Waarom Paulus nie die Korintiërs se aanbod om finansiële steun wou aanvaar nie
Paulus verduidelik in 1 Korintiërs 9 waarom hy (in die Korintiërs se geval) besluit het om nie gebruik te maak van sy reg as apostel om finansieel ondersteun te word deur die gemeente nie. As hulle apostel is hy vry om dit van die hand te wys. Maar hoofsaak is dat hy nie, deur hulle geld te aanvaar, ‘n hindernis vir die verkondiging van die evangelie wil veroorsaak nie. Lees gerus meer oor hierdie potensiële hindernis, en sy ander motiverings…
Paulus is gelyktydig met twee redenasies besig in 1 Korintiërs 9. Aan die een kant verduidelik hy waarom ‘n apostel wel geregtig is op die finansiële steun van ‘n gemeente. Dit word bespreek in ‘n vorige ander artikel. In hierdie artikel word bespreek hoe Paulus verduidelik dat hy (in die Korintiërs se geval) besluit het om nie van hierdie reg gebruik te maak nie.
Paulus begin in 1 Korintiërs 9 sy verduideliking deur sy besluit in sy apostelskap te begrond. As apostel is hy vry om hulle aanbod van die hand te wys. Ten minste twee dinge bevestig sy apostelskap: Jesus het na Sy opstanding aan hom verskyn, en die bestaan van die gemeente opsigself is ‘n bewys daarvan dat hy ‘n apostel is (9:1). Al is dit miskien nie ‘n bewys dat hy universeel gesproke almal se apostel is en oral apostoliese gesag het nie, is hy ten minste onteenseglik hulle apostel (9:2), met die regte, pligte en vryhede wat dit impliseer.
Dit moes eintlik reeds genoeg gewees het om net te sê dat hy as apostel vry is om hulle geld van die hand te wys. Maar in die lig daarvan dat sommiges in die gemeente hom skynbaar van onsuiwer motiewe beskuldig het (9:3), bestee hy tyd daaraan om sy motiewe te probeer verduidelik.
Waarom dra hy eerder self die koste van sy lewensonderhoud (9:12b) terwyl hy as apostel eintlik op die finansiële steun van die gemeente geregtig is (9:4-12a)? Sy doel daarmee is om nie ‘n potensiële hindernis vir die verkondiging van die evangelie te veroorsaak nie. Wat sou hierdie potensiële hindernis wees? Daar is baie moontlikhede, waarvan almal of die meeste waarskynlik deel van Paulus se oorwegings was: ‘n verkeerde gesindheid jeens geld of ‘n verknogtheid aan geld onder gemeentelede (2 Kor. 8:9, 13-15), ‘n persepsie in die gemeente dat ‘n prediker wat deur hulle onderhou word hulle iets verskuldig is aangesien hulle sy “weldoeners” is en hy hulle “kliënt” (bv. 2 Kor. 12:14), moontlike verdenking dat hy eintlik op ‘n onderduimse manier hulle geld probeer bekom (2 Kor. 12:16-18), gelykstelling met “valse apostels” wat mense uitgebuit het (2 Kor. 11:1-15, 20-21), hy wou die selfvernederende en selfopofferende aspek van die evangelie van Christus beklemtoon (juis omdat die Korintiërs dit nie mooi verstaan het nie, bv. 1 Kor. 10:33-11:1; 2 Kor. 8:9, 11:7), ensovoorts. Die punt is, Paulus het dit ter wille van die ongehinderde verkondiging van die evangelie die beste geag om nie finansiële steun van hierdie betrokke gemeente te aanvaar nie. (Hy het dit wel aanvaar van ander gemeentes wat nie dieselfde probleme as die Korintiërs gehad het nie, vgl. 2 Kor. 11:8).
Hy noem ook nog ‘n ander belangrike rede (9:16-18). Die verkondiging van die evangelie is nie vir hom ‘n saak van prestasie (“roem”) sodat hy daardeur kan aanspraak maak op vergoeding nie. Dis eerder ‘n verpligting wat deur God op hom gelê is. Hy doen dit dus eintlik nie soos ‘n vryman wat werk vir loon nie, maar soos ‘n slaaf wat genoodsaak is om die opdragte van sy eienaar uit te voer. ‘n Slaaf se loon is nooit geld nie, maar eerder die bevrediging dat hy sy eienaar tevrede gestel het. Soortgelyk hieraan put Paulus bevrediging (“loon”) uit die wete dat hy sy roeping volvoer deur die evangelie te verkondig, nie om daardeur sy brood en botter te verdien nie maar omdat hy die Here se dienaar is en die Here hom hierdie taak opgedra het (9:18).
In hierdie lig gesien, is Paulus dus vry van verpligtinge teenoor mense. Hy hoef nie hulle aanbod om finansiële steun te aanvaar nie, want hy is nie daarvan afhanklik nie (9:19). Hy is hulle ook nie iets verskuldig nie, sy verantwoordbaarheid is teenoor die Here. Maar, verantwoordelik voor God om sy roeping te volvoer, het hy hom egter diensbaar gestel aan alle mense om sodoende soveel as moontlik mense vir Christus te wen (9:19).
In 9:23 noem hy die gedagte dat sy verkondiging van die evangelie sal meebring dat hy deel kry aan die vrug van die evangelie. Sou dit hier verwys na geld vir lewensonderhoud, waarop hy eintlik geregtig is? Nee, dit is deel van die dinge waarvan hy homself ontsê ten einde sy doel suksesvol te bereik (9:25-27)! In hierdie konteks is die vrug van die evangelie waarin hy sal deel kry, die prys van ‘n onverganklike oorwinnaarskroon (24-25) wat in die hiernamaals op hom wag as hy sy roeping volvoer het.
Hy verkondig dus die evangelie, nie om daaruit ‘n lewe te maak nie, maar om getrou te wees aan die roeping wat God hom gegee het en uiteindelik deur Hom beloon te word daarvoor.
Paulus verwag dat die gemeente sy standpunt en motiewe in die verband sal verstaan. Dit was egter ongelukkig nie die geval nie, want hy moet hom later (2 Kor. 11:7-15) weer daaroor verantwoord.
Skrywer: Ds Dirk Venter