1 & 2 Tessalonisense (4)

1 & 2 Tessalonisense (4) – Francois Malan

ʼn Dankbare lewe

God se opdrag is om Hom in alle omstandighede en ondanks alles te dank. Hy verwag dit van ons en het dit vir ons moontlik gemaak om dit in gemeenskap met Christus uit te lewe. Ons hele lewe is ʼn gebed, want ons is sonder ophou van God afhanklik.

Ons kan altyd vol vreugde leef, omdat ons saam met Christus lewe. Die gemeente moet nie die werk van die Heilige Gees teenstaan nie. Hy verduidelik die wil van God aan ons deur die profesie in die gemeente. Maar die boodskap moet getoets word of dit die één ding wat nodig is, naamlik die onderlinge liefde, bevorder. Bly weg van elke vorm van die kwaad. Sorg dat niemand van die gemeente kwaad met kwaad vergeld nie, maar beywer julle altyd om aan mekaar en aan almal goed te doen en te help (I:5:15-22). So lyk ʼn dankbare lewe.

 

Aanmoediging

Die gemeente word aangemoedig om vas te staan, o.a. deur vas te hou aan die tradisionele leer wat hulle van Paulus-hulle ontvang het deur hulle prediking en briewe (II:2:15). Die Here Jesus is getrou om hulle te bevestig, en Hy sal hulle teen die Bose bewaar. Daarom vertrou Paulus-hulle dat die gemeente sal doen wat hulle hulle opgedra het. Hulle begeerte is dat die Here die gemeente se denke op die liefde van God en die volharding van Christus sal rig, sodat hulle sal volhard om in liefde te lewe (II:3:3-5).

 

Paulus-hulle se gebede en wense vir die gemeente

In II:1:11-12 vertel Paulus-hulle dat hulle altyd vir die Tessalonisense bid, (i) sodat God hulle in staat sal stel om so te lewe dat dit pas by die lewe waartoe Hy hulle geroep het, (ii) dat Hy elke begeerte van hulle om goed te doen, en elke geloofsdaad van hulle sal vervul, deur die krag van die Heilige Gees in hulle. Die doel van dié twee versoeke is: dat die Naam of reputasie van ons Here Jesus Christus geëer word deur hulle lewenswyse, en hulle sy erkenning daarvoor sal ontvang. Dit kan slegs gebeur deur die genadewerking van ons God en die Here Jesus Christus deur die Heilige Gees.

In I:3:10-12 verseker die skrywers die gemeente dat hulle nag en dag ernstig bid dat God en Jesus vir hulle ʼn geleentheid gee om die gemeente te besoek om dit waaraan hulle geloof tekort kom ten volle aan te vul.

Daarom moet hulle vas staan in die Here, in die evangelie wat hulle ontvang het. Paulus-hulle bid dat Christus self, en God ons liefhebbende Vader, die gemeente se harte en wil aanspreek, deur sy genadige en ewige bemoediging, deur goeie hoop in hulle kweek, en deur hulle te versterk in elke goeie werk en elke goeie woord teenoor ander (II:2:15-17).

Die skrywers vra ook die gemeente se voorbidding vir hulle. Twee sake word genoem: (i) dat die woord van God vinnig sal versprei, en geëer word as God se woord, soos dit ook in Tessalonika is; (ii) dat Paulus-hulle verlos word van die korrupte en slegte mense, veral daar in Korinte, want nie almal aanvaar die woord van God in geloof nie. So neem die Tessalonisense deel aan Paulus-hulle se sendingwerk met hulle gebede (I:5:25; II:3:1,2).

Hulle vra die Here om by die gemeente te bly, en altyd en in alle opsigte aan hulle sy vrede te gee, en Paulus sluit met toebidding van die genade van ons Here Jesus Christus (I:5:28; II:3:16,18).

 

Die gemeente en hulle geestelike leiers

Die medegelowiges in Tessalonika word versoek om die mense wat onder hulle werk en hulle in die Here lei en hulle teregwys, te respekteer (letterlik: om hulle te ken en te erken) deur hulle leiding te volg en hulle sorg te aanvaar. Die gemeente word versoek om hulle geestelike leiers, vanweë hulle werk, tot die uiterste met liefde te bejeën. Die gemeente en hulle leiers en die leiers onderling word opgeroep om in vrede met mekaar te lewe. Dit verg liefde tot die uiterste (I:5:12,13; vgl. I:4:9).

 

Die skrywers en die gemeente

Na die skrywers se onwettige mishandeling en gevangenisskap in Filippi, het God hulle nog groter vrymoedigheid gegee om sy evangelie, ten spyte van teenstand, in Tessalonika eerlik en opreg te verkondig, sonder enige bymotiewe. Hulle het nie hulle hoorders gevlei om rykdom of mag of roem te ontvang nie. Maar soos ʼn sagte moeder wat haarself aan haar kinders se sorg en beswil gee, het hulle die evangelie en hulleself aan die Tessalonisense gegee. Soos ʼn vader sy eie kinders onderrig, so het hulle elkeen van die gemeentelede volgens sy/haar besondere behoefte, ernstig gevra, of bemoedig of aangespoor dat hulle lewenswyse sal aanpas by die God wat hulle geroep het om onder sy koningskap te lewe en deel te hê aan sy heerlike krag.

 

Outeur: Dr Francois Malan




1 & 2 Tessalonisense (3)

1 & 2 Tessalonisense (3) – Francois Malan

Die wederkoms van die Here (vervolg)

Nadat Paulus-hulle nuus oor die gemeente ontvang het (II:3:11), skryf hulle die tweede brief om dié wat ontsteld is, as sou die Dag van die Here al aangebreek het, reg te help, en dié wat leeglê, skerp aan te spreek (II:2:1-12; 3:6-12).

Voordat Jesus Christus, ons Here, kom om te oordeel, kom die wêreldwye afval en opstand teen God, en die openbaring van die wettelose mens. (II:2:1-12).  Hy kom in die krag van Satan, met valse mag, tekens, wonders en goddelose misleiding, om die mense wat verlore gaan te verwoes. Trots opponeer hy alle sogenaamde gode en voorwerpe van aanbidding. Om te demonstreer dat hy die enigste god is, sal hy in die tempel van God gaan sit. Met die aanbreek van die Dag van die Here word hy vernietig deur die asem van die Here (vgl. Jesaja 11:4). Die verborge krag van wetteloosheid is reeds aan die werk in die mense wat weier om die waarheid van die evangelie lief te hê, en daardeur gered te word. Deur die krag van misleiding en perversie laat God hulle die leuen glo. Omdat hulle wetteloosheid bo die waarheid gekies het, word hulle veroordeel, en vir ewig gestraf, geban uit die teenwoordigheid van die Here. Op die Dag word die gelowiges bymekaargemaak om die Here te ontmoet, en word hulle deel van die heerlikheid van Christus (II:1:14).

Met hulle eerste besoek het Paulus die gelowiges ingelig oor die koms van die wettelose mens, en oor wie (manlik in v7) of wat (onsydig in v6) hom nou nog ‘verhinder‘. Daarom verduidelik hy nie verder nie, en ons weet ook nie verder nie. [Teorieë daaroor hang saam met die verskillende betekenisse van die Griekse woord vir ‘verhinder’. Dit kan beteken wetteloosheid ‘beperk’, bv. deur die staat se wette, of die wettelose ‘gevange hou’ deur God se mag, of die wettelose ‘beheer’ deur Satan]. Die gelowiges kan weet, die Dag van die Here het nog nie gekom voor die wêreldwye afvalligheid, en opstand of rebellie teen God, en voordat die wettelose mens verskyn het nie. Voordat Christus met sy magtige engele uit die hemel in ʼn vuurvlam verskyn om die ongelowiges te straf (II:1:8; Jesaja 66:15-16), verskyn sy na-aper, die wettelose mens, ook met groot magsvertoon om die wat verlore gaan, te verlei (II:2:8-10).

 

Waarsku die lidmate wat nie wil werk nie!

In die eerste brief het Paulus-hulle die gemeente ernstig versoek om die lui lidmate geduldig tereg te wys (I:5:14). Dit is nie duidelik waarom dié lidmate weier om te werk nie [sommige meen bv. dit is omdat hulle gedink het die wederkoms het reeds aangebreek; ander meen dit is tipies van die Grieke wat neergesien het op handearbeid]. Die gemeente  word vermaan om almal rustig te lewe, hulle met hulle eie sake besig te hou, en self in hulle lewensonderhoud te voorsien (letterlik: met hulle eie hande te werk). Toe hulle by die gemeente was, het hulle die gemeente geleer hoe God wil hê dat hulle moet lewe, sodat die gemeentelede se lewenswandel onder die heidene betaamlik sal wees, en hulle van niemand afhanklik sal wees nie (I:4:10-12).

Maar na die eerste brief verneem Paulus-hulle steeds dat sommige gemeentelede leeglê, besig is met beuselagtighede, of met bedel in die gemeente. As medegelowiges, wat saam met hulle onder die gesag van die Heerskap van Jesus Christus staan, beveel en vra hulle sulke mense ernstig: hou op om ander te pla en op ander te teer, werk vir julle eie brood. Hulle word herinner aan Paulus-hulle se woorde en voorbeeld toe hulle destyds die gemeente gestig het. Hulle het die gemeente ernstig vermaan: ‘As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.’ Paulus-hulle het nie by hulle leeggelê nie, nie gebedel nie, maar dag en nag met hulle hande gewerk om vir niemand ʼn las te wees nie. Op gesag van ons Here, Jesus Christus, word die gemeente beveel om hulle aan elke medegelowige wat leeglê te onttrek, om hom skaam te maak, nie as ʼn vyand nie, maar om hom of haar as ʼn medegelowige in Christus te waarsku. Die gemeente moet egter nie ophou om goed te doen aan dié wat dit werklik nodig het nie (II:3:6-15).

Outeur: Dr Francois Malan




1 & 2 Tessalonisense (2)

1 & 2 Tessalonisense (2) – Francois Malan

Na Paulus-hulle se dank aan God oor die gemeente se geloof en liefde en hoop, wys hulle die gemeente op leemtes in hulle geloof en lewe, en word hulle dringend versoek om nog meer volgens die wil van die Here te lewe (vgl. I:4:1; II:3:4).

Belangrike aspekte van die evangelie wat verdere onderrig verg

1.        Heiligheid en respek in die huwelik (I:4:1-8)

Paulus-hulle het Christus se aanwysings oor God se wil vir ons lewe, ook in die huwelik, aan die gemeente oorgedra. Timoteus se verslag het waarskynlik vertel van losse seksuele gedrag. Die skrywers en lesers lewe saam onder die seggenskap van Jesus, en as mede-lidmate van Christus pleit hulle by die lesers om hulle lewe meer en meer volgens God se wil in te rig. Die heilige God se wil is dat hulle heilig lewe, en seksuele onsedelikheid konstant vermy. Elkeen moet leer om sy eie vrou te verkry in heilige toewyding aan God se wil, en saam met haar te lewe met eervolle respek vir haar; nie in wellustige begeerte soos die heidene wat die lewende en ware God nie ken nie. In so ‘n omgewing lewe die gemeente, en so het hulle voor hulle bekering gelewe. In hierdie verband mag hulle nie die grens, wat God gestel het, met ʼn ander man se vrou oortree nie. Oortreding van dié grens word deur die Here gestraf. God het ons nie geroep om immoreel te lewe nie, maar om heilig aan Hom toegewy te lewe. Wie dit verwerp, verwerp God, wat sy Heilige Gees aan ons gegee het om ons te lei, en in staat stel om onsself te beheer (selfbeheersing is vrug van die Gees se werking in ons; Galasiërs 5:23).

 

2.        Die wederkoms van die Here (I:2:19-20; 3:13; 4:13-5:11; 23-24; II 1:5-2:12)

Die gemeente het skynbaar navraag gedoen of die ontslape gelowiges iets van die heerlikheid van die wederkoms sou misloop. In hulle heidense agtergrond en omgewing was daar nie veel verwagting van ʼn lewe na die dood nie. Die gelowiges moet nie treur soos die ander mense wat geen hoop het nie. Die skrywers stel hulle gerus met ʼn woord van Jesus self, dat die wat nog lewe by die wederkoms die ontslapenes geensins vooruitgaan nie. Soos ons glo dat Jesus gesterf en opgestaan het, glo ons ook dat God dié  ontslapenes wat aan Jesus verbind is, saam met Hom sal bring. Wanneer die Here uit die hemel neerdaal om die dooies op te roep, sal hulle eerste opstaan. Die gelowiges wat nog lewe, sal saam met hulle op die wolke weggevoer word, om die Here in die lug tegemoet te gaan by sy aankoms. Dit was die gebruik dat wanneer ʼn generaal terugkom van ʼn groot oorwinning, die stad se inwoners hom buite die stad gaan ontmoet om hom met groot vreugde en eerbetoon die stad in te lei (vgl. die oproep om die bruidegom te ontmoet in Matteus 25:6, en die gelowiges wat Paulus gaan ontmoet in Handelinge 28:15, waar dieselfde Griekse woord gebruik word vir die ontmoetings). Op dié glorieryke wyse sal ons altyd by Hom wees. Met hierdie woorde moet die gemeente die treurendes troos (I:4:13-18).

Die oordeelsdag kom onverwags soos ʼn dief in die nag, skielik soos die geboortepyne van ʼn swanger vrou. God se straf en verwoesting tref die mense wat doodgerus in duisternis en dronkenskap lewe. God het egter gemaak dat ons nie gestraf word nie, maar dat ons verlossing deur ons Here, Jesus Christus, verkry. Christus het vir ons gesterf sodat ons saam met Hom sal lewe, nou reeds, en ook wanneer ons gesterf het. As sober mense van die lig is geloof in God en liefde vir die medemens ons borsharnas, en hoop/vertroue op Christus se verlossing ons helm om ons te beskerm teen die aanslae en versoekings van die bose. Met dié woorde moet die gemeentelede mekaar aanmoedig (I:5:1-11).

Paulus-hulle bid en weet dat God self die gemeentelede se hele lewe, liggaam en gees, heilig en onberispelik sal hou totdat Christus weer kom (I:5:23-24). Hulle bid dat Jesus die gemeente se liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en verdiep en bevestig, dat hulle toewyding by die wederkoms onberispelik sal wees voor God en Jesus en al die heiliges (I:3:11-13). Soos ʼn ma en pa bly is oor hulle kinders, en groot verwagtings oor hulle koester, is die gemeente se toewyding aan God die kroon op hulle werk, hulle hoop en vreugde voor die Here by sy koms, maar ook nou reeds in hierdie bedeling (I:2:7,11,19,20).

Nadat Paulus-hulle nuus oor die gemeente gekry het (II:3:11), skryf hulle die tweede brief om dié wat ontsteld is, as sou die Dag van die Here al aangebreek het, reg te help (II:2:1,1; vgl. by artikel 3).

Outeur: Dr Francois Malan




1 & 2 Tessalonisense (1)

1 & 2 Tessalonisense (1) – Francois Malan

Paulus, Silvanus en Timoteus het elkeen ʼn aandeel aan die skryf van die twee briewe, teen 50 n.C. vanaf Korinte. Benewens vyf dankseggings vir wat die Here al in en deur die gemeentes gedoen het, word veral aandag gegee aan die gemeente se onsekerhede en vrae oor die wederkoms van Christus, die skrywers se bekommernis oor gelowiges wat nie wil werk nie, en dat hulle huwelikslewe nog nie volgens die wil van die Here is nie.

Skrywers, lesers en redes vir die briewe

Paulus en sy medewerkers, Silvanus (Silas, vroeër ʼn profeet in die Jerusalem-gemeente; Handelinge 15:22,31) en Timoteus (die vertroude dissipel uit Listra; Handelinge 16:1,2), skryf saam aan die twee briewe – amper deurgaans word ‘ons’ gebruik (uitsonderings: in I:2:18  (= 1 Tessalonisense 2:18) verwys Paulus na sy eie pogings om die gemeente te besoek ‘ek Paulus meer as eenkeer’, en in II:3:17 onderskryf hy die brief met die seëngroet ‘in sy eie hand’; vgl. ook I:3:5; 5:27; II:2:5). Hulle drie het ook saam gewerk aan die stigting van die gemeente (Handelinge 17:4,14). Dit lyk asof Silvanus, met sy kennis van die eerste gemeente se denke en in gesprek met Paulus en Timoteus, ʼn aansienlike aandeel aan die skrywe van die briewe het, wat Paulus dan met sy eie hand bevestig. Die twee briewe volg kort op mekaar, waarskynlik teen die einde van 50 n.C.

 

Paulus-hulle moes Tessalonika in die nag verlaat weens die Jode se opstand teen hulle (Handelinge 17:10; vgl I:3:4.). Besorgd oor die standvastigheid van die vervolgde gelowiges, het hulle vir Timoteus van Atene af gestuur om die Tessalonisense in hulle geloof te versterk en te bemoedig. By sy terugkoms kry Timoteus vir Paulus-hulle in Korinte. Die eerste brief word geskryf nadat Timoteus terug is met goeie nuus oor die gemeente se standvastigheid in die Here. Omdat die Satan hulle verhinder, kan hulle nie self na die gemeente toe kom om tekortkominge in die gemeente se geloofskennis aan te vul nie. Daarom skryf hulle aan die gemeente (I:3:1-10; vgl. Handelinge 17:16; 18:5). Die gemeente bestaan in God die Vader en die Here Jesus Christus as die sfeer waarin hulle lewe; met die vrye genade van hulle Vader wat sorg, en van hulle Here wat oor hulle lewens regeer, as die bron van hulle geseënde lewe, wat tot vrede met God en met mekaar lei (I:1:1; II:1:1,2).

 

In vyf gedeeltes word God met blydskap gedank: (altyd en sonder ophou in hulle gebede) vir die gemeente se geloof, liefde en hoop (I:1:2-10; 2:13-16; 3:6-9; II:1:3-10; 2:13-14).

1.        Vir die hele gemeente se geloofsdade (I:1:3)

God het hulle uitgekies vir verlossing: hulle is deur die Gees aan God toegewy deur die waarheid van die evangelie te glo, wat hulle onder verdrukking met blydskap aangeneem het (I:1:5,6; II:2:13). Hulle het die woorde van Paulus-hulle aangeneem as die woord van God, wat tans in hulle voortwerk (I:2:13). Hulle het weggebreek van die dooie, valse afgode, om die lewende en ware God te dien, soos slawe wat volledig aan Hom behoort (I:1:9). Toenemend  groei hulle geloof (II:1:3). Die woord van God het soos ʼn trompetgeskal van hulle af weerklink; hulle geloof het bekend geword in Masedonië en Agaje, en orals word vertel hoe hulle vir Paulus en sy medewerkers en hulle boodskap aangeneem het (I:1:7-9). Onder vervolgings en verdrukking staan hulle vas in die geloof, en groei toenemend in die geloof (I:3:6-9; II:1:3,4).

2.       Vir die vrug van die gemeente se liefde vir mekaar (I:1:3; II:1:3)

God en die Here Jesus het hulle lief, het hulle uitgekies om gered te word, en het hulle geleer om mekaar lief te hê (I:1:4; 4:9; II:2:13). Die vrug van hulle liefde word gesien in die wyse waarop hulle die boodskappers ontvang het, en deur die Heilige Gees vreugdevolle navolgers van Paulus-hulle en van God se liefde geword het, tot voorbeeld vir ander gelowiges (I:1:3-9). In I:3:12 bid die skrywers dat die Here hulle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig laat word, en in II:1:3 dank hulle God dat die gemeente se liefde vir mekaar steeds toeneem.

3.       Vir die volharding in lyding, met hulle hoop op ons Here Jesus Christus (I:1:3)

Te midde van baie lyding en vervolging verwag hulle uit die hemel die Seun van God, wat Hy uit die dood opgewek het. Dit is Jesus (sy naam beteken ‘die Here red’), ons Redder uit die straffende toorn van God, wat aan die kom is (I:1:10). Die Jode het Jesus en die profete doodgemaak, die gemeentes in Judea vervolg, vir Paulus-hulle orals uitgedryf, ook uit Tessalonika (vgl. Handelinge 17), om te verhinder dat alle volke gered word. So loop die Jode se beker vol met die toorn van God oor hulle sonde. Op dieselfde wyse ly die gemeente in Tessalonika onder vervolging deur hulle eie mense (I:2:14-16). Die skrywers praat met trots oor hulle in al die gemeentes van God, en vertel van hulle vermoë om uit te hou onder al die vervolgings en lyding wat hulle verduur (II:1:4). God het hulle van die begin af gekies en deur Paulus-hulle se evangelie-verkondiging geroep om gered te word, deur die Gees hulle lewe aan Hom toe te wy, om die waarheid te glo, en om deel te hê aan Christus se heerlikheid by sy koms (II:2:13-14).

 

Outeur: Dr Francois Malan