Julle is sout vir die aarde

The doctrines of grace humble a man without degrading him and exalt a man without inflating him. —Charles Hodge

Julle is die sout vir die aarde

Ben Witherington het ‘n baie interessante artikel oor sout op sy blog geskryf. Ons leef in ‘n wêreld waar smaakmiddels oral beskikbaar is. Daarom sukkel ons om beeldspraak soos julle is die sout van die aarde te verstaan. Maar 2000 jaar gelede was sout een van die fondamente van die beskawing. Sonder sout kon kos nie bewaar of vervoer word nie. Romeinse soldate is soms met sout betaal. Ons kry vandag nog die gebruik van sout in sekere van ons idiome soos terug na die soutmyne. Ons besef nie werklik die waarde van sout in ‘n warm klimaat, soos Israel, sonder yskaste nie.

Party teoloë beweer dat sout nie kan verslaan nie. Die sout waarvan in Matteus 5:13 melding gemaak word, was van die Dooie See afkomstig en was vol onsuiwerhede. Hierdie sout het beslis verslaan.

Wat bedoel Jesus as Hy sê: Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi en die mense vertrap dit. Hierdie is ‘n wysheidsgesegde wat ons nie sonder meer kan ignoreer nie. Jesus se gesegde sê waarskynlik iets oor die rol van sy dissipels in die samelewing. Die taak van Christene is nie om in die kerkgebou te bly nie – nie om hulle aan die samelewing te onttrek nie; nie om op hulleself te fokus nie. Hulle moet die samelewing ten goede beïnvloed.

Ons kan nie in die samelewing gaan en iets daar uitdeel en dan weer onttrek en hulle net so in hulle vorige toestand los nie. Kom eerder langs hulle staan. Doen jy dit? Let op: Jesus sê nie dat party van sy volgelinge sout vir die aarde moet wees en ander iets anders nie. Nee, julle almal moet sout vir die aarde wees- almal. As jy dit nie doen nie, is jy nutteloos – Dit is niks meer werd nie.




As die sout sy krag verloor

The dogmas of the quiet past are inadequate to the stormy present. The occasion is piled high with difficulty, and we must rise with the occasion. As our case is new, so we must think anew and act anew – Abraham Lincoln

As die sout sy krag verloor

Jy stig ‘n gemeente op gesonde leer, maar later hoor jy die liggaam is verlei deur ‘n aantal selfaangestelde leiers – hulle verdraai die evangelie. Dit was die lot van Paulus in feitlik elke gemeente wat hy gestig het. Sy hartseer is nêrens duideliker as in sy brief aan die Galasiërs nie.

Hulle aanvaar die goeie nuus van God se vrye genade in Christus, maar soos die Korintiërs wil hulle nog sekere dinge byvoeg. Daar is mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat in julle verwarring bring (1:7). Hulle wou selfs gehad het dat Christene wat gedoop is ook  besny moet word.

As dit by die evangelie kom, tree Paulus ferm op. Na ‘n kort groeteboodskap verklaar hy: Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ‘n ander evangelie aanneem. Daar is geen ander evangelie nie!  … Maar al sou een van ons of selfs ‘n engel uit die hemel aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het – die vloek van God sal hom tref! (1:7 – 9).

Hierdie oproermakers word gemotiveer deur die begeerte om Jode van die diaspora aan te trek. Paulus sê: “Daar is geen soeker-vriendelike doelwit wat ‘n ander evangelie kan regverdig nie. Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie (1:10).”