‘n Gay Pastoor – Jan van der Watt

’n Leser vra:

Ek het ’n gay pastoor,.

Antwoord

Prof  Jan van der Watt antwoord:

Oor die gay pastoor: Die debat oor gays is baie sensitief. Die Bybel (Ou en Nuwe Testament – in die Nuwe Testament met name Paulus) keur seksuele verhoudings tussen mense van dieselfde geslag af. Dit is eie aan die Joodse siening van seksualiteit. In die Grieks-Romeinse wereld was die siening anders oor seksualiteit en beide gewoon seksuele dade (sonder ‘n langdurige ‘liefdesverhouding’) as seksuele dade tussen persone van dieselfde geslag wat ook in ‘n ‘liefdesverhouding’ was het voorgekom. Die Jode in daardie gebiede het gewys dat hulle ‘anders’ is deur nie aan wat hulle losbandigheid (wat ook ander dinge ingesluit het  – vgl. bv. 1 Pet 4:1-6) genoem het, deel te neem nie.

            Hoe het dit nou gekom dat party kerke gay pastore of dominees aanvaar? Dit hang saam met die manier waarop verskillende groepe die Bybel interpreteer (ons noem dit ‘hermeneutiek’). Die een groep sal byvoorbeeld sê dat die Bybel God se woord is wat letterlik verstaan moet word – hulle sal dan op grond van wat daar in die Bybel staan alles gay afkeur.

Die ander groep sal byvoorbeeld sê dat die Bybel nie letterlike toegepas moet word nie – ons trou nie meer soos die mense destyds nie, dra nie keer dieselfde klere nie (kyk maar op die strand Desembermaande) ens. Ons kan dus nie alles in die Bybel presies op ons vandag toepas nie. Wat nou gemaak? Hulle sê dan dat ’n mens moet kyk of dit waarvan die Bybel praat met dit wat ons vandag doen ooreenstem (ons noem dit ‘analogie’). Byvoorbeeld, as Jesus aan sy dissipels sê dat hulle saam met Hom in die hemel sal wees, kan jy dit nie sommer op alle mense in die wêreld toepas nie. Dit gaan oor mense wat Jesus se dissipels is, met ander woorde, sy volgelinge vandag. Nou sê die groep dus dat die verwysings na dieselfde geslag verhoudings in die Bybel nie ooreenstem met dit wat ons vandag tussen mense van dieselfde geslag sien nie. Mense vandag staan in vaste verhoudings (wil trou) en boonop het ons meer kennis vandag as wat die Jode gehad het. Baie gay mense is so gebore en kan hulleself dus nie help nie. Gay wees is vir hulle normaal. Omdat daar ’n verskil is tussen die gay-wees waarvan die Bybel praat en die gay-wees wat ons vandag ken, hoef of moet ons nie doen wat die Bybel sê nie. Boonop sê die Bybel ons moet alle mense liefhê – as gay mense nie aanvaar word soos hulle is nie, beteken dit dat die ander liefdeloos is.

Ander skuif doodgewoon die Bybel opsy en sê dit is ’n ou boek wat niks vir ons vandag te sê het nie. Ons kan wel dit waarvan ons hou toepas (naamlik dat God liefde is) maar dit waarvan ons nie hou nie, hoef ons nie ernstig op te neem nie.

            Tussen hierdie standpunte is daar ook nog hope ander, byvoorbeeld, dat gay mense aanvaar word, maar nie as pastore nie, want pastore moet ’n voorbeeld vir ander wees, terwyl ander sê dat as gay mense as normaal gesien word, geld dit ook van pastore, ens. Daar is baie gesprek oor en kritiek op al hierdie standpunte en daarom gaan die debat net aan en aan. Omdat mense die probleem uit verskillende hoeke sien en dit mense se geloof raak, is daar min wat bereid is om hulle standpunt te verander. Daarom gaan dit deesdae nie meer net om homosekualiteit nie, maar om alle vorme van seksuele of gender orientering.

            Waarskynlik een van die belangrikste redes waarom die gay debat nou so op die voorgrond is, is vanweë die verandering in die algemene opinie van die samelewing. Tagtig jaar gelede was dit nie aanvaarbaar nie, maar met die opkoms van menseregte het dit ’n belangrike tema begin word en het mense vir die gay regte ook begin opstaan. Soos dit in die samelewing meer aanvaarbaar geword het, het dit ook oorgespoel na die kerke toe. Daarom is dit hoofsaaklik ’n probleem in lande waar die Westerse konsep van ‘menseregte’ ’n sentrale rol speel. In ander lande, met ander sienings word dit nog verbied.

            Bogenoemde wys hoe kompleks die saak is en ’n eenvormige oplossing lyk hoegenaamd nie in sig nie – inteendeel.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Seksualiteit – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Wat sê die Bybel oor seksspeelgoed en bv oor orale seks binne die huwelik? Robbie Visser was by ons en het sy getuienis oor sy lewe gegee. Hy het ook oor sy belewenis in die hel gepraat. God het vir hom die hel gewys terwyl hy 19 dae in ‘n koma was.

Visser praat daarvan dat seksspeelgoed sonde is. So ook o a orale seks. Ek en my man is eerste huweliksmaats en al 23 jaar getroud. Soms gebruik ons speelgoed en orale seks. Ek bid al jare lank dat God vir my sondes moet uitwys waarvan ek nie bewus is nie. Dinge wat ek doen wat ek nie weet sonde is nie.

Ek sou net graag u stelling daaromtrent hoor.

Antwoord

Pof Hermie van Zyl antwoord:

Hierdie is een van daardie onderwerpe waaroor daar nie harde antwoorde gegee kan word nie. Eerstens omdat die Bybel hom nie spesifiek oor orale seks of seksspeelgoed uitlaat nie (daar is bv nêrens ‘n teks wat sê: “Jy mag geen seksspeelgoed in die huwelik hê nie”), en tweedens omdat daar nie vaste voorskrifte is oor hoe man en vrou in die huwelik hulle seksualiteit moet uitleef nie. Daar is wel breë riglyne wat Christene in ag moet neem vir die seksuele in die huwelik, en solank hierdie riglyne gevolg word, is daar genoeg ruimte vir egpare om hulle seksuele behoeftes na persoonlike goeddunke te beoefen. Die spreekwoord sê nie verniet nie: Elke man soen sy vrou op sy eie manier (en die omgekeerde is natuurlik ook waar ten opsigte van die vrou). Wat vir die een paartjie aanvaarbaar is, sal nie noodwendig vir die ander so wees nie. Elkeen moet self ontdek waarmee hulle gemaklik is.

Maar koms ons praat oor hierdie breë riglyne. Want as ‘n egpaar ernstig is oor hulle Christenskap sal hulle tog ook hulle seksualiteit so wil uitleef dat hulle voel dis in ooreenstemming met God se wil vir die beoefening van die seksuele.

Eerste riglyn: Ek hoef dit seker nie eens te noem nie, maar dit spreek vanself dat die uitleef van die seksuele ‘n baie spesifieke plek het, naamlik die huwelik. Daarom verbied die Bybel uitdruklik seksuele losbandigheid (bv 1 Kor 6:12-20; Heb 13:4). Christene kan nie, soos die wêreld, met ‘n oop seksuele agenda leef nie. Dis teen die wil van God. Die huwelik bied daardie veilige ruimte waar man en vrou geborge voel, waar hulle sonder reserwes hulleself aan mekaar kan gee, en waar hulle mekaar kan ontdek en geniet. Dit is ook al oor en oor in studies bewys dat die hoogste persentasie seksuele vervulling voorkom onder egpare wat mekaar oor ‘n lang tyd leer ken het. Hulle weet wat hulle aan mekaar het, en hulle geniet en respekteer mekaar.

Tweede riglyn: Weer eens, dis seker nie nodig om te noem nie, maar omdat dit vir baie Christen-egpare steeds ‘n probleem is, wil ek dit tog pertinent aanraak. Seksualiteit is so natuurlik soos asemhaal, dis deel van die lewe; dis soos God ons gemaak het. Daar is dus niks daarmee verkeerd dat man en vrou tot mekaar seksueel aangetrokke voel, hulleself in die huwelik begewe en die vreugde en plesier van seksuele intimiteit geniet nie. Trouens, hieroor is die Bybel baie duidelik. Dit begin reeds in die paradys, nog voor die sondeval. God bring man en vrou as met sy eie hand bymekaar en voeg hulle saam tot een vlees (Gen 1:24). Jesus bevestig hierdie intieme lewensgemeenskap in Matteus 19:5-6 as Hy Genesis 1:24 gebruik om aan te voer dat hierdie een vlees-verhouding bedoel is om permanent te wees en dat egskeiding daarom nie deel is van God se plan vir die huwelik nie. Paulus sluit ook by hierdie een vlees-gedagte aan as hy in 1 Korintiërs 7:2-5 sê dat man en vrou se liggame in die huwelik aan mekaar behoort en dat hulle hulle daarom nie moet onthou van seksuele gemeenskap nie, tensy daar ‘n goeie rede is, en dan ook net vir ‘n ruk, vanweë die versoekings. Maar die punt wat in hierdie riglyn gemaak word, is dat die uitleef van die seksuele ‘n voorreg en plesier is wat ten volle binne die huwelik geniet mag word. Christen-egpare mag nie oor die seksuele met skuldgevoelens rondloop nie. Dis bedoel om geniet te word.

Derde riglyn: Hier gaan dit oor die vraag: Wat is die doel van seks? Bloot net om voort te plant, soos by die diere? Nee, die seksuele is aan die mens gegee tot lewensvervulling. Daarom dat daar in Genesis 1:27 staan dat God die mens as man en vrou geskape het om sáám – as man en vrou – God se beeld, dit wil sê, God se verteenwoordigers op aarde te wees. Dit beteken dat dieselfde intimiteit wat daar binne die Goddelike Drie-eenheid bestaan, as ‘t ware moet afskuur op man en vrou binne die huwelik. Daarom het God man en vrou gemaak om by mekaar te pas; hulle moet mekaar aanvul, hulle vorm ‘n intieme lewensgemeenskap (Gen 2:18,20-24). Die afleiding wat ons hieruit maak, is dat die seksuele, hoewel belangrik, slegs ‘n onderdeel is van hierdie lewensgemeenskap en van die egpaar se totale menswees. Dus, sodra die seksuele verabsoluteer word, dit wil sê, losgemaak word van hierdie totale lewensgemeenskap in die huwelik, begin die gevaarligte flikker. Dan begin dit gaan oor seks ter wille van seks. Seks is daar om die intimiteit en die eenheid tussen man en vrou te bevorder en te versterk. Dis één van die uitdrukkingsvorme van die eenheid tussen man en vrou, nie die een en al nie.

Vanuit hierdie riglyne kan ons nou meer spesifiek oor seksspeelgoed praat.

Seks as een element van ‘n gelukkige huwelik wil sê dat egpare nie angstig moet wees oor die seksuele nie, asof die geluk in hulle huwelik volledig daarvan afhang. Soms redeneer egpare: As daar nie by elke seksuele gemeenskap volkome vervulling is nie, dan is daar groot fout. Die egpaar word angstig en allerlei pogings word dan in werking gestel om hierdie “fout” te herstel; alles moet 100% elke keer “werk”. Dis dan dat seksspeelgoed as krukke ingespan word om alles op te kikker. Dit kan dan gebeur dat daarsonder daar later geen bevrediging meer is nie. En die fokus moet tog daarop val dat nie dinge nie, maar man en vrou mekaar plesier sal verskaf en bevredig. Want dit is wanneer man en vrou mekáár geniet dat die intimiteit en verhouding tussen hulle gebou en bevorder word, dat hulle waarlik tot ‘n intieme lewensgemeenskap ontwikkel.

Om net hierdie gedagte verder uit te bou. Ons moet onthou dat die seksuele in die huwelik eintlik op drie vlakke beweeg: die fisiese, die emosionele en die geestelike. Die seksuele is daar om die lewensgemeenskap op al drie hierdie vlakke te stimuleer. En die potensiële gevaar met seksspeelgoed is dat hulle alle aandag net op die fisiese fokus, en soms ook so dat dit net die eie genot is waarop gekonsentreer word. Die fokus is nie meer op die verhouding tussen man en vrou nie. En verder kan daar selfs so ‘n fiksasie met seksspeelgoed ontwikkel dat dit amper soos ‘n derde persoon in die huwelik begin funksioneer wat die plek inneem van die man en die vrou. Die egpaar word dan afhanklik van die speelgoed in stede daarvan dat hulle planne beraam om mekáár te stimuleer en te bevredig.

Verder, as mens in aanmerking neem waar seksspeelgoed te koop aangebied word, dan begin die skemerwêreld van pornografie oopgaan. Dit is bekend dat seksspeelgoed soms kan aanleiding gee daartoe dat een of beide van die egpaar by pornografie betrokke raak. En dit is uiteraard ‘n slegte ontwikkeling. Want daar is niks soos pornografie om die seksuele in die huwelik skade te berokken nie. Egliede ontwikkel sulke onrealistiese verwagtinge van mekaar dat dit ironies genoeg juis hulle seksuele verhouding is wat later daaronder ly, en die huwelik op die rotse kan beland.

Nog iets, wat nie altyd so gewild is om te hoor nie. Maar in die oorverhitte sekskultuur met sy onmiddellike bevrediging-sindroom waarin ons vandag lewe, is dit ook belangrik om te onthou dat daar so-iets soos kuisheid binne die huwelik is. Ongebreidelde wellus wat op alle denkbare en ondenkbare maniere geëis word en botvier, kan later die respek wat man en vrou vir mekaar moet hê, vernietig, en daarmee saam ook die huwelik. Die huwelik is ‘n veilige ruimte, en nie ‘n lisensie tot die beoefening van ongebreidelde en selfs afstootlike fantasieë en luste nie. Presies wáár die grense van die seksuele binne die huwelik is, is moeilik om by voorbaat te sê; elke egpaar moet dit self ontdek. Maar daar ís sulke grense. 1 Tessalonisense 4:3-8 waarsku nie verniet nie dat ons heilig en eerbaar binne die huwelik moet lewe en nie deur hartstog en begeerte gedryf moet word soos hulle wat God nie ken nie. Die seksuele het sy plek – ‘n belangrike plek – maar dis nie die een en al nie. Dit mag nie ‘n “eie lewe” los van die totale lewensgemeenskap van man en vrou hê nie. Dis nie ‘n god wat gedien word nie. Dit moet in diens staan van man en vrou se huwelik.

Maar met bostaande word nie ‘n oordeel uitgespreek oor seksspeelgoed as sodanig nie. As egpare die breë riglyne volg wat hierbo gegee is, gemaklik is met seksspeelgoed en dit as ‘n hulpmiddel vir hulle normale sekslewe inspan, en daar geen sieklike afhanklikheid, fiksasie of obsessie daarmee ontstaan nie, hoef egpare nie skuldig te voel nie. Soos aan die begin gesê, daar is nie werklik vaste voorskrifte hieroor nie. Elke egpaar moet, binne bostaande riglyne, self ontdek waarmee hulle gemaklik is. Ons geniet bepaalde vryhede as Christene. Ons hoef nie vir alles te sê: “Raak, smaak en roer nie aan nie.” Maar ek dink dit is ook belangrik om te onthou wat Paulus oor vryheid sê in 1 Korintiërs 6:12. Hy gee toe dat daar waarheid mag steek in die spreuk: “Alles is my geoorloof.” Maar dan voeg hy by: “Ja, maar ek gaan my nie deur enigiets laat verslaaf nie.” Dit kos soms fyn onderskeiding om te besluit wanneer die grens tussen vryheid en verslawing oorgesteek word. Die vryheid waartoe Christus ons vrymaak mag nooit lei tot nuwe vorme van verslawing nie.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Seksualiteit

Seksualiteit – Jan van der Watt

‘n Leser vra:

As Christene is dit ‘n sonde om “seks speelgoed” te gebruik. Net jy en jou man. Hierdie is ‘n vraag wat baie tussen ons vrouens opkom en eintlik weet nie een van ons of dit reg of verkeerd is nie.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie is nie so ʼn maklike vraag om te antwoord nie, veral omdat daar soveel opinies die rondte doen. As Christene het ons ʼn tradisie deur die eeue van sterk opinies oor seks en seksualiteit. Vroeër was Christelike selfdissipline dikwels daaraan gemeet hoe jy jouself kon ‘beheer’ op seksuele gebied. Dit was dan die manier waarop mense kon bewys dat hulle genoeg gehoorsaamheid gehad het om God te dien. Daarom het jy mans en vroue gekry wat hulle van die huwelik en seksualiteit onttrek het. Ons weet egter uit die geskiedenis dat dit nie altyd moontlik was nie. Ons seksuele drange is so deel van ons soos wat behoefte aan kos is. Dit is iets waarmee ons daagliks te doen het. Nou onlangs het een van die belangrike Duitse professore verklaar dat hy te swak is om priester (ongetroud) te bly en het tot skok van vele die priesterskap gelos. Dit gebeur algemeen.

In die tweede plek het ons ʼn beperkte direkte beeld van seksualiteit. Seks word gesien as uitsluitlik om kinders te verwek. Daarom is daar in die Ou Testament selfs ʼn verbod op mans wat hulle saad buite seksuele gemeenskap stort. Lewe is met die saad verbind en as jy saad stort, mors jy lewe. In die geval sit ons vandag met die probleem dat ons dit  nie meer so sien nie. Ons weet die proses van verwekking is baie meer ingewikkeld. Niemand sal voel hy vermoor iemand as hy saad buite die vrou stort nie. Die etiese vraag is dus of dit dan nog verkeerd is. Die verbod was veral daarop gemik om nie lewe te beskadig nie – ons weet ons beskadig nie lewe as ons dit doen nie. Is dit dan nog verkeerd?

In die derde plek sit ons met ʼn situasie dat mense vandag dikwels eers trou as hulle by die 30 is. In die ou tyd was dit vir vroue as jy ongeveer 12 jaar oud was. Vroue is verbied om buite hulle huwelik seks te hê, en die verbod was veral daarop gemik om die stam/familie suiwer te hou. Daar is geglo dat die karaktertrekke van ʼn familie deur die saad van die man oorgedra word. As daar nou ʼn man van ʼn ander familie of stam sy saad in die vrou stort, beteken dit dat die karaktertrekke van jou familie of stam verander. Dit mag nie. Daarom is die vroue op alle moontlike maniere teen ander mans ‘beskerm’ (Kyk maar hoe die vrouens met die klere toegemaak is. Jy kon dikwels net hulle gesigte of oë sien; Hulle is ook gedwing om meestal tuis te bly en nie in die openbaar rond te hang nie). Omdat die vroue jonk getrou het, is hulle seksuele behoeftes dus van vroeg af bevredig. Vandag is dit natuurlik nie meer so nie.

Etici (mense wat nadink oor wat reg of verkeerd is), vergelyk nou ons situasie met die situasie van die Bybel. Daar is belangrike verskille. Daar is sommige wat argumenteer dat ons maar moet bly by onthouding en niks vreemds doen nie. Hulle argumenteer dat reinheid ook op seksuele gebied beoefen moet word en dat ʼn mens dan jouself in die verband moet dissiplineer. Ander argumenteer wyer. Hulle vertrek van die standpunt dat jy niemand seermaak as jy byvoorbeeld jou seksuele behoeftes bevredig deur masturbasie nie. Die basiese belangrike vereistes van die Christendom gaan om die liefde en die  bewaring van lewe. As ek dus niemand skade aandoen nie, sou dit vir hulle beteken dat dit moeilik as verkeerd beskou kan word. (Ek gaan nie hier op die saak van [kinder]pornografie in nie. Die uitbuiting van mense, veral kinders, om pornografiese materiaal beskikbaar te stel, bly problematies. As mense egter nie uitgebuit word in die beskikbaarstelling daarvan nie, verander die argumente weer). Daar is dus argumente na beide kante toe.

Persoonlik dink ek dat ons seksualiteit nooit ʼn bedreiging vir onsself moet word nie. Die Here het dit vir ons gegee om te geniet, veral (ek dink selfs spesifiek) in die huwelik. Party mense sukkel om hulleself te beheer en masturbeer byvoorbeeld. Dan sit hulle met skuldige gewetens wat hulle hele lewe negatief beïnvloed. Dit hoef nie so te wees nie.

Nou ja, daar sal verskil van opinie bly bestaan. Jy sal altyd hoor dat verskillende mense jou verskillende raad gaan gee. Ek dink jy moet maar jou gewete in gebed volg in die lig van bogenoemde.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt