Versoeking: Satan se taktiek

. —William Greathouse

Versoeking: Satan se taktiek

Die fokus van Satan se pogings is altyd dieselfde:  Om ons te mislei sodat ons glo dat verbygaande plesier van sondige dinge meer bevredigend is as gehoorsaamheid en vertroue op die beloftes van God.

 

Versoeking op sigself is nie sonde nie – Jesus self is versoek, maar Hy was sonder sonde.You can’t prevent the birds from flying over your head, but you can keep them from building a nest in your hair (Martin Luther). Versoeking word ‘n sonde as jy daaraan toegee. Hoekom is versoeking dikwels so sterk?

  • Soms probeer dit werklike behoeftes op onwettige maniere bevredig. Kyk na Jesus se eie versoeking. Satan sê: Sê vir hierdie klip dit moet brood word (Lukas 4:2). Brood is tog nie iets boos nie. Die begeerte na brood as jy honger is, is tog nie verkeerd nie – veral as jy veertig dae gevas het nie. Die versoeking was om Jesus te oorreed om sondige en onwettige maniere te gebruik om aan ‘n wettige behoefte te voldoen.
  • Versoeking gebeur ook as ons deugde tot so ‘n uiterste druk dat hulle ondeugde word. So kan die seën om te eet vraatsugtigheid word of die seën van rus oorgaan in luiheid, ens. So word selfversorging selfsugtigheid en selfrespek word trots. Hierdie lys kan feitlik onbeperk uitgebrei word.

Kom ons kyk nou na ‘n paar tegnieke wat Satan gereeld gebruik:

  • Satan versoek ons veral as ons geloof nog nuut is – as ons nog nie seker is oor hoe om versoekings te weerstaan nie. Daarom Paulus se waarskuwing aan Timoteus oor ouderlinge: Hy moet ook nie iemand wees wat maar onlangs tot geloof gekom het nie (1 Timoteus 3:6). Hoekom nie? So iemand kan verwaand word, en in die oordeel kom waarin die duiwel hom laat beland.
  • Satan versoek ons veral as ons dink ons geloof is op sy sterkste – as ons glo ons kan nie sondig nie. Sodra ons glo dat ons alles onder beheer het, is ons kwesbaar. An unguarded strength is a double weakness (Oswald Chambers).
  • Satan versoek ons veral as ons in ‘n vreemde omgewing is. Gordon MacDonald sê: “In the environs of home life with family and friends, there is a schedule of routines, a set of support systems, and a way of doing things, all of which lends encouragement to responsible living and, conversely restraint against irresponsible living. Virtually all of these external systems fall away when a person is hundreds of miles from home” (Rebuilding Your Broken World, 100).
  • Satan versoek ons graag as ons geloof deur swaarkry getoets word of as ons moeg is, vervolg word, geïgnoreer word, ens. Dan sê hy vir ons dat God nie regverdig is nie.
  • Satan versoek ons na geestelike hoogte- of laagtepunte. Hoogtepunte lei dikwels tot trots en ‘n vals gevoel van sekerheid. Nou is ons maklike teikens vir die vyand. Dieselfde gebeur as ons ‘n geestelike laagtepunt ervaar. Nou begin ons wonder of God werklik omgee. Ons word bitter.
  • Satan plaas sy denke in ons gedagtes … en dan blameer hy ons vir hierdie verkeerde gedagtes.
  • Hy beskuldig ons asof sy beskuldigings van die Heilige Gees kom. Hy kies sy geleenthede  op so ‘n wyse dat  ons maklik kan dink dat dit God is wat met ons praat. Hoe onderskei ons? Satan praat van veroordeling  en gevoelens van hopeloosheid – ons sonde is so erg dat God se genade onvoldoende is. God vertel ons dat Christus se kruisdood voldoende en finaal  was. Dit gaan oor hoop en vergifnis.

Hoe kan ons dan die vyand weerstaan? Hier is ‘n paar moontlikhede:

  • Rig jou gedagtes op alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees (Filippense 4:8)
  • Ken jouself. Vra jouself die vraag: “As ek die duiwel is, waar sal ek myself aanval?” Identifiseer jou swakplekke – daar waar jy kwesbaar is, daar waar jy vantevore probleme ondervind het – en beskerm jou op jou swakplekke.
  • Hanteer sonde radikaal. As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word (Matteus 5:29).
  • Konfronteer en oorwin versoeking aan die begin en nie aan die einde nie – dit wil sê voordat dit jou verswak het.



Die Ons Vader-gebed: Laat ons nie versoeking kom nie

(John Piper)

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

Reeds in die eerste hoofstukke van die Bybel lees ons van die versoeking van die eerste man en vrou. In die res van die Bybel is daar ‘n hele reeks verhale oor versoeking.

Versoeking voorveronderstel die spanning in mense tussen wat hulle is en wat hulle behoort te wees – tussen hulle huidige toestand en hulle toekomstige bestemming. Hierdie versoek in die gebed is ‘n erkenning van die menslike natuur se swakheid.

Anatomie van ‘n versoeking

Anatomie van ‘n versoeking

(Jakobus 1:14 – 15)

 

Kom ons ontleed die anatomie van hierdie versoeking.

Versoeking is die gevolg van ons eie begeertes. Ons kan nie soos Jesus sê dat die owerste van die wêreld is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie (Johannes 14:30). Daarom is dit baie belangrik dat ons ons eie harte moet ken en bewaar.

Versoeking vorder op beide positiewe en negatiewe maniere – aanlok en saamsleep. Eers word ons vaste ankers geleidelik losgemaak. Sodra ons begin dryf, word ons in die strome gevang – in die kortstondige genieting van die sonde (Hebreërs 11:25). Dit is die gewone, basiese patroon van versoeking. Dit beteken ons moet ons Christelike pligte ken en daaraan vashou.

Versoeking wat nie teengestaan word nie, lei tot die dood. Dink maar aan die dood van Dawid en Batseba se seuntjie. Maar ons dink nie daaraan nie. As versoekings kom, vergeet ons van die waarskuwings in God se woord. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede (Romeine 8:6). Ons moet altyd vra waarheen hierdie optrede my sal lei, voordat ons ingetrek word.

Die duiwel versoek Jesus

Die duiwel versoek Jesus – Francois Malan

Piet vra:

Lukas.4:6 verwys. Satan wil al die mag en koninkryke aan Jesus gee omdat dit aan hom gegee is, maar behoort alles nie aan God wat alles geskape het nie? Kan u verduidelik asseblief.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Lukas 4:6 gebruik die woord ‘duiwel’; dit beteken ‘kwaadprater’, wat iemand anders van sy eer beroof deur sy skinderpraatjies, maar dit het ook die gedagte van ‘n aanklaer. Markus 1:13 gebruik die naam Satan wat beteken ‘teenstander’ wat ook aanklaer kan wees, soos bv. in Sagaria 3:1.

‘Omdat dit aan hom oorgegee is’ – daarmee erken die duiwel dat God die mag en majesteit aan hom gegee het. So het God volgens Job 1:12; 2:6 vir Job in die mag van die Satan oorgegee om sy getrouheid aan God te toets. In Deuteronomium 8:2 sê die Here vir die volk Israel: ‘Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie.’ Lukas 4:1,2 sê: ‘Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei, waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is.

Dit is duidelik dat die Here versoekings deur die duiwel toelaat, om die gelowiges op die proef te stel. So sê Jakobus 1:2-4: ‘My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet enduit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.’ In Jakobus 1:13-15 waarsku Jakobus egter: ‘Iemand wat in die versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort, en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.’

God laat toe dat die duiwel vir Jesus versoek, net soos Hy toelaat dat die duiwel ons versoek met sy aanloklike aanbiedinge wat ons begeertes opwek wat na sonde en die dood lei. Daarom sê Jakobus 4:7: ‘Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.’ So het Jesus die duiwel en sy versoekings weerstaan, en die duiwel het Hom ‘n tyd lank met rus gelaat (Luk. 4:13). Jesus het ten volle mens kom word om ons sondeskuld en sondestraf op Hom te neem. Hebreërs 4:15 ‘…Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoekings onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.’

‘Maar behoort alles nie aan God wat alles geskape het nie?’ Genesis 1 en 2 getuig dat God alles geskape het (1:1 hemel en aarde; 1:27 die mens; 2:3 al die skeppingswerk). Paulus noem God die Skepper van alle dinge (Efesiërs 3:9).

Hoe die mag en koninkryke in die hande van die duiwel gekom het – God het die mens na sy eie beeld en goed gemaak, nie as ‘n willose stok of ‘n blok nie, maar met die vryheid en verantwoordelikheid om self te kies, en God met sy hele hart lief te hê en te gehoorsaam. Maar die mens het besluit om sy eie kop te volg, om vir homself te lewe, en het sy rug op God gedraai. Daarom het God die mens aan sy eie begeertes oorgegee, wat hom na sonde en die dood lei (vgl. Romeine 1:24,26).

God het nie die sonde of die duiwel gemaak nie. Die duiwel is ook ‘n skepsel wat God baie goed gemaak het, soos alles wat Hy gemaak het (Gen.1:31). Judas vers 6 sê: dat daar engele was wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. 2 Petrus 2:4 sê: God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie, maar hou hulle vir die oordeel in die duisternis van die hel (letterlik: van Tartarus, die onderwêreld, of ondermaanse, die wêreld waarin ons woon met die bose geeste in die lug, Efesiërs 6:11,12). Maar met Jesus se oorwinning oor die duiwel wat ons aankla, sê Jesus: Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val (Lk 10:18). Hy is nou ‘n vyand wat verslaan is, teen wie ons weerstand kan bied met die krag van God se Gees in ons (Ef 6:18).

In Johannes 12:31; 14:30; 16:11 word die Satan die owerste van hierdie wêreld genoem. Hy het geen mag oor Jesus nie (Jn 14:30),  maar uit liefde vir die wêreld se mense is Jesus bereid om Hom oor te gee aan die duiwel se mag wat hy deur die Joodse Raad en Pilatus uitoefen om aan die kruis die sonde en die dood te oorwin. In Joh 10:18 sê Hy: niemand neem my lewe van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Wanneer Jesus van die aarde ‘verhoog’ is aan die kruis, en na sy opstanding verhoog word na die hemel (12:32) word die duiwel uitgegooi buitentoe (Jn 12:31). So word die duiwel onttroon en Jesus gekroon as die eintlike heerser oor die wêreld.

Maar die wyse waarop Jesus die mag en majesteit verkry, is nie deur geweld nie. Dit sou dan beteken dat Hy mense sou kon dwing om Hom te gehoorsaam. Maar Hy het gekom om die mens met liefde te oorwin, en daarom is sy sterwe aan die kruis ‘n liefdesdaad wat ons met liefde wil oortuig, sodat ons Hom uit dankbaarheid sal liefhê en vrywillig as ons God sal dien. Liefde is wel ‘n gevoel van toegeneëntheid, maar is veral ‘n wilsbesluit om jouself te verloën en ander te dien..

Al kan die duiwel ná die opstanding van Jesus nog met sy bose werk voortgaan, is sy mag gebreek en kan die gelowige hom weerstaan met die liefdeskrag van God deur die Heilige Gees wat in ons kom woon het.  Met Jesus se dood en opstanding is die Satan klaar veroordeel (Jn 16:11). 2 Korintiërs 4:4 noem hom ‘die god van hierdie wêreld’ vir wie die mense gekies het om te dien; Efesiërs  2:2 sê ‘…julle het julle laat lei deur die vors van die onsigbare bose magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is. 1 Johannes 3:8 sê: wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.’ In Matteus 25:41 sê Jesus: met sy wederkoms sal die ongelowiges na die ewige vuur toe gaan wat God vir die duiwel saam met sy engele berei het (vgl Openb.20:10).

Toe die duiwel die heerskappy oor die wêreld aan Jesus aangebied het, was sy versoeking juis dat Hy sy goddelike krag moet misbruik, deur die wêreld aan Hom te onderwerp op die duiwel se manier, met mag en geweld, soos die duiwel sê: ‘as U maar net voor my buig en my aanbid’ (Luk.4:7). Jesus sê: die duiwel is van die begin af ‘n moordenaar, ‘n leuenaar en die vader van die leuen (Joh 8:44). Jesus antwoord met Deuteronomium 6:13,14: ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien’ (Luk.4:8). Toe Petrus in Getsemane die slaaf van die hoëpriester se oor afkap, vermaan Jesus hom: Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel (Mat 26:52-55); moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie? (Joh 18:11). Weereens weerstaan Jesus die versoeking om sy goddelike mag te misbruik.

God is liefde (1 Joh.4:8,16). Liefde is die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees, die band van hulle eenheid waarin hulle ons wil opneem deur die Heilige Gees wat in ons kom woon, sodat ons ook uit liefde vir God en vir mekaar sal lewe. Jesus kom die wêreld oorwin met liefde (vgl. Joh.3:16). Dit doen Hy deur sy lewe te gee; die goeie herder lê sy lewe af vir die skape (Joh.10:15). So verlos Hy die wêreld en elkeen wat in Hom glo, vir die nuwe en ewige lewe waar die God van liefde alles vir alles sal wees (1 Kor 15:28).

 

Skrywer: Prof Francois Malan