Wat sal die Engelse vertaling vir die woorde “ter helle neergedaal” wees? – Hermie van Zyl

Van: Rudolf

Onderwerp: Engelse vertaling vir woorde in Geloofsbelydenis

Boodskapteks: Wat sal die Engelse vertaling vir die woorde “ter helle neergedaal” wees?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord.

Dis ‘n kort vragie met ‘n ietwat lang antwoord. Ek handel eers oor die Afrikaanse vertaling van hierdie frase, dan die Engelse. Die probleme in die vertaling van hierdie formule vertoon in Engels dieselfde kenmerke as in Afrikaans, want dit hang alles af van die interpretasie wat aan die oorspronklike Latynse formule gegee word. Met ander woorde: die vertaling volg die interpretasie.

Die frase “neergedaal ter helle” was nie deel van die oorspronklike Belydenis van Rome (2e/3e eeu nC) waaruit die Apostolicum (Apostoliese Geloofsbelydenis/Twaalf Artikels) gegroei het nie. Dit kom ook nie in die Geloofsbelydenis van Nicea (325 nC) voor nie. Die vroegste voorkoms van hierdie frase vind ons in die Belydenis van Sirmium (359 nC). Daarna is dit sporadies in ander belydenisse opgeneem. Ná die 6e eeu kom dit baie meer voor en uiteindelik is dit ook opgeneem in die Apostolicum (finale bewoording in 8e eeu nC).

Die oorspronklike Latyn van hierdie formule in die Apostolicum (soos dit in die 8e eeu nC geformuleer is) lui: descendit ad inferna. (Vir dié wat Latyn ken: inferna is die akkusatief neutrum meervoud van infernus.) In Afrikaans beteken die frase dus letterlik: “hy het neergedaal na die (geeste van die) onderste dele/onderwêreld”. Dit korrespondeer met die oorspronklike Griekse teks van die Apostolicum, wat lui: κατελθόντα εἰς τὰ κατώτατα (katelthonta eis ta katōtata), met dieselfde betekenis as die Latyn.

Die vraag is net wat hierdie “onderste dele/onderwêreld” beteken. Die nuutste navorsing dui daarop dat die oorspronklike bedoeling van hierdie formule waarskynlik was om te verwys na die doderyk (Hebreeus sheōl, bv Ps 6:6; Grieks hadēs, bv Op 20:13). In die Bybel is die doderyk die plek waarheen alle afgestorwenes gaan – goed of sleg, regverdig of onregverdig. Alle dooies verkeer hier in afwagting op die finale oordeel wanneer almal se ewige lot bepaal word deur God. Een van die erkende maniere om destyds te beskryf dat iemand werklik dood is, was om te sê dat iemand na die doderyk gegaan het of homself in die doderyk bevind. Toegepas op Christus wou die kerk met hierdie formule dus bely dat Christus na sy mensheid werklik dood was; Hy het nie maar net ‘n skyndood ondergaan nie, maar het soos alle mense ná sy dood na die doderyk gegaan. En destyds is geglo dat die doderyk onder die aarde gelokaliseer was, vandaar die term in Latyn en Grieks wat “onderste dele/onderwêreld” beteken. So gesien sou mens die frase dan in Afrikaans vertaal met: “hy het neergedaal na die doderyk”.

Gaandeweg het die formule egter ‘n betekenisverskuiwing ondergaan. Vanuit ‘n teks soos 1 Pet 3:19 is gespekuleer dat Christus nie net in die doderyk was nie, maar spesifiek in die hel, die blyplek van die duiwel, sy engele en alle ongelowiges. Christus se taak sou dan veral wees om die gelowiges van die ou verbond te bevry uit die hel. Die Grieks vir “hel” is geenna (uitgespreek “gehenna”) (bv Matt 23:33). Indien so verstaan, moet mens die frase dan vertaal: “neergedaal na die hel”. En vir lank was dit die gangbare verstaan van die frase.

Die kerk het egter later begin worstel met die betekenis hiervan. Want watter Skriftuurlike basis sou daar wees vir die interpretasie dat Christus in die hel was? (Behalwe 1 Pet 3:19, wat egter ook op ander maniere uitgelê kan word.) En wat sou Hy daar gemaak het? En sê Jesus dan nie aan die moordenaar aan die kruis dat dié vandag saam met Hom in die Paradys sal wees nie (Luk 23:43)? “Paradys” en “hel” rym eenvoudig nie. Ensovoorts. Daarom was iemand soos Calvyn van mening dat “neergedaal na die hel” nie letterlik verstaan moet word nie, maar figuurlik: dis naamlik ‘n aanduiding van die helse pyne wat Christus aan die kruis gely het. Die neerdaling na die hel is dus nie ‘n verdere stadium in die vernedering van Jesus ná sy dood en begrafnis nie, maar is ‘n beskrywing van die soort lyding wat Hy vóór sy dood aan die kruis ervaar het – dat Hy Hom selfs van God verlate gevoel het (Mark 15:34). Om hieraan uitdrukking te gee, word daar in Afrikaans dan eerder vertaal: “neergedaal ter helle”. Die “ter helle” sou die figuurlike betekenis beter na vore bring. Die Gereformeerde Kerke in SA het dit egter nog duideliker vertaal om alle misverstand uit die weg te ruim en om die figuurlike betekenis beter toe te lig, naamlik: “Hy het die lyding van die hel ondergaan.”

Slotsom: In Afrikaans is daar dus hoofsaaklik drie opsies om die frase descendit ad inferna te interpreteer en gevolglik te vertaal: (1) Indien mens nader aan die waarskynlik oorspronklike bedoeling van die formule wil beweeg – as aanduiding dat Jesus werklik dood was – behoort mens te vertaal: “Hy het neergedaal na die doderyk”, of: “Hy het na die doderyk gegaan”, of: “ja, Hy was werklik dood”. (2) Indien inferna as “hel”, in die tegniese sin van die woord, verstaan word (verblyfplek van die duiwel en sy volgelinge), moet mens vertaal: “Hy het neergedaal na die hel”. (3) Indien inferna figuurlik verstaan word, is daar verskeie vertaalopsies: “Hy het ter helle neergedaal “, of: “Hy het die lyding van die hel ondergaan”; of: “Hy het helse smarte/angste gely”, of: “Hy het die angste van die hel ondergaan”.

Na bostaande (Afrikaanse) uiteensetting is dit makliker om die toneel van die Engelse vertalings van hierdie frase te verstaan. Hulle volg in wese dieselfde patroon as die Afrikaanse vertalings.

Engelse vertalings wat opsie 1 hierbo volg, vertaal: “he descended to the dead”. Dit is terselfdertyd ook die meer moderne vertaling van die Apostolicum op hierdie punt. Die Anglikaanse Kerk (Church of England) se Common Worship (2000) volg byvoorbeeld hierdie opsie, so ook die ekumeniese groep, English Liturgical Consultation (1988), asook die Catechism of the Catholic Church (1997). Dit is duidelik dat hierdie vertaling deesdae deur baie Engelse kerke verkies word omdat dit berus op beter navorsing oor die betekenis van hierdie formule in die Apostolicum (soos hierbo bespreek) en ook omdat dit die minste teologiese verstaansprobleme vir moderne gelowiges oplewer.

Die ouer Engelse vertalings van die Apostolicum volg egter opsie 2, as die tradisionele manier waarop hierdie frase vertaal is, en vertaal met: “he descended into hell”. Die  Roman Missal van die Rooms-Katolieke Kerk, sowel as die Book of Common Prayer (1662) van die Church of England, en die Lutherse Kerk volg hierdie vertaling, soos trouens talle tradisionele hoofstroomkerke. Die rede waarom baie Engelse kerke nog hierdie vertaling verkies, het waarskynlik daarmee te doen dat in die tyd toe hierdie vertaling ontstaan het (17e eeu), “hell” nog nie die toegespitste betekenis gehad het wat dit vandag het nie. “Hell” kon toe nog in beide die betekenisse van “doderyk” (blyplek van alle afgestorwenes) en “plek van verdoemenis” (woonplek van die duiwel, sy engele en ongelowiges) gebruik word. Selfs nadat daar ‘n betekenisverskuiwing plaasgevind het en “hell” ook in Engels al meer die toegespitste betekenis van “verdoemenis” begin kry het, is dit steeds behou in vertalings van die Apostolicum. Maar, soos by opsie 1 aangetoon, het daar wel in die onlangse tyd vertalings die lig begin sien wat met “he descended to the dead” vertaal, wat die moderne gevoel beter weergee.

Wat opsie 3 betref – die figuurlike verstaan van descendit ad inferna – is daar vreemd genoeg na my beste wete nie Engelse vertalings wat hierdie opsie volg nie. Dit het waarskynlik daarmee te doen dat daar ‘n groter mate van dubbelsinnigheid in die Engelse term “hell” is as in die Afrikaanse “hel”, en dat Engelse kerke daarom voel dat “hell” as die tradisionele term behou moet word, miskien met ‘n voetnoot ter verduideliking van die bedoeling daarvan. En, soos reeds genoem, is daar Engelse vertalings wat die probleem van “hell” ondervang deur eerder met “he descended to the dead” vertaal.

Daar is ook ‘n 4e opsie wat by sommige Engelse kerke voorkom, en dit is dat hierdie frase gewoon weggelaat word. Byvoorbeeld, die vroeë liturgiese boeke van die Metodiste Kerk laat dit weg (hoewel dit sedert 1989 by die United Methodist Church teruggekeer het as “descended to the dead”), en die Presbyterian Church of America en Baptiste Kerk laat dit ook weg. Die rede hiervoor is voor die hand liggend: omdat die frase (veral in sy tradisionele vorm – “into hell”) verwarring by moderne gelowiges veroorsaak, en omdat daar ook historiese redes vir die weglating is, naamlik dat die frase nie oorspronklik in die Apostolicum voorgekom het nie maar eers later bygevoeg is, soos aan die begin verduidelik.

Ten slotte moet net op die verskillende Latynse formulerings van hierdie frase gewys word. Die oorspronklike formulering is waarskynlik descendit ad inferna, soos reeds aangetoon. Maar ‘n formulering wat ook dikwels voorkom, is descendit ad infernos (“Hy het neergedaal na die bewoners van die doderyk”). ‘n Alternatief vir hierdie gedagte is die formulering: descendit ad inferos (sonder die “n”) (“Hy het neergedaal na hulle wat benede woon”). Al hierdie formulerings is egter net variasies op dieselfde tema, en het nie wesenlike betekenisverskille tot gevolg nie. Die klem in hierdie variasies val net sterker op die inwoners van die doderyk, maar dié word in elk geval reeds geïmpliseer in die oorspronklike formulering, descendit ad inferna.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die Verlore teks

Die Verlore teks – Francois Malan

Thys vra:

Daar is egter nog waarwordings wat my verwonderd laat. Ons is in ‘n omgeegroep wat weekliks op Dinsdagmiddae bymekaar kom om uitsluitlik in die gees te groei.Wat opmerkend is,is dat vers 37 van HANDL 8:37 nie in die 1983 vertaling verskyn nie, maar wel in die3353 vertaling.Vir my is die waarde van en die rede vir Jesus se kruisiging en opstanding geheel hierdeur verydel aangesien die voorwaarde nl die geloof (glo) dat JESUS CHRISTUS die seun van GOD is wie vir ons sondes geserf het om ons voor HOM (GOD) Sy Vader te regverdig en dan juis hierom verseker dat ons nuut gebore moet word sodat ons met Sy wederkoms geheilig gaan word om in Sy Koninkryk saam met Hom te regeer en ewig te lewe Dit mag mos nie gebeur het nie, aangesien God ons in Deutr.2:2 daarteen vermaan om niks uit die woord te haal of by te voeg nie. Druis dit nie in met die Heiligmakings proses nie? Shalom.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Dit is ‘n lang storie:

Ons het geen oorspronklike geskrif van enige Nuwe Testamentiese boek nie. Alles wat beskikbaar is, is kopieë van kopieë van die Grieks wat Paulus, Markus, Lukas en die ander geskryf het. Daarby is alle geskrifte met die hand oorgeskryf totdat Johannes Gutenberg in Mainz Duitsland die Latynse vertaling van die Bybel met masjiene begin druk het tussen 1450-1456.

Oor die uitlating van Handelinge 8:37 is die kommentaar van die Instituut:

Die middeleeuse teks wat Erasmus gebruik het vir sy tweede uitgawe, het nie vers 37 gehad nie, maar dit het in die kantlyn gestaan van die teks wat hy vir die vierde uitgawe bygewerk het. Erasmus het dit toe in sy 4e uitgawe ingevoeg omdat hy geoordeel het dat dat dit uitgelaat was deur ‘n nalatige afskrywer.

‘aangesien God ons in Deutr.2:2 daarteen vermaan om niks uit die woord te haal of by te voeg nie. Druis dit nie in met die Heiligmakings proses nie?’

Dit lyk eerder asof Hand 8:37 bygevoeg is by die oorspronklike teks wat Lukas geskryf het.

‘Vir my is die waarde van en die rede vir Jesus se kruisiging en opstanding geheel hierdeur verydel aangesien die voorwaarde nl die geloof (glo) dat JESUS CHRISTUS die seun van GOD is wie vir ons sondes geserf het om ons voor HOM (GOD) Sy Vader te regverdig en dan juis hierom verseker dat ons nuut gebore moet word sodat ons met Sy wederkoms geheilig gaan word om in Sy Koninkryk saam met Hom te regeer en ewig te lewe.’

Ek het tog ‘n vraagteken by die volgorde wat jy hier mooi omskryf. Ons word nuut van Bo af uit God gebore deur die Heilige Gees, om van ons kinders van God te maak wat aan die Seun van God verbind word om  met sy dood en opstanding verbind te word. Die Heilige Gees doen dit deur ons daarvan te oortuig deur veral die prediking van die woord van God (vgl Rom 10:14-15), sodat ons besluit om in Jesus as ons Verlosser te glo. Selfs ons geloof is ‘n gawe van God (Ef 2:8). Ons geloof in Christus is die bewys dat ons sy kinders is en dat die Heilige Gees in ons woon. En as ons in Jesus Christus glo as die Here van ons lewe, is ons reeds geheilig. 1 Kor 1:10 sê letterlik: ‘Deur Hom (God) is julle in Christus Jesus wat vir ons die wysheid geword het wat van God kom: regverdiging sowel as heiliging en bevryding.’ Christus is ons heiliging, ons regeer nou reeds saam met Hom oor versoekings en sonde, en ons het nou reeds die ewige lewe, ‘n lewe in gemeenskap met God wat in ons kom woon het (Johannes 3:36; 10:27-29; 14:18,23). Met sy wederkoms sal ons ten volle ken, soos God ons ten volle ken (1 Kor 13:12) en sal ons volmaak wees deur ons ten volle aan God te onderwerp en Hy alles in almal sal wees (1 Kor 15:28). 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die King James Bybel

Die King James Bybel – Coen Slabber

The most influential version of the most influential book in the world, in what is now its most influential language.

Dit is een van die kommentare op die King James Bybel toe dit in 1611 – vier honderd jaar gelede – verskyn het. Dit was egter nie die eerste Bybelvertaling in Engels nie. Tydens die bewind van koning Henry VIII verskyn die Great Bible en in 1568 die Bishop’s Bible.

In Januarie 1604 roep koning James I die Hampton Court Conference bymekaar. Hulle besluit dat ’n nuwe vertaling nodig was, veral as gevolg van die probleme wat die Puriteine met die ou vertalings gehad het. Die koning se opdrag was dat die vertaling die ekklesiologie en episkopale (biskoplike) struktuur van die Kerk van Engeland moes weerspieël.

Daar was 47 vertalers wat in ses komitees gewerk het – twee elk by die universiteite van Oxford, Cambridge en Westminster. Almal was lede van die Anglikaanse Kerk. Die Ou Testament is uit Hebreeus, die Nuwe Testament uit Grieks en die apokriewe uit Grieks en Latyn vertaal.

By hierdie eerste vergadering word ’n aantal algemene reëls vir die vertaling neergelê. Hier is ’n paar van hulle:

  1. Die name van die profete en skrywers moet so vêr as moontlik onveranderd bly.
  2. Die ou “kerkwoorde” moet behoue bly – kerk mag nie met gemeente vervang word nie.
  3. Die verdeling in hoofstukke moet so vêr as moontlik behoue bly.
  4. Daar mag geen kantnotas wees nie, behalwe om Griekse of Hebreeuse woorde te verduidelik.
  5. Elke persoon op elke komitee moet sy gedeelte individueel vertaal. Daarna kom die hele komitee bymekaar. Hulle bespreek die vertaling en besluit dan wat ingesluit sal word.
  6. Elke komitee se vertalings moet aan al die ander komitees gesirkuleer word.
  7. Verskille sal by ’n algemene vergadering uitgesorteer word.
  8. Die Bishop’s Bible is hulle vertrekpunt, maar hulle kon ook ander vertalings gebruik – Tyndale, Coverdale en Geneva.

Die verskillende komitees het hulle werk in 1608 voltooi. Vanaf 1609 het die general Committee of Review die werk van die komitees hersien. Aartsbiskop Bancroft dring aan op finale seggenskap. Hy bring 14 veranderinge aan. In 1611 word die Bybel gepubliseer deur die koning se drukker Robert Barker – of as los bladsye of gebind.

Die eerste uitgawe het ’n interessante titel gehad: The Holy Bible, containing the Old Testament and the New: Newly translated out of the original tongues: with the former translations diligently compared and revised by his Majesty’s special Commitment.

in die eerste helfte van die 18de eeu word die King James Bybel algemeen aanvaar as die Bybel van die Protestantse kerke in Engeland. Soos die Nederlandse en later Afrikaanse Bybel ’n groot rol gespeel het in die uitbouing van die taal het die King James Bybel ook baie mense leer lees en skryf. Nie minder as 257 idiome in die Engelse taal het hulle oorsprong in hierdie Bybel.

Hierdie artikel is geskryf om een van die pilare van Bybelvertaling se 400ste herdenking te vier.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




HERE en Here

HERE en Here – Marius Nel

Helene vra:

Ek merk op dat in die OAV bv in Dan 9:4 en 7 HERE en Here gebruik word. Sien dit ook in NIV maar dit is nie in die NAV so nie. Waarom die verskil -kom ook voor in die res van die OAV. Sal bly wees as u vir my dit kan verklaar. Seen en dankie.

Antwoord:

Dr. Marius Nel antwoord:

In die OAV is JHWH aangedui as HERE, en Adonai as Here. In die NAV word albei as Here aangedui.

 

Skrywer: Dr Marius Nel