Die Groot Geloofswoordeboek: Selfverloëning

Die Groot Geloofswoordeboek: Selfverloëning

Selfverloëning

Jesus gebruik die begrip “selfverloëning” in verband met *kruis dra. As ons onthou hoe Petrus Jesus verloën het, help dit om self­verloëning te verstaan. Hy het ontken dat hy Jesus ken. Dit beteken dat hy glad nie vir Jesus opgekom het nie, opgetree het soos iemand wat geen belang by Jesus gehad het nie. Selfverloëning sal dan beteken om glad nie in jou eie belang op te tree nie, om te maak asof jy nie jouself ken nie deur glad nie vir jouself op te kom nie. Dit is natuurlik net die negatiewe kant van die saak. Die positiewe is dat ek vir iemand anders opkom, ander se belange hoër ag as my eie. (*Selfliefde)

Jesus se lewe is self die klassieke voorbeeld van selfverloëning. Trouens, Jesus beveel ons nooit om te doen wat Hy nie self oneindig meer en beter as ons gedoen het nie. Die Christuslied in Filippen­se 2:5-11 en Jesus se eie woorde in Markus 10:45 is merkwaardig. As jy al ooit gehoor het van iemand wat die reg gehad het om gedien te word, is dit Hy. En tog kom dien Hy tot die uiterste toe. Hy wat aan God gelyk was, verneder Homself en word aan ‘n slaaf gelyk. ‘n Slaaf is in daardie tyd verag. En dan gaan Hy nog verder in die proses waarin Hy Homself vergeet om ons voluit te kan dien. Hy loop die volle pad kruis toe, die mees smartlike en vernederende dood denkbaar.

God aan die kruis: dis selfverloëning.

 

Skrywer: Prof Adrio König