van der Watt antwoord:
Hierdie is nie so ʼn maklike vraag om te antwoord nie, veral omdat daar soveel opinies die rondte doen. As Christene het ons ʼn tradisie deur die eeue van sterk opinies oor seks en seksualiteit. Vroeër was Christelike selfdissipline dikwels daaraan gemeet hoe jy jouself kon ‘beheer’ op seksuele gebied. Dit was dan die manier waarop mense kon bewys dat hulle genoeg gehoorsaamheid gehad het om God te dien. Daarom het jy mans en vroue gekry wat hulle van die huwelik en seksualiteit onttrek het. Ons weet egter uit die geskiedenis dat dit nie altyd moontlik was nie. Ons seksuele drange is so deel van ons soos wat behoefte aan kos is. Dit is iets waarmee ons daagliks te doen het. Nou onlangs het een van die belangrike Duitse professore verklaar dat hy te swak is om priester (ongetroud) te bly en het tot skok van vele die priesterskap gelos. Dit gebeur algemeen.
In die tweede plek het ons ʼn beperkte direkte beeld van seksualiteit. Seks word gesien as uitsluitlik om kinders te verwek. Daarom is daar in die Ou Testament selfs ʼn verbod op mans wat hulle saad buite seksuele gemeenskap stort. Lewe is met die saad verbind en as jy saad stort, mors jy lewe. In die geval sit ons vandag met die probleem dat ons dit nie meer so sien nie. Ons weet die proses van verwekking is baie meer ingewikkeld. Niemand sal voel hy vermoor iemand as hy saad buite die vrou stort nie. Die etiese vraag is dus of dit dan nog verkeerd is. Die verbod was veral daarop gemik om nie lewe te beskadig nie – ons weet ons beskadig nie lewe as ons dit doen nie. Is dit dan nog verkeerd?
In die derde plek sit ons met ʼn situasie dat mense vandag dikwels eers trou as hulle by die 30 is. In die ou tyd was dit vir vroue as jy ongeveer 12 jaar oud was. Vroue is verbied om buite hulle huwelik seks te hê, en die verbod was veral daarop gemik om die stam/familie suiwer te hou. Daar is geglo dat die karaktertrekke van ʼn familie deur die saad van die man oorgedra word. As daar nou ʼn man van ʼn ander familie of stam sy saad in die vrou stort, beteken dit dat die karaktertrekke van jou familie of stam verander. Dit mag nie. Daarom is die vroue op alle moontlike maniere teen ander mans ‘beskerm’ (Kyk maar hoe die vrouens met die klere toegemaak is. Jy kon dikwels net hulle gesigte of oë sien; Hulle is ook gedwing om meestal tuis te bly en nie in die openbaar rond te hang nie). Omdat die vroue jonk getrou het, is hulle seksuele behoeftes dus van vroeg af bevredig. Vandag is dit natuurlik nie meer so nie.
Etici (mense wat nadink oor wat reg of verkeerd is), vergelyk nou ons situasie met die situasie van die Bybel. Daar is belangrike verskille. Daar is sommige wat argumenteer dat ons maar moet bly by onthouding en niks vreemds doen nie. Hulle argumenteer dat reinheid ook op seksuele gebied beoefen moet word en dat ʼn mens dan jouself in die verband moet dissiplineer. Ander argumenteer wyer. Hulle vertrek van die standpunt dat jy niemand seermaak as jy byvoorbeeld jou seksuele behoeftes bevredig deur masturbasie nie. Die basiese belangrike vereistes van die Christendom gaan om die liefde en die bewaring van lewe. As ek dus niemand skade aandoen nie, sou dit vir hulle beteken dat dit moeilik as verkeerd beskou kan word. (Ek gaan nie hier op die saak van [kinder]pornografie in nie. Die uitbuiting van mense, veral kinders, om pornografiese materiaal beskikbaar te stel, bly problematies. As mense egter nie uitgebuit word in die beskikbaarstelling daarvan nie, verander die argumente weer). Daar is dus argumente na beide kante toe.
Persoonlik dink ek dat ons seksualiteit nooit ʼn bedreiging vir onsself moet word nie. Die Here het dit vir ons gegee om te geniet, veral (ek dink selfs spesifiek) in die huwelik. Party mense sukkel om hulleself te beheer en masturbeer byvoorbeeld. Dan sit hulle met skuldige gewetens wat hulle hele lewe negatief beïnvloed. Dit hoef nie so te wees nie.
Nou ja, daar sal verskil van opinie bly bestaan. Jy sal altyd hoor dat verskillende mense jou verskillende raad gaan gee. Ek dink jy moet maar jou gewete in gebed volg in die lig van bogenoemde.
Outeur: Prof Jan van der Watt