Covid – 19 – Jan van der Watt

Jan vra:

Hoe behoort die Christen te reageer op aspekte waar die virus mense se gemeenskap van gelowiges bv deur eredienste en gebedsbyeenkomste inperk.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die vraag van inperking is ’n moeilik en gevarieerde probleem, soos ons ook internasionaal sien – nie alle lande volg dieselfde beleid nie. Dit is nie die fokus van die webblad om op politieke standpunte te reageer nie. Die wyer probleem van die gemeenskap van die gelowiges raak egter alle Christene.

Die Christendom is in sy diepste wese in verhoudings gewortel. Gelowiges is geestelik een liggaam wat mekaar moet versorg, versterk, in liefde dra en so kan ons voortgaan. As 1 Johannes (2:5; 4:12) sê dat God se liefde in gelowiges volmaak word, beteken dit nie dat God se liefde eers onvolmaak was nie. Die Griekse woord (teleioō) dui daarop dat ’n doel bereik is, met ander woorde, God se liefde vir mense op aarde het sy doel bereik as daardie liefde deur mense na ander mense vloei (1 Jn 4:7, 12). Dan bereik en raak God se liefde almal. Dit gebeur deurdat ons onder andere mekaar help en bystaan as kinders in die familie van God (1 Jn 3:16-17). Gelowiges is en bly ’n gemeenskap, ’n geestelike familie wat na mekaar moet omsien en afhanklik is van mekaar. ’n Kool wat uit ’n vuur val en eenkant lê gaan gou dood. Ons het mekaar nodig om die warmte van God se liefde te ervaar. Dit is en bly een van die hoekstene van die Christelike geloof. Om die gemeenskap van die gelowiges weg te neem is inderdaad om een van die pilare van die Christendom weg te neem.

Sonder om enige uitspraak oor inperking tydens ’n pandemie te maak, kan wel gesê word dat as mense die gemeenskap verbied word, daar ’n baie ernstige en goeie rede voor moet wees en dit absoluut net ’n tydelike maatreël moet wees.

Daar is’n verdere aspek, naamlik die persoonlike verantwoordelikheid van die gelowige om ook na jou eie verhouding met God om te sien en die naaste te ondersteun. Onthou, die vroeë gemeentes was maar baie klein, soms net ’n gesin of twee wat in ’n huis kerk gehou het. Die gemeenskap van die gelowiges was ook daar aanwesig – ’n groot kerk of baie mense was nie nodig nie. Dit beteken dat mens in so uitsonderlike geval as pandemie baie nader aan ‘jou eie’ moet leef. Daar in jou vrou of man, jou kinders moet jy ook die teenwoordigheid van die liefde van God laat geld en dit daar ervaar. Dit is baie moeiliker as om in ’n kerk met baie mense te sit en die Here te dien.

’n Laaste aspek, die Bybel lê besonder baie klem op kennis van God en sy Woord. Om die waarheid te sê kan ’n Christen ook nie sonder die kennis nie, want God is ’n God wat Hom aan ons openbaar het – ons het Hom nie uitgedink nie. As ons dus nie uit sy Openbaringswoord leer wie Hy is nie, beteken dit dat ons nie weet wie Hy is nie. Dan dink ons ons weet, maar maak eintlik net ons eie storie oor God op. In ’n situasie waar inperking of gebrek aan ander gelowiges geld, is dit logies dat die fokus effens van byeenkomste na die uitbreiding van mens se kennis skuif. Dit is dus ’n goeie idee om die tyd te gebruik om God se Woord te ondersoek. Daarin wil ’n webblad soos Bybelkennis.co.za ook help.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Verskil met Regering – Jan van der Watt

Leser vra

Ons weet dat die regering ook deur God daargestel word – wat moet ons maak as ons nie met sekere aspekte van die regering se beleid saamstem nie?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Daar is baie gegewens op Bybelkennis.co.za oor die rol van die staat in die lig van die Bybel. Die gegewens hoef nie alles herhaal te word nie. Die vraag is egter of alles wat ‘n regering doen eenvoudig aanvaar moet word.

Die antwoord is: dit hang af. In die Bybelse tyd was daar verskillende vorme van regering. Die Romeine het ‘n keiserlike stelsel gehad of ten minste ‘n senaat wat regeer het. Dit was in baie opsigte autokraties – as jy nie wou luister nie, moes jy voel of boet… met jou lewe. In stede wat onder meer Griekse invloed was, het die volk ook medeseggenskap gehad, as gevolg van hulle meer demokratiese tradisie. Die leier kon beslis, maar ons lees baie in die Bybel dat mense in die teaters of op die markplein saamgekom het en hulle wil baie duidelik gemaak het. Daar was dus ‘inspraak’ in die regering.

Die Bybel verwag nêrens dat gelowiges wapens teen hul eie regering moet opneem nie. Die pad wat die Bybel kies is die van vrede en vermyding van geweld. (Dit is nie altyd deur kerke gerespekteer nie en daar is deur die loop van die eeue baie voorbeelde van die kerk wat wapens opgeneem het. Of dit reg was is ‘n ander tema. Die Bybel sien dit nie as ‘n uitweg nie – selfs in Openbaring 13, waar die Romeinse staat as ‘n vreeslike dier voorgestel word wat die gelowiges doodmaak, word die gelowiges nie aangemoedig om wapens op te neem nie. Straf moet aan God oorgelaat word.

Maar wat moet die kerk dan doen. Wel, die Nuwe Testament sê gelowiges veg met die swaard van die Woord, met die getuienis vir die waarheid waarvoor hulle staan. Gelowiges hoef en moet dus nie stilbly oor die verkeerde nie, maar met die waardigheid wat by ‘n gelowige pas voortdurend vir die waarheid getuig.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Kerk en staat – Francois Malan

Magda vra

Verduidelik asb die skeiding tussen die funksies van kerk en staat

Antwoord:

Pof Francois Malan antwoord:

Elke land en tyd het verskillende opvattings en wette oor die verhouding tussen staat en kerk. In Suid-Afrika het die wette daaroor byvoorbeeld na 1994 verander. Kyk bv. na afdelings15 en 234 van die konstitusie van Suid-Afrika wat in 1996 wet geword het.

Google bv. Pieter Coertzen se artikel ‘Constitution, Church and religions in South Africa’

Die Nuwe Testament gee sekere riglyne wat verskil van party van die Ou Testament se verskillende verhoudings onder verskillende konings van Israel en Juda en van die rol van die verskillende profete van God.

Volgens Mattheus 22:21 het Jesus oor die keiser se belasting en die mense se alledaagse  gebruik van die keiser se geldstelsel gesê: ‘Gee aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom.’ (ook in Markus 12:17; Lukas 20:20-26).

So skryf 1 Petrus 2:13-17 : ‘Wees ter wille van die Here onderdanig aan elke menslike instelling, sowel aan die keiser, die hoogste gesagsdraer, as aan die amptenare – die mense deur die keiser gestuur om die misdadigers te straf, én die wat goed doen, aan te prys. God wil immers hê dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase stopsit. Leef as vry mense – nie soos hulle wat die vryheid as ’n dekmantel vir die kwaad beskou nie, maar as mense wat God dien. Julle moet alle mense respekteer, die medegelowiges met liefde bejeën, ontsag vir God hê, die keiser respekteer.’

Paulus het dit verder omskryf in Romeine 13:1-7 ‘Elke mens moet onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel (vgl. Jesus se woorde aan Pilatus in Joh 19:11: U sou geen volmag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee is nie). Wie die gesag teenstaan, verset hulle dus teen die instellng van God, en diegene wat hulle verset, sal ’n oordeel oor hulleself bring. Die owerhede boesem immers nie vrees in as dit kom by goeie optrede nie, maar wel by verkeerde optrede. Wil jy sonder vrees vir die owerhede leef? Doen dan wat goed is, en jy sal lof van die owerheid ontvang. Want die owerheid is ’n dienskneg van God tot jou beswil. Maar as jy doen wat sleg is, moet jy bang wees. Die owerheid dra nie verniet die swaard nie. Hy is immers ’n dienskeg van God, aangestel om kwaaddoeners te straf. Dit is dus noodsaaklik om onderdanig te wees, nie net uit vrees vir straf nie, maar ook ter wille van jou gewete.

            Daarom betaal julle ook belastings, want hulle is diensknegte van God wat hulle juis hiermee bemoei. Betaal aan almal wat hulle toekom: belasting wie belasting, tolgeld aan wie tolgeld, ontsag aan wie ontsag, eer aan wie eer toekom.’

Jesus en Petrus en Paulus het gelewe in ’n staat waar die keiser en die senaat die seggenskap oor die hele Romeinse ryk gehad het. Ons leef in ’n demokratiese staat, waar die mense (Grieks dêmos ‘volk’) die seggenskap het (Grieks krateō regeer) met hulle stemreg en die reg van spraak en kritiek op die regering. Maar die beginsels wat in die Bybel gestel word as die wil van God vir ons lewe, is waarvolgens gelowiges in ’n sekulêre staat lewe.

Die funksie van die staat is om te sorg vir reg, geregtigheid en die versorging van die mense. Die funksie van die kerk is om te dien, om God te dien deur ons medemens in liefde en barmhartigheid te dien. Terwyl mense en die staat strewe na grootheid  en uitnemendheid, strewe Jesus se volgelinge na nederige diens. Volgens Markus 10:42-45 het Jesus vir sy volgelinge gesê: ‘Julle weet dat hulle wat as heersers oor die nasies beskou word, oor hulle baasspeel en dat hulle maghebbers oor hulle gesag uitoefen. By julle is dit egter nie so nie, maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, en wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees. Want ook die Seun van die mens (soos Jesus Homself noem) het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.’

Skrywer: Prof Francois Malan




Die mense wat vir ons veiligheid moet sorg (die staat)

Die mense wat vir ons veiligheid moet sorg (die staat)

ʼn Mens stem nie altyd saam met wat die staat doen nie. Dit was ook so in die Bybelse tyd.

Soos die situasie verander het, word die staat ook anders in die Bybel gesien, hoewel die houding van die gelowige dieselfde bly. In Romeine 13:1-7 kry ons egter ʼn baie positiewe beskrywing van die staat. Hulle moet die veiligheid van die mense waarborg en die mense wat die wette oortree straf. Hier lyk dit dus of die verhouding tussen die Christene en die staat nie te sleg was nie. In 1 Petrus 2:13-15 gaan dit nie meer so goed met die Christene nie. Hulle word sosiaal vervolg. Tog sê Petrus dat hulle nog vir die staat moet luister en selfs vir die staat moet bid. As ons by Openbaring kom, gaan dit sommer sleg tussen die staat en die Christene. In Openbaring 13 word die staat met ʼn dier vergelyk wat vir Satan werk. Hulle probeer die Christene om elke hoek en draai vervolg of seermaak. Nogtans word die Christene nie opgeroep om wapens op te neem nie. Nee, hulle wapen moet hulle boodskap wees. Soos profete van ouds moet hulle die goeie boodskap ook aan die staat bly verkondig en die verkeerde dinge uitwys. Hulle moenie stilbly nie. Nie koeëls van yster is die Christene se wapens nie, maar koeëls van woorde.

Die Bybel sê dus dat Christene nie aktief met wapens die staat moet omver werp nie. Die staat werk ook vir God. Die staat moet sorg dat alle mense in sy gebied veilig en goed moet leef. As jy jou neus by jou voordeur uitsteek, moet dit nie afgeskiet word nie en daar moet darem basiese geriewe wees. Iemand moet daarvoor sorg en dit is die staat. Dit is die taak van die staat om ʼn goeie ruimte vir sy mense te skep om in te leef. Daarom moet Christene die staat ondersteun om dit moontlik te maak. As die staat dit nie meer doen nie, moet die Christene met die wapens van hulle woorde die staat oproep om hulle plig na te kom.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy