Moet jy trou? – Francois Malan

Amanda vra:

Waar in die Bybel se dit jy moet trou

Antwoord

PROF Francois Malan antwoord:

In Matteus 19:1-12 antwoord Jesus op die vraag van die Fariseërs of ’n man oor enige saak van sy vrou mag skei. Daarop verwys Jesus na Genesis 1:22-24 dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het. Daarom sal die man sy vader en sy moeder verlaat en aan sy vrou verbind word, en die twee sal een vlees wees, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. Daarom, wat God saamgevoeg het, moet ’n mens nie skei nie.

Die Fariseërs vra toe waarom Moses dan bepaal het dat ’n man aan sy vrou  ’n skeibrief moet gee om sodoende van haar te skei. Daarop antwoord Jesus: Moses het weens julle harde harte toegelaat om van julle vroue te skei, maar van die begin was dit nie so nie. Ek sê vir julle dat wie van sy vrou skei, behalwe weens owerspel, en met ’n ander trou, egbreuk pleeg.

Markus 10:12 voeg by: en as ’n vrou van haar man skei en met ’n ander man trou, pleeg sy egbreuk.

Toe Jesus se dissipels daarop reageer dat dit dan beter is om nie te trou nie, antwoord Jesus: Nie almal kan hierdie saak begryp nie; slegs hulle aan wie dit gegee is. Daar is inderdaad mans wat impotent gebore word, daar is mans wat deur mense gekastreer is, en dan is daar mans wat selibaat is ter wille van die koninkryk van die hemele. Laat enigiemand wat kan, dit begryp (Matt 19:11-12).

Daar is nie ’n teks in die Bybel wat die huwelik direk gebied nie, maar vir die ongetroudes en die weduwees sê Paulus in 1 Kor 7:8-9 dat dit vir hulle goed is om soos hy (ongetroud) te bly. Maar as hulle hulleself nie kan beheer nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand. En vir jongmense, wat eers gedink het hulle sal as verloofdes steeds maagde kan bly, en dan uitvind dat dit nie vir hulle moontlik is om maagde te bly nie, sê hy: as die verloofdes dan trou, tree hulle reg op, hoewel hulle beter sou doen as hulle wel as maagde verloof kon bly (1 Kor 7:36-38).

Uit Genesis 2:24 en Jesus se verduideliking daarvan in Matteus 19 is dit duidelik dat God die huwelik van ’n man en vrou as ’n permanente verhouding van eenheid tussen man en vrou bedoel het.

Om saam te leef sonder om te trou, impliseer dat ‘n saamblyverhouding nie permanent is of permanent hoef te wees nie. Om enkel en ongetroud te bly is nie verkeerd nie, soos Jesus in Matteus 19:12 sê. Met ‘n huwelik word egter in die openbaar voor God aan mekaar trou gesweer.

Paulus brei in 1 Korintiërs 7 uit op die ongetroude staat en die eenheid van die huwelik. In 7:1 sê hy dit is goed vir ’n man om nie met ’n vrou omgang te hê nie, en in 7:7: ek wens dat alle mense soos ek (ongetroud) kon wees, maar elkeen het ’n eie gawe van God ontvang, die een dit (om ongetroud, sonder omgang met ’n man of vrou te wees), die ander iets anders (om in die huwelik gemeenskap te hê, waar elke man sy eie vrou en elke vrou haar eie man het, wat hulle aan mekaar gee en aan mekaar onderwerp, soos in 7:2-5 beskryf is).

Oor die lewenslange verhouding sê Paulus in  Kor 7:39-40: ’n Vrou bly aan haar man verbind solank as wat hy leef, maar as haar man ontslaap/gesterf het, staan dit haar vry om te trou met wie sy wil, maar slegs as dit in verbondenheid aan die Here is. Tog sal sy gelukkiger wees as sy bly soos sy is, om die Here as weduwee te dien (1 Timoteus 5:9). Vir die jonger weduwees sê hy in 1 Timoteus 5:14 dat hulle moet trou en kinders hê en hulle huishoudings bestuur.

Vir jongmense, wat die gawe van onthouding van God ontvang het, sê Paulus dat as hulle ongetroud in ’n vriendskapsverhouding sonder seksuele omgang kan bly doen hulle goed. Maar as hulle nie die gawe van onthouding ontvang het nie, doen hulle reg om te trou (1 Korintiërs 7:7 en 7:36-38).

Efesiërs 5:21-33 brei uit op die verhouding tussen man en vrou in die huwelik: (1) dat die man sy vrou so lief moet hê soos Christus die gemeente liefhet en vir ons sonde gesterf het om ons te verlos en ons te reinig (Ef 5:25); (2) dat die man sy vrou moet liefhê soos sy eie liggaam, soos Christus sy kerk liefhet (Ef 5:28-29). (3) Paulus noem die verbintenis van man en vrou tot een liggaam ’n groot geheimenis, wat ’n beeld en getuienis is van die verhouding tussen Christus en sy kerk (Ef 5:31-32). Die geheimenis is dat ’n huwelik in die selfopofferende liefdesverhouding wat hy hier beskryf het, vir mense iets wys van die verhouding tussen Christus en sy kerk vir wie Hy so liefgehad het, dat Hy vir ons sonde aan die kruis betaal het en ons vrygemaak het van die sondelas om as kinders van God te lewe.

Skrywer: Prof Francois Malan




Mag ek weer trou na ’n egskeiding?

Mag ek weer trou na ‘n egskeiding? – Jan van der Watt

Egskeiding is inderdaad in ons tyd ’n groot probleem. Daarmee saam gaan die probleem van hertrou. Mag jy met iemand anders hertrou nadat jy geskei het? Maklike antwoorde is daar nie altyd nie. Daar is twee dinge wat ons eers net moet noem.

  1. Wette in die Bybel moet ons nooit lees asof hulle alleen staan nie. Die lewe is baie meer ingewikkeld en Jesus het dit geweet. Daarom gebruik Hy die voorbeeld van die seun of ‘n os wat in die put val op die Sabbat (Luk 14:5). Hier het ‘n mens met die kompleksiteit van die lewe te doen. Almal weet jy mag nie werk op ‘n Sabbat nie. Net so weet almal dat ons lewe moet red en spaar, want God is ‘n God van lewe. Die twee wette bots hier – wat nou gemaak? Jesus het egter gewys dat die wet om lewe te red belangriker is as om die Sabbat te hou, soos ons uit Luk 14:1-6 sien. Hy het ‘n keuse vir die belangrikste saak geneem. Daarmee impliseer Jesus nie dat Hy die Sabbatswet gebreek het nie, maar juis gedoen het wat toelaatbaar is. Hoewel ons soms in die Bybel direkte opdragte kry, raak die lewe soms so gekompliseerd dat ‘n klomp opdragte gelyk ter sprake is. Nog ‘n voorbeeld: as Piet vir Sannie wil vermoor en sy hardloop deur die kamer waar jy staan en kruip onder die bed weg. Sy vra jou om niks te sê nie. Piet kom in en vra waar is Sannie, want hy wil haar doodmaak. Wat gaan jy doen? Gaan jy ‘jok’ en sê jy weet nie of gaan jy deel van die moord word?
  2. Die Bybel bestaan uit 66 boeke wat oor honderde jare geskryf is. Geleidelik, soos God Homself aan mense openbaar het, het dinge al hoe duideliker geword. Ons moet dus nie net een boek in die Bybel lees nie, want almal praat saam om vir ons die openbaring van God te gee. Ons noem dit die inner-kanoniese gesprek. Dit beteken dat daar selfs ontwikkeling in gedagtes kan wees, soos aanvanklik moes die Jode nie varkvleis eet nie of moes allerhande reinheidsgebooie nakom. Jesus hetkom verander. Juis die tema van egskeiding is hier ‘n goeie voorbeeld. In die tyd voor Jesus was dit maklik vir Jode om te skei. Die man kon vir sy vrou eenvoudig ‘n brief gee wat sê hy skei van haar, dan was dit verby. (Daar was egter ander sosiale reëls wat dit darem nie heeltemal so maklik gemaak het nie, maar hierdie is nie die plek om dit te bespreek nie). In sommige beperkte gevalle kon ‘n vrou ook van haar man geskei het. Jesus het egter die saak in ‘n ander lig kom stel: Hy het kom sê dat mens nie mag skei nie! (Mk 10:5-10). In Matteus 5:32, wat biejtie later geskryf is, kry ons iets anders: daar word gesê dat mens nie mag skei nie, behalwe in die geval van owerspel. In 1 Kor 7:15 gaan Paulus nog verder en sê dat mens nie mag skei nie, maar as jou ongelowige man wil skei, moet hy dit maar doen. Dan noem Paulus die rede – om in vrede te leef is belangriker as om getroud te bly en mekaar te verskeur. (Ons sien hier weer twee wette wat bots). Die verskillende dele van die Bybel wys vir ons dat hoewel Jesus dit duidelik gestel het dat mens in beginsel nie moet skei nie, daar tog soms situasies kom waar ander redes so gewigtig raak dat dit wel toelaatbaar word om te skei. Jesus se verbod was nie so absoluut dat dit nooit mag gebeur nie. Daar moet egter baaaaie goeie redes wees daarvoor.

Dit bring ons nou by die vraag of iemand wat geskei is weer mag trou? Kom ons kyk na die tekste.

In die huis het die dissipels Hom weer hieroor uitgevra. 11Hy sê toe vir hulle: “Elkeen wat van sy vrou skei en met ’n ander een trou, pleeg egbreuk teen sy vrou. 12En as ’n vrou van haar man skei en met ’n ander een trou, pleeg sy egbreuk.”

Mat 5:32: “Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”

Mat 19:9: 9Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met ’n ander een trou, pleeg egbreuk.”

Rom 7:2-3: Die getroude vrou, byvoorbeeld, is deur die wet aan haar man gebind so lank as hy lewe. As haar man te sterwe kom, is sy onthef van die wet wat haar aan haar man gebind het. 3Maar as sy ’n ander man se vrou word so lank as haar man lewe, sal sy as ’n egbreekster beskou word. As haar man gesterf het, is sy egter vry van die wet en is sy nie ’n egbreekster as sy ’n ander man se vrou word nie.

Die boodskap in die Bybel is redelik eenduidig dat ’n vrou of man wat skei nie ’n tweede maal met iemand anders mag trou nie. Daar is tog uitsonderings, soos as een van die huweliksmaats doodgaan of as ’n ongelowige skei, of so lyk dit in elk geval.

  • Uit hierdie tekste kan ons aflei dat twee mense wat getrou het, in beginsel lewenslank aan mekaar behoort, selfs nadat hulle geskei het (want mens moet eintlik nie skei nie). Om met iemand anders te trou mag nie ‘n rede wees om te skei nie. Jy moet ook altyd die moontlikheid ooplaat dat daar weer versoening kan kom. As jy met ander woorde met ‘n geskeide vrou trou, ontneem jy in ‘n sekere sin die moontlikheid vir versoening met haar vorige man. As een van die huweliksmaats egter doodgaan is die moontlikheid vir versoening en om weer te trou verby. Dan kan die vrou of man weer trou.
  • Dit lyk tog of Paulus in 1 Kor 7:15 wel die geleentheid open dat ‘n ongelowige man van sy vrou kan skei en dat sy dan nie meer gebind (die Griekse woord vir ‘slaaf wees’ word hier gebruik – in die antieke is daar ‘n hele paar skrywers wat die huwelik en slawerny vergelyk) is nie. Wat persies hier bedoel word is nie eenduidig nie. Sekere kommentatore sien hierdie uitspraak inderdaad as ‘n opheffing van die vereiste om nie weer te trou nie. So word vir vrede eerder as vir ‘n vernietigende huwelik gekies. Dit is bekend as die ‘Paulinies voorreg’. Ander kommentatore voel dat mens nie sover moet gaan om te sê dat die geskeide weer mag trou nie. As mens die argumente opweeg, lyk dit tog of Paulus sê dat hertrou eintlik nie moet gebeur nie, maar dat in uiterste omstandighede dit wel ‘n moontlikheid is. Dit wil lyk of dit parallel loop met gedagte van egskeiding. Dit mag nie, maar in uiterste gevalle mag dit wel.
  • Dit lyk dus of hertrou nie ‘n opsie is nie – mens moet tot die uiterste toe gaan om te versoen. Maar in uiterste gevalle, waar die lewe deur onvrede opgevreet word, mag dit as moontlikheid gesien word.

     

    Skrywer: Prof Jan van der Watt

     




    Egskeiding en weer trou

    Egskeiding en weer trou – Kobus Kok

    Louise vra:

    Ek sit met ‘n vraag wat ek soveel verskillende opinies oor kry dat ek nie meer weet watter kant toe nie en wat die regte opinie is nie. Volgens die 10 gebooie in die Bybel mag jy nie “adultery” pleeg nie en indien jy na ‘n egskeiding weer sou trou (as jou man nog lewe) pleeg jy “adultery”, want God sê wat Hy saamgevoeg het mag geen mens skei nie. Dus as jou man nog lewe en jy skei is julle eintlik nog steeds een vlees. Nou word daar gesê in 1 Kor 6:9-10 dat mense wat “adultery” pleeg nie hemel toe sal kan gaan nie. Ek hoor soveel opinies hieroor want sommige mense sê dat God vir ons sondes aan die kruis gesterf het en dat Sy liefde en genade vir ons so groot is dat as jy om vergifnis vra (repentance) jy wel hemel toe sal gaan. Is dit so of nie? My probleem is ook dat indien jy reeds weer getrou het, moet jy dan skei van jou tweede man omrede jy “repent” het anders gaan jy nie die Koninkryk van God sien nie (hel toe gaan). U leiding en hulp in die verband sal baie waardeer word.

    Antwoord

    Prof Kobus Kok antwoord:

    Mag ‘n Christen wat geskei het weer met iemand anders trou?

    Voordat ons hierdie vraag begin beantwoord, moet ons vir mekaar dit duidelik stel dat die Bybel van die begin af al dit duidelik maak dat getrouheid ʼn wesenlike element van ʼn mens se verhoudingslewe moet wees. In die Ou Testament word die verhouding tussen ʼn man en ʼn vrou dikwels as analogie (voorbeeld) gebruik om te verduidelik hoe God getrou is aan sy beloftes aan sy volk wat telkens ontrou is. Trouheid is met ander woorde ʼn baie belangrike motief regdeur die Bybel.

    Indien ons nou die vraag wil beantwoord of ʼn Christen wat geskei het weer kan trou, moet ons die vraag eers so paar stappe terugvat in die proses, deur daaroor te besin deur die bril van lewenslange getrouheid. Indien getrouheid en lewenslange trou ʼn wesenlike element van ʼn mens se verhoudingslewe moet wees, gaan mens heeltemal anders met jou verhoudingslewe om as wat iemand daarmee sal omgaan vir wie hierdie waarde nie belangrik is nie. Die beginsel van lewenslange getrouheid sal maak dat jy keer op keer sal óór begin, dat jy as huweliksmaat aan jouself en jou karakter sal werk sodat jou huwelik kan groei en nie skipbreuk sal lei nie. Die beginsel van lewenslange getrouheid sal maak dat jy ander keuses maak as dit kom by die hou van gesonde grense met iemand by die werk of by sosiale geleenthede. Indien mens van die begin van jou huwelik al die saak uitmaak dat jy NIE gaan skei nie, en dat daar nie vir jou ʼn ander opsie IS nie, dan gaan jy anders omgaan met die uitdagings, pyn en teleurstelling wat mens in ʼn huwelik beleef. Omdat God die sentrum van jou lewe is en jy Sy wysheid soek, sal Hy jou in elke seisoen van jou verhoudingslewe op ʼn opwindende karakterreis van groei en verdieping neem.

    Soms gebeur dit egter dat ʼn verhouding eindig, en dat ʼn egskeiding onafwendbaar is. Vat maar net die man wat sy kinders molesteer en jare lank drink en sy vrou emosionele en fisiese geweld aandoen. In sommige gevalle is ʼn egskeiding die weg tot genesing.

    Hou die Bybelse konteks in gedagte 

    Ons moet versigtig wees om die Bybelse teksgedeeltes wat oor egskeiding handel te maklik op ons eie situasie en konteks toe te pas. Die Bybelse tekste verteenwoordig ʼn lang groeiproses en daar was ook bepaalde dinge wat in daardie konteks rondom die dimensie van egskeiding plaasgevind het. Ons lees byvoorbeeld in Matteus 19:9 dat Jesus egskeiding verbied. Hierdie gedeelte in Matteus moet egter in die regte konteks verstaan word en die agtergrond daarvan moet eers belig word. Hier in Matteus 19 vra die Fariseërs vir Jesus ʼn strikvraag om hom uit te daag. Hulle wil weet of dit ʼn man geoorloof is om vanweë allerlei redes van sy vrou te skei?  Die teks waarna die Fariseërs verwys, verwys na ʼn konteks in die geskiedenis van Israel wat lank van te vore ter sprake was. Uit ons navorsing wil dit voorkom dat in die tyd van Jesus, die antieke Mediterreense kultuur grootliks ʼn paternalistiese sisteem was. Dit beteken dat die pa die onbetwisbare hoof van die huis was. Mans in die Grieks-Romeinse wêreld kon selfs so ver gaan as om te besluit of hulle hulle kind se lewe sal spaar of nie. Ons weet van gevalle waar mans aan hulle swanger vrouens skryf dat indien hulle geboorte gee aan ʼn dogter dan moet hulle ontslae raak van die kind, maar as dit ʼn seuntjie is kan hulle die kind maar hou. Dit het dikwels gebeur dat babas op die ashope gegooi is. Die pa het dus die mag oor lewe en dood gehad in die antieke tyd. Verder was die pa die hoof van die huis en die res van die gesin moes maar volgens sy pype dans. Dit wil verder uit ons navorsing voorkom dat baie mans vrouens beskou het as synde nie veel meer as ʼn stuk vleis nie. Hulle kon ook baie maklik van ʼn vrou skei deur eenvoudig vir die vrou ʼn skeibrief te gee as sy die kos een keer te veel gebrand het. Vrouens het baie min regte in ʼn paternalistiese sisteem gehad en so is vrouens eintlik in ʼn baie brose posisie gelaat. Dit is teen hierdie agtergrond wat Jesus se uitspraak dan verstaan moet word. Jesus se uitspraak is dus ook ʼn sterk reaksie teen die uitbuiting van die vrou en die absolute, soms onregverdige optrede aan die kant van mans. Jesus se reaksie op die vraag van die Fariseërs slaan die hamer reguit op die spyker en dring deur tot op die kern van die saak: Dit wat God saamgevoeg het mag geen mens skei nie. Hier maak Jesus dus ʼn baie sterk stelling wat reguit ingaan teen die algemene kultuur van sy dag.

    Die Fariseërs het vinnig hierop gereageer en voor al die getuies beroep hulle hulle op die gebruik wat volgens hulle teruggaan na die groot leier  van Israel, naamlik Moses. Moses het volgens hulle die ruimte geskep om gewoon ʼn skeibrief te gee aan jou vrou en van haar te skei (vgl. Matt 19:7). As Moses dit gesê het, en geoorloof het, wie is Jesus dan om te stry, was hulle grootste verweer. Jesus het onmiddellik daarop gereageer en die bal weer terug in die hande van die Fariseërs gegooi en hulle skynheilige karakters blootgestel deur te argumenteer dat Moses wel die ruimte gelaat het vir skeibriewe, maar dit gedoen het as gevolg van die hardheid en koudheid van hulle harte. Dit was egter nie van die begin af deel van God se hart of plan vir die mens nie. Jesus kom gee hulle dan ʼn nuwe siening, wat nie teruggaan na Moses nie, maar teruggaan na God se oorspronklike plan, en in sy betoog haal Jesus ʼn teks uit Genesis aan en argumenteer dat ʼn man sy vader en moeder sal verlaat en saam met sy vrou as een vlees/wese/mens leef.  Jesus sê verder dat die implikasie daarvan is dat die wat skei, teen die wil van God optree en niks minder as die sewende gebod oortree nie, naamlik dat mens nie mag egbreuk pleeg nie (Kyk ook Luk 16:18, Mark 10:12 en Matt 5:31, 32). Jesus het dus die ganse paternalistiese sisteem op sy kop geswaai en gewys dat verhoudings, integriteit, karakter en innerlike oriëntasie, radikale selfopofferende liefde, barmhartigheid en diens die belangrikste is.

    Terug na ons tyd vandag. Kan ʼn Christen wat geskei het weer trou? Miskien is die vraag nie óf en hoe vinnig ʼn Christen wat geskei is weer kan trou nie, maar in hoe verre ʼn Christen kan wys dat opregte verhoudings en trou wat in God gewortel is kan hou! Miskien trou en skei ons heeltemal te vinnig vandag. ʼn Vriend van my wat ʼn prokureur is en egskeidings hanteer, is vandag skatryk omdat soveel mense skei, sommiges selfs na ʼn paar maande se getroude lewe. Ek wonder of mens regtig al die huwelik of mekaar ʼn kans gegee het na so ʼn kort tyd. Tog is daar regtig ook situasies waar ʼn egskeiding onafwendbaar is en dikwels die weg tot genesing is.

    In Jesus se hantering van die Samaritaanse vrou wat al meer as 5 mans gehad het in Johannes 4 en die vrou wat op ontug betrap is in Johannes 8 sien ons Jesus se radikale hart. Jesus skep tweede kanse en gee lewe. Terwyl ek glo dat lewenslange trou en liefde die reël is, glo ek ook dat God vir ons tweede kanse kan skep en ons mislukkings in verhale van hoop en genesing kan verander. Indien ons opreg in ons verhouding met Hom leef en ons weer trou na ons geskei het, sal Hy ook vir ons die geskenk van vergifnis en nuwe lewe gee. Ek ken mense wat ʼn tweede keer getroud is en wat God in hulle verhouding ten volle eer en wat Hom al meer in die nuwe verhouding ontdek.

    Opgesom: God se wil is dat man en vrou in ʼn liefdevolle verhouding van trou leef wat Hom in die sentrum stel. God se hart klop nie vir egskeiding nie, maar vir liefdevolle trou. Soms is egskeiding onafwendbaar. In sulke gevalle kan God weer tweede kanse skep, maar dit moet eerder die laaste uitweg wees.

     

    Lees gerus die volgende boek wat vir my persoonlik baie beteken het:

    Thomas, G., 2000, Sacred Marriage. What if God designed Marriage to make us Holy, more than to make us Happy? Zondervan uitgewers.

     

    Skrywer: Prof Kobus Kok




    Belydende Christen wil met ‘n Moslem trou – wat nou?

    Belydende Christen wil met ‘n Moslem trou – wat nou? – Kobus Kok

    ‘n Leser vra:

    As belydende lidmaat met ‘n Moslem wil trou wat is die implikasies en verskille?

    Antwoord

    Dr Kobus Kok antwoord:

    Van die vroegste tye in die Nuwe Testament het gelowiges met hierdie tipe vrae te doen gehad. Sommige huweliksmaats het Christene geword, in ‘n huis en gesin waar die dominante geloof Judaïsme was. Petrus was een van Jesus se dissipels. Hy het in 1 Petrus 3:1 die volgende raad gegee vir vrouens wat Christene geword het – en wie se mans nie Christene was nie:

    1Pe 3:1 Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word

    1Pe 3:2 as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het.

    1Pe 3:3 Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie,

    1Pe 3:4 maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.

    1Pe 3:5 Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig,

    1Pe 3:6 soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie.

    1Pe 3:7 Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.

    In die antieke tyd moes vrouens onderdanig wees aan mans – dan is hulle goeie vroue. Wat Petrus dus sê, is dat jy baie sensitief moet wees om binne die raamwerk van die kultuur waarbinne jy staan, op so ‘n wyse op te tree dat mense in daardie kultuur sal voel dat jy ‘n goeie en deugvolle vrou is. Petrus moedig die vrouens aan om innerlike skoonheid en reinheid te weerspieël en so hulle mans tot God te lei.

    Ek weet van ‘n Moslem vrou wat tot bekering gekom het terwyl sy getroud was met ‘n Moslem man. Sy het egter aangehou om die kleredrag te dra wat vir die Moslems as eervol beskou word en die gebruike en gewoontes van die Moslems bly respekteer. Sy het presies gedoen wat Petrus voorstel. Inteendeel, haar man het skielik beleef dat hierdie vrou van hom baie verander het. Inteendeel, sy het ten goede verander vandat sy ‘n Christen geword het! Uiteindelik het die man na baie jare tot bekering gekom omdat die nederige integriteit en voorbeeld van sy vrou hom oortuig het van God se krag in haar lewe. Haar blote leefstyl was die sterkste getuienis. Ons getuienis moet van so ‘n aard wees dat ons woorde gebruik net as ons moet.

    Ongeag of dit kultuurverskille, ouderdomsverskille of geloofsverskille is, trou is vir altyd. Mens moet baie mooi gaan dink en bid of die persoon waarmee jy wil trou wel die persoon is wat vir jou bedoel is. Luister fyn na jou hart, na die Here en na jou gesin en vriende. Indien jy lank en mooi daaroor gebid en dink het, dan maak jy jou keuse.

    Gaan lees gerus meer oor die Moslem geloof by http://en.wikipedia.org/wiki/Muslim

    Die basiese verskil tussen die Christendom en die Islam is:

    • Die Bybel is die Woord van God vir die Christene. Vir die Islam is die Qur’an die woord van God deur die profeet Mohammed aan mense en dit is die finale openbaring van God aan die mensdom.
    • Die Christendom glo dat God geken word deur sy Woord. Die Islam glo dat God geken word deur die Qur’an.

    · Die Christendom glo dat Jesus die Seun van God is. Islam glo Jesus was maar net ‘n profeet en Mohammed was God se laaste profeet.

     

    Skrywer: Dr Kobus Kok