Versoen met die Heilige Gee – Francois Malan

Sue vra:

Hoe versoen ‘n mens die Heilige Gees? – dis ‘n vraag wat een van my dogters my gevra het en ek sal graag aan haar die korekte antwoord wil gee.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Ek veronderstel die vraag bedoel: hoe word ek/ons met die Heilige Gees versoen.

 

Die Heilige Gees is ‘n Persoon in die godheid saam met die Vader en die Seun. In Johannes 14 sê Jesus:

In die huis van my Vader is daar baie woonplek…Ek gaan om vir julle plek te berei (14:2)

As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en

Ons sal na hom toe kom en by hom woon (14:23)

As julle My liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam. En Ek sal die Vader vra en Hy sal

vir julle ‘n ander Helper gee sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees

van die waarheid…Julle ken Hom, om Hy by julle en in julle sal wees (14:15-17).

Die Helper, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles

onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het (14:26).

 

Ons versoening is met God, die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

Dit begin by God wat die wêreld wat Hy geskep het so lief het dat Hy sy enigste Seun

gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (Joh 3:16).

…wanneer iemand gesondig het, het ons Jesus Christus, die Regverdige, as Helper by die Vader. En Hy is ‘n versoening/soenoffer vir ons sondes – nie net vir ons sondes

nie maar ook vir dié van die hele wêreld ( 1 Joh 2:1-2)

Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad

het en sy Seun gestuur het as soenoffer vir ons sondes (1 Joh 4:10).

Almal het gesondig en nagelaat om die eer aan God te gee, en tog word hulle

goedgunstiglik vrygespreek deur die bevryding in Christus Jesus. Hom het God

daargestel as ‘n versoeningsoffer in sy bloed, en wat deur die geloof verkry word

(Romeine 3:23-26).

 

Die geloof in Jesus as ons versoening met God word gewerk deur die Heilige Gees wat ons deur die woord van die Here oortuig van ons sonde, en van geregtigheid – dat ons verhouding met God reggestel is deur Christus se offer – en oordeel – as ons ons nie bekeer tot die Here Jesus nie (Johannes 16:7-11). Efesiërs 2:8 sê ook dat ons geloof in Jesus ‘n gawe van God is.

Romeine 8:11 sê: As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

 

God werk in ons deur sy woord wat ons hoor oor Jesus wat ons versoening met God bewerk het deur sy sterwe en opstanding. Die Heilige Gees gebruik dié woord om ons te oortuig van ons sonde en dat ons deur Jesus se sterwe met God versoen is en God se kinders geword het in ons geloofsverbondenheid aan sy Seun. Ons versoening is met God. Jesus het dit bewerk aan die kruis toe Hy, wat self God is, al ons sonde en die sonde van die ganse wêreld op Hom geneem het en so versoening vir ons berei het. Die Heilige Gees verbind ons aan Jesus se soenoffer deur ons tot geloof in Jesus te oortuig.

 

Hoe versoen ‘n mens die Heilige Gees? – 1 Joh 1:9 sê: As ons ons sondes erken – God is getrou en regverdig en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig.

Romeine 8:26 sê: So kom die Gees ons ook in ons swakheid te hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Werk: Werk saam met God se versoeningsending (1)

Unless there is an element of risk in our exploits for God, there is no need for faith. —Hudson Taylor

Werk: Werk saam met God se versoeningsending (1)

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Werk is ‘n ingewikkelde, belangrike, selfs intieme deel van wat dit beteken om mens te wees. Dit is verbasend hoe min die kerk oor werk te sê het. Die kerk kan mos nie relevant wees as dit niks hieroor sê nie. As ons vir gemak of doeltreffendheid kortpaaie neem, verwater ons die vreugde van die evangelie. In ‘n kultuur wat deur gemak gedefinieer word, moet die kerk weer die betekenis van goeie werk ontdek. Ons moet ‘n balans ontwikkel tussen werk te ernstig opneem en dit glad nie ernstig opneem nie. Deur goeie werk te doen is een manier om as volgelinge van Jesus te reageer op die werk wat God reeds besig is om om ons te doen.

 

Die beginpunt van die Stadige Kerk se benadering tot werk is dat ons nie in beheer is nie. Alles, hemel en aarde, is God se huishouding. Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here (Psalm 24:1). Hierdie begrip van die huishouding is ‘n belangrike een in die Skrif. Vir die vroeë Christus beweging was dit die beginpunt van alle sosiale, politieke, godsdienstige en ekonomiese aktiwiteit. Die wet van God se huishouding is nie op skaarste nie maar op oorvloed gebou; nie op dood nie maar op lewe; nie op opgaar maar vrygewigheid. Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God (Efesiërs 4:19).

Goeie werk behoort fundamenteel te beteken samewerking met God. Dit is gewortel in die werk wat God reeds gedoen het en steeds besig is om te doen in ons samelewing en die wêreld en ook in die kerk. Die normale definisie vir werk sluit gewoonlik daardie dinge uit wat ons doen sonder om daarvoor betaal te word – ouerskap, vrywillige werk, versorging van die tuin, ens. As ons die woord werk beperk tot dit waarvoor ons betaal word, bepaal ons baie gou die waarde van werk volgens die salaris wat betaal word. Moet ons nie eerder die belang van die werk bepaal deur die mate waartoe dit die samelewing baat nie.

Mense is na die beeld van God gemaak. Hy het vir ses dae gewerk en op die sewende dag gerus. God se opdrag aan die eerste mense was om vrugbaar te wees, en die aarde te bewoon en bewerk. Hy moet ook oor die diere heers. Al hierdie dinge behels werk. In Genesis 2:15 lees ons dat God die mens in die tuin laat bly het om dit te bewerk en op te pas.

Dwarsdeur die Skrif lees ons dat God mense vir sy werk toerus.Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen … Aan elke vakman het Ek die vaardigheid gegee sodat hulle alles kan maak wat Ek jou beveel het (Eksodus 31:3 – 6). In 1 Korintiërs 12:4 – 7 lees ons van die verskeidenheid van geestelike gawes wat die Gees gee – tot voordeel van almal. Werk wat die hele persoon betrek, dikwels in samewerking met ander, tot voordeel van die hele gemeenskap is die ideaal.

Hoekom word werk dan dikwels as betekenisloos gesien? Adam Smith (1723 – 1790) plaas werk sentraal in die lewe van die individu en die samelewing. Hy beskou werk slegs in terme van bruikbaarheid – nie menswaardigheid nie. Die doel van werk is produksie; die doel van produksie is verbruik. Mense werk dus, want dit gee aan hulle die mag om dinge te koop en vir dienste te betaal. Die belangrikste bron van ‘n land se rykdom is menslike arbeid. Hierdie skep probleme op die vlak van die individu – werk is iets wat ons moet vermy as ons dit kan bekostig.

Smith het in die verdeling van arbeid geglo – sekere beperkte dele van die vervaardigingsproses word aan verskillende mense gegee om sodoende doeltreffendheid te verbeter en produktiwiteit te verhoog. Werkers word uitgebuit; hulle take is dikwels herhalend, vervelig en onbevredigend – dehumaniserend. Daar is geen ruimte vir kreatiwiteit nie.

Frederick W. Taylor (1856 – 1915) verdeel  die werkplek in komponente wat gestandardiseer, gekwantifiseer, evalueer en beheer kan word. Hy vertrou nie werkers om hulle eie inisiatief te neem nie. Absolure uniformiteit is die kern. Werkers is meer produktief as hulle soos robotte ‘n vaste roetine volg. Saam met Henry Ford ontwikkel Taylor die eerste monteerbaan. Hier het ons die voorloper van McDonaldifikasie.

McDonalds  het ‘n opleidingshandboek wat alles presies voorskryf en dikteer elke aspek van werk in die restaurant – dit weeg amper twee kilogram! Dit is net reëls en regulasies – dit is tegnologie wat mense beheer. “In die verlede was die mens eerste; in die toekoms moet die sisteem eerste wees” (Frederick Taylor). Daar is selfs ‘n gemeente in Florida in die VSA wat ‘n werkboek vir hulle aanbiddingspan het – almal moet swart dra, hulle mag nie oorgewig wees nie, moet op ‘n spesifieke plek op die verhoog staan en mag niks dra wat die aandag op hulle sal verstig nie. Hulle mag selfs nie hulle hande oplig nie. Dit is beheer.

Die McDonalds handboek sê vir werkers hoe om op te tree onder elke situasie. Benader ons nie soms die Bybel op dieselfde wyse nie? Ons sien die Bybel as ‘n omvattende kaart wat ons deur die lewe moet lei – seker en doeltreffend. Gebruik ons nie dan die Bybel op ‘n manier wat dit nie bedoel is om te gebruik nie? Vir die Jode in die tyd van die Ou Testament was die Skrif die beginpunt van ‘n lewenslange gesprek met God wat in die konteks van ‘n groter gemeenskap plaasgevind het. Die Skrif is ‘n kompas en nie ‘n padkaart nie. Die kompas wys na Jesus – die ware noord. Dit is waar die reis – die gesprek, die verhouding – begin.

Volgende keer gaan ons kyk na die implikasies hiervan vir die kerk.




Hipermobiliteit en Individualisme

 

Those hearts must be harder than iron or stone which are not softened by such incomparable sweetness of divine love – Johannes Calvyn

Hipermobiliteit en Individualisme

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Die grootste uitdaging vir stabiliteit in kerke is hipermobiliteit en individualisme. Hipermobiliteit is ‘n kenmerk van ons hedendaagse Westerse kultuur. Mense verander voortdurend van adres – selfs gereeld van provinsie. Ons jaag die beste opvoedkundige en beroepsgeleenthede na. Ons lewe word georden deur die storie van self. Omdat ons so baie rondskuif, is ons nie meer deel van ‘n besondere plek of gemeenskap nie – ons behoort eintlik nêrens nie. Amerikaners verander hulle huis gemiddeld 14 keer tydens hulle lewens.

 

Net so ernstig is individualisme – ons leef ons eie storie uit. Stories is kragtig, maar daar is ook sekere slaggate waarvan ons bewus moet wees. Ons mag onsself te kras beoordeel as dinge nie volgens plan verloop nie. Ons word toenemend deur die lewe gevorm in plaas daarvan dat ons die lewe vorm. Ons moet versigtig wees, want ons is nie die enigste skrywers van ons storie nie.

Deur die stories van onsself na te jaag word ons dikwels toeriste van die lewe. ‘n Toeris is iemand wat in mense se lewens vakansie hou – hy neem fotos, plaas dit in sy album en beweeg dan verder. Hy stel net belang in stories – basies is hy selfsugtig.

Die basies vraag is: wat is die primêre storie waarom ons ons lewens vorm? Jaag van die een opwindende storie na die ander soos ‘n adrenalienverslaafde? Ons mag suksesvol in die wêreld wees, maar agter ons laat ons ‘n reeks gebroke verhoudings. Die stadige werk van geestelike vorming – die daaglikse werk as vakmanne van Jesus, die langtermyn toewyding aan besondere mense en ‘n besondere plek – al hierdie belangrike besonderhede van ‘n vervulde lewe maak ons rusteloos en ontevrede. Kry ons egter ons identiteit primêr in die storie van die Skrif begin ons plek en gemeenskap verstaan as ‘n integrale deel van God se versoening met die skepping.

Volgende keer gaan ons ma misplaasde godsdiens kyk.




Hoe God se roeping van versoening ontvou

Zeal and sincerity and fervour are no proof whatever that a man is working for Christ, and ought to be believed – J. C. Ryle

 

Hoe God se roeping van versoening ontvou

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Dink net ‘n oomblik na oor die groot diversiteit van God se skepping. Die sending van God fokus op die verlossing en versoening van ‘n diverse skepping. Hoe gaan Hy dit regkry? Daar is nie universele oplossings nie. God is besig om die hele skepping te versoen, maar sy versoening gee aandag aan diversiteit – Hy ontken nie diversiteit nie. Dit word beliggaam in geloofsgemeenskappe van alle soorte wie se lede met God, met mekaar en met hulle naastes versoen word.

Na Jesus se kruisdood en opstanding het sy dissipels oor die hele wêreld versprei. Hulle vestig oral gemeentes – manifestasies van Christus se liggaam op spesifieke plekke. Hierdie geloofsgemeenskappe het mekaar ondersteun en saam volwasse geword. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwaase soos Christus (Efesiërs 4:13). Die menswording van Christus duur nog voort – in die liggaam van Christus – die kerk. Deur geloofsgemeenskappe gewortel in spesifieke plekke wat Christus op so ‘n wyse beliggaam dat Hy deur die mense in die gemeenskap ondervind en gesien kan word. God versoen die skepping plek vir plek deur ‘n geloofsgemeenskap wat by mense betrokke is. Die Benediktyne noem dit stabiliteit.

Volgende keer gaan ons na twee groot probleme kyk: hipermobiliteit en individualisme.