Skape en bokke – Francois Malan

Jan vra:

In Mattheus 25 kom die Seun van die mens in sy heerlikheid en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; dan sal al die nasies versamel word en Hy sal hulle van mekaar skei — die skape aan Sy regterkant en die bokke aan Sy linkerkant.

Beide skaap en bokke het geleentheid gehad om goed te doen (Ek was honger, dors, herberg, naak, siek, in gevangenis) waaraan die skape voldoen het maar die bokke nie.

Op die vraag “wanneer” antwoord Jesus: Skape vers 40: …. vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit vir My gedoen. Bokke vers 45: …. vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit ook nie aan My gedoen nie.

Jesus se verwysing is na “nasies” en dan trek Hy dit wat “goed gedoen is of wat glad nie gedoen is nie” af na ‘n persoonlike verband nl “een van die geringstes van hierdie broeders” ten opsigte van die skape en “een van die geringstes” ten opsigte van die bokke.

Ek het dit te verstane dat die nasies wat vir Israel is die skaapnasies sou wees en die boknasies wat dit teen Israel het, maar hoe moet mens die verpersoonliking van “geringstes van hierdie broeders” verstaan asseblief?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Matteus gebruik die woorde ‘al die nasies’ vier maal: Mt 24:9,14;  25:32; 28:19 en telkens word Israel ingesluit onder ‘al die nasies.’ Die uitdrukking verwys na alle mense op die ganse aarde – wat die volgelinge van Jesus sal haat (24:9, soos die Jode ook vir Jesus gehaat het);  na wie Jesus sy dissipels/volgelinge stuur om van die mense sy dissipels/volgelinge te maak en hulle te doop en te leer om alles te onderhou wat Hy hulle beveel het (28:19, dit sluit die Jode in). So word die uitdrukking ‘al die nasies’ ook hier in Mt 25:32 gebruik met insluiting van die Jode/Israel as een van die nasies.

Die gelykenis wat hier gebruik word van sagte skape en harde bokke wat geskei word, word toegepas op die mense uit al die nasies van die wêreld. Hulle=die mense  word van mekaar geskei as die geseëndes van Jesus se Vader en die vervloektes. In Grieks, waarin die Evangelie van Matteus oorspronklik geskryf is, is ‘al die nasies’ in 25:32 in die onsydige geslag (panta ta ethné), en die ‘hulle’ wat van mekaar geskei word, in die manlike geslag (autous) wat nie volke nie, maar mense aandui. Die oordeel gaan nie oor nasies nie, maar oor die mense uit al die nasies.

Dit gaan in Matteus 25:31-46 oor die oordeelsdag wanneer Jesus, die Seun van die Mens (vgl. Daniël 7:13-14) kom as Koning wat oor die ganse heelal regeer en oor elke mens as persoon oordeel (vgl. Mt 16:27: Die Seun van die Mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld; 24:40 met die koms van die Seun van die mens sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word…). Dié wat deur sy Vader geseën is, word genooi om na Hom toe te kom en die koninkryk erf, wat vir hulle voorberei is van die skepping van die wêreld af. Die regverdiges (wat die wil van God gedoen het) is die mense wie se verhouding met God reggemaak is deurdat hulle glo in Jesus wat hulle sonde aan die kruis gedra het en Hom gedien het met die barmhartigheid wat hulle uit dankbaarheid aan Hom bewys het deur hulle ontferming oor mense in nood en behoefte – die geringste van Jesus se broers. Die vervloektes sal die Koning as regter van Hom af wegstuur na die ewige vuur wat God vir die duiwel en sy engele berei het. Dit is hulle wat nie hulle hart vir Jesus as hulle Verlosser oopgemaak en Hom as die Here van hulle lewe aangeneem het nie, nie in Hom geglo het nie, en daarom nie barmhartig teenoor mense in nood en behoefte opgetree het nie.

Matteus 10:40-42 praat ook van die geringstes as die dissipels/volgelinge van Jesus, vir wie ’n beker koue water gegee is. Maar hier word  van enigiemand in nood en behoefte gepraat teenoor wie daar barmhartig opgetree is. Dit gaan nie oor die liefdeswerk as sodang nie, maar oor die mens wat as mens raakgesien is en versorg is, hongeres, dors, sonder klere, vreemdelinge, selfs die in die tronk. Jesus noem hulle sy broers, wat soos Hy nie eens ’n rusplek vir sy kop gehad het nie (Matt 8:20). Wie vir hulle raaksien en sorg, doen dit aan Jesus.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Ons dwaal soos skape

. —C.H. Spurgeon

Ons dwaal soos skape

Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop. Maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom (Jesaja 53:6)

Hier is ‘n paar interessante dinge wat ons hier kan leer:

  • Die beeld van die sondaar is dié van ‘n skaap. Skape is dom – hulle weet nie wat goed vir hulle is nie. Hulle tree nie rasioneel op die; hulle slaan die verkeerde rigting in. Hulle loop rond rigtingloos, doelloos en kwesbaar. In ons oënskynlike “onskuldige” ronddwaal, is ons besig om teen God te sondig.
  • Die trajek van sonde: afdwaal. Vir ‘n skaap wat afgedwaal het, is die lewe vol gevare. Hy kan homself nie verdedig nie – hy is hulpeloos. Sy enigste hoop is dat die herder hom soek en kry voor ‘n ramp hom tref. As ek sou ronddwaal soos ‘n skaap wat weggeraak het, soek my dan, want u gebooie het ek  nie verontagsaam nie (Psalm 119:176)
  • Die aard van sonde: wegdraai. Dit is die teenoorgesteld van bekering. Sonde beteken ek draai weg van God; bekering beteken dat ek na Hom toe draai. Om jou rug op iemand te draai wat met jou praat, is ‘n groot belediging. Ons draai weg as ons te staan kom voor Een wat groter en sterker as ons is en ons Hom nie wil gehoorsaam nie. Ons draai na iemand as ek besef ek het hulp nodig; ons draai na die gesag wat ons erken en aanvaar. Ons draai na Hom wat ons weet goed en wys is.
  • Die kern van sonde: selfgesentreerdheid. Elkeen van ons loop sy eie pad. Ons vertrou nie die Herder nie en loop nie op sy paaie nie. Ons eie pad staan teenoor God se pad.
  • Die vernietigende aard van sonde; ongeregtigheid. As sondaars is ons inherent boos. Dit is waarom ons weergebore moet word; dit is waarom die Herder ons moet tugtig; dit is waarom ons ‘n nuwe liggaam moet kry. Sondaars kan van hulle ongeregtigheid genees word of hulle kan goddeloos bly en omkom. God se aard is om skape wat afgedwaal het te red as Hy hulle benoude blêr hoor.
  • Die omvang van sonde: almal. Ons het almal gedwaal. Die hele Israel het gedwaal; alle mense het gedwaal. Sonde is ‘n universele kenmerk van die mensdom.
  • Die reddingsmag van plaasvervanging. Die Here het ons almal se sonde op Hom laat afkom. Jesus Christus het ook ons sonde op Hom geneem. Hy het al ons ongeregtighede gedra.

In hierdie vers word gesê dat Christus  en die mens as skape gesien word: Hy is as Lam in ons plek geslag en ons het as skape gedwaal. Hy, die vlekkelose Lam, het vir die dwalende skape gesterf.