Die wet se relevansie vir vandag – Hermie van Zyl

Janus vra:

Help my asb met die volgende vraag wat ‘n baie goeie vriend vir my vra: “Beteken die nuwe verbond dat die gebooie van Eksodus 20 en Deuteronomium 5, en nog ander, afgeskaf is?”

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die kort antwoord op die vraag hierbo is “nee”; die nuwe verbond beteken hoegenaamd nie dat die Tien Gebooie afgeskaf is nie. Inteendeel. Maar kom ek brei hierop uit.

Die rede hoekom baie Christene dink dat die Tien Gebooie nie meer geld vir hulle wat deel het aan die nuwe verbond in Christus nie, is ‘n verkeerde verstaan van Paulus. Soos ons weet het Paulus gesê dat die wet jou nie kan red nie, slegs geloof in Christus. God spreek ons vry van ons sonde, nie omdat ons so getrou die wet onderhou nie, maar slegs omdat ons in Christus glo. “Glo” beteken dat ons nie op ons eie vermoë staatmaak om ons verhouding met God reg te stel nie, maar dat ons slegs op Christus vertrou (vgl Rom 1:17; 3:20-26). Hy is die enigste Een wat ons in ‘n nuwe verhouding met God kan stel. Nie net was Hy sonder sonde nie (Heb 4:15; 7:26-28), maar Hy het ook ons sonde op Hom geneem en in ons plek die straf op ons sonde gedra. Daarom kan ons vry uitgaan; ons word vrygespreek van God se oordeel oor die sonde, en ons leef in ‘n nuwe verhouding met God, ook die nuwe verbond genoem.

Dit was egter nooit Paulus se bedoeling om te sê dat die wet – die Tien Gebooie – en al die goeie dade wat daaruit voortvloei, nie meer geld nie en dat ons nou maar kan leef soos ons wil. Daar was reeds mense in Paulus se tyd wat hierdie absurde idee gehad het dat ons nou maar kan voortsondig, want God vergewe mos ons sonde; hoe meer ons sondig, hoe groter is God se genade oor ons (Rom 6:1). Maar dan wy Paulus ‘n hele hoofstuk daaraan om hierdie onsinnige gedagte die nek in te slaan. Om in Christus te glo, sê hy, beteken dat jy in sy dood gedoop is. Jy is dus dood vir die sonde. Meer nog, jy het ook saam met Hom opgestaan uit die dood; jy is dus lewend vir God, jy is nou in staat om nie meer in die sonde voort te ploeter nie, maar ‘n nuwe lewe deur die krag van die Gees van God te leef. (Lees gerus die hele Romeine 6 om self te beleef hoe Paulus hierdie gedagte uitwerk.)

Maar, sou iemand kon vra, wat het die wet – die Tien Gebooie – met die nuwe lewe in Christus te doen? Is hierdie nuwe lewe dan nie iets wat deur die Heilige Gees in jou geskep word, met die gevolg dat jy nie meer die Tien Gebooie nodig het nie? Nee, Paulus het niks teen die wet nie. Inteendeel, die wet is heilig en goed en reg, sê hy (Rom 7:12); dit was en is steeds die uitdrukking van God se wil vir ‘n goeie, regte en God welgevallige lewe. Trouens, wanneer hy in Romeine 6 die nuwe lewe in Christus uitspel, dan is dit deurspek met die begrip “geregtigheid”, wat vanuit die Ou Testament verstaan moet word en beteken dat iemand volgens die wil van God, soos uitgedruk in die Tien Gebooie, sal lewe (vgl Rom 6:13,16,18-20; kyk 1933/53-Afrikaanse Vertaling; en Nuwe Testament en Psalms: ‘n Direkte vertaling [2014]). Verder verwys Paulus dikwels na die goeie werke/dade wat ons moet doen, soos in Efesiërs 2:10 (vgl ook Rom 13:3; 2 Kor 9:8; 2 Tess 2:17). Dit is moeilik om te dink dat Paulus iets anders in gedagte gehad het as die goeie werke wat voortvloei uit die Tien Gebooie. Wanneer Paulus ook sy etiese voorskrifte gee van hoe mense moet lewe om God te behaag, dan kom dit op niks anders neer nie as ‘n uitleg en toepassing van die Tien Gebooie in mense se lewe (bv 1 Tess 4:1-12). Dis verder interessant dat Paulus die vrug van die Gees in Galasiërs 5:22 in verband bring met die wet as hy sê dat hierdie vrug nie teen die wet is nie; met ander woorde, dit is uitdrukking van die wet/wil van God.

Kyk ons ‘n bietjie wyer na die Nuwe Testament is dit bekend dat in ‘n boek soos die Brief van Jakobus goeie dade of wetswerke ‘n baie sterk rol speel, in so ‘n mate dat Jakobus sê ‘n mens nie deur die geloof alleen regverdig verklaar word nie, maar deur dade (Jak 2:24). Hiermee is Jakobus nie in stryd met Paulus nie, maar wys hy ‘n bepaalde soort geloof af, naamlik ‘n geloof wat nie die bewys lewer dat dit ware geloof is nie. Geloof sonder goeie dade is nie regtig geloof nie en kan jou dus nie red nie, sê Jakobus. Geloof in Christus impliseer altyd die goeie dade wat daarmee gepaard gaan. En met goeie dade word natuurlik die wet van God bedoel.

Waarom Paulus so geweldig klem gelê het op die geloof alleen wat red, was omdat die gehoor met wie hy te doen gehad het sy Joodse volksgenote was wat van die wet en goeie werke ‘n sisteem van prestasie gemaak het om jouself vlekkeloos vir God aan te bied (m a w jy bewerk self jou saligheid), en te maak asof jy beter is as ander mense wat nie by jou standaarde kan kom nie. Nee, het hy gesê, die wet is nie in staat om jou te red nie, vanweë die erns van ons sonde (Rom 7:13-16). Ons kan slegs in die regte verhouding met God kom as ons Hom volledig vertrou, dat Hy genadig is en sonde vergewe. En dit het Hy gedoen in Christus. Maar dan, hierdie vertroue of geloof moet goeie dade tot gevolg hê; dit was vir Paulus so vanselfsprekend dat hy nie eens altyd die moeite gedoen het om dit uit te spel nie. ‘n Brief soos Jakobus het dit egter wel uitgespel.

En so het die Christelike kerk deur die eeue altyd die permanente waarde van die wet onderskryf en gehandhaaf. Die genade van God, en geloof in Christus, maak nie die wet oorbodig nie, maar bring dit weer terug as ‘n weg van lewe, ‘n manier om te wys dat jy dankbaar is vir jou verlossing. Want einde ten laaste is daar gaan ander manier waarop ons kan demonstreer dat ons deel is van God se verlossing nie. Die wet is immers die grondwet van die lewe; so het God dit van die begin af bedoel. Daarom het Christelike teoloë drie gebruike van die wet geïdentifiseer. Eerstens leer ons daaruit ons sonde ken. Ons sal nie weet wat sonde is as die wet dit nie vir ons uitspel nie (“jy moet …; jy mag nie …”). En so funksioneer die wet indirek ook as ‘n wegwyser na Christus toe (vgl Gal 3:24). As ons in die wet ontdek wat en hoe groot ons sonde is, lei dit ons na Christus toe waar ons verlossing kan vind. Maar tweedens, wanneer ons die verlossing in Christus aanvaar het, ontdek ons dieselfde wet weer as uitdrukking van God se wil vir ‘n goeie lewe, en aanvaar ons die Tien Gebooie as God se huisreëls, as ‘n manier om ons dankbaarheid vir ons verlossing uit te druk. Die wet is die goeie dade waarvan Paulus praat, die dade wat God vir ons voorberei het waardeur ons Hom kan behaag, die vrug van die Gees. En derdens is die wet ook die grondslag vir ‘n goed funksionerende samelewing, maak nie saak of dit Christelik is of nie. ‘n Samelewing of staat wat nie die beginsels van die Tien Gebooie handhaaf nie, sal gou in chaos en anargie verval. Die Tien Gebooie is immers ‘n universele wet wat nie net vir Christene geld nie, maar algemene beginsels bevat vir sinvolle bestaan en voortbestaan, ongeag die spesifieke geloofsoortuigings van ‘n gemeenskap.

Bogenoemde uiteensetting het spesifiek oor die Tien Gebooie gehandel. Natuurlik is daar afgeleide verordeninge, bepalings en seremoniële wette in die Ou Testament wat spesifiek vir die destydse Joodse samelewing gegeld het wat ons nie meer vandag handhaaf nie. Hierdie wette geld nie meer vir die Christene van die nuwe verbond nie (bv oor die besnydenis, die inrigting van die tempel, die offerandes, ens).

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Die nuwe verbond; WAT IS DIT?

Everybody knows if you are too careful you are so occupied in being careful that you are sure to stumble over something. -Gertrude Stein (1874-1946)

Die nuwe verbond – Wat is dit?

In Jeremia 31:31 sê die Here: Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ’n nuwe verbond sal sluit. God is die God van alle mense – Hy onderhou almal en alles wat lewe. Maar daar is ’n teer hart-tot-hart verhouding: Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees (31:33). Hierdie is ’n dieper, bevredigender verhouding. Ek sal hulle God wees – God gee Homself aan ons. Hulle sal my volk wees – Hy neem ons vir Homself.

 

Maar hierdie nuwe verbond behels nog meer: En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer en sê: Ken die Here nie; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here (31:34 – OAV). Die ou verbond is aan Israel gegee – korporatief.  Dit sluit in baie mense wat God nie persoonlik geken het nie. Die nuwe verbond kom individueel na almal wat die enigste ware God en Jesus Christus ken. Dit is nie nodig om vir hulle te sê: Ken die Here nie. Maar dit bly ’n oop uitnodiging aan die wêreld.

In hierdie nuwe verbond  sal Ek my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. As dit gebeur belowe God: Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie (31:34). Onder die ou verbond is sondes nooit volkome vergewe nie. Ware vergifnis kom deur Christus se kruisdood.

God belowe:

  • ’n Nuwe hart (Ek sal my woord op hulle harte skryf),
  • ’n Nuwe verhouding ( Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees),
  • ’n Nuwe kennis (En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer en sê: Ken die Here nie; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here), en
  • Ware vergifnis (Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie).

Ons kan mos nie hierdie beloftes ignoreer nie.




Die nuwe verbond

Force without wisdom falls of its own weight. -Horatius, digter (65-8 BCE)

Die nuwe verbond

Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ‘n nuwe verbond sal sluit (Jeremia 31:31)

In Jeremia 31:27 – 30 kry ons twee belangrike idees:

  • Die belofte van God aan Israel wat of voor vernietiging staan of reeds vernietig is. In Jeremia 1:10 kry Jeremia die opdrag om nasies en koninkryke af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig. Dit tyd om te bou en te vestig het uiteindelik aangebreek. Die tyd het aangebreek en God gaan Israel en Juda weer vol maak met mense en diere. Die tyd om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, is verby. Nou kan Israel en Juda weer opbou en plant.
  • Wie was verantwoordelik vir die probleme?  Nou is dit nie meer reg om die voorvaders vir die probleme wat die huidige geslag ondervind, te blameer nie: Elke mens sal oor sy eie sonde sterf: wie groen druiwe eet, se tande sal stomp word. Die idee van kollektiewe skuld of korporatiewe verantwoordelikheid word nie juis deur die moderne mens aanvaar nie. Ons glo elkeen is verantwoordelik vir wat hy doen. In die Bybel is daar min ondersteuning vir die idee dat individuele verantwoordelikheid die norm vir menslike gedrag is. Ons is vir mekaar verantwoordelik – as een ly, ly almal.

As ons individuele verantwoordelikheid vir ons eie dade sou aanvaar, sal dit die wêreld ‘n beter plek maak? Jeremia sê nee. Ons sal maar min verandering sien. Ons moet op die optrede van God vertrou sonder wie ons pogings maar min gaan beteken. Maar ons glo dat ons die bul by die horings moet pak.

God sê duidelik dat die ou verbond se tyd verby is. Dit het misluk, want die voorvaders het die verbond verbreek al was Ek getrou aan hulle.  Dan: Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. ‘n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot sê die Here. Eers na God se hartchirurgie op elkeen van ons sal  God ons oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie. Daardie tyd moet nog kom, maar dit sal sekerlik kom. Intussen moet ons steeds die woord van God verkondig en mense van sy liefde vertel.

Ons kan nie mense verlos nie – dit het God reeds gedoen. Jeremia se woorde is dus hoop en ‘n waarskuwing. Doen die werk van God, maar laat Hom toe om sy eie oes in te samel.




Alle Paaie lei na Jesus: Die verbond

Alle Paaie lei na Jesus: Die verbond – Adrio König

5.2 Die verbond

Dit is opvallend dat daar nêrens in die Bybel ’n poging aangewend word om die mens te ontleed nie. Niemand probeer noukeurig analities beskryf wat ’n mens is nie. Selfs in die Psalms en die Wysheidsliteratuur waar die enkele persoon sterk na vore kom, is dit omtrent altyd in verhoudings met ander of met God.

Trouens ons weet almal dat dit juis groepe mense in verhouding met God is wat ter sprake is in beide Testamente: Israel in die Ou Testament, en die geloofsgemeenskap, die kerk, in die Nuwe Testament. Maar van beide groepe geld dadelik dat hulle is wat hulle is op grond van hulle verhouding met God. Hulle verhouding met Hom is sonder meer beslissend vir wat hulle is.

 

Israel is nie ’n volk wat bo en behalwe hulle kultuur en volkslewe óók nog in gemeenskap met God leef of moet leef nie (kyk by hoofstuk 8.1). Voor God Abraham en Sara uitgekies het om uit hulle ’n volk te bou, was daar glad nie ’n volk soos Israel nie. En verder het God nie uit Abraham en Sara ’n volk gebou nie, maar ’n volk-vir-Hom. Israel is Israel omdat hulle die volk van God is. As hulle hulle verhouding met God prysgee of verwaarloos, word hulle soos die ander nasies, is hulle eenvoudig nie meer Israel nie. Die uittog, die geboorte van Israel as volk, nee, die geboorte van Israel-as-volk-van-God, word gelyk aan enige volksverhuising van watter heidense volk ook al. As Israel volhardend aan God ongehoorsaam is, sê Amos: “Julle Israeliete is vir My niks anders as die Kussiete nie, sê die Here. Ek het vir Israel uit Egipte laat trek, maar ook die Filistyne uit Kaftor en die Arameërs uit Kir” (9:7). Die unieke uittog uit Egipte waarvan die hele Ou Testament vol is (hoofstuk 9), word dus ’n gewone volksverhuising sonder enige godsdienstige betekenis.

 

En Jeremia laat die Here sê: “Daar kom dae, sê die Here, dat Ek selfs almal wat besny is, gaan straf, of dit nou Egipte, Juda, Edom, die Ammoniete of Moab is … want al hierdie volke is tog maar onbesnede, en die hele Israel is onbesnede van hart, hulle is ontrou aan My” (Jer 9:25-26). Israel kom op dieselfde vlak as alle ander volke as hulle verhouding met die Here verval. Wat Israel Israel gemaak het, was die feit dat God hulle as sy volk voortgebring het.

 

Maar onthou Israel is die verteenwoordiger van die mensdom. God het ook nie mense sonder meer gemaak nie. Hy het mense as-sy-beeld en mense as-sy-bondgenote gemaak. Wat mense is, of liewer wat ons behoort te wees, sal dus beslissend bepaal word deur ons verhouding met Hom, en in besonder ons verhouding as sy beeld en sy bondgenote.

 

In die hoofstuk oor Abraham (hoofstuk 1) het ons reeds breedvoerig gekyk na die verbond. Ons gaan dus hier net ’n paar sake oor die verbond herhaal wat ons sal help om te verstaan wie ons behoort te wees in hierdie unieke verhouding. Die een groot saak was dat die verbond ’n monopleuriese verbond is. Dit het ’n enkelvoudige kant (mono-), maar ook ’n meervoudige kant (-pleuries). Die enkelvoudige kant is die feit dat God die inisiatief geneem het en voortgaan om dit te neem. Hy kom na Abraham, nie Abraham na Hom nie. Hulle onderhandel nie om ’n ronde tafel nie, Abraham staan op sy knieë en die Here kondig net die verbond af.

 

Dit is dus in beginsel ’n ongelyke verhouding, ’n verbond waarin ons net gevra word om te antwoord, nie die eerste woord te sê nie. Ons het in hoofstuk 1 gesien dit het wonderlike implikasies. Dit   beteken onder andere dat God alleen sal besluit oor die verbond, dat Hy kan besluit om met die verbond voort te gaan ondanks die feit dat ons dit keer op keer verbreek. Israel se geskiedenis is vol daarvan.

 

Maar juis die ongelykheid maak die verhouding paslik. As dit ’n onderhandelde ooreenkoms was, het dit nie lank gehou nie. Voor Israel in die middel van hulle tog deur die woestyn was, sou God hulle al gelos het. Hulle was van die begin af traag, onwillig, in opstand (hoofstuk 9). Maar omdat God se motivering agter die verbond liefde was, en nie wins nie, het Hy eensydig besluit om aan te gaan – vir eeue lank. En gaan dit nie met ons dalk maar omtrent net so nie?

 

Maar wanneer ons by die eienskappe van die mens kom, sal hierdie basiese ongelykheid om nog meer redes belangrik wees.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König