Godslasterlike Gedagtes

Godslasterlike Gedagtes – Jan van der Watt

‘n Leser vra:

Ek kry van tyd tot tyd allerhande godslasterlike gedagtes wat my baie ontstel. Ek kry pastorale berading. Ek is so bang vir verlore gaan. Ek stap noual 4 jaar ‘n pad met God.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Dit is nie duidelik wat die godslasterlike gedagtes is nie. Byvoorbeeld, soms dink mense aan seks en voel dit is verkeerd, terwyl seks een van die gawes is wat God vir ons gegee het. Natuurlik moet dit binne die grense wat God gestel het, gebruik word, maar om daaraan te dink is normaal. Dit moet net goed bestuur word en nie misbruik word nie. Daar kan haat- of wraakgedagtes ook wees wat met vergifnis ‘behandel’ moet word. ‘n Mens moet nie toelaat dat dit soos ‘n kanker in mens invreet nie. Die beste raad wat  mens kan kry is om die negatiewe gedagtes met gebed en positiewe gedagtes te verplaas. Lees maar Fil 4:6-10.

Wat die ‘verlore gaan’ betref. ‘n Mens gaan nie sommer verlore omdat jy verkeerde gedagtes het nie. Redding beteken dat jy in ‘n verhouding met God staan (soos ‘n kind in ‘n verhouding met sy pa of ma staan). As die kind iets slegs dink, beteken dit nie skielik dat die kind nie meer kind is nie. Wat dit wel beteken is dat die kind werk moet maak van die verkeerde gedagtes  – soos wat Chantelle wel doen. . God wil hê ons moet in ‘n positiewe verhouding met Hom staan en daarom wil Hy graag hê dat ons ons verhouding met Hom gesond moet hou. Dinge soos gebed, sondebelydenis en positiewe denke help daarmee. Ons  moet egter oppas dat ons nie ons gewetens te veel belaai met dinge wat ons pla sodat ons later nie meer plek vir positiewe gedagtes het nie. Dit is nie die moeite werd nie.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Sonde

Die Groot Geloofswoordeboek: Sonde

Sonde • Oorsprong/Begin van die sonde

Sonde

Sonde kan op baie maniere omskryf word:

•             Dit is verkeerde dade wat ons doen, ook regte dade wat ons nie doen nie (sonde van com­mision en omission).

•             Dit is om die doel te mis (die betekenis van een van die Hebreeuse woorde).

•             Volgens Johannes 16:9 is dit allereers om nie in Jesus te glo nie, wat beteken dat sonde in die eerste plek ‘n verkeerde ver­houding is, en dat al die ander verkeerde dinge dan daaruit voortvloei.

Sonde as ‘n verhouding

Dis interessant om aan sonde te dink in terme van ons primêre verhoudings: met God, met ander mense en met die natuur.

•             Sonde teen God. Heelwat sondes het direk te doen met ons ver­houding met God: ongeloof, ongehoorsaamheid, ontrou, gebrek aan liefde.

•             Sonde teen ander mense. Baie ander sondes het te doen met ons menseverhoudings. Die lys sondes van Galasiërs 5:19-21 is almal die verbreking van gemeenskap tussen mense. Dink maar net aan onsedelikheid, jaloesie, woede, rusie, verdeeld­heid, skeuring. Nie een van hierdie dinge skep ver­troue of bou ‘n verhouding nie. Daarteenoor is die ver­skillende elemente van die *vrug van die Gees (5:22-23) al­mal gemeenskapstigtend en opbouend: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, ne­de­righeid, selfbeheersing. Elk­een van hierdie dinge wek juis vertroue en bind mense aan mekaar.

•             Sonde teen die natuur. Dit kom nie in die Bybel so duidelik na vore nie. Ons werklike sonde teen die natuur het eers in ons tyd ontwikkel, veral besoedeling en uitputting van die hulp­bronne. Maar die mens is van die begin af in ‘n ver­ant­woor­delike verhouding met die natuur (Gen 1:28), en dit het die moontlikheid van ‘n wanbestuur van die natuur ingesluit.

 

Sonde as ‘n mag

Dit gaan egter in sonde nie net om verhou­dings nie, maar ook om ‘n mag. Net soos die *dood is sonde ‘n *bose mag wat mense in sy greep kry. Die klassieke hoofstuk oor die doop, Romeine 6, is duidelik hieroor. “Die sonde moet nie oor ons heerskappy voer nie”, “ons moenie ons lewe in die diens van die sonde stel nie”, “die sonde moet nie langer ons baas wees nie”, “die sonde betaal ‘n bepaalde loon” (Rom 6:12 ev) is almal uitdrukkings wat veronderstel dat die sonde ‘n mag is wat oor ‘n mens kan heers. Dit beteken dat God nie net ons son­de vergewe nie (“ver­gewe” veronderstel sonde is verkeerde dade of verhoudings), maar ons ook vry maak van die sonde (wat ver­onderstel dat sonde ‘n mag is). Johannes verwys ook hierna as hy skryf dat elkeen wat sonde doen, ‘n slaaf van die sonde is, en dat die Seun ons van hierdie tiran moet vry maak (8:34-36).

Dit beteken nie dat ‘n mens willoos aan hierdie mag uitgele­wer is nie. Die evangelie roep ons juis op om ons vryheid in Jesus te soek en te kry. Dit is op die ou end ons eie skuld as ons in die mag van die sonde bly.

 

Sondige strukture

Die mag van die sonde kom duidelik na vore in strukture. Struk­ture is die wyse waarop ons ons samelewing inrig en orga­ni­seer. Om aan die linkerkant van die pad te ry is ‘n verkeerstruk­tuur. Ons kinders gaan skool toe, wat netjies ingedeel is in ‘n struktuur van grade. Ons hoef dus nie op elke hoek van die straat te besluit aan watter kant ons sal ry, of elke môre hoe ons ons kinders sal leer nie. Die skool besluit ook nie elke môre weer in watter groepe hulle die kinders sal indeel nie. Dit beteken dat strukture die lewe baie eenvoudiger maak.

Maar daar kan sondige strukture wees. Apartheid was een. Dit het die lewe baie eenvoudiger en aangenamer gemaak vir die wit mense, maar die mense van kleur daagliks aan vernedering on­der­werp. Die geweldige probleme wat dit meegebring het om hierdie struktuur af te breek en met iets anders te vervang is ‘n goeie voorbeeld van die krag van strukture. Vandag is regstellen­de aksie ook ‘n struktuur. Dis nie in sigself ‘n sondige struktuur soos apartheid was nie, maar dit hou die moontlikhede in om sommi­ge mense onregmatig te bevoordeel en ander te benadeel. Dit is ‘n struktuur wat vatbaar is vir sonde. Net so is die huwelikstruktuur van ‘n monogame huwelik in sigself goed en reg, maar daar kan na­tuur­lik baie sonde binne die struktuur gedoen word. Maar die beginsel kan nooit verkeerd wees dat een man en een vrou hulleself lewenslank aan mekaar verbind nie.

As daar sondige strukture kan wees, moet ons ook van die hei­liging van strukture praat. Persoonlike sonde kan vergewe word as ons dit bely, maar strukture wat die moontlikheid van sonde in hulle omdra, moet geheilig word. Die ekonomiese stelsel in ons land bied baie ruimte vir sonde. Mense kan mekaar op ‘n oneerlike manier benadeel. Die struktuur word geheilig as die gate toegestop word waardeur mense oneerlik kan optree.

 

Die oorsprong van die sonde? – ‘n Verkeerde vraag

‘n Vraag wat verkeerd gevra word, kan nooit tot ‘n goeie antwoord lei nie. Die vraag: “Wat is die oorsprong van die sonde?” is ‘n verkeerde vraag omdat dit ‘n sinvolle verklaring veronderstel van waar en hoe die sonde ontstaan het. Dit is die rede waarom daar sulke vreemde antwoorde aangebied word. Sommige sien die vryheid van die mens as die oorsprong van die sonde. Ander dink weer aan die sluheid van die slang. Nog ander dink aan die plan van God.

God sou dan ‘n goeie plan of doel gehad het met die sonde. As Hy die mense van die begin af volmaak geskape het, sou die mens nooit regtig die volmaaktheid kon waardeer nie. Deur die mense so te skep dat hulle sonde kan doen, het Hy die moontlik­heid geskep dat hulle sou ervaar hoe sleg die sonde is en dus ook hoe goed die goeie is. Dit sou hulle motiveer om die goeie te kies en die sonde te los. So ‘n verklaring gee ‘n volkome sinvolle oorsprong aan die sonde.

Die ander bekende verklaring is dat God die mense gemaak het om Hom lief te hê. Maar gedwonge liefde is nie regtig liefde nie. God moes dus die mense vry maak sodat hulle kon kies om Hom lief te hê. Liefde as ‘n vrye keuse is die enigste soort liefde wat die naam liefde werd is. Maar as Hy die mense vry gemaak het om te kan kies om Hom lief te hê, is hulle ook vry om te kies om Hom nie lief te hê nie. Dit is dus volkome sinvol en verstaanbaar dat die mense kon kies om te sondig. Nog ‘n volkome sinvolle verklaring vir die ontstaan van die sonde.

‘n Ander verklaring is dat die slang eenvoudig te slu was en die vrou verlei het om ongehoorsaam te wees.

Die basiese probleem met al hierdie verklarings en ook met enige moontlike verklaring is dat dit ‘n sinvolle plek aan die sonde gee, of ‘n sinvolle verklaring waarom daar sonde in die wêreld is.

 

Sonde is sinloos

En dit bots met die wese van die sonde, wat sinloos, destruk­tief, chaoties is. Daar is niks in die skepping of in God wat sinvol met sonde in verband gebring kan word nie. Sonde pas nêrens in nie. Daarom is daar nêrens in die Bybel ‘n poging om sin aan die sonde te gee of om sinvol oor die “oorsprong” van die sonde te praat nie. Die teendeel is waar. Paulus roep in ontsteltenis uit: “Hoe kan ons wat dood is vir die sonde nog daarin voortleef?” (Rom 6:2). Nêrens kry ons ‘n aangrypender kreet oor die totale sinloosheid en onbegryplikheid van die sonde as uit die Here se eie mond in Jeremia 2 nie. Daar lees ons dat selfs onder die heidene dit nie gebeur dat ‘n volk sy gode vir ander gode verruil nie, en dit terwyl hulle gode nie eens regtig gode is nie. Maar Israel verruil sy God, die magtige God, vir afgode wat niemand kan help nie. Selfs die hemel word dan ingeroep om verskrik te staan by die besef dat Israel totaal sinlose dinge doen. Hulle verruil, by wyse van spreke, ‘n plaas met ‘n sterk fontein vir ‘n droë plaas waar net ‘n paar reënbakke staan om die reën op te vang, en die bakke is nog gebars ook. Dit is ‘n beeld van totale sinloosheid. Dit is sonde.

Genesis 3 se verhaal is net so sinloos. Trouens, as dit nie in die Bybel gestaan het nie, sou ek dit nie geglo het nie. Genesis 2 is ‘n idilliese verhaal oor die pragtigste tuin met die grootste stroom water en heerlike vrugtebome. Onthou, hierdie verhaal het in Pa­lestina sy oorsprong, ‘n land wat maar droog en kalkerig is. Die tuin van Eden is ‘n paradys.

En die Here se verhouding met die mense skep soveel ver­troue. Hy sorg vir hulle, voorsien in hul behoeftes, vul die leemte in die man se lewe. Wat ‘n sprokiesverhaal.

En dan kom die eerste die beste slang aangeseil, en weens sy goed­koop verdagmakery verloor Eva onmiddellik haar vertroue in die Here. Dis nie eens ‘n lang gesprek nie. Daar is omtrent geen weerstand by haar nie, en haar man volg gedweë, sonder enige na­vraag. Wie kan daaruit sin maak?

Wat sou ‘n sinvolle reaksie van Eva gewees het? As sy met een woord gereageer het: “Weg agter my, Satan,” soos Jesus soveel later vir Petrus gesê het (Matt 16:23, 1953-vertaling). Maar haar werklike reaksie pas op geen manier sinvol in enige patroon in nie. Dis son­de. Daarom pas dit hoegenaamd nie in ‘n kind van God se lewe nie, en kan Johannes selfs skryf dat dit eintlik onmoontlik is vir ‘n kind van God om sonde te doen (1 Joh 3:5, 6, 9). (*Perfeksionisme)

Die sonde het nie ‘n sinvolle oorsprong nie. Dit het net ‘n on­verklaarbare begin.

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Die Erfsonde

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Erfsonde

“Erfsonde” is ‘n snaakse woord. ‘n Mens kan tog nie sonde erf soos jy blou oë van jou ouers “erf” nie. *Sonde is ‘n verhoudingsaak, ‘n morele saak.

Dit is maar net een van die misverstande wat daar oor die erf­­sonde kan bestaan. Die ander is dat die leer van die erfsonde be­teken dat mense baie sleg is. Mense sou dan ‘n slegte selfbeeld kry en morbied word omdat hulle geleer word dat hulle erfsonde het. Dit hou weer verband met ‘n misverstand oor die leer van die *totale verdorwenheid.

Alles klop nie regtig hier nie. Aan die een kant sou die “vrees­like leer oor die erfsonde” die rede wees waarom soveel Chris­tene so ‘n swak selfbeeld het. Aan die ander kant word juis die Christene, en by name die Calviniste (wat die grootste nadruk op die erfsonde lê), daarvan beskuldig dat hulle die hulpbronne van die aarde uitput met hulle ywerige geldmakery. Die kern van die waarheid in hierdie verband is dat dit inderdaad die Protestantse Christene, insluitend die Calviniste, is wat die groot kulturele en industriële ontwikkelings in die wêreld geïnisieer het. Maar hoe kan dieselfde mense nou ‘n swak selfbeeld hê en tegelyk die meeste inisiatief?  Die swak selfbeeld weens die erfsondeleer is dus nie regtig steek­houdend nie. Dis eerder maar net om ‘n argument teen die erf­sondeleer te kry.

Dit is wel waar dat ons nie die begrip “erfsonde” in die Bybel kry nie, maar daar is inderdaad ‘n paar spesifieke tekste wat aanlei­ding gegee het tot hierdie leer, en verder ‘n paar lyne wat deur groot dele van die Bybel loop. In sy kern kom die leer van die erfsonde daarop neer dat die mensdom gesamentlik skuldig staan voor God omdat sonde nie net ‘n individuele saak is nie.

In Romeine 5:15-19 lees ons:

Deur die oortreding van een mens het baie gesterf

Op die oortreding van een mens het die oordeel gevolg en dit het tot veroordeling gelei …

Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer …

Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense …

Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het …

 

Dit beteken dat alle mense op een of ander manier deel het aan die sonde van hierdie een mens en daardeur onder die oor­deel van God staan. Daar word nie verduidelik hoe ons aan sy sonde deel het nie, eenvoudig omdat dit in die verband van Romeine 5 nie allereers gaan om ons aandeel aan iemand anders se sonde nie, maar juis om ons betrokkenheid by Iemand anders se gehoorsaamheid wat vir ons die verlossing bring. Romeine 5 is nie geskryf om ons iets van Adam te vertel nie, maar iets van Christus. Adam en die erf­sonde is maar bysake by die hoofsaak: Christus en die verlossing. Daar­om word die manier waarop ons aan die ongehoorsaamheid van Adam deel kry nie breedvoerig uitgespel nie, maar wel die manier waarop ons aan Christus se gehoorsaamheid deel kry: deur die doop (Rom 6) en die geloof (Rom 3:25-26). Ons betrokkenheid by Adam se sonde word eenvoudig veronderstel sonder verdere verduideliking.

Vir Westerlinge met ‘n sterk klap van individualisme klink dit vreemd. Hoe kan ek betrokke wees by ‘n ander se sonde? Maar tradisionele Afrika ken wel iets van hierdie onderlinge ver­bon­denheid van mense, dat een namens almal kan optree sodat almal daarby betrokke is. Trouens, ons weet almal iets daarvan. ‘n Staats­hoof kan namens die hele volk ‘n besluit neem, byvoorbeeld ‘n oor­logsverklaring, en dan is almal in ‘n staat van oorlog.

In die Bybel is dit ‘n baie sterk lyn. Deur een mens se sonde het ons almal onder die oordeel van God gekom. Verder sluit God met Abraham ‘n verbond, maar só dat dit tegelyk ‘n verbond met sy hele nageslag is. Tot vandag toe word alle gelowi­ges in daardie verbond opgeneem. Daar is nog voorbeelde. Baie vroeg in die Ou Testa­ment lees ons dat Abraham aan Melgisedek tiendes gegee het. Maar in die Nuwe Testament staan daar dat ook sy agterkleinseun Levi “in Abraham” aan Melgisedek tiendes gegee het terwyl ons weet hy was nog nie eens daardie tyd gebore nie. Hoe dan? Ons lees: “want Levi was nog in die liggaam van die stamvader (Abraham)” toe Abraham die tiendes vir Melgisedek gegee het (Heb 7:10). Op ‘n manier het Levi dus deel gehad aan wat Abraham selfs voor sy ge­boorte gedoen het.

En dan dié Voorbeeld. Trouens, dis eintlik oor Hom wat dit in Romeine 5 gaan. Soos reeds verduidelik, gaan dit vir Paulus nie in die eerste plek om die vraag presies hoe ons deur een mens se son­de geraak word nie. Hy wil eintlik verduidelik hoe ons deur een Mens se gehoorsaamheid aan die genade van God deel het. Maar dieselfde beginsels is ter sprake: Een vir almal, en almal in Een. En daaroor is ons diep dankbaar. As ons self ons skuld voor God moes dra, was ons verlore. Goddank dat Iemand anders in ons plek kon staan, en wel op so ‘n wyse dat ons deur die geloof in Hom deel het aan wat Hy gedoen het.

Dink weer aan wat Paulus in Romeine 5 oor ons verlossing deur Christus skryf:

Op die oortreding (van Adam) het die genadegawe gevolg en dit het tot vryspraak gelei (v 16).

Dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe (v 17).

So het die een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal (v 18).

So word baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vryge­spreek (v 19).

Hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword (v 20).

 

Miskien kan ons in hierdie geval van “erfgenade” praat, maar dan is “erfsonde” dalk nie so ‘n vreeslike gedagte nie. Immers, Pau­lus skryf in dieselfde hoofstuk dat die genade baie oor­vloediger as die sonde is. Ek “erf” genade wat baie meer is as die sonde wat ek “erf”. Dan neem ek die “erfsonde” baie maklik op die koop toe ter wille van die “erfgenade”.

Behels die erfsonde meer as dit? Baie Christene sien iets meer in die leer oor die erfsonde as net ons gemeenskaplike skuld. Hulle is oortuig dat ‘n mens gebore word met die neiging om verkeerd te doen. Hulle praat van ‘n “innerlike verdorwenheid” en bring dit graag in verband met Psalm 51:7: “Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.” Maar ‘n mens moet mooi kyk wat daar regtig staan. In die vori­ge verse praat Dawid oor en oor van “my skuld, my oortredings, my sonde”. En in die voorafgaande vers beklemtoon hy: “Ek het gesondig, ek het verkeerd gedoen.” As hy dan vervolg dat hy al by sy geboorte skuldig was, is dit juis om sy eie skuld nog verder te beklemtoon, en nie om dit af te maak asof hy homself wil verskoon nie. Met ‘n oorgeërfde neiging om te sondig wat jou persoonlike skuld verdoesel of ook maar net versag, het Psalm 51 niks te doen nie.

Erfsonde hou verband met die beginsel dat een namens almal kan optree, en dat almal dan in ‘n sekere sin daarby betrokke is. Dit is nie vreemd aan die Bybel of aan Afrika of aan enige mo­derne samelewing nie. Maar in die Bybel word dit hoofsaaklik ge­bruik om ons verlossing te verduidelik: Christus namens ons, ons ten goede. Die “erfsonde” word maar net in Romeine 5 by­gebring om die genade duideliker te maak. Dit is nie die hoof­saak nie.

 

Outeur: Prof Adrio König




Sonde: Die Stryd Teen Stukkende Verhoudings

Sonde: Die Stryd Teen Stukkende Verhoudings – Stephan Joubert

Sonde is ʼn vyfletter-woord

Sonde is een van die mees gebruikte woorde in die gemiddelde kerkmens se woordeskat. Meer as ander woorde in ons kerklike taal-arsenaal vat hierdie een woord alles saam wat sleg en boos is. Sonde is dié neutedop-term vir verkeerde dinge. Vir die meeste kerkmense het sonde egter ook ʼn klompie, meer konkrete, name. Hoogmoed word byvoorbeeld sonde genoem; skinder ook. En diefstal, moord, wellus, afguns, kwaadpratery…. Dit alles hoort tuis onder die noemer van sonde. So ook ongehoorsaamheid, onmin, dronkenskap, brassery… Want sonde het al vir honderde jare in die kerk verskillende name. En lywe ook. Sonde vat immers grond in mense se lewe. Daarom dat sonde so maklik met een of ander sonde-doener verbind word; met daardie man wat sy vrou vir ʼn ander een gelos het, of met iemand by die werk wat lang vingers het. Miskien is dit die rede hoekom die lys van lelike dinge wat in die kerk met hierdie vyfletter-woord omskryf word so eindeloos lank is.

Al word daar so baie gepraat, gepreek, geskryf en geprotesteer teen sonde, is dit steeds ʼn moeilike konsep om behoorlik onder die knie te kry. Ons sou selfs kon praat van ʼn Babelse verwarring oor wat sonde nou eintlik is. In hierdie hoofstuk val die klem op ʼn kort Bybelse perspektief op sonde. Ons gaan onder andere probeer vasstel wat sonde nie is nie, voordat ons gaan kyk hoe die Bybel oor sonde dink en wat die kerk met hierdie probleem moet doen.

 

1. Sonde is meer as…

a. Sonde is meer as ʼn stryd teen die morele verval rondom ons

Die kerk in ons land het ʼn lang tradisie agter die rug van stryd teen allerlei “openbare euwels.” Dinge soos dobbel, losbandigheid en Sabbatsontheiliging is diep in die geheue van baie kerkmense ingeburger as toonbeelde van “ware sondes,” van kwaad in sy naakte vorm. Al het kerkgangers nie aldag mooi begryp hoekom sekere vorme van gedrag die etiket “sonde” in die kerk moes dra nie- as die kerklike owerhede daarteen was, dan was dit verkeerd. Uit en gedaan. Dan was daar geen noodsaak vir verdere nadenke oor die saak nie.

Sonder om al die opregte pogings van kerkleiers om sonde te ontmasker onder verdenking te bring, moet ons vir mekaar sê dat daar te veel klem in die kerk geplaas is op ʼn lysie van morele probleme. ʼn Ongebalanseerde siening van sonde het sodoende onder baie mense posgevat. Baie het begin dink dat sonde by uitstek daardie growwe openbare dinge is wat Sondae in die kerk met die etiket van sonde bekroon is. Helaas geskied dit vandag nog in geloofskringe. Dit was (en is steeds) die in-ding om teen die gunsteling-sondes van die dag te preek wat die “volk” bedreig. Die hartseer van so ʼn tipe benadering tot sonde is dat dit baie selektief is. ʼn Groepie invloedryke indiwidue of kerklike vergaderings besluit wat die “eintlike” morele sondes is wat ontboesem en bekamp moet word. Dan word daar van ʼn kant af teen hierdie dinge opgetree. Maar wat egter van al die ander verkeerde dinge wat om een of ander rede nie op die jongste kerklike sondelyste ingesluit is nie? En wat van party mense wat Sondae in die kerk sit en in hulle harte hoogmoedig word omdat hulle dink hulle doen gelukkig nie daardie dinge waarteen die dominee of die pastoor alweer so kwaai preek nie. Is dit nie juis daar in mense se binnekant waar sonde hokgeslaan moet word nie? Word die kar nie voor die perde ingespan wanneer allerlei godsdienstige stormlope teen openbare sondes geloods word, maar die houvas wat sonde op mense se innerlike lewe het word nie aangespreek nie?

Die aaklige krapmerke van die sonde is te sien in die sedelike verval wat oral in die samelewing plaasvind. Maar as ons siening van sonde net beperk is tot sulke tipe dinge, tot ons eie lysie van wat verkeerd is in die wêreld rondom ons, dan dink ons nog veels te eng hieroor. Want sonde is regtig baie meer as dit.

 

b. Sonde is meer as ʼn klomp uiterlike dinge

Sonde word dikwels verstaan as sou dit ʼn klompie verkeerde dinge wees wat van buite af oor mense kom. Diegene wat sonde as eksterne dinge verstaan, wy gewoonlik baie energie  aan die identifisering van al die verkeerde dinge wat van buite af in hulle lewe inkom. Die stryd hierteen verander dan in ʼn lewenslange hindernis-wedloop waar een sonde-hindernis na die ander oorkom moet word om die nodige geestelike vordering te maak. Geestelike groei beteken sodoende om te kan sien hoeveel van hierdie uiterlike sondes al oorwin is, en hoeveel daar nog voorlê.

Vir die Bybel is sonde egter meer as ʼn lys van verkeerde dinge wat ons van buite af aanval. As sonde net sulke dinge was, dan sou ons, teoreties gesproke, dit op die ou end kon regkry om sondeloos te leef. Dan moet ons maar net al die verkeerde dinge in ons lewe oorwin. Maar helaas is dit nie so eenvoudig nie. Want sonde is nie in die eerste plek ʼn klomp dinge soos lelike taal in ons mond, of geldgierigheid, of wat ook al nie. Dit is baie meer as al hierdie etikette wat ons soms in ons eie lewe raaksien.

 

2. Wat is sonde?

a.  Sonde is ʼn stukkende verhouding tussen God en mens

Sonde is nie in die eerste plek om verkeerde dinge te doen nie. Nee, dit is ten diepste ʼn stukkende relasie. Sonde is ʼn gebroke verhouding tussen mense en hulle Skepper. Dit is ʼn stukkende band tussen hemel en aarde omdat mense weier om God op sy voorwaardes te dien. Sonde is rebellie teen God se openbaring.

Wanneer daar geen geloofsband tussen Skepper en skepsel bestaan nie, dan sien jy die resultate hiervan in al die vieslike dade wat mense aanvang, soos wat Paulus byvoorbeeld in Romeine 1 beskryf. Maar sonde is meer as net hierdie lelike dade. Sonde is na sy wese om te weier om die knie voor God te buig. Die sondedade wat uit hierdie ongehoorsaamheid voortvloei, is die sigbare bevestigings van mense se stukkende verhoudings met God. Omdat mense hulle eie kop volg en verkies om te leef soos wat hulle wil, betaal hulle ʼn duur prys hiervoor. Hulle word lewenslange slagoffers van sonde.

 

b. Sonde is ongehoorsaamheid aan God se wil

Sonde is ʼn stukkende verhouding tussen God en mens. Maar dit is terselfdertyd ook ongehoorsaamheid aan sy wil. In die Bybel het God duidelik bekend gemaak hoe Hy gedien moet word. Sonde is wanneer mense weier om Hom te dien soos wat Hy voorskryf. Wanneer mense verkies om Hom nie te aanbid nie, of om self die voorwaardes neer te lê hoe hulle Hom wil dien, of wanneer hulle sommer hulle eie gode fabriseer, dan is dit sonde.

Sonde is nie net te sien in die lewe van mense wat vieslike dinge aanvang nie. Nee, dit is ook waarneembaar in godsdienstige mense se lewe. Daar is hordes mense regoor die wêreld wat verskriklik vroom leef. Hulle hou die strengste reëls en voorskrifte denkbaar om God te probeer beïndruk, maar dit is glad nie wat Hy van hulle verwag ten einde in die regte verhouding met Hom te leef nie. Sonde is daarom ook om te weier om die verlossingsplan te aanvaar wat God in sy goedheid daargestel het toe Christus aan die kruis gesterf het.

 

c. Sonde is om in die magsveld van die dood en die vlees vasgekeer te wees

Sonde is volgens die Bybel ʼn mag wat mens van jou eerste asemteug af beetpak. Dit verander jou in ʼn slaaf. Hierdie slawebande maak dat jou nuwe “vriende” die dood en die vlees is. Die gevolg: die een verkeerde daad na die ander is dan jou kos. Op jou eie kan jy hierdie bande nooit van jouself afgooi nie. Want soos wat ons gesien het, is sonde nie maar net ʼn klompie verkeerde dinge wat jy gou kan laat staan nie. Nee, sonde is om ʼn lewenslange gevangene in ʼn vreemde land te wees. Dit is om in die hande te wees van ʼn wrede baas, die Bose (Efesiërs 2:1-3). Hy dryf jou soos ʼn harde slawedrywer van die een bose daad na die ander. Self kan jy nooit uit hierdie tronk ontsnap nie. Jou voorland is die dood. Vir altyd. Nie eens jou beste goeie dade kan jou help om bo oor die sondemure te klim terug na God se veilige hawe toe nie. Sonde hou jou lewenslank opgesluit. Dit maak van jou ʼn willose slaaf wat van die een sondedaad na die ander voortstrompel. Selfs al wil jy dit nie doen nie- jy het geen ander keuse nie. Tensy God se goedheid jou lewe aanraak, tensy Hy jou verander, bly jy altyd verslaaf aan sonde.

 

d. Sonde is te sien in die slegte dade van mense

Sonde word sigbaar in dade. Mense kan nie vir altyd wegsteek dat die verhouding tussen hulle en God stukkend is nie. Hulle ongehoorsaamheid aan Hom word sigbaar in hulle lewe. Eventueel sien ander raak dat hulle gevangenes is van ʼn harde baas. Sonde loop altyd oor in mense se woorde. Dit word ook gesien in die slegte dinge wat hulle met hulle hande en hulle voete aanvang. In Galasiërs 5 beskryf Paulus byvoorbeeld hoe mense lyk wat in die mag van die vlees vasgevang is. Hulle lewe is die ene bose dade. Hulle is soos ʼn boom wat net slegte vrugte dra. Sonde is ʼn leefwyse. Daarom word mense wat in die mag van sonde is, sondaars genoem. Dit dui hulle status in God se oë aan as verlorenes, as slawe van sonde.

 

3. Sonde se mag is deur Christus geknak

Net God kan die mag van sonde breek wat mense lewenslank verslaaf. Hoe? Wel, die Nuwe Testament beskryf baie duidelik dat Jesus deur sy eenmalige offer aan die kruis alle magte wat teenoor God staan, kom troef het. Hy het aan die kruis die dood se angel uitgetrek (1 Korintiërs 15). En Hy het oor die Bose getriomfeer (Hebreërs 2). Terselfdertyd is sonde ook onttroon. Jesus het die slawebande van die sonde gebreek (Romeine 6; Kolossense 2). Kom ons sê dit nog duideliker vir mekaar:

a.      Sonde is op Jesus se skouers afgelaai

Sonde is God se vyand. Want sonde is ʼn stukkende verhouding met Hom. Dit is opstand teen sy wil. Dit is ʼn lewe van slawerny. Daarom kan God nie anders as om sonde-doeners te straf nie. Want hulle tas sy eer aan. Maar dieselfde God wie se woede brand oor die bose dinge wat mense aanvang, is ook die Een wat die Offerlam verskaf, wat ʼn pad maak waar daar geen pad is nie. Hy gee vir Jesus as die volkome Offer vir sondaars se sondes.

Toe Jesus aan die kruis doodgegaan het, was dit as gevolg van die gewig van al ons sondes op sy skouers. Want God het sy sondelose Seun daar aan die kruis in ʼn sondaar verander (2 Korintiërs 5:17-21). Daar het Jesus die status van ʼn sondaar, ʼn verlorene, aangeneem. Wat was God se reaksie hierop? Wel, volgens Paulus in Galasiërs 3 het Hy Jesus daar en dan vervloek. Hy het sy rug in skaamte op sy eie Seun gedraai en Hom alleen aan Golgota se hout laat sterf.

Jesus se dood is ʼn plaasvervangende dood. Hy het doodgegaan met al ons sondes op sy skouers sodat ons wat in Hom glo nie weer onder die juk van ons eie sondes moet doodgaan nie. Want God het Jesus se offer aanvaar. God het besluit dat sy Seun se eenmalige offer voldoende was om almal wat in Hom glo vir altyd te red. Jesus se offer is regtig oorgenoeg betaling vir ons sondes. Dit is genoeg om al ons foute te oordek; om vir altyd vrede tussen ons en God te bewerkstellig. Jesus se sterwe maak ons verhouding met God permanent heel. Dit is sy heilsplan, sy manier om sondaars weer sy kinders te maak.

b. Sonde is ook nie meer wat dit was nie

Sonde se mag is deur Jesus ʼn kwaai knou toegedien. Want Hy verander sondaars in God se kinders deur sy dood. Nou is Christene nie langer sondaars nie. Ten minste, die Nuwe Testament noem gelowiges nooit weer so nie. Nee, Christene is nou God se kinders, splinternuwe mense (2 Korintiërs 5:17; 1 Johannes 3:1). Bo en behalwe die feit dat Jesus deur sy dood die status van almal wat in Hom glo vanaf sondaars na kinders van God verander het, het Hy ook aan die kruis die heerskappy van sonde oor hulle lewe beëindig. Gelowiges se sogenaamde “sondige natuur” is daar getem, afgetakel.

In algemene kerklike taal word daar dikwels van ons sondige natuur gepraat. Hiermee word bedoel dat ons almal ʼn geneigdheid tot sonde het. Wel, hierdie sondige aard van ons word deur Jesus se kruisdood onder beheer gebring. Nie alleen vat Hy al God se straf in ons plek by Golgota nie. Nee, Hy vat ook daardie mag uit ons lewe weg wat maak dat ons van die een lelike daad na die ander voortstruikel. As sonde ongehoorsaamheid aan God se wil is, en as dit ʼn stukkende verhouding tussen ons en Hom is wat sigbaar word in ons verkeerde dade, dan is dit eweneens ook waar dat Jesus ʼn einde aan hierdie tirannie in ons lewens bring.

Christene is nuwe mense. So skryf die apostel Paulus oor en oor in sy briewe (Romeine 5-8; Kolossense 2; Filippense 3). Die apostel weet al te goed dat die Here nie maar net ʼn paar kosmetiese veranderings in ons aangebring het toe Hy ons kom red het nie. Christus het ons nie maar net in ons sondes kom verlos nie. Nee, Hy het ook die sondemag in ons lewe kom breek. Nou het sonde nie meer ʼn houvas oor ons nie. Omdat God se Gees by ons is, is ons des te meer in staat om te doen wat Hy sê. Ons is immers nou tempels van die Heilige Gees.

 

4. Dink reg oor sonde in die kerk

a. Moet tog nie weer in dieselfde ou slaggat trap nie

Nou die dag sê iemand: “sonde is ook nie meer sonde in die kerk nie.”

Iemand anders skryf in die pers dat sonde deesdae ooglopend in die kerk toegelaat word. Hierdie skrywer beweer dat mense kan doen wat hulle wil sonder dat daar teen hulle opgetree word.

“Julle moet meer teen sonde preek. Noem die verkeerde dinge by die naam,” sê ʼn oom ook onlangs vir my. Hierdie tipe uitsprake dui op ons almal se verleentheid met sonde en met die simptome van sonde wat ons elke dag rondom ons raaksien. En kom ons wees eerlik: dit gaan woes in die wêreld. Dit is asof mense nie genoeg lelike dinge gedoen kan kry nie. Elke dag is daar iets nuuts wat ons skok. Geweld, seks, dobbel- hierdie dinge oorspoel ons samelewing en sleep mense oral in die ellende in.

Maar is dit die oplossing om in die kerk allerhande kruisvaarte teen sonde van stapel te stuur; om die een “vuur en swael” preek na die ander op die kerkvolk los te laat? Helaas is die antwoord hierop nee. Want sulke tipe optrede het nog nooit deur die geskiedenis heen ʼn beduidende of ʼn blywende verskil gemaak nie. Gaan kyk maar na die kerkgeskiedenis se harde feite. Openbare tirades teen sonde werk eenvoudig nie. Dit laat mense op die lange duur nie regtig minder sonde doen nie. Boonop is dit in elk geval teologies foutief om te probeer om mense minder verkeerde dinge te laat doen. Want sonde is in die eerste plek mos nie ʼn klomp verkeerde dade nie. Nee, dit is ʼn stukkende verhouding tussen mense en God. Al wat die kerk bereik as hulle mense so ver kry om minder te drink of te dobbel, is om ʼn paar sonde-simptome tydelik hok te slaan. Maar dan is die eintlike probleem nog lank nie aangespreek nie. Die kerk se gedurige stryde teen al hierdie openbare sonde-dade laat my dink aan wat  Henry David Thoreau eenkeer gesê het: “For every thousand hacking at the leaves of evil, there is one striking at the root.”

Om elke preek in ʼn sonde-stormloop te verander, mag dalk ʼn klompie kerkmense se gewetens sus, maar dit maak nie veel van ʼn verskil aan die eintlike probleem nie. Dit is regtig nie die oplossing nie. Want diegene wat sulke preke moet hoor, is gewoonlik nie daar nie. Nog erger: om mense se aandag voortdurend op openbare sondes gefokus te hou, bring ons maar weer terug by die ou, ou fout van die kerk. Dan besluit ons hoog-kerklikes maar weer wat die eintlike “groot” sondes is waarteen mense vandag moet stry. Dan maak ons weer van sonde ʼn klomp uiterlike dinge wat sekere slegte mense doen, en wat hulle ook kan ophou doen as hulle die slag regtig wil.

 

b. Verstaan wat sonde regtig is

ʼn Effektiewe strategie teen sonde in die kerk begin daar waar gelowiges van die nodige kennis voorsien word oor wat sonde regtig is. Tot vandag toe sit derduisende kerkmense opgeskeep met foutiewe sienings van sonde. Hulle dink aan sonde as ʼn klomp uiterlike dinge, as ʼn lys verkeerde dade wat die kerkleiding elke kort-kort opdateer en waarteen hulle dan moet stry. Die enigste weg uit hierdie impasse is om weer van voor af vir gelowiges te laat verstaan dat sonde ʼn gebroke verhouding is tussen mense en God. Slegs wanneer hierdie verhouding in ere herstel is, kan daar sprake wees van gehoorsaamheid aan God se wil. Dan eers word sonde effektief bestry.

 

c.       Gelowiges is oorwinnaars oor sonde

Sommige gelowiges meen dat hulle goeie werke geen waarde het nie en dat hulle God nooit kan behaag nie. Sulke gelowiges is as’t ware vasgevang in ʼn skisofreniese geloofspersoonlikheid. Aan die een kant glo hulle van harte hulle is verlostes. Maar aan die ander kant glo hulle dat hulle altyd te min te laat vir God doen. Wel, die regte lees van die Bybel, en met name, van die Nuwe-Testamentiese briewe, behoort die kerk se oë weer vir die waarheid oop te maak. Want die Nuwe Testament maak dit duidelik dat Christene herskepte mense is wat hoe langer hoe meer God se beeld te weerspieël in al hulle doen en late (2 Korintiërs 3:18). Die mag van die sonde is gebreek in gelowiges se lewe (Romeine 6; Kolossense 2). Die kerk in die algemeen, en elke Christen in die besonder, is nou woonplekke van die Gees van God (1 Korintiërs 3:16; 6:19). Om daarom te dink dat Christene niks goed vir God kan doen nie, is om ʼn mosie van wantroue teen sy herskeppinsgwerk in te stel. Dit is om vir die Heilige Gees te sê dat Hy die kerk nie kan verander om gehoorsaam te wees aan God nie.

Gelowiges is God se splinternuwe aardse familie, nuwe mense wat in staat is om te leef so reg na hulle hemelse Vader se hart (1 Johannes 2-3). Omdat die verhouding tussen God en sy kinders in ere herstel is, is sonde se mag in hulle lewe getem. Daarom kan gelowiges nou God se wil gehoorsaam. Daarom kan gelowiges nee sê vir sonde-dade wat God se Naam oneer aandoen. Die kerk kan regtig op God se pad stap en orals bakens van gehoorsaamheid aan Hom oprig.

 

 

5. Hanteer sonde op die regte manier

a.      Sonde tas God se eer aan. Bely dit voor Hom

Sonde is ten diepste ʼn stukkende verhouding tussen mense en God. Maar Jesus het hierdie verhouding eiehandig kom herstel. Deur geloof in Hom staan gelowiges nou in ʼn splinternuwe verhouding met God. En tog doen Christene soms dinge wat teen sy wil indruis (1 Johannes 1:8-9). Daarom, al het Christus volkome versoening bewerkstellig tussen ons en God, en al hou Hy nie meer ons oortredings teen ons nie, moet ons steeds ons sondes bely. Want dit versteur die dag-tot-dag verhouding tussen ons en ons hemelse Vader. Dit tas ook sy eer aan. Wanneer ons verkeerde dinge doen, vertoon ons nie sy heerlikheid nie. Die enigste oplossing is om dit te gaan bely, om op die regte plek te gaan askies sê. En daar is net een plek: by God self!

In 1 Johannes 2 skryf die apostel dat Christus elke keer vir ons in die bres tree as ons met ons oortredings by die hemel se deure aankom. Daar en dan verwyder Hy alles wat die verhouding tussen ons en God versuur. Wanneer ons ons skuld bely, maak Christus dat God nooit weer daaraan dink nie. Die regte hantering van sonde in die kerk begin dus by onsself. Wanneer ons bewus word van dinge wat maak dat ons nie volgens God se wil leef nie, dan moet ons dit voor God bely, en dit ook laat staan. Sondebelydenis verander ons leefstyl, ons gedrag, ons dade – dit maak dat ons elke keer weer van voor af tot eer van God begin leef.

 

b. Sonde versteur die welsyn van die groep. Maak stukkende verhoudings reg

Sonde is volgens die Bybel nie net ʼn persoonlike saak tussen indiwidue en God nie. Nee, sonde versteur ook die welsyn van die hele groep, dit beïnvloed die welwese van die kerk. Wanneer die kerk funksioneer soos wat die Nuwe Testament dit uitstippel, wanneer die kerk ʼn nuwe lewensgemeenskap is waar afsonderlike gelowiges mekaar se belange op die hande dra en God saam dien, dan werk indiwidue se stukkende verhouding met God en met ander rondom hulle negatief in op die res van die groep. Sonde skend altyd verhoudings. Want dit is immers wat sonde ten diepste is; dit versteur die band met God en ander lede van sy aardse familie.

Die Nuwe Testament verwag van gelowiges om die skade wat sonde in die kerk aanrig reg te hanteer. Volgens Matteus 18 moet enige indiwidu wat van probleme bewus is wat die onderlinge verhouding tussen gelowiges versteur privaat met die persoon wat dit veroorsaak gaan praat. As dit nie werk nie, moet nog iemand saamgaan. En as dit ook nie werk nie, moet hierdie probleem met ander gelowiges gedeel word. Eventueel, as geeneen van hierdie stappe om die verhouding tussen indiwidue binne die kerk reg te stel suksesvol is nie, dan moet die skuldige persoon uit die geloofsgemeenskap verwyder word.

Wanneer gelowiges hulle skuldig maak aan verkeerde dade wat teen God se wil indruis, soos dié waarvan ons byvoorbeeld in 1 Korintiërs 5 lees, dan lei die res van die geloofsgemeenskap daaronder. Die sondige lewensstyl van indiwiduele gelowiges werk soos suurdeeg. Indien hierdie verkeerde gedrag nie gekeer word nie, deursuur dit kort voor lank die ganse kerk. Dan word baie ander gelowiges se verhouding met God ook versuur. Daarom moet sonde-doeners begelei word om die verkeerdheid van hulle dade raak te sien en om daarmee op te hou, aangesien dit teen God se wil ingaan en die welwese van die res van die kerk bedreig.

Binne ons hoogs indiwidualistiese samelewing het “tug” ietwat van ʼn klug in die kerk geword. Ons meen ons is verskriklik Bybels as ons daardie kerkmense wat verkeerde dinge doen (gewoonlik ook net diegene wat die sewende gebod oortree!) “onder tug” plaas. Maar doen ons dit reg? Tug beteken regtig nie om oortreders vir hulle dade te straf nie. Dit gaan nie daaroor dat mense teruggekry moet word vir hulle sondes nie. Nee, volgens die Nuwe Testament veronderstel tug dat daar iewers ʼn verhoudingsbreuk bestaan tussen broers  en susters binne God se aardse familie, tussen mense wat mekaar in die oë kyk. Daarom moet dinge wat hierdie onderlinge band bedreig so gou en effektief as moontlik verwyder word! Tug wil altyd herstel, heelmaak, versoening bewerk. Dit wil ʼn einde aan sonde se heerskappy in die kerk maak.

Volgens die Bybel is daar ook sprake van tug indien een van God se kinders lelike dinge doen dat dit die res van sy aardse familie beïnvloed, siek maak. Dan moet ander gelowiges alles in hulle vermoë doen om die sonde-doener terug te bring op die regte pad. Tug het ten doel om die vrede, God se vrede, te herstel. Dit wil die oortreders altyd met liefde terugwen sodat God se eer en sy vrede binne die kerk gehandhaaf word.  Wanneer die kerk dus die idee van “strafekspedisies” teen sondaars laat vaar, en in alle erns begin om die gebroke verhoudings tussen gelowiges onderling, en tussen indiwidue en God, te herstel, dan funksioneer “tug” reg. Dan slaag dit.

 

c. Die kerk is ʼn profetiese gemeenskap

Die kerk se taak teen sonde is om eerstens voor hulle eie voordeur te vee. Met ander woorde, die onderlinge probleme binne die kerk moet uitgesorteer word. Gelowiges moet leer om in harmonie met mekaar te leef. En mense wat hulle skuldig maak aan verkeerde dade moet geleer word om op te hou daarmee. Dan alleen staan die kerk ʼn kans om ʼn eksemplariese gemeenskap te wees. Dan kan die kerk regtig na buite toe iets van God se liefde weerkaats. In die eenheid tussen gelowiges en God, maar ook tussen gelowiges onder mekaar, word die liefde van God na buite toe sigbaar.

Die kerk moet ʼn eksemplariese gemeenskap wees wat God se liefde weerkaats. Maar die kerk moet ook ʼn profetiese gemeenskap wees wat sy wil onverskrokke aan die wêreld bekendmaak. Want die res van die wêreld behoort immers ook aan God, al wapper daar ʼn vreemde vlag oor hierdie grondgebied. Wanneer sonde hoogty vier in die wêreld, dan het die kerk ʼn reg om daaroor te praat. Maar dan moet daar reg gepraat word. Dit help veel die kerk val gedurig net die simptome van die sonde aan en nie die oorsaak self nie. Dit help min die kerk is van vroeg tot laat op kruisvaarte teen verkeerde dinge in die samelewing en vergeet dan dat sonde ten diepste oor stukkende verhoudings handel, oor mense wat weier om voor God se wil te buig. In haar profetiese taak moet die kerk dit duidelik maak dat sonde die oortreding van God se wil is, dat dit die skending van ʼn heilige verhouding met Hom is.

Die kerk moet daarteen waak om voor die voet teen alles en almal te wees wat nie presies dink of praat of doen soos kerkmense nie. ʼn Negatiewe, kritikasterige gesindheid jeens ander buite die grense van die kerk se deure is hoegenaamd nie die manier hoe God se grootheid uitgedra moet word nie. Aan die ander kant is dit net so gevaarlik om almal daar buite ter wille te probeer wees. Wanneer kerkmense agteroor probeer buig om almal gelukkig te hou en vir niemand ʼn aanstoot te wees nie, dan is die kerk nie regtig volledig kerk nie. Want die kerk is immers ʼn alternatiewe gemeenskap in hierdie wêreld. Die kerk is ʼn eksemplariese gemeenskap wat God se goedheid en sy vergifnis weerkaats. Maar dit is ook ʼn profetiese gemeenskap wat protesteer teen onreg, teen sonde in al sy verskyningsvorme.

Vir te lank was die kerk veral geïnteresseerd in die ontmaskering van morele oortredings, terwyl dinge soos sosiale ongeregtigheid en diskriminasie dikwels geïgnoreer is. Veels te maklik is die magshebbers van die dag se beleid binne die kerk gesanksioneer terwyl daar ʼn dowe oor na die kant van die noodlydendes en die armes se hulpkrete gedraai is. Om waarlik profete te wees, moet die kerk baie naby aan God stap, kort op sy hakke! Want ʼn kerk wat God se stem goed hoor, sal ook die moed hê om sy spreekbuis te wees, om sonde te ontmasker.

Sonde is oral rondom ons te sien. Christus is die volkome antwoord op hierdie probleem. Hy spesialiseer daarin om stukkende verhoudings reg te maak. Hy versoen mense en God, en Hy versoen mense met mekaar. Dit is die wonderlike boodskap wat die kerk mag verkondig, die boodskap van genade. Sonde is nie skoppensboer nie. God se Seun het dit oorroep. Hy het sonde kom troef, tot vandag toe nog!

Outeur: Dr Stephan Joubert