Geloofsvrae: Sending en Evangelisasie – Adro König
Sending en evangelisasie
Dit is beskamend maar tipies dat sending as een enkele paragraaf in die hoofstuk oor die kerk behandel word. Dit moes eintlik andersom gewees het. Maar dit is presies die posisie in die historiese kerke: sending is ‘n aanhangsel, nog ‘n item op die agenda van die kerk, nie eens altyd die eerste een nie, want daar is belangriker sake soos die kerkbouprogram, die jeug, die bejaardes, die tuin om die kerkgebou.
Die Christelike waarheid is egter dat van alle punte op die kerk se agenda, net sending nie beter hierna as hiernou gedoen kan word nie. Ons sal dáár beter na ons jeug kan kyk, ons bejaardes sal beter versorg wees, ons tuine sal vol pragtige bome en blomme langs ‘n groot rivier wees. Ons is net om één rede nou nog hier op die ou aarde, vóór die wederkoms van Christus: sending. Dít kan nie dáár beter gedoen word nie, trouens dáár en dán glad nie meer nie.
Die feit dat Christus nog nie weer gekom het nie, is ‘n probleem vir enigeen wat die NT verstaan, veral die betekenis van sy opstanding. Na 20 eeue het ons steeds nie ‘n sinvoller antwoord as dié in 2Pet 3:9: `Die Here stel nie die vervulling van sy beloftes uit nie … Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle bekeer.’ ‘n Logiese antwoord is dit nie, want intussen gaan al meer mense verlore, maar dit is natuurlik ons skuld, nie syne nie.
Die doel van God met die skepping is om in liefdesgemeenskap met mense op aarde te leef. Dit beteken dat dit hoog op sy agenda moet wees om alle mense hierby te betrek. Dit is sending. Dit is die rede waarom die kerk nog op die ou aarde is.
Dit beteken dat alles wat die kerk nou beplan en onderneem, hierop gerig moet wees. Nóg die jeug, nóg die bejaardes, nóg die kerkbouprogram het op sigself waarde. Die waarde van elkeen van hierdie programme word gemeet aan die bydrae wat hulle tot die sending lewer, en dié beoordeling geskied nie noodwendig deur die kerkraad nie, maar deur Iemand Anders. Ons moet probeer om deur sy bril te kyk na ons gemeenteprogram.
Sending is nie meer net daar ver nie, en nie meer net onder mense van kleur nie. Sending is ver én naby, onder alle mense wat nie in gemeenskap met God leef nie. Meestal is die naby-sending die moeilikste. Dit is baie makliker om ‘n paar rand (hopelik liewer ‘n paar honderd rand) vir die sending te gee en daarmee jou verpligting na te kom. Só dink baie mense, maar wat hulle vergeet, is dat Christene sendelinge is. Jou doop is jou ordening as sendeling. Jy kan ‘n goeie sendeling wees, of dalk ‘n nie so goeie een nie, maar ‘n sendeling is jy as jy ‘n Christen is.
Vir ‘n lang tyd is daar ‘n baie interessante onderskeiding gemaak tussen sending en evangelisasie: sending was die werk onder swartmense, en evangelisasie onder witmense. Dit is `teologies’ gesteun deur die onderskeiding: nog-nie Christene, en nie-meer Christene. Vandag is seker omtrent almal oortuig dat dit nie houdbaar is nie, dat ons anders moet onderskei tussen sending en evangelisasie. Daar is verskillende moontlikhede. Die beste een is miskien om evangelisasie as die meer toegespitste werk, en sending as die meer omvattende werk te sien. Evangelisasie is om mense uit te nooi om die evangelie te glo: hulle is deur Christus met God versoen, hulle moet hulle bekeer, dissipels word (Mat 28:19) en in gemeenskap met Hom en met mekaar regin leef. Sending is die omvattende opdrag om hulle dan alles te leer wat Christus ons beveel het (Mat 28:20).
Daar is baie nuwe vorme van sendingbetrokkenheid, en die nadruk lê dikwels op ander terreine as waaraan die ou `sendingvriende’ gewoond was. Dit is volkome sinvol om ‘n plaaslike persoon op te lei en terug te stuur na sy of haar eie land/gebied/kultuur en dáár te ondersteun. Deurgaande, aktiewe betrokkenheid by so ‘n persoon is onontbeerlik.
Die situasie in die sg historiese kerke verdien heroorweging. Daar is minstens twee groepe kerke. Die een groep hou aan om alle mense wat eenmaal lidmate geword het, as lidmate te beskou ongeag of hulle meelewend is of nie. Lidmate wat verhuis, word outomaties lidmate in die nuwe gemeente waar hulle woon. Selfs mense wat vir dekades lank nie meelewend was nie, word nog steeds as lidmate en bedien deur die besondere ampte en die ander kerklike dienste.
Daar is ‘n ander groep kerke wat net meelewende lidmate as lidmate beskou. Op verskillende maniere word die lidmaatskap van lidmate wat oor ‘n geruime tyd nie meeleef nie, beëindig. En lidmate wat verhuis, moet aktief in die nuwe gemeente inskakel, hulle word weer lidmate.
Beide modelle het voor- en nadele. Die tweede model se nadeel (of is dit sy voordeel?) is dat dit gaan soos in ‘n gesin waarin alle kinders wat ernstig siek is, doodgemaak word. Daar is dus nooit siek kinders nie!
Dit moet ter ere van die eerste model gesê word dat hierdie kerke hulle verantwoordelikheid teenoor hulle lidmate baie ernstig opneem – al is dit in sommige gevalle meer formeel en teoreties. Hulle bevestig ouderlinge en diakens om die onbetrokke lidmate te bedien, en hulle beroep selfs predikante vir `die hele gemeente’, nie net vir die betrokkenes nie. Dit beteken dat ‘n gemeente waarin net ‘n derde van die lidmate regtig betrokke is, twee derdes van die kostes om predikante te onderhou, bestee aan mense wat nie regtig betrokke is nie en vir alle praktiese doeleindes voorwerpe van sending is.
Beteken dit dat hierdie kerke baie meer aan sending bestee as wat hulle besef, maar dalk met ewe min (of selfs baie minder?) resultate as hulle tradisionele sendingwerk? Moet ‘n mens nie die kerkmodel van die `gesonde’ gesin oorweeg nie? Dit sal baie geld en mensekrag vir sending in ander situasies vrystel. Of is die `gesonde’ kerkmodel na alles tog maar die weg van die minste weerstand omdat sending tuis altyd moeiliker is?
Dit mag alles ‘n enigsins deurmekaar indruk gee – dan is die doel bereik: sending is die wesenstaak van die kerk, en ‘n klomp innoverende denke is nodig om nuwe weë te vind om die wêreld vir Christus te wen. Die historiese kerke moet hul sendingbetrokkenheid absoluut ernstig oorweeg: kerke beantwoord aan die doel wat God met hulle het in die mate waarin hulle vir Christus ‘n `wins’ maak op die wêreld.
In ons huidige situasie in Suid-Afrika gaan sending in ons middestede slaag of sending gaan in die geheel nie slaag nie.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning
Skrywer: Prof Adro König