Moet ons ons sondes bely? – Jan van der Watt

Martie vra:

Ek het onlangs die argument gehoor dat daar nerens in die Bybel staan dat na Jesus se kruisdood, ons nog ons sondes moet bely nie, want Jesus het reeds vir dit aan die kruis gesterf.

  1. Is dit so dat ons nie ons sondes moet bely voor God nie?
  2. Is dit so dat ons nie skuldig moet voel oor ons sonde nie?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

  1. Die argument wat jy gehoor het, is nie reg nie. Kyk maar net na die bekende 1 Joh 1:7-2:2, waar daar van sondebelydenis gepraat word. Die mense van wie hier gepraat word is Christene wat na Jesus se dood aan die kruis geleef het. Hulle word aangemoedig om hulle sonde te bely sodat die bloed van Jesus hulle van hulle sonde kan reinig. God sal hulle dan vergewe, daarvan kan hulle seker wees. ’n Mens moet onthou dat belydenis van sonde beteken dat jy jou verhouding met God, wat jy deur jou verkeerde optrede geskend het, wil regmaak. Jy moet met ander woorde, weet wat jy verkeerd gedoen het, dit vir God sê, om verkoning vra en onderneem om dit nie weer te doen nie. So herstel jy weer jou verhouding met God. Ons liefdevolle God sal jou vergewe en jou sonde oorsien.
  2. Die oomblik dat ons as kinders van God gebore word, verander ons status in die oë van God – ons behoort dan aan sy familie. Ons is dan van ons sonde vrygekoop – lees maar Kol 2:11-15 waar daar beskryf word hoe die ou mens begrawe word en die nuwe mens soos Jesus opstaan, met ons sonde wat aan die kruis vasgespyker is. Ons het dus ’n nuwe status as mense wat saam met Jesus opgestaan het. Tog, net ’n paar verse verder in Kolossense (2:20-3:1-17), word daar gesê dat gelowiges, met die nuwe status as God se kinders nog foute maak, maar dat dit ’n duidelike doel in hulle lewens moet wees om soos Jesus te leef. (3:1-2, 9-10). Gelowiges kan dus nog sonde doen, maar moet aktief daarteen veg en elke dag probeer om te leef soos Jesus wil hê. Kolossense praat wel nie van sondebelydenis nie, maar gebruik die beeld van ‘klere uittrek’ – die klere is die sondige dinge wat hulle doen, waarvan hulle ontslae moet raak, terwyl hulle in die plek daarvan skoon klere (soos liefde vergifnis, vriendelikheid ens.) moet aantrek (Kol 3:5-17). ’n Gelowige moet natuurlik ongelukkig voel oor dit wat hy of sy verkeerd doen, want dit maak die Here nie gelukkig nie. Dit is nie hoe ’n kind van die Here optree nie. Aan die ander kant, as jy bewus raak van sonde in jou lewe, moet jy dit dadelik bely, want dit belemmer jou verhouding met die Here en dit is nooit goed nie. Om nie bekommerd te wees oor dit wat jy verkeerd doen en werk daarvan te maak deur sondebelydenis nie, is om in die hande van die duiwel te speel. God se vergifnis mag nooit maak dat ons gewoond raak aan sonde omdat Hy so liefdevol is om ons altyd te vergewe as ons ons sonde bely nie (Rom 6:1). Kies liewer die pad van heiligmaking deur sonde in jou lewe ‘uit te trek’.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Verband tussen eenmalige vergifnis en voortdurende pleit om vergifnis – Hermie van Zyl

Vraag

Boodskapteks: Ons sonde word/is vergewe omdat ons glo. Ons glo ook dat daar vir ons sondes betaal is aan die kruis, deur die bloed van Jesus. Waarom bid ons dan nog altyd en vra dat ons sondes vergewe moet word? Glo ons dit nie werklik nie?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die antwoord op ons vraagsteller se vraag is kort en kragtig: albei is tegelyk waar. Ons word vir eens en vir altyd opgeneem in God se genade wanneer Hy ons sonde in Christus Jesus vergewe, maar dis ook deel van die normale geloofslewe om daagliks te bid dat God ons sonde sal vergewe, soos Jesus ons in die Ons Vader-gebed geleer het (Matteus 6:12): “Vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.”

Maar kom ek verduidelik hierdie waarheid breedvoeriger.

God vergewe omdat Hy goed is

Voordat ek ingaan op die verhouding tussen eenmalige en voortdurende vergifnis, moet ons eers een tree terug neem en vra: Hoekom vergewe God ons sonde? Ek handel spesifiek hieroor omdat die vraagsteller sê dat God vergewe omdat ons glo dat daar vir ons sondes betaal is aan die kruis. Paulus verwoord hierdie gedagte in Romeine 5:8 so: “God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” In Christus versoen God Homself met die sondige wêreld en reken Hy die mense hulle oortredinge nie toe nie (2 Korintiërs 5:19). Die vergifnis is dáár, beskikbaar; die genade-fees is gereed gemaak in Christus. Nou wag God met ’n oop hart en uitgestrekte arms vir die wêreld om die uitnodiging te aanvaar en die genade-fees te kom geniet. En dit doen ons wanneer ons glo, dit wil sê, wanneer ons besef dat ons niks uit onsself vir God kan aanbied op grond waarvan Hy ons sondes moet vergewe nie. Nee, Hy doen dit enkel en alleen omdat Hy genadig en goed is, én omdat Hy die regsbasis vir die vergifnis van sonde daargestel het, naamlik deur Christus in ons plek vir ons sonde te straf. God sien dus nie die sonde oor nie, maar straf dit aan Christus. Hy spreek ons vry omdat Hy Christus soos ’n sondaar in ons plek behandel het (2 Korintiërs 5:21).

As God vergewe, doen Hy dit vir eens en altyd

Vervolgens ontstaan die vraag: As God ons vergewe omdat Hy goed is en omdat Hy ons sonde aan Christus gestraf het, hoe lank bly dit geldig? Is God se vergifnis afhanklik van ons voortdurende sondebelydenis en smeking om vergifnis om so seker te maak dat ons nie sy guns en vergifnis verloor nie? Met ander woorde, veroorsaak God se vergifnis nie ’n soort blywende onsekerheid of selfs angstigheid by die gelowige nie? Waar staan ek werklik op die langtermyn met God? Byvoorbeeld, wat van sondes wat ek nog nie bely het nie? Of sondes waarvan ek nie eens bewus is nie? Of sondes wat ek nog gaan doen? Plaas hierdie onbelede sondes nie my verhouding met God in gevaar nie? Beteken dit dat ek op ’n wilde soektog moet gaan na al my vermeende en onontdekte sondes sodat ek dit kan bely ten einde daarvoor vergewe te word?

Hierop kan ons onomwonde antwoord dat die verhouding met God nie ’n quid pro quo-een (“iets vir iets”) is nie. Dit beteken: Dit is nie so dat vir elke moontlike ding wat mag skeefloop in hierdie verhouding God van ons ’n gepaste “teenprestasie” verwag om weer die verhouding te herstel nie. En indien hierdie teenprestasie nie gelewer word nie, dan verbeur ons die seën van God en dreig die verhouding om tot niet te gaan. Nee, die gelowige rus vir tyd en ewigheid in ’n geborge en veilige verhouding met God. Ons is nie vasgevang in ’n wettiese opset waar ons suutjies moet trap en gedurig senuagtig oor die skouer loer of ons God nie dalk geaffronteer het nie. Nee, ons is soos kinders in die ouerhuis. Vir seker is alles nie perfek nie; baie dinge loop verkeerd; daar is onbelede sondes; ons selfinsig is nooit volmaak nie. Maar by God as Vader het ons tuisgekom, rustig geword. Sy Seun het immers gesê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matteus 11:28). By God is daar rus, kalmte, geborgenheid en vreugde. Wat meer is, dis ’n liefdesverhouding, en ware liefde dryf die vrees na buite (1 Johannes 4:18). Ons het die Gees van vryheid ontvang wat maak dat ons nie die hele tyd in vrees en onsekerheid lewe nie. Die Gees maak ons tot kinders van God, en as kinders is ons sy ewige erfgename (Romeine 8:15-17). En niemand kan ons aankla of beskuldig dat ons vanweë ons onvolmaaktheid nie vir tyd en ewigheid aan Hom behoort nie. Niks in die hemel of op die aarde kan ons skei van God se liefde in Christus nie, nie eens ons onbelede sondes nie (Romeine 8:31-39).

So gesien is dit nie voorbarig nie maar juis tekenend van kinderlike vertroue wanneer ons sê: Daar is geen plek vir onsekerheid en angs in die verhouding met God nie. Ook my onbelede, onbekende én toekomstige sondes is vergewe. My totale gebrokenheid word ondervang deur God se vergifnis wat ten diepste nie afhanklik is van my belydenis van sonde nie, maar van sy genade en liefde in Christus.

Eenmalige vergifnis en voortdurende pleit om vergifnis is keersye van mekaar

Nou kom ons by die spesifieke vraag van ons vraagsteller: Hoe pas sondebelydenis en pleit om God se vergifnis in die normale geloofsverhouding met God in? Anders gestel: Lei berou en sondebelydenis tot geloof in God, of is dit andersom: Berou en sondebelydenis vloei voort uit die geloofsverhouding met God?

Ideaal gesproke behoort ’n “sondebesef” tot geloof in God te lei, maar die geskiedenis leer ons dat dit nie altyd die geval is nie. Hier kan ons dink aan Judas Iskariot. Ja, hy het tot ’n bepaalde sondebesef gekom net nadat hy Jesus verraai het (Matteus 27:3-4), maar dit het nie tot sy redding gelei nie; inteendeel, hy het in wanhoop homself gaan ophang.

Wat eintlik gebeur, is dat die aanvanklike ontmoeting met God lei tot sondebesef, soos Petrus ervaar het tydens die wonderbaarlike visvangs (Lukas 5:8). Hy is so oorstelp deur hierdie gebeure dat hy uitroep: “Gaan weg van my af Here, want ek is ’n sondige mens.” Hy besef hy is op heilige grond, dat hy in die teenwoordigheid van die Heilige is, en dat hy ’n sondaar is. Dit het ook gebeur toe Johannes die Doper met sy prediking begin het: “Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe” (Lukas 3:3). Hierop het die mense in groot getalle na hom uitgegaan en hulle sondes bely, en gevra wat hulle te doen staan (Lukas 3:7,10-14). In die lig van die ontsagwekkende teenwoordigheid van God se koninkryk is daar net een gepaste reaksie: Sondebesef, skuldbelydenis, ontvangs van God se vergifnis in die geloof, en ’n lewe wat in pas is met God se wil. Maar hierdie aanvanklike daad van geloof moet deel word van die normale geloofslewe. Die groeiende besef van wie God en wie ek is, wat voortvloei uit die groeiproses in ’n normale geloofslewe, lei tot verdieping in sondebesef en -belydenis. Opregte boetvaardigheid word gebore, én verdiep algaande, vanuit die geloofsverhouding met God. Dit is die logiese uitvloeisel van ’n lewe coram Deo (“voor die aangesig van God”).

In hierdie verband het Calvyn gepraat van die Christelike lewe as een van mortificatio en vivificatio, wat beteken: die doding of kruisiging van die vlees (die ou natuur), en die opstanding van die nuwe mens, die vernuwing tot ’n lewe in Christus. So gesien vorm mortificatio en vivificatio keersye van mekaar; beter gestel: die doding van die ou natuur vind plaas vanuit die vernuwing van my lewe in Christus. Hoe nader ek aan Christus leef, hoe meer ek die nuwe mens in Christus ervaar en uitleef – hoe meer haat ek my ou natuur en kruisig ek dit. Die belydenis van sonde en smeking om God se vergifnis is dus nie net ’n eenmalige daad van berou nie, maar deel van ’n lewenslange groei na Christus toe. Hoe meer ek my aan Christus verbind, hoe meer ontdek ek my sonde en wek dit voortdurend die behoefte om my sonde te bely en God te smeek om vergifnis. Uiteraard nie op ’n vreesagtige en patologiese manier nie; dit is net die spontane uitvloeisel van ’n lewe saam met Christus. Ek ontdek en erken algaande die waarheid van Romeine 3:23: “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie.” Die Christelike lewe bestaan derhalwe daarin om dood te wees vir die sonde (mortificatio), maar te lewe vir God (vivificatio), omdat ons een is met Christus (Romeine 6:11).

So gesien is daar geen teenstrydigheid tussen die feit dat ek vir tyd en ewigheid deur God vergewe is, enersyds, en die behoefte om voortdurend God se vergifnis te soek nie, andersyds. Laasgenoemde is die uitvloeisel van ’n lewe in die teenwoordigheid van God.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Is die dra van juwele sonde? – Francois Malan

Leser vra:

Ek het n getuienis van n ene Dave Griesel gehoor wat n satanis was en toe bekeer is. Hy praat van sigarette wat so n sonde is asook juwele dra, selfs n kruisie om die nek. Is dit waar dat dit teen die Christen geloof is om n kruisie te dra?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Daar word nêrens in die Bybel gesê dat rook sonde is nie. Maar rook benadeel ’n mens se hele gestel. In die eerste plek is dit sleg vir jou longe, en kan dit lei tot longkanker. Die baarmoeder van ’n vrou wat rook raak verskrompeld en affekteer die baba wat gebore moet word, dikwels met een of ander swakheid. Daarby is dit sleg vir jou hart wat die hele bloedsomloop affekteer. Rook is ook verslawend en maak van die roker ’n slaaf wat nie kan loskom van sy slegte gewoonte nie. Rook maak jou smaakpapille dood sodat jy nie meer kan proe nie. En rook maak jou omgewing ongewens, en affekteer die mense wat saam met jou leef se organe.

Jesus het gesê ons liggame is belangriker as klere (Luk 12:23; Matt 6:25).

Paulus sê in 1 Kor 6:12: Alles is my geoorloof, maar nie alles is voordelig  nie. Alles is my geoorloof, maar ek sal my deur niks laat oorheers nie.’  6:15: Weet julle nie dat julle liggame ledemate van Christus is nie? 6:19-20: ‘Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van die Here ontvang het, ’n tempel is van die Heilige Gees in julle en dat julle nie aan julleself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam.’

’n Kruisie om die nek – die kruis is die teken van ons geloof, wat verkondig dat ons aan die gekruisigde Christus glo. Paulus sê in Galasiërs 6:14 ‘wat my betref, mag dit my tog nie oorkom dat ek spog nie, behalwe oor die kruis van ons Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.’ Die kruisie kan so ’n getuienis lewer van wie jy is en in wie jy glo.

Baie mense dra die kruisie as versiering en nie as ’n getuienis van hulle geloof nie.

Maar of sataniste juwele en selfs die kruisie dra as teken dat hulle nie in Jesus glo nie, weet ek nie.

Petrus raai wel die gelowige vroue aan dat hulle skoonheid nie op uiterlike dinge moet berus nie, soos die vleg van hare, die dra van goue juwele of die aantrek van elegante klere nie; maar op die onverganklike skoonheid van ’n saggeaarde en rustige gees, wat in God se oë baie kosbaar is (1 Petrus 3:3-4). Met uiterlike versiering sal ’n gelowige vrou nie haar ongelowige man vir die Here wen nie (1 Petr 3:1-2). Uiterlike skoonheid is van verbygaande aard en beweeg nie ’n man om hom tot Christus te bekeer nie. Die innerlike skoonheid en voorbeeldige lewenswyse is wel die getuienis van die genade van Christus. In Jesaja 3:18-23 voorspel die profeet dat die Here die versierings van die vroue met die ballingskap sal wegneem, en hy noem ’n hele lys van versierings van die vroue van die ou tyd. In 1 Timoteus 2:9-10 gee Paulus ook raad oor die versierings van gelowige vroue. Maar die dra van ’n kruisie word nie in die Bybel as sonde teen die Here beskou nie. Die vraag is of jy in die Here Jesus glo as die Verlosser van jou sonde en of jy Hom aanvaar as die Here wat die seggenskap het oor die manier waarop jy lewe. God spreek elke mens wat in Jesus Christus glo vry en maak hom sy kind vir wie Hy sorg en lei en versterk.

Skrywer:  Prof Francois Malan




‘n Sondige lewe en vergifnis – Hermie van Zyl

Vraag  Ek het in ‘n huis groot geword met ‘n oop Bybel. Is 40 jaar gelukkig getroud, dienswerker en pa van ‘n pragtige dogter. Ek is bi-seksueel en het met die koms van internet begin om fisiese kontak met mans te hê. Ek het ook gereeld na pornografie op internet gekyk. Het altyd baie skuldig hieroor gevoel, maar net voortgegaan. Nou is ek met blaaskanker gediagnoseer en ewe skielik besef ek dat elke mens ook net soveel genade kan ontvang. Ek het Sondag vir Sondag vroom in die kerk gesit, en dan huis toe gegaan en net met my sondige lewe voortgegaan.

Ek glo dat Christus ook vir my sondes gely en gesterf het, maar het toegelaat dat die versoekings van die wêreld my lewe regeer. Nou het ek berou en wil wegbreek van my verlede, pleit vir vergifnis, en ‘n nuwe begin maak. Ek voel egter dat ek die vergifnis nie verdien nie, want nou eers dat die dood my in die gesig staar, wil ek ewe skielik ‘n ommekeer maak. Het ek nie die onvergeeflike sonde gepleeg teen die Heilige Gees nie? Is God se genade so groot dat ek wat behoorlik in die varkhokke van die wêreld geploeter het, vergifnis kan kry?

 

Antwoord

Die kort antwoord op ons vraagsteller se vraag is ‘n onomwonde en oortuigende: “Ja, God se genade is vir seker so groot dat ons vraagsteller ook vergifnis kan kry!” Maar kom ons brei bietjie hierop uit.

Die probleem met ‘n leefstyl wat opsigtelik nie in ooreenstemming met God se wil is nie, is dat dit jou vervreem van God. Dit gevolg is die opstapeling van skuldgevoelens wat later soos ‘n berg tussen jou en God staan. Mens voel dat God jou op geen manier kan vergewe nie. En so beland mens in ‘n geestelike doodloopstraat. Dan vat die oortuiging ook pos dat jy nie vergifnis verdien nie; jy het te ver gegaan; jou sonde het net te veel en te groot geword. Maar dis nou juis die opspraakwekkende van die evangelie, die goeie nuus van God se genade. Niemand verdien vergifnis nie. Paulus sê baie duidelik in Romeine 3:23-24: “Almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.” Niemand verdien dit om van ‘n ontsaglike en onbetaalbare skuld wat ons by God het, vrygespreek te word nie.

Hierdie punt word treffend geïllustreer deur die gelykenis van die onbarmhartige amptenaar (Matteus 18:23-35). Die man het ‘n onbetaalbare bedrag wat hy sy baas skuld en word dan alles kwytgeskeld. Wat verder gebeur, is natuurlik laakbaar – dat die man dit toe nie oor sy hart kon kry om sy mede-amptenaar, wat hom ‘n geringe bedraggie geskuld het, ook so te vergewe nie. Maar die punt is, ons is almal tot ons ore toe by God in die skuld, daar is geen manier waarop ons God se vergifnis kan verdien nie, en tog skeld Hy ons alles vry omdat Iemand anders klaar daarvoor betaal het – Jesus Christus. Vergifnis is dus per definisie iets wat jy nie kan verdien nie; daar is niks wat ons eers iets kan doen of ‘n “handjie wat ons moet bysit” om dit vir God “makliker” te maak om ons te vergewe nie. Indien God eers ‘n teenprestasie van ons sou verlang, dan was genade nie meer genade nie. Nee, God se genade is radikaal en onverdiend. Hy vergewe omdat Hy genadig is, en ons kan dit alleen in die geloof aangryp en daaruit lewe. Dus, die oomblik as jy naak voor God staan en jy voel jou sonde is te groot om vergewe te word, dan is jy by die regte adres. God spesialiseer daarin om groot sondes te vergewe. Luister wat sê Hy in Jesaja 1:18: “Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol” (1933/53 Vertaling). En Jesaja 55:7: “Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan … hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; … Hy vergewe altyd weer.” En lees gerus die hele Ps 103 om God se hart te beluister. Wat hier uitstaan, is dat God ons sondes van ons verwyder omdat Hy barmhartig en genadig is, lankmoedig en vol liefde. Hy weet maar te goed dat ons broos en stof is, daarom ontferm Hy Hom oor ons.

‘n Mens hoef dus nooit te voel dat jy te sleg is vir God nie. God se hart is oop en Hy ontvang jou net soos jy is. En van daar af begin Hy weer ‘n pad met jou loop om van jou ‘n nuwe mens te maak. Ja, God jou aanvaar net soos jy is, maar Hy los jou nie soos jy is nie. Hy wil van jou uiteindelik iemand maak wat Hom liefhet, van harte dien, en volgens sy wil lewe, uit  dankbaarheid vir die groot verlossing wat Hy jou deel gemaak het.

Waar begin ‘n mens weer die drade met God optel, ná ‘n lewe van sonde, soos ons vraagsteller bely? Jy begin waar jy berou het oor jou sonde, soos wat die verlore seun ervaar het toe hy daar in die ver land tussen die varke gesit en verlang het na sy vaderhuis (Lukas 15:18-20). Hy het opgestaan en teruggegaan en vir sy pa gesê: “Pa, ek het gesondig teen God en teen pa, en is nie meer werd om pa se seun te wees nie.” En wat gebeur toe? Die pa het hom innig jammer gekry (= was hom genadig), en het hom met ope arms verwelkom en weer as seun in sy huis herstel. So werk God se genade. God is nie haatdraend of verwytend nie. Hy gaan jou nie voor stok kry oor jy nou dat jy swaarkry jou ewe skielik tot God wil bekeer nie, maar toe dit goed gegaan het en jy die sonde “geniet” het, toe het jy jou rug op God gekeer. Al wat God raaksien, is ‘n opregte hart en opregte berou en ‘n opregte begeerte om Hom weer te dien. Daarom kon Jesus selfs vir die geharde misdadiger aan die kruis wat sy hele lewe weggesmyt het in misdaad, sê: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Hierdie man het ter elfder ure tot inkeer gekom, maar God het hom nie verwyt en gesê dat dit nou te laat is nie. Vir God is dit nooit te laat om redding te gee nie.

Ons vraagsteller is verder bekommerd dat hy dalk die sonde teen die Heilige Gees begaan het. Hy hoef hom egter nie daaroor te bekommer nie. Die blote feit dat hy berou het oor sy sonde, wys al klaar dat hy nie die sonde teen die Heilige Gees gepleeg het nie. (Hierdie sonde word ook soms die “onvergeeflike sonde” [Matteus 12:31] of “sonde tot die dood” [1 Joh 5:16-17] genoem.) Hierdie sonde gebeur egter net wanneer iemand uit moedswilligheid die werk van die Gees aan die werk van die duiwel toeskryf (Matt 12:22-32) of wanneer iemand volhardend die Here verwerp en so die Gees se werking in sy lewe uitblus (Efesiërs 4:30; 1 Tessalonisense 5:17; Hebreërs 4:4-6; 10:26-31). Maar ons moet die kontekste waar hierdie uitsprake voorkom, deeglik in ag neem. Hierdie uitsprake is in die eerste plek waarskuwings aan gelowiges om nie ligtelik met God se genade in Christus om te gaan nie. Dis nie beskuldigings dat hierdie sonde reeds tot stand gekom het by die lesers nie. En in elk geval, dis nie vir ons om te bepaal wanneer iemand die sonde teen die Heilige Gees gepleeg het nie. Niemand van ons weet wanneer iemand in sy of haar lewe daardie punt van verharding of van geen-omdraai-meer bereik het waar jy nie eens meer omgee of jy gered is of nie. (Want dis die gevolg van die sonde teen die Gees.) Dis nie vir ons om vas te stel nie. Net God, die hartekenner, weet dit. Ons as mense kan alleen maar die evangelie verkondig en waarsku teen totale afval. En dit is duidelik dat ons vraagsteller kennelik nie daar is waar hy nie meer omgee of hy vergewe word of nie, want hy het berou oor sy sonde en het die verlange om weer met God verenig te lewe.

Om dit nog eens te beklemtoon: Die sonde teen die Heilige Gees gaan oor ‘n besondere soort sonde. Alle sonde bevat ‘n element van opsetlikheid en moedswilligheid, maar hierdie sonde gaan daaroor dat mens die enigste manier waarop God kan red, verwerp, of dat jy die offer van die Seun van God bespotlik maak (Hebreërs 6:6), of die Gees hardvogtig oor ‘n lank tyd weerstaan, op so ‘n manier dat God nie toegang tot jou hart kry nie. Want onthou, die enigste manier waarop God jou hart kan sag maak, is deur die werking van sy Gees. Verder, daar is geen ander offer vir redding as die een wat Jesus gebring het nie. As hierdie heilsmiddele verwerp word, dan kan selfs God jou nie vergewe nie, nie omdat Hy nie wil nie of omdat jou sonde te groot is nie, maar omdat jy Hom nie toelaat om dit te doen nie. Jy wil nie sy “medisyne” vir jou sonde aanvaar nie. En God dwing niemand teen sy of haar wil nie. Hy kom altyd met die sagte aanslag van die liefde. Wie hierdie liefdesaanslag volhardend verwerp, word dan later immuun teen God se liefde en wil dan ook geen genesing meer hê nie. Maar, soos reeds gesê, ons as mense moet ons daarvan weerhou om uitsprake oor ander se geestelike gesteldheid te maak. Net God kan daaroor oordeel.

Dit is duidelik dat ons vraagsteller die vergifnis van God begeer. Hy hoef dus nie te vrees dat hy die sonde teen die Heilige Gees begaan het nie. Solank mens nog God se vergifnis wil hê, is jou hart ontvanklik vir sy redding en kan jy sy vergifnis in die geloof omhels en aanvaar.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl