Sewende Dag Adventiste en Kersfees – Hermie van Zyl

My seun behoort aan die Sewende Dag Adventiste Kerk die laaste twee tot drie jaar. Ek verneem graag of dit gebruiklik is by hulle om nie ander gelowiges ‘n geseënde Kersfees toe te wens nie.

My enigste kind is gay en is saam met sy “partner” uitgeskop of weggejaag uit die NG Kerk. Dit het tot gevolg gehad dat hulle nie enige vraag sal beantwoord aan ons as sy ouers nie want hulle het baie seer gekry in die proses.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die Sewende Dag Adventiste Kerk (SDAK), of Sabbatariërs soos dié Kerk ook soms genoem word, het nie ‘n amptelike standpunt oor Kersfees nie – óf en hóé dit gevier moet word nie. Dit word aan individuele lidmate of gemeentes oorgelaat om self te besluit.

Tog, indien die debatte hieroor in die SDAK nagegaan word, moet ‘n mens sê dat die SDAK tradisioneel taamlik krities ingestel was teenoor Kersfees. Dit vloei voort uit hulle siening dat dié fees nie in die Bybel voorgeskryf word nie (dus nie bindend is vir gelowiges nie), en ook dat Kersfees heel moontlik ‘n heidense oorsprong het. Volgens laasgenoemde siening is Kersfees eintlik ‘n ou heidense fees wat deur die Roomse Kerk oorgeneem en met ‘n Christelike sousie “gekersten” is. Die manier waarop Kersfees ook in die wêreld gevier word, is vir die SDAK so omgewe met allerlei sekulêre gebruike wat niks met die geboorte van Christus, die Verlosser, te doen het nie, dat die SDAK van huis uit nie baie positief ingestel is teenoor Kersfees as Christelike feesdag nie. Vir die SDAK is daar eintlik net een godsdienstige feesdag, en dit is die viering van die Sabbat, die sewende dag van die week, soos wat dit in die Ou Testament voorgeskryf word.

‘n Mens moet hierdie tradisionele huiwering rondom die viering van Kersfees in die SDAK ook verstaan teen die agtergrond van hulle algemene teologie. Hulle is baie sterk op die Ou-Testamentiese wette ingestel, vandaar hulle klem op die viering van die sewende dag as rusdag. Hulle het verder baie pertinente sieninge rondom die wederkoms van Christus, met sterk klem op die tekens van die tyd en die spoedige wederkoms van Christus. Hierdie sieninge lei daartoe dat hulle probeer om ‘n hoë morele peil in hulle daaglikse handel en wandel te handhaaf, wat soms na die wettiese toe neig. Dit het verder tot gevolg dat hulle ‘n algemene aversie het aan alles wat oneg, onsuiwer en “heidens” voorkom. Dit is dus te verstane dat die tipiese manier waarop Kersfees in die Weste gesekulariseer en gekommersialiseer geraak het, wat eintlik op niks meer neerkom nie as ‘n algemene gevoel van welwillendheid teenoor ander – sonder werklike Christelike inhoud – glad nie aanklank vind by die SDAK nie. In die lig hiervan is dit nie vreemd nie dat daar individue, gesinne en selfs gemeentes in die SDAK mag wees wat nie baie maak van Kersfees nie, en mekaar gevolglik ook nie ‘n “geseënde Kersfees” sal toewens nie. Dit pas in by hulle siening dat die opregte Christen (en lidmaat van die SDAK) nie mag deelneem aan gebruike en feeste wat nie tot eer van God strek nie.

Almal in die SDAK stem egter nie met hierdie (tradisionele) siening saam nie. Daar word byvoorbeeld daarop gewys dat dit nie so seker is dat Kersfees gegroei het uit ‘n ou heidense fees (die fees van die onoorwinlike son) nie, maar dat dit eerder spontaan uit bepaalde Joodse gebruike in die vroeë kerk gegroei het tot kerklike feesdag om die geboorte van Christus te herdenk. (Die besonderhede hiervan laat ek daar.) Verder word ook aangevoer dat dit nie sin maak om ‘n sterk en spoedige wederkomsverwagting te hê as daar nie ook erns gemaak word met die eerste koms van Christus nie. Daarom is daar stemme in die SDAK wat opgaan vir die gepaste viering van Kersfees, dat dit op ‘n tipiese SDAK-wyse gevier moet word, met die klem op die betekenis van die menswording van die Seun van God, en dat hierdie groot Geskenk van God aan die wêreld in die Kerstyd uitgeleef moet word in geskenke van egte mededeelsaamheid en offervaardigheid teenoor ander. Dus, eerder dat die uitwasse van Kersfees vermy word deur jouself te onttrek of dit glad nie te vier nie, of dit op ‘n ander datum te probeer vier, moet Kersfees (25 Desember) eerder deur SDAK-lidmate omskep word in ‘n egte Christusfees van ware liefde en omgee, word gesê. Met hierdie siening word dan ook nader beweeg aan die algemene gevoel van Christene in ander kerke wat ook bekommerd is oor die sekularisering en kommersialisering van Kersfees.

Ek vertrou dat bogenoemde beredenering ietwat lig sal werp op die vraag of die SDAK negatief ingestel is teenoor die viering van Kersfees of nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Sewendedagse Adventistekerk

Sewendedagse Adventistekerk – Pieter Verster

‘n Leser vra:

Is die Sewendedagse Adventistekerk ‘n sekte? Indien wel, hoekom? Dit wil voorkom asof seminare van die kerk (wêreldwyd) oor Openbaring en Evangelisasie ‘n metode is om tradisionele kerke (soos die susterskerke) te infiltreer en so dopelinge (lidmate) te werf. Hulle bied in werklikheid “afrokkelingseminare” aan met skokkende interpretasies van Bybelse gedeeltes. Baie dankie!

Antwoord:

Prof Pieter Verster antwoord:

Volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis word die ware kerk gekenmerk  deur die suiwer verkondiging van die Woord, die suiwer bediening van die sakramente en die toepassing van die tug. Ons moet dus altyd bepaal of  enige kerk of groep wel die Woord suiwer verkondig en die sakramente suiwer bedien, ook met die toepassing van die tug.

Die adventiste se herkoms word teruggevoer  van William Miller wat  die wederkoms van Christus in 1843 verwag het. Toe dit nie plaasvind nie stel hy weer ʼn datum naamlik 22 Oktober 1844. Toe dit nie plaasvind nie, is die gebeure  as die reiniging van die hemelse heiligdom geïnterpreteer.  Ellen G  White wat sy gedagtes bevestig het, het  die tien gebooie in ʼn goue kis met ʼn besondere  kring oor die vierde  gebod in ʼn visioen gesien. Sy word ʼn sleutelfiguur vir die adventiste.  Die Sabbat verkry besondere betekenis. Die nakom van verskeie wette en veral die hou van Sabbatswette speel dus ʼn belangrike rol.

Daar is getuienis in die Ou Testament van die betekenis van die Sabbat.  In die Nuwe Testament verkry dit egter nuwe betekenis. Jesus is Here, ook van die Sabbat. Geen plus mag by die genadige werk van Christus bygevoeg word nie. Sy genade is oorvloedig en genoegsaam. Die wet moet  uit vreugde en dankbaarheid sonder ʼn wettiese  benadering onderhou word.

Vir die kerk is dit belangrik dat die wet ons dankbaarheid rig en nie ons saligheid nie. Jesus is die enigste grond van ons verlossing.

Die kerk wil dus wel die wet eerbiedig, maar altyd in diens van Christus. Dit is belangrik dat geen plus vir die saligheid by Christus  gevoeg mag word nie.

Daar is wonderlike  gelowige adventiste wat  hulle hoop op Christus alleen vestig.  Daar is egter die groot gevaar dat die hou van die Sabbat op ʼn bepaalde manier die  maatstaf van geloof gemaak word. Die hou van seminare om dit te bevestig, sou verkeerd wees. Die kerk se enigste antwoord is: Jesus is die Here.

Outeur: Prof Pieter Verster