Die Groot Geloofswoordeboek: Seun van die mens

Die Groot Geloofswoordeboek: Seun van die mens

Seun van die mens

Daar is baie misverstand oor die titel “Seun van die mens” vir Je­sus. Dit word dikwels teenoor “*Seun van God” gestel asof “Seun van God” ‘n hoogheidstitel vir Jesus is, en “Seun van die mens” ‘n titel van vernedering, asof “Seun van God” na sy Goddelikheid ver­wys, en “Seun van die mens” na sy menslikheid.

 

 

Dit is baie onnoukeurig. “Seun van God” beteken allereers na­saat van koning Dawid wat self “seun van God” genoem is en ook die konings na hom, eenvoudig omdat hulle die volk Israel ver­teenwoordig het wat self die “seun van God” genoem is (Ps 2:7; Hos 11:1). In hierdie sin beteken “seun van God” dan nasaat van Dawid en daarom ‘n mens soos Dawid. Dis eers in Johannes se Evangelie dat Jesus “Seun van God” in die verhewe sin genoem word as self ‘n Goddelike Wese. (*Messias)

“Seun van die mens”, daarenteen, is van die begin af ‘n hoog­heidstitel. Dit kom uit Daniël 7:13 waar die vertaling lui: “Iemand soos ‘n menslike wese,” wat in die *Septuagint lui: “Iemand soos die Seun van die mens.” Dit is ‘n heerlike wese wat voor God ge­­bring is en aan wie God “eer en heerskappy en koningskap gee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien” (7:14). Jesus gebruik dan ook hierdie titel in hierdie hoogheidsbetekenis.

Daar is ‘n baie interessante teenstelling tussen die gebruik van “die Seun van die mens” en “Christus”. “Seun van die mens” is die titel wat Je­sus die meeste gebruik, maar ons die minste. Daar­teen­oor is “Christus” die titel waarvoor Hy die meeste wegskram ter­wyl ons dit die meeste gebruik, selfs as ‘n Naam vir Hom.

Jesus is huiwerig om Homself “Christus” (*Messias) te noem of te laat noem. Hy verbied selfs sy dissipels en ander mense om dit te doen (Matt 16:20), en tog het dit later, naas sy Naam Jesus, dié aanspreekvorm geword wat Christene die mees­te vir Hom gebruik.

Met die titel “Seun van die mens” is dit presies andersom. Dit is Jesus se lieflingstitel vir Homself. Hy gebruik dit omtrent 35 keer in die *Sinoptiese Evangelies, terwyl omtrent niemand anders dit ooit in die Evangelies of elders in die Nuwe Testament vir Hom ge­bruik nie, en selfs ook nie ons vandag nie.

Dit is net so interessant dat Jesus altyd in die derde persoon na die Seun van die mens verwys, asof dit iemand anders is as Hyself. Hy noem Homself nooit direk “Seun van die mens” nie, maar sê altyd iets soos: “Dan sal die Seun van die mens verskyn, en Hy sal … ” (kyk byvoorbeeld na Mark 8:38; Luk 12:40). Dit is só opval­lend dat daar selfs ‘n teorie is dat Hy nie regtig self die Seun van die mens was nie, maar na iemand anders verwys het, of dat Hy nie bewus was dat Hy die Seun van die mens is nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Jesus as die Seun van die mens

Jesus as die Seun van die mens

Jesus praat dikwels van homself as die “Seun van die mens”.

Dit is ʼn titel wat uit die Ou Testament kom. Dit is op twee maniere gebruik. Dit kon sommer net beteken dat jy ʼn mens is; jy is die seun van ʼn mens. Maar dit kon ook iets baie groters beteken. In Daniël 7:11-14 word daar ook van iemand soos ʼn menslike wese (seun van die mens) gepraat wat uit die hemel kom. Dit is dus ʼn hemelse of goddelike wese. Die Iemand soos ʼn menslike wese kom om die bose te oordeel (Daniël 7:22). As Jesus van Homself as die Seun van die mens praat, bedoel Hy waarskynlik dat Hy die Een is wat namens God mense kom oordeel.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy