Selfbeheersing en oefening
After climbing a great hill one only finds there are many more hills to climb – Nelson Mandela
Selfbeheersing en oefening
‘n Geduldige mens het meer waarde as ‘n bedrewe vegter, ‘n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ‘n stad inneem (Spreuke 16:32)
Novak Djokovic is al lank een van die wêreld se beste tennisspelers. In 2011 word hy met seliak siekte gediagnoseer. Hierdie siekte maak dit vir die mens onmoontlik om gluten te verdra. Hy moes sy dieet aanpas – geen pizza, pasta of brood nie. Daarna verbeter sy tennis verder. Hy sê dit is omdat sy beweging op die baan skerper is.
Paulus gebruik hierdie analogie van fisiese wedywering om die belang van selfbeheer in die lewe van die Christen te beklemtoon. Hy praat van ‘n wedloop en ‘n boksgeveg (1 Korintiërs 9:24 ev). Sy inspirasie was die Istmiese Spele, ‘n atletiekfees, wat elke twee jaar in Korinte gehou is. Hy merk op dat diegene wat goed wil doen in die Spele ontsê hulleself allerlei dinge. Hy gaan verder: Ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.
Vir die hardlopers beteken dit waarskynlik baie kilometers op die pad, spoedtoetse. ‘n gesonde dieet en genoeg slaap. Dit is hulle mededingende gees wat hierdie oefenprogram dryf – hulle wil die prys wen. In die geval van die Istmiese Spele was die prys ‘n lourierkrans. As hierdie krans so baie vir die deelnemers aan die Istmiese Spele beteken het, dink net wat dit vir ons as Christene beteken om ‘n ewige krans te ontvang.
Selfbeheer is altyd moeilik – dit is nie maklik om nee te sê vir tydelike plesier nie. Atlete doen dit die hele tyd. Hulle sê nee vir dinge soos kitskos en rustige dae van op die bank lê en net TV kyk. Hulle liggame moet in top kondisie wees as die wedloop kom. Net so moet Christene selfbeheersing beoefen om hulle roeping te vervul. Paulus sê dat hy sy liggaam streng oefen as verkondiger van die evangelie van God; hy wil kwalifiseer vir die stryd.
Ons vra dikwels die vraag: “Mag ek dit doen?” Is ons optrede toelaatbaar? Dan druk ons die grense van wat toelaatbaar is so ver as moontlik. As ons Paulus se siening van selfbeheer lees, is die eintlike vraag wat ons moet vra: “Is dit voordelig? Sal dit my help om my roeping te vervul?