Gog en Magog – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Ek het geleer dat aan die einde sal die dorpe probleme veroorsaak en dat dit hoofstede van die wêreld sal word. Vertel my asb meer van die dorpe en hoe dit in die geskiedenis van die Woord inpas.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ongelukkig het ek geen inligting omtrent die vraag oor die dorpe en stede aan die einde nie. Ek weet ook nie hoe dit inpas by die onderwerp van God en Magog nie. As die vraagsteller meer inligting gee oor wat presies sy geleer het rakende die “dorpe” en “hoofstede van die wêreld” en hoe dit inpas by die “einde”, kan ek miskien daarop reageer. In my antwoord hieronder konsentreer ek dus slegs op Gog en Magog, waaroor daar wel iets gesê kan word.

Ons lees van Gog en Magog hoofsaaklik op twee plekke in die Bybel: Esegiël 38-39 en Openbaring 20:8. In laasgenoemde geval word gepraat van die Satan wat na sy gevangenskap tydens die duisendjarige vrederyk, losgelaat word en dadelik begin om die nasies oor die hele aarde te verlei en bymekaar te maak om teen die gelowiges oorlog te maak. Hierdie vyandige nasies word die Gog en Magog genoem en hulle tree dus as handlangers van die Satan op. Hulle kry egter nie eens kans om die gelowiges aan te val nie, maar word terstond deur vuur uit die hemel verteer (Op 20:9).

Die agtergrond vir Openbaring se Gog en Magog vind ons in Esegiël 38-39. Dit is duidelik dat die outeur van Openbaring by hierdie gegewens uit die Ou Testament aansluit. Maar hy verander die inhoud effens, hoewel die hoofgedagte behoue bly. Waar Gog en Magog in Openbaring op die vyandige nasies dui, is Gog in Esegiël waarskynlik ’n persoon en Magog ’n land. Gog is die regeerder van Mesek en Tubal, stede of gebiede in die land Magog. Hierdie plekke moet waarskynlik in die verre noorde van die destydse Babiloniese Ryk gesoek word, min of meer suid-oos van die Swart See, in die destydse Klein-Asië, vandag Turkye. Hulle is tradisioneel as ’n permanente bedreiging vir Israel beskou. Volgens Esegiël probeer Gog dan ook sy bes om Israel na dié se ballingskap verder in die grond te trap. Maar Esegiël 38-39 beskryf hoe God paal en perk stel aan hierdie tradisionele vyande van Israel. Hulle sal niks kan uitrig nie; uiteindelik sal hulle begraafplaas in Palestina gevind word (Eseg 39:11). Die boodskap is duidelik: God sal nie toelaat dat sy volk verder verneder word deur Gog nie. God het weliswaar sy volk gestraf deur hulle in ballingskap te laat wegvoer, maar die straf is nou verby. Nou is dit weer die tyd van die heropbou van Israel, daarom sal God sorg dat die boosaardige vyande van die noorde se moorddadige militêre veldtog teen Israel nie slaag nie.

Hierdie hoofgedagte vind ons basies terug in Openbaring 20. Hoewel die Satan die nasies (Gog en Magog) teen die gelowiges sal opkommandeer, sal daar niks van sy planne kom nie. Hulle sal ’n vinnige dood sterf as daar vuur uit die hemel op hulle neerdaal. Die uitslag van die finale slag word deur God bepaal; dit lê in sy hande, nie by die Satan nie. Dit moes ’n ontsaglike troos vir die destydse gelowiges ingehou het: Net soos die Ou-Testamentiese gelowiges beskerm is teen die destydse verteenwoordiger van die bose magte wat Israel se ondergang gesoek het (Gog), so sal die Nuwe-Testamentiese gelowiges ook in die finale stryd teen die bose (Satan en die magte van Gog en Magog) beskerm word.

Deur die eeue was daar talle pogings gewees om Gog en Magog te identifiseer met eietydse nasies of gebiede. Byvoorbeeld, in die antieke tyd is hulle in verband gebring met onder andere die Etiopiërs, Skitiërs en Romeine. In meer moderne tye is hulle weer geïdentifiseer met Asië en Rusland. Maar dit bly alles spekulasie. Dit bly die beste om te sê dat Gog en Magog ’n antieke simboliese aanduiding is van die bose wat ’n bedreiging vir die gelowiges inhou, maak nie saak in watter tyd die gelowiges hulle bevind nie. Maar die troosboodskap is dat die finale beslissing in God se hande is.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




VRYSTEDE – Francois Malan

Jan Smih vra:

Numeri 35: 6: Die Here beveel Moses om aan die Leviete 6 vrystede toe te ken waarheen toevallige doodslagoortreders kon vlug. Hiermee saam nog 42 stede – in totaal 48.

Omdat die Here met Moses praat was hierdie opdrag vir die toekoms en ek wonder of dit later beslag gekry het en waar die 42 stede (wat hier ookal met stede bedoel word) geleë was.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Omdat Simeon en Levi al die mans in Sigem doodgemaak het (Gen 34:25), het Jakob op sy sterfbed hulle straf aangekondig: ‘hulle sal uitmekaar gejaag word in Jakob, versprei word in die stamme van Israel’(Gen 49:5-7).

Na die intog in Kanaän het die stam van Simeon eiendom binne-in die gebied van Juda gekry (Jos 19:1). Levi se stam het hulle ná die goue bulkalf-episode aan die Here se kant geskaar en is toe aan die diens van die Here toegewy in die plek van die eersgeborenes (Eks 32:25-29; Num 3:41). Na die intog in Kanaän het die Leviete nie ’n eie grondgebied gekry nie, maar is in Israel verstrooi, met stede in die ander stamme se gebiede, en moes lewe van die offers van die volk (Jos 13:14; en hoofstuk 21). Van die 48 stede wat hulle gekry het sou ses vry/asielstede wees  (Rigt 35:6-8; Jos 21:41).

Van die ses asielstede is 3 oorkant die Jordaan aan die Leviete gegee: Beser in die suidelike gebied van Ruben, Ramot in die middelgebied van Gad, en Golan in die noordelike gebied van die halwe stam van Manasse (Jos 20:8). Die ander 3 vrystede in die gebied wes van die Jordaan was Kedes in die noordelike gebied van Naftali in Galilea, Sigem in die middel in die gebied van Efraim, en Kirjat-Arba, dit is Hebron, in Juda in die suide (Jos 20:7). Die ander 42 stede se name word in Josua 21 aangeteken.

Die Leviete was die onderwysers van die volk wat hulle leer lees en skryf het en in die Woord van die Here ingelei het. Daarom was die 48 stede sentrums van opleiding vir die volk.

Die bloedverwant wat die bloed van sy oorlede familielid wil wreek, is die losser, wat ook die familie se eiendom loskoop waar die familielid in skuld of slawerny verkoop is (Num 35:19; Rut 4:1-8). Die asielstede is bedoel om ’n hawe vir die persoon wat doodgemaak het, te verskaf, totdat die saak ondersoek kan word en uitspraak gegee kan word of dit opsetlik of onopsetlik was (Num 35:30). As dit onopsetlik was, kon hy in die asielstad gaan bly tot die dood van die hoëpriester, en dan is hy vry (Num 35:22-28). Maar as dit bevind word dat hy dit opsetlik gedoen het, geld die wet van ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand (Deutr 19:20; Num 35:30-34). Na die tyd van die uittog en die rigters, toe ‘n koning oor Israel aangestel is, het die wraak al meer verval en is die geordende samelewing beter bedien deur howe.

Toe Jesus Christus gekom het, het Hy Homself as losprys vir almal gegee (1 Tim 2:6; vgl Matt 20:28). Paulus skryf in Romeine 12:19 ‘Aan My kom die wraak toe; Ék sal vergeld,’ sê die Here. Daarom sê Paulus ‘Geliefdes, moet julle nie self wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel (van God);’ Hebreërs 10:30 voeg by ‘Die Here sal sy volk oordeel.’ Jesus verander die wet van ’n oog vir ’n oog  tot liefde vir jou vyand (Mat 5:38-48).

Daarom het ons nie meer vrystede nie, want Christus is ons vrystad. En ons kan, ná sy offer aan die kruis vir die sonde van die wêreld (Joh 1:29), nie meer die bloed van ’n vermoorde familielid wreek nie. Christus is die hoëpriester wat gesterf het sodat die beskuldigde vry kan uitgaan (vgl. Num 35:28). Die wraak behoort aan die Here. Ons taak is om te vergewe (Matt 6:14-15).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die stad gedefinieer


Leadership, like swimming, cannot be learned by reading about it.” — Henry Mintzberg

.

Die stad gedefinieer

Vandag word ‘n stad volgens bevolkingsgrootte gedefinieer. In die Bybel verwys stad na huise omring deur versterkings of ‘n muur. Die inwonerstal was gewoonlik tussen 1000 en 3000. Die inwoners het dig op mekaar gewoon.

Volgens die Bybel was die kenmerk van die stad nie grootte nie, maar digtheid – mense leef naby aan mekaar. Jerusalem is gebou soos ‘n stad wat goed saamgevoeg is (Psalm 122:3 – OAV). Dit was ‘n gefortifiseerde stad; die mense het na aan mekaar gelewe; die strate was nou. Mense was fisies teenwoordig op alle plekke en tye.

 

Nadat Nehemia die stadsmure herbou het, lees ons: Die stad was uitgestrek en groot, met min mense daarin (7:4). Wat was die antwoord? 10% van die volk moes na Jerusalem skuif (11:1).

Die stad aanvanklik het tot gevolg ‘n besondere leefwyse binne die mure – beskermde spasie. Die bevolking leef naby aan mekaar. Lewe in stede het drie kenmerke:

  • Veiligheid en stabiliteit.

Die stede het mure gehad en kon dus makliker vyandige magte (ook wilde roofdiere) se aanvalle weerstaan. Die gevolg is ‘n meer stabiele lewe en dit lei tot die groei van die beskawing. Toe die Israeliete Kanaän ingeneem het, was hulle verbaas oor die sterk vestingstede. Nadat hulle die land ingeneem het, het hulle vir hulleself stede gebou. Geen wonder die stad word as ‘n beeld van ‘n vesting waarop hulle kan vertrou (Spreuke 21:22) beskryf nie. ‘n Stad sonder ‘n muur om hom te beskerm, so weerloos is ‘n mens as hy nie selfbeheersing het nie (Spreuke 25:28).

 

As gevolg van die stabiliteit het stelsels van wet en orde eerste in die stad ontwikkel. Antieke stede het poorte gehad waar die oudstes gesit het en sake aangehoor het. Buite die mure moes die swaard dispute oplos. God beveel ook die Israeliete om asielstede in Kanaän te vestig. Mense wat ‘n ander se dood veroorsaak het, kon na hierdie stede vlug en hulle saak stel (Numeri 35:6). Vandag kry ons steeds dat mense wat polities onderdruk of ekonomies afhanklik is na die stede vlug. Baie mense beskou stede steeds as veilige plekke om in te leef.

 

  • Diversiteit

As gevolg van die digtheid en veiligheid van stede kry ons meer diversiteit. Onder die profete en leraars van Antiogië kry ons mense uit verskillende etniese groepe (Handelinge 13:1). Omdat minderhede die stede as veilige plekke om te woon beskou, is die inwoners divers ten opsigte van ras en kultuur. Daar is ook diversiteit ten opsigte van die gebruik van die land.

Daar is verskeie elemente in die menslike gemeenskap:

  • ‘n Ekonomiese orde waar mense werk en besigheidstransaksies uitgevoer word.
  • ‘n Kulturele orde waar mense leer, kuns beoefen en teaters bywoon.
  • ‘n Polities-geregtelike orde waar sake verhoor word en waar regeringsamptenare bymekaar kom.

Elke buurt het behalwe huise ook hierdie drie elemente – gemeng en gekompakteer binne loopafstand van mekaar.

 

  • Stede verhoog produktiwiteit en kreatiwiteit

In die stede kry ons straatlewe en markpleine. Die gevolg is meer persoon-tot-persoon interaksie. Hoe meer mense van dieselfde beroep bymekaarkom, hoe meer stimuleer hulle nuwe idees en hoe vinniger versprei hierdie idees. Stede was nog altyd die sentra vir kulturele intensiteit. Cities are the absence of physical space between people (Edward Glaeser).

 

Stede is belangrik en die kerk mag nooit stede ignoreer nie.

 




Efese

Efese – Coen Slabber

In Handelinge 16:6 lees ons dat die Heilige Gees Paulus verhinder het om die Woord in die provinsie Asië (wat Efese sou insluit) te verkondig. In Handelinge 18:19 – 21 lees ons dat Paulus Efese besoek het. Hierdie was waarskynlik ʼn kort besoek, want Paulus was op pad Jerusalem toe. Hierdie kort besoekie was genoeg vir Paulus om die potensiaal van die stad raak te sien. In Handelinge 19:1 lees ons dat Paulus deur die binneland gereis het en weer in Efese aangekom het. Dit was of die einde van die jaar 52 of die begin van die jaar 53. Efese was aan die oorkant van die Egeïese See as Korinte geleë. Paulus het langer in Efese as in enige ander stad gebly – amper drie jaar. Ons lees dat hy later die ouderlinge van Efese in Milete ontmoet het en vir Timoteus gestuur het om die gemeente in Efese te bedien. Volgens oorlewering het Johannes die laaste dae van sy lewe daar deurgebring.

As jy vandag die waarde van ʼn gebou bepaal, is een van die belangrikste vrae om te vra: Waar is dit geleë? Jy gaan tog nie ʼn vyfster restaurant in ʼn agterstraatjie open nie. Dieselfde geld vir Efese. Sy ligging was baie belangrik. Dit was langs die Middellandse See geleë. [Vandag kan ʼn mens dit skaars glo, want die ou hawe het heeltemal toegeslik.] Dit is waar die hoofweg begin het wat ooswaarts tot in die hart van Asië en Sirië geloop het. Hier het die see- en landhandel bymekaar gekom. Dit was die handelsentrum van Klein-Asië – en die hoofstad van die Romeinse provinsie van Klein-Asië. Augustus self het besluit dat Efese die hoofstad moet wees. Dit was die sentrum van die keiserlike teenwoordigheid in die streek. Tydens Augustus se tyd as keiser het Efese gedeel in die algemene voorspoed van die Ryk – die gevolg van die pax Romana (ʼn tyd van relatiewe vrede). Dit ontvang dan ook die titel “die eerste en grootste metropolis van Asië” – ʼn besondere eer.

 

Dit was ʼn ryk stad. Waterleidings is gebou, strate is uitgelê en geplavei, markplekke is vergroot, monumente, standbeelde en baie mooi geboue is opgerig – alles in navolging van die Romeinse tradisie van destyds. Die Pan-Ioniese spele is daar gehou. Mense het van heinde en verre gekom om hierdie spele by te woon. Om president van hierdie spele te wees was ʼn groot eer.

 

Daar was ʼn groot amfiteater met sitplek vir tussen 20 en 25 duisend mense. Die amfiteater was ʼn semisirkel gebou in die kant van ʼn heuwel. ʼn Straat wat van oos na wes geloop het, het van die amfiteater na die hawe geloop. Langs die straat was daar allerlei winkeltjies. Net suid van die amfiteater was die agora, die sentrale mark. Die mark was omring deur suile. Oral was standbeelde van Augustus, Livia en lede van die keiserlike familie. Noord van die mark en teater was die administratiewe geboue – die palaestra. Net langs die administratiewe gebou was die openbare baddens en gimnasium. ʼn Tweede gimnasium met ʼn groot stadion vir spele en resies is waarskynlik tydens die bewind van Nero opgerig. Dit was in die noordelike deel van die stad. ʼn Groot aardbewing in die jaar 23 het baie geboue verwoes, maar die Efesiërs die stad selfs meer buitensporig herbou.

 

Efese was bekend as ʼn godsdienssentrum – die tuiste van baie verskillende kultusse. Die kultus wat oorheers het, was die van Artemis (Artemis was die Griekse naam en Diana die Latynse naam vir dieselfde godin) van die Efesiërs. Selfs Grieke en sogenaamde “barbare” het haar aanbid. Sy is aanbid as die vrugbaarheidsgodin. Haar invloed het elke aspek van die Efesiërs se lewe deurdrenk – burgerlik, ekonomies en kultureel. Haar tempel, die Artemesium, was buite die stadsmure geleë en word algemeen gereken as een van die sewe wonders van die antieke wêreld.  Die tempel het op ʼn platform gestaan 120 X 70 meter groot. Daar was tien trappe tot op die platform en nog drie trappe tot by die werklike gebou.  Die tempel was meer as 100 meter lank, 70 meter breed en 18 meter hoog. Daar was 127 pilare – elk die geskenk van ʼn koning. Elke pilaar was gemaak van marmer uit Paros. In die middel van die gebou was die altaar – 6 X 6 meter groot en die kolossale beeld van die godin. Die altaar was die werk van Praxiteles, die grooste van al die Griekse beeldhouers. Artemis se beeld was swart met baie borste – ʼn teken van vrugbaarheid. Die beeld van Artemis was so oud dat niemand seker was waar dit vandaan kom en hoe oud dit was nie. Daarom is geglo dat die beeld uit die hemel geval het! Die tempel was nie alleen ʼn getuienis vir die Efesiërs se toewyding aan haar nie, maar ook ʼn teken van die voorspoed van die bewaarders van die kultus.

 

Die Efesiërs was trots op hulle godin. Luister net na die stadsklerk as hy die skare tot bedaring bring: Efesiërs … watter mens weet nou nie dat die stad van die Efesiërs die beskermer is van die tempel van die groot Artemis en van haar beeld wat uit die hemel geval het nie? (Handelinge 19:35).

 

Ons is bewus van twee jaarlikse feeste ter ere van Artemis wat in Efese gehou is:

(a)    Die Artemesia in Maart-April

(b)   Die viering van Artemis se verjaardag in Mei-Junie.

Tydens hierdie feeste was daar kompetisies, optogte en bankette. Besoekers van dwars oor die Griekse wêreld het die vierings bygewoon. Die inkomste van die tempel was verstommend. Omdat die tempelterrein beskou is as heilig en niemand dit sou waag om daar te oortree nie, het dit as veilige bank vir die rykes gedien. Die toneel in Handelinge 19:23 – 41 waar die vakmanne in opstand kom omdat Paulus hulle besigheid nadelig beïnvloed het, is beslis baie moontlik. Dit wys net vir ons hoe ekonomiese, burgerlike en godsdienstige sake ineengestrengel was.

 

ʼn Ander belangrike kultus in Efese was keiseraanbidding. Reeds in 29 vC het Augustus aan hulle die reg verleen om heilige gebiede langs die administratiewe gebou aan Dea Roma en Divus Iulius toe te wy. Keiseraanbidding het alle aspekte van die bevolking se lewe geraak. Dit gaan gepaard met veelvuldige feeste, optogte en spele. Geen inwoner van Efese was nie bewus en beïnvloed deur die kultus nie. Die keiserkultus en die aanbidding van Artemis was nie kompetisie vir mekaar nie.

 

Maar Efese was ook die tuiste van misdadigers.  Misdadigers kon by die tempel van Artemis asiel gekry het. Enige misdadiger wat die tempelterrein bereik het, was veilig. In die tyd van Paulus word dit bereken dat Efese tussen 200 000 en 250 000 inwoners gehad het – party sê selfs so veel as 500 000 inwoners. Efese was die derde grootste stad in die Romeinse Ryk naas Rome en Aleksandrië.

 

Efese het ʼn redelike groot Joodse bevolking gehad. Hierdie Jode het baie voorregte geniet: hulle was vrygestel van militêre diens, hulle kon as Jode bymekaarkom, hulle kon die tempelbelasting invorder en het toestemming gehad om hulle eie rituele en gebruike te volg. Van die Jode het selfs Romeinse burgerskap gehad. Hulle het ʼn belangrike rol in die stad se burgerlike en handelslewe gespeel. Volgens Josefus was daar een of meer sinagoges in die stad. In Handelinge 18:19 lees ons dat Paulus na die sinagoge is waar hy met die Jode geredeneer het.

 

Paulus se verblyf in Efese was waarskynlik die suksesvolste deel van sy hele bediening. Lukas vertel nie veel van hierdie tyd nie. Hy konsentreer op die skeuring in die sinagoge. Vir drie maande het Paulus met vrymoedigheid in die sinagoge geredeneer oor die koninkryk van God en die mense daarvan probeer oortuig. Van die mense het die evangelie belaglik probeer maak. Paulus en die gelowiges verlaat die sinagoge en hou daagliks in die saal van Tirannus besprekings. Lukas beskryf dit as ʼn skeiding en nie dat die gelowiges uitgeban is nie. In die saal van Tirannus vergader Paulus-hulle vir twee jaar lank.

 

Om die saal te huur, moes Paulus ʼn paar welgestelde ondersteuners gehad het om die huur te kan betaal. Moontlik was dit die hoë amptenare van die provinsie (Handelinge 19:31). In van die ou tekste lees ons dat Paulus van 11:00 tot 16:00 (Die tyd vir die Middellandse siësta) besprekings gehou het. Verder het hy homself met sy twee hande onderhou. Die skuif van die sinagoge na die saal het sy besprekings meer toeganklik vir die inwoners van Efese gemaak – Jode sowel as Grieke.

 

Omdat Efese die hoofstad van die provinsie was, het mense dikwels na en van die stad gereis . Ons kan in ons verbeelding sien hoe spanne uitgestuur word om die evangelie verder te verkondig – suidwaarts na Magnesia en Miletus, noord na Smirna en Pergamum en in die valleie op na Laodisea, Hiërapolis, en Kolosse en na stede soos Sardis, Filadelfia en Tiatira. Dit was uit Efese waar Paulus sy bekende briewe aan die Korintiërs geskryf het. Party geleerdes glo dat Paulus se tronkbriewe (Filippense, Kolossense en Filemon) geskryf is terwyl hy in Efese in die tronk was.

 

Efese voldoen in alle opsigte aan Paulus se strategiese plan – ʼn groot, besige stad wat ʼn invloed op die omgewing uitgeoefen het. Efese dien as ‘t ware as ʼn spilpunt vanwaar die evangelie versprei is.

Outeur: Dr Coen Slabber