True compassion is more than flinging a coin to a beggar; it is not haphazard and superficial. It comes to see that an edifice that produces beggars needs restructuring. -Martin Luther King, Jr. (1929-1968)
Hoekom kan ek nie my foute raaksien nie?
Baie Christene het ooglopende karakterfoute wat beide hulle vreugde en Christelike getuienis vernietig. Ons natuurlike deugde is die gevolg van ingebore temperament en opvoeding in die gesin. Deugde, gawes en temperament het ook ‘n donker kant – nie ‘n hart gevul met genade nie, maar met allerlei afgode.
Sonder ‘n deeglike kennis van die evangelie, kyk ons na ander dinge: goedkeuring deur mense, verhoudings, prestasies, mag, selfdissipline, ens. Maar hierdie is tog goeie dinge. Reg, behalwe as hulle vir ons belangriker as God word. Nou gebruik ons ons gawes in diens van afgode.
Mense sien nie hulle foute nie, want hulle konsentreer op hulle deugde. Hoe kan ons hulle wakker skud? Tim Keller gee ‘n paar beginsels wat hy uit die briewe van Newton geleer het:
- Die ergste karakterfoute is dié wat jy die moeilikste raaksien
Die sondes waarvoor jy die blindste is, waarvoor jy verskoning maak, wat jy minimaliseer, is juis die sondes wat jou in hulle greep het. Ons steek ons foute weg juis daar waar ons temperament soos geestelike vrugte lyk . So kan ‘n natuurlike gawe vir beheer en selfdissipline met getrouheid verwar word en die begeerte om deur mense erken te word met liefde en teerheid verwar word. Ons gee ons geestelike krediet vir hierdie dinge, maar intussen groei ons geestelik niks nie. Die afwesigheid van ander vrugte wys dat ‘n ware transformasie van ons karakter nie plaasgevind het nie.
- Jy kan nie weet van jou grootste foute net deur daarvan vertel te word nie.
Daar is twee maniere om ons foute raak te sien. Die een manier is deur die probleme in ons lewens. Swaarkry is God se gimnasium – dit ontbloot ons geestelike swakhede net soos oefening ons fisiese swakhede ontbloot.
Ons leer ook by Christelike rolmodelle. Jy word oortuig as jy naby aan iemand leef wat leef soos jy behoort te leef. Jy mag dalk dink jy is nie ongeduldig nie totdat jy in die teenwoordigheid van ‘n baie geduldige persoon kom. Ons moet van hierdie geleenthede om te groei, gebruik maak. Dit is pynlik – om in hierdie mense se teenwoordigheid te wees, maak jou ongemaklik.
- Wees gewillig om na die teregwysing en kritiek van ander te luister.
Natuurlik gaan ons alles in ons vermoë doen om onsself te regverdig. Hoe moet ons dan optree? Ons moet ‘n gemeenskap skep soos die een in Hebreërs 3:13: Maar solank daar nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. Kry gelowiges wat jy vertrou en vra hulle om met jou te praat oor waar jy nog moet groei. Jy moet ook leer om te leer uit die kritiek van mense wat verkeerde motiewe het – of selfs by diegene wat jy nie respekteer nie. Al is net 20% van wat hulle sê waar, mag dit God wees wat deur hulle met jou praat.
In ‘n volgende artikel gaan ons kyk hoe ons hierdie veranderinge wat nodig is, maak.