Sondebelydenis – Jan van der Watt

Martie vra:

Ek het onlangs die argument gehoor dat daar nerens in die Bybel staan dat na Jesus se kruisdood, ons nog ons sondes moet bely nie, want Jesus het reeds vir dit aan die kruis gesterf.

  1. Is dit so dat ons nie ons sondes moet bely voor God nie?
  2. Is dit so dat ons nie skuldig moet voel oor ons sonde nie?

 

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

  1. Die argument wat jy gehoor het, is nie reg nie. Kyk maar net na die bekende 1 Joh 1:7-2:2, waar daar van sondebelydenis gepraat word. Die mense van wie hier gepraat word is Christene wat na Jesus se dood aan die kruis geleef het. Hulle word aangemoedig om hulle sonde te bely sodat die bloed van Jesus hulle van hulle sonde kan reinig. God sal hulle dan vergewe, daarvan kan hulle seker wees. ’n Mens moet onthou dat belydenis van sonde beteken dat jy jou verhouding met God, wat jy deur jou verkeerde optrede geskend het, wil regmaak. Jy moet met ander woorde, weet wat jy verkeerd gedoen het, dit vir God sê, om verkoning vra en onderneem om dit nie weer te doen nie. So herstel jy weer jou verhouding met God. Ons liefdevolle God sal jou vergewe en jou sonde oorsien.
  2. Die oomblik dat ons as kinders van God gebore word, verander ons status in die oë van God – ons behoort dan aan sy familie. Ons is dan van ons sonde vrygekoop – lees maar Kol 2:11-15 waar daar beskryf word hoe die ou mens begrawe word en die nuwe mens soos Jesus opstaan, met ons sonde wat aan die kruis vasgespyker is. Ons het dus ’n nuwe status as mense wat saam met Jesus opgestaan het. Tog, net ’n paar verse verder in Kolossense (2:20-3:1-17), word daar gesê dat gelowiges, met die nuwe status as God se kinders nog foute maak, maar dat dit ’n duidelike doel in hulle lewens moet wees om soos Jesus te leef. (3:1-2, 9-10). Gelowiges kan dus nog sonde doen, maar moet aktief daarteen veg en elke dag probeer om te leef soos Jesus wil hê. Kolossense praat wel nie van sondebelydenis nie, maar gebruik die beeld van ‘klere uittrek’ – die klere is die sondige dinge wat hulle doen, waarvan hulle ontslae moet raak, terwyl hulle in die plek daarvan skoon klere (soos liefde vergifnis, vriendelikheid ens.) moet aantrek (Kol 3:5-17). ’n Gelowige moet natuurlik ongelukkig voel oor dit wat hy of sy verkeerd doen, want dit maak die Here nie gelukkig nie. Dit is nie hoe ’n kind van die Here optree nie. Aan die ander kant, as jy bewus raak van sonde in jou lewe, moet jy dit dadelik bely, want dit belemmer jou verhouding met die Here en dit is nooit goed nie. Om nie bekommerd te wees oor dit wat jy verkeerd doen en werk daarvan te maak deur sondebelydenis nie, is om in die hande van die duiwel te speel. God se vergifnis mag nooit maak dat ons gewoond raak aan sonde omdat Hy so liefdevol is om ons altyd te vergewe as ons ons sonde bely nie (Rom 6:1). Kies liewer die pad van heiligmaking deur sonde in jou lewe ‘uit te trek’.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Sondebelydenis

Vraag:

Elma Viljoen vra:

SONDEBELYDENIS. Ek wil graag weet of dit nodig/verpligtend is, volgens die Woord, om jou sondes te bely voor vreemdes of bekendes soos byvoorbeeld Selgroepkennisse, of is dit genoegsaam om dit ‘n saak tussen jou en God reg te maak. Sal jy volkome vry wees as jy dit teenoor God bely of teenoor vriende of kennisse en dan saam daaroor te bid?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die vraag illustreer ʼn baie belangrike punt van Bybellees. Laat ons begin om te sê dat sondebelydenis onontbeerlik vir ʼn gelowige is. Lees wat daar elders op die webblad daaroor staan. Dit gaan oor die regstel en reg hou van my verhouding met die Here en met sy mense. Dit is dus soos God se medisyne vir my verhouding met Hom.

Nou die vraag of ek dit voor my selgroep en vriende moet doen. In die tyd toe Jesus geleef het, was die groep (familie, selfs dorp) baie belangriker as die individu. Die families het ook nie so privaat van mekaar geleef soos ons nie en het eintlik omtrent alles van mekaar geweet. (Dink aan klein plattelandse dorpies). In so ʼn noue klein samelewing was verhoudings natuurlik baie belangrik, want die mense het elke dag saam met mekaar geleef en in mekaar vasgeloop (hulle het ook wat ons noem ‘uitgebreide families’ gehad wat nie net jou bloedfamilie ingesluit het nie, maar ook jou werkers en vriende). As daar dus spanning tussen twee mense gekom het, moes dit dadelik uitgeskakel gewees het, sodat die verhoudings weer normaal kon wees. Die hele groep het gewoonlik van die spanning tussen twee geweet en almal is dus geaffekteer. Om alles in die groep weer reg te kry, moes die saak voor almal opgelos word. Hulle het dit nie as negatief beleef of as kritiek teen die persoon wat die fout gemaak het en nou bely nie. Nee, hulle het dit gesien soos ʼn sieke wat dokter toe gaan. Almal help saam om hom of haar weer gesond te kry. As die saak dan opgelos is en die verhoudings is herstel, gaan almal doodgelukkig aan met die lewe. So werk dit ook met ons verhouding met God – ons moet ons verhouding met Hom gedurig suiwer hou.

Kom ons egter na vandag toe, is daar ʼn groot verskil. Ons leef baie meer individueel en alleen, hoewel ons vriende het. Ons ken nie meer almal in die dorp of stad nie. Ons hele sosiale opset en verwagtinge is anders as wat dit in die Bybelse tyd was. Nou moet ons vra: as ek nou baie persoonlike sake met mense bespreek, hoe ervaar hulle dit en wat gebeur daarna? Ons mense beleef dit nie meer vandag soos in die verlede as die groepie wat gesond gemaak word nie. Juis daarom veroorsaak die uitpratery meer moeilikheid as wat dit oplos. Ons is nie meer gewoond aan ‘openbare belydenisse’ nie en nêrens doen ʼn mens dit nie. Jy kan soms in so situasie dinge sê wat jou baie kan blootstel, veral aan mense wat jou nie heeltemal goedgesind is nie. Dit word altyd later as ‘ammunisie’ teen jou gebruik. Boonop raak mense soms nog kwater vir mekaar in die proses en die slegste is dat ʼn mens dit wat jy sê nie daarna kan ‘beheer’ nie. Mense praat en skinder daaroor en op die ou einde ly jy nog meer skade.

Dus: wees BAIE versigtig met uitpratery. Voor jy dit doen, dink tweemaal. Dit beteken egter nie dat jy alles in jou vermoë moet doen om jou verhoudinge en veral die verhouding met God so normaal en goed as moontlik moet hou nie.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




God se gesondheidsplan (Sonde en sondebelydenis)

God se gesondheidsplan (Sonde en sondebelydenis)

Niemand van ons is perfek nie. Ons het almal ons foute en maak God soms maar ongelukkig. Maar die Here ken ons darem ook en weet ons maak foute. Dit is daarom dat Hy ʼn gesondheidsplan vir ons uitgewerk het.

Ons moet weet dat as ons God se kinders is, ons nie ophou om sy kinders te wees as ons foute maak nie. Ons bly sy kinders, al is ons soms maar net sy stout kinders. God wil egter nie hê dat ons stout moet bly nie. Nee, Hy wil hê dat ons verhouding met Hom sterk en mooi moet wees. Daarom vra Hy dat as ons iets verkeerd doen, ons dit nie moet los nie. Dan word dit soos ʼn bakterie wat in ʼn vrug is. As jy dit los maak dit vinnig die hele vrug vrot. Nee, jy moet so gou as moontlik van daai fout voor die Here ontslae kom raak. Jy moet dit met Hom kom uitpraat. Hy wag vir jou om dit te doen. Op die manier kan jy geestelik gesond bly, want as die “sonde bakterieë” nie kans kry om in jou te groei nie, sal jy ook nie geestelik siek word nie. Bely dus ʼn sonde so gou as moontlik. Dit sal jou gesond hou.

 

Maar wat beteken dit om sonde te bely? Dit behels drie dinge (lees ook 1 Johannes 1:8-10):

  • Jy moet erken dat jy ʼn fout gemaak het. Sondebelydenis is dus baie spesifiek. Jy bely nie maar net so in die algemeen nie. Jy wys die “sonde-bakterie” in jou lewe uit, want dit is spesifiek daarvan dat jy ontslae moet raak. As dit oneerlikheid is, dan wys jy dit uit; as dit humeurigheid is, of skinder, of vloek of wat ook al, jy wys dit uit en erken dat jy daar gefouteer het. Sondebelydenis is dus baie spesifiek.
  • Die tweede ding is dat jy in jou hart en verstand daarvan ontslae moet raak. Dit is baie keer die moeilikste, want jy moet vir die ding wat jy verkeerd doen totsiens sê, vir altyd. Jy moet vir die Here sê jy wil dit nooit weer doen nie en vir Hom vra om jou daarmee te help. Jy moet dus finaal daarvan afskeid neem.
  • Die derde ding is om net weer vir die Here te sê dat jy Hom en Hom alleen graag wil dien. Jy soek nie iemand anders om te dien nie, nie eers jouself nie. Daarom wil jy aan Hom gehoorsaam wees. Wy jouself so aan die Here toe en vra Hom om elke dag, nee, elke tree saam met jou te wees. En as die sonde jou weer bekruip, hou Jesus se hand styf vas en daai sonde sal nie ʼn kans hê nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy