Die Groot Geloofswoordeboek: Oordeel, Toorn, Straf

Die Groot Geloofswoordeboek: Oordeel, Toorn, Straf

Oordeel/Toorn/Straf van God Jaloerse God

(*Hel)

In die toorn, oordeel en straf van God gaan dit telkens om dieselfde saak. In die lewe van die kerk ry hierdie begrippe wipplank. In een tydperk word dit oorbeklemtoon, net om dan weer vir lang tye verwaarloos te word. Dit wissel ook van groep tot groep. En tog het ek die indruk dat dit, saam met die *hel/verdoemenis/verderf, ge­durende die laaste paar dekades eenvoudig uit die geloofstaal van die meeste kerke verdwyn het. Natuurlik sal alle konserwatiewe Christene op navraag nog bevestig dat hulle glo daar is so iets, maar of dit deel van hulle praktiese geloofbelewing en hulle getuienis is, is ‘n ope vraag.

Daar is ook verskillende sienings oor die plek en funksie van die toorn van God in die Bybel. Sommige meen ons kry die toorn van God net in die Ou Testament. Dit sou dan beteken dat dit eintlik ‘n verouderde gedagte is wat met die tyd verdwyn het. Net so sou die liefde van God eintlik nog nie in die Ou Testament voorgekom het nie, maar eerder in die plek van die toorn van God in die Nuwe Testament na vore getree het.

Dit is egter nie waar nie. Net in die brief aan die Romeine alleen is daar agt verwysings na die toorn van God, soms vertaal as die straf van God (1:18; 2:5, 8; 3:5; 4:15; 5:9; 9:22; 12:19).  Die toorn van God kom dus in beide Testamente voor, al is dit wel so dat die wreedheid van die Ou Testament versag in die Nu­we. Maar Jesus se uitsprake teen die Fariseërs en skrifgeleer­des is nog vol van hierdie toorn (Matt 23), en die boek Openbaring is vol ontstellende voorbeelde van die wreedheid van die toorn van God.

Die woord “toorn” is natuurlik ‘n vreemde woord. Ons praat gewoonlik van woede, of ons sê iemand is kwaad. Maar dié woorde hou verband met emosies wat ‘n mens nie meer goed onder be­heer het nie. Ons praat van ‘n woedeuitbarsting, van onbeteuelde woe­de. En dis juis waarom ons dié woorde nie vir God gebruik nie. Want sy toorn is nie onbeteueld nie, dit is nie onbeheerbare woe­deuitbarstings nie; dit is ‘n beplande, ge­kontroleerde uiting van af­kering.

Dit hou verband met ‘n ander vreemde woord vir God: sy ja­loesie. Die 1953-vertaling het nog van die “jaloerse God” ge­praat, die 1983-vertaling maak dit: “Hy eis onverdeelde trou” (Eks 20:5). Dit beteken dat God omgee, dat dit vir Hom saak maak of ek sy liefde met liefde beantwoord. Hy is nie ‘n koue klip wat daarbo op sy eie sit en met niemand naby-verhoudings het nie. (*God, *On­ver­anderlikheid, *Liefde) As Hy regtig liefhet soos die Bybel sê, is dit ‘n volkome sinvolle reaksie om wederliefde te eis.

Net so is sy toorn/straf/oordeel ‘n sinvolle reaksie op ons ver­werping van sy liefde. As ons nie vir God belangrik was nie, sou Hy dit eenvoudig ongemerk by Hom laat verbygaan het. Maar die beelde wat in die Bybel vir sy verhouding met ons gebruik word, praat ‘n ander taal. Hy is die man en ons die vrou. En ‘n vrou mag net aan een man behoort.

Om te swyg oor die toorn van God is om die evangelie self dood te maak, want dit is om te impliseer dat God nie liefde is nie. Dit skep dieselfde situasie as om te beweer dat daar nie ‘n Bose en *bose magte is nie omdat dit die vraag sal laat ontstaan waarvan Jesus mense kom bevry het.

Terselfdertyd moet ons erns maak met die gevaar van die toorn van God. Dit is ‘n waarskuwing wat ons in alle erns moet op­neem. Die geskiedenis van die Ou Testament is vol van die oor­de­le van God wat die ongehoorsame volk tref. Die ballingskap is die ergste voorbeeld daarvan. Maar in die apokaliptiese geskrifte (*Apo­kaliptiek) gaan die oordele van God oor van hierdie hi­s­toriese oordele na bonatuurlike oordele, en uiteindelik het ons die skrikwekkende beeld van die *hel.

Dit is ‘n aanstoot vir ons moderne menslikheidsgevoel om oor die oordele van God en oor die hel te praat. En dis goed so. Ons kan God dank vir die menslikheid wat in die wêreld ingekom het se­dert Bybeltye. Maar dit neem nie die erns weg van die waarsku­wings in die Bybel teen die oordele van God nie. Die laaste norm is nie ons menslikheidsgevoel nie. Dié kan vorentoe nog weer verander. Die laaste norm is die Woord van God, en dié het dringende waar­skuwings dat God selfs ‘n verterende vuur kan wees (Heb 10:26-31; 12:29).

 

Skrywer: Prof Adrio König




Genesis 2 en 3

Genesis 2 en 3 – Marius Nel

Adri Swart vra:

Wat se Genesis 2 & 3 vir ons, vir vandag? Kan ons iets hieruit nog gebruik vandag? Is die “straf” wat God oor die mens en sy nageslag uitgespreek het, nog van toepassing na die verlossing van Jesus, solank as wat ons op aarde leef? Wat beteken die “straf” in hedendaagse taal, maw as ons daardie stuk in vandag se taalgebruik oor skryf, hoe sal dit lees? (gedeelte waar God vir Adams gesê het hul moet hard werk en Evas sal hunker na Adams en swaar kinders hê).

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Ek meen die verhaal in Genesis 2 en 3 is van toepassing ook op ons omdat dit vertel hoe die eerste mens ongehoorsaam aan God was en hoe ons steeds ongehoorsaam is, hoe God straf maar steeds tegelykertyd genadig is en kies om met ongehoorsame mense ʼn pad te loop. Die gevolge van sonde is ook nog met ons en sal met ons bly tot die aanbreek van die nuwe aarde. Intussen het God se genade nuwe kleure bygekry, met Jesus wat in ons plek sterf, maar solank ons op aarde leef, sal die vloek van sonde steeds met ons wees, soos uiteindelik gedemonstreer as die dood ons wegneem. God se genade is egter so groot dat hy selfs die straf gebruik om sy doel te bereik, soos wanneer hy die dood aan Hom diensbaar maak – om sy kinders te haal om by Hom te wees.

Outeur: Dr Marius Nel




God is regverdig daarom is daar iets soos straf

God is regverdig daarom is daar iets soos straf

Baie keer wonder ons waarom God mense straf. Hy is dan ʼn liefdevolle God wat vir mense omgee.

Ons vergeet dat daar mense is wat niks met God te doen wil hê nie. As hulle na God toe wil kom en Hom dien, is hulle welkom. Maar as hulle hulle rug op die Here draai, kan hulle Hom nie kwalik neem as Hy uiteindelik dieselfde met hulle doen nie. Om die waarheid te sê, hulle het net hulleself te blameer as God ook sy rug op hulle draai. Ons moet onthou dat een van die eienskappe van God is om regverdig te wees. Hy sal nie vir die een persoon sê om in Hom te glo om gered te word en vir die ander om Hom maar te ignoreer en nogtans gered te word nie. Daarom steek Hy nie weg wat met mense gebeur wat Hom eenkant toe skuif nie. Hulle sal eendag regtig sonder Hom moet klaarkom. Meer nog, jy kan nie God jou vyand maak, Hom beledig of maak of Hy nie bestaan en dan verwag dat niks gaan gebeur nie. Die Here sal ook sy eie eer beskerm en dan mag die mense wat gedink het hulle kan met God maak soos hulle wil agterkom dat dit ʼn groot fout was. Ja, hulle mag agterkom dat God straf ook.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy