Straf God sonde op aarde? (2) – Francois Malan
Jan Smith vra:
In die artikel Straf God Sonde op Aarde? sê prof Malan onder meer: “mense wat nie aan Jesus behoort en Hom volg nie, word gestraf”. Vir mense wat glo dat Jesus God is en in ons plek die sondestraf aan die kruis gedra het “verander die straf in tug”. Verder: “Met allerhande beproewings word die egtheid van ons geloof getoets —“. Kan mens dan sê die ongelowige word met kanker “gestraf” en die gelowige daardeur “beproef”?
Antwoord
Prof Francois Malan antwoord:
Toe die mens soos God wou wees (Gen 3:5-6) en God se wyse gebod (2:17) oortree het (3:11,17), het lyding en dood deel geword van die mens se bestaan (Gen.3:16-19). Die Bybelskrywers sien siekte, lyding en dood as die straf van God op die sonde van die mense teen Hom deur die oortreding van sy gebooie. Deur sy gebooie wys Hy vir ons die ware lewe aan, die lewe wat God vir ons bedoel het (vgl. bv. Genesis 2:17; Psalm 51:5-7; Markus 2:2-5; Johannes 5:14).
Deur God se genade het die mens nie dadelik gesterf nie. So is die mens se lyding nie net straf op die sonde nie, maar ook ‘n middel van sy genade. Die doel van straf is om die reg van God te herstel, wat deur die sonde geskend is, om oortredings wat begaan is te herstel (Deutr.13:5; 17:12; 24:7) en toekomstige oortredings te voorkom (Deutr.13:11; 17:13; 19:20; 21:21). Die lewende, heilige God behandel die skuldige nie as ‘n onskuldige nie, voor Hom is die hele wêreld strafwaardig (Rom.3:19), Hy trek niemand voor nie, maar vergeld elkeen volgens sy dade (Rom.2:1-11).
Lyding is dikwels die gevolg van ‘n persoonlike sonde of ‘n sondige lewenswyse, soos bv. dronkenskap of onsedelikheid, roekeloosheid, ens., of die gevolg van ‘n hele familie of geslag of volk of van die mensheid se oortreding van die wil van die Here, en kan ‘n pes bv. uitbreek as gevolg van die mens se besoedeling van die water. So is daar ook ‘n verband tussen die gevalle mens en die verwoeste aarde (vgl. Gen 3:17-18; Rom 8:19-22).
Die strawwe wat God in hierdie lewe op die mens se sonde en selfsug ingestel het, is die mens se wete van sy skuld voor God, sy fisiese of geestelike lyding, die dood (plotseling of uitgerek) en die heerskappy van die satan as die owerste van hierdie wêreld (2 Kor 4:4).
Die Nuwe Testament sien ook die mens se sonde en die duiwel se werking agter siekte en lyding en dood. Jesus sê die duiwel was van die begin af ‘n moordenaar (Joh.8:44). Jesus verlos mense van hulle sonde en genees hulle. Vir die verlamde wat bedlêend was sê Hy: jou sondes word vergewe, en om sy volmag om sonde te vergewe te bewys beveel Hy om op te staan, en die verlamde staan op en loop (Mat.9:1-7). ‘n Man wat stom was omdat hy in die mag van die duiwel was, word genees deurdat Jesus die duiwel uitdryf (Mat.9:32-33). Jesus verkondig die evangelie, die goeie boodskap, deur mense te leer en elke soort siekte en kwaal gesond te maak (Mat.9:35). Self loop Hy die lydensweg tot in die dood, om die dood vir ons ‘n deurgang te maak na die lewe saam met Hom.
Jesus is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh.1:29). Hy dra die straf op ons sonde, en die mense wat in God glo wat vir Jesus uit die dood opgewek het, word deur God as sy kinders aangeneem en hulle word vrygespreek van hulle sonde (Rom.4:25-25). Ons skuld maak lyding tot straf. Maar omdat ons skuld op Jesus gelaai is, verander die karakter van ons lyding. Die dood bly vir gelowiges en ongelowiges dieselfde, maar vir ongelowiges is dit straf en vir die gelowiges ‘n deurgang na die ewige lewe saam met Jesus. Siekte tref gelowiges en ongelowiges, maar God spaar ook ongelowiges (Gen.18:26); Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges Mat.5:45) en Jesus genees tien melaatses waarvan net een terugdraai om aan God die eer te gee en gered word (Luk 17:11-19).
Die lyding van die gelowige is dikwels nie die gevolg van sy persoonlike sonde nie, maar van die sonde van die mensheid; en die doel daarvan die heil van die mensheid en die eer van God. Lyding is nie slegs ‘n vergelding nie, maar is ook ‘n beproewing en dissipline (Deutr.8:5; Spr. 3:12; Hebr.12:6-11; Openb.3:19), ‘n versterking en bevestiging (Ps.119:67,71; Rom.5:3-5; Jak.1:2-4), ‘n getuienis vir die waarheid (Ps.44:23; Hand.5:41; Flp.1:29) tot verheerliking van God (Joh.9:2). In Christus is lyding die weg na heerlikheid (Rom.8:17). Die kruis wys heen na die kroon (2 Tim.4:6-8).
Uit die lyding wat vir iemand tref, kan nie afgelei word dat dit ‘n straf is op ‘n spesifieke sonde van die persoon nie (vgl. Jesus se woorde in Lukas 13:1-5, en sy antwoord in Joh.9:1-3). Gelowiges en ongelowiges word verkoue of kry kanker as die natuurlike verloop in ons sondige wêreld. Vir die gelowige is dit egter nie net ‘n straf nie, maar ‘n beproewing en opvoeding van die Here. God laat alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet (Rom 8:28) en niks kan ons skei van die liefde van God wat daar is in Christus Jesus ons Here nie, nie lyding of selfs die dood nie (Rom 8:31-39). Daarom kan jy nie sê kanker of verkoue of watter siekte of gebrek ook al is ‘n straf of ‘n tug van God op ‘n bepaalde persoon nie. Maar jy kan wel sê dat God by die gelowige is in sy lyding.
Skrywer: Prof Francois Malan