Die Groot Geloofswoordeboek: Spiritualiteit

Die Groot Geloofswoordeboek: Spiritualiteit

Spiritualiteit • Kerklike tradisies Gereformeerde spiritualiteit Evangeliese spiritualiteit Evangelicals) Pinkster-Charismatiese spiritualiteit

Spiritualiteit

Spiritualiteit is ‘n begrip wat veral die laaste twee dekades na vore gekom het in die Afrikaanse kerklike taal. Dit het veral gebeur na aanleiding van die *Vernuwingsbeweging in die NG Kerk sedert die 1980’s. Voorheen is dit uiters selde gebruik, anders as in die Ka­tolieke tradisie en sekere Protestantse en veral Evangelical tra­di­sies in Noord-Amerika. Anders as hier ter lande, is Spiritual Theo­logy daar ‘n bekende vak vir teologiese studie.

Spiritualiteit verwys na die soort of tipe vroomheid of geloofs­belewing. Dis verwys na die algemene manier waarop mense hulle geloof beleef en die Here dien. Dit gaan nie soseer oor die leer nie as oor die lewe, oor die manier waarop ons ons geloof (die leer) uitleef. Daarom is daar sterk verbande tussen leer en lewe. Spiritualiteit kry die duidelikste gestalte in die erediens en die gemeente-organisasie en -funksionering.

 

Kerklike tradisies

‘n Mens moet onderskei tussen verskillende tradisies in die Chris­telike kerk. Daar is minstens twee groot strominge: die hoog­kerk­li­ke tradisie, en die laagkerklike tradisie. ‘n Mens kry die twee in een enkele kerk, die *Anglikaanse Kerk. Ook die *Katolieke Kerk en *Ortodokse Kerke is hoogkerklik, wat onder andere beteken baie for­meel met ‘n sterk liturgiese inslag. Hierdie in­deling is egter nie waterdig nie. Daar is mense wat byvoorbeeld die Evan­geliese *Lutherse Kerk en selfs die *Gereformeerde Kerke en ander kerke soos die Presbiteriaanse Kerk as hoogkerklik sal beskou.

Onder die laagkerklike groep is daar verdere indelings moont­lik, soos die Pinkster-Charismatiese tradisie en die Evan­geliese tra­disie. Die begrip “Evangelies” kan misverstaan word. In Europa be­te­ken dit eenvoudig Protestants teenoor Kato­liek. Om­dat dit in die Engelse wêreld ontstaan en uitgebrei het, is dit eintlik beter om van “Evangelical” te praat. Dit is dan ook wat ons hier daaronder ver­staan.

Hierdie tradisie het sy basis veral in die groot Baptistekerke in Engeland en die VSA. Die Metodistekerk het byvoorbeeld as ‘n Evan­geliese kerk ontstaan, al sal almal dit nie meer vandag daar­onder indeel nie.

Mense sal praat van Gereformeerde vroomheid, Pinkster-Cha­rismatiese vroomheid, mistieke vroomheid, hoogkerklike vroom­heid (Anglikaans-hoogkerklik en Katoliek). Die tipe spi­ritualiteit kom baie sterk na vore in die erediens, maar ook in die gewone lewe. ‘n Toegewyde Gereformeerde Christen en ‘n toegewyde Pink­ster-Christen het net eenvoudig twee verskillende maniere om oor die Here te praat, en beleef elke Sondag die Here verskillend in hul eredienste.

Binne die konteks van die meeste lesers van hierdie boek, is daar drie tipes spiritualiteit of vroomheid wat deur sommige as “op­po­nerende magte” beskou word: Gereformeerde vroomheid, Evan­geliese vroomheid en Pinkster-Charismatiese vroomheid.

 

Gereformeerde spiritualiteit (Gereformeerde tradisie)

‘n Vraag wat vandag wyd be­spreek word, is presies wat Gere­for­meerde spiritualiteit is. Uit ‘n hele aantal kenmerke kan net ‘n paar hier genoem word, maar dit sal tog ‘n idee gee van waaroor dit gaan.

 

Nederig en dankbaar

Gereformeerdes beklemtoon dat God ten volle voorsien het vir ons saligheid deur die onoortreflike offer wat Christus gebring het sodat ons niks hoef by te dra om gered te word nie. Vanselfsprekend moet dit ons baie nederig en innig dankbaar maak. Nederig omdat selfs die beste wat ons sou kon aanbied, geen waarde het nie. En dankbaar omdat God alles voorsien het terwyl ons niks verdien het nie.

 

Vol vertroue en rustig

Omdat God alles voorsien het, hoef ons nie op ons naels te byt oor die vraag of ons gered is nie. Hy het die inisiatief geneem. Hy het dit ernstig bedoel. Hy wil ons dus graag red. Ons kan dus net ons vertroue op Hom stel en dan in gerustheid ons lewe lei. Ons hoef selfs nie bekommerd te wees oor die vraag of ons enduit sal volhou nie. Hy is getrou, daarom sal ons volhard. Gereformeerdes sal dus nie soveel nadruk op hulle persoonlike belewing van hul geloof en veral hul persoonlike bekering lê nie, eenvoudig omdat alles van God af kom.

 

Belangstelling in die Bybel

Gereformeerdes het ook ‘n besondere nadruk op die Bybel as die finale rigsnoer vir ons leer en lewe. ‘n Mens sal dus verwag dat hulle nie baie in mistieke vroomheid sal belangstel nie, veral nie in woordlose mistiek, stil meditasie nie; dat hulle eerder sal belangstel in die Bybel, preke, Bybelstudie en in geartikuleerde gebede. Daar word dikwels ook verwys na die nugterheid van hulle spiritualiteit, sonder veel emosie, ge­bede met netjies ge­formuleerde sinne en min stembuiging, eer­der saaklik as sme­kend.

 

Samelewingsbetrokkenheid

Omdat hulle glo dat Christus die Heer is oor alle terreine van die lewe, sal hulle ook sterk by die hele samelewing betrokke wil wees.

 

Eredienste

In die eredienste is daar ‘n soberheid en eerbied wat nie ruimte het vir uitbundigheid nie. Dit word soms ‘n ingehoue blydskap genoem. Gereformeerde Christene het ‘n absolute mi­nimum liggaamsbetrokkenheid by hul sang. Net hul lippe roer. Hulle sien dit as ‘n vorm van eerbied.

 

Evangeliese spiritualiteit (Evangeliese tradisie)

‘n Mens kry hierdie vorm van vroomheid veral in die Baptiste­ker­ke, die laagkerklike Anglikane, die ou NG Sendingkerk (wat nou deel van die VGK is), die ou Evangeliese rigting en die huidige *Ver­nu­wingsbeweging in die NG Kerk. Mense wat ge­kant is teen die Vernuwing in die NG Kerk praat graag daarvan as ‘n Charismatiese beweging (met die motief dat Charismaties vrees­­lik verkeerd is), maar dis net uit onkunde. Daar is ‘n dui­de­like verskil tussen Evangeliese en Pinkster-Charismatiese vroom­heid.

Daar is heelwat raakpunte tussen Gereformeerde en Evan­gelie­se teologie en vroomheid. Beide beklemtoon die Bybel as die fina­le rigsnoer vir ons leer en lewe (Amerikaanse Evangelicals noem hulle­self people of the Book), beide aanvaar Christus se volkome ver­soeningswerk en die leer dat ons net uit genade en net deur die ge­loof gered word.

Maar daar is klemverskille. Met die gevaar van misverstand in gedagte sou ‘n mens Gereformeerdes meer objektief, en Evan­­ge­liese Christene meer subjektief kon noem. Evangeliese Chris­tene lê sonder twyfel meer nadruk op die mens se ver­antwoordelikheid om gered te word, hulle het daarom ook ‘n baie sterker sending­ywer, hulle het baie meer emosie in hul geloofsbelewing, bid met meer gevoel, nie sulke netjiese sinne soos die Gereformeerdes nie, maar baie meer stembuiging, soms eerder smekend, amper hui­lerig. Gereformeerde Christene kan dinge baie makliker in God se hande laat en rustig voortlewe, terwyl Evangeliese Chris­tene baie meer bekommerd is oor hulle verhouding met die Here en oor verloregaande mense (“siele”). Hulle liedere is baie eenvoudiger as Gereformeerdes s’n, en hulle sing baie meer oor sonde en berou en bekering. Die kwaliteit van hulle musiek is nie so hoog soos dié van die Gereformeerdes nie, maar dit is inniger en eenvoudiger, en spreek baie sterker tot ‘n mens se emosies.

 

Pinkster-Charismatiese spiritualiteit

As Gereformeerde vroom­­heid nugter is, is Evangeliese vroom­heid innig, en Pink­ster-Charismatiese vroomheid uitbundig. (*Pink­ster­kerke en Cha­rismatiese kerke) Veral die Charismatie­se beweging is sterk in­gestel op buitengewone, dramatiese dinge soos Slain in the Spirit, Toronto Blessing, Goudstof, Prosperity Gos­pel. Hulle ere­dienste verloop baie vry en spontaan, hulle sang is nog een­vou­di­ger as dié van die Evangeliese vroomheid, hulle sing dik­wels dieself­de sinnetjie oor en oor, en hulle is ten volle lig­gaam­lik betrokke by die sang. Hulle werk baie sterk met die Gees­tesgawes.

Heelwat meer hieroor onder *Four Square Gospel.

 

Skrywer: Prof Adrio König