Die Groot Geloofswoordeboek: Vrede

Die Groot Geloofswoordeboek: Vrede

Vrede

Die vrede wat God in die Bybel beloof, is soveel ryker as dit wat ons gewoonlik onder vrede verstaan. In die omgang het die Hebreeuse woord sjaloom (shalom) al bekend geword. Sommige mense gebruik dit selfs as ’n groet.

Onder vrede verstaan ons gewoonlik die afwesigheid van span­ning, stryd, oorlog. “Daar’s weer vrede” beteken net die oor­log is verby.

In die Ou Testament is “vrede” baie meer. Vrede is een van die sen­trale woorde in die Ou Testament. As God aan Israel vre­de beloof, beteken dit nie net die einde van vyandelikhede nie, maar dat dit in hulle hele lewe regtig goedgaan. Dit bete­ken goeie oeste, goeie vee-aanteelt, goeie gesondheid, baie kinders – veral seuns – goeie verhoudings, oorwinnings oor die naburi­ge vol­ke, en dit alles onder die seënende hand van die Here.

’n Goeie verhouding met die Here was wesenlik. Om voor­spoed sonder Hom te hê, was onreg. Voorspoed sonder gehoor­saamheid aan die Here was ’n anomalie wat hulle in ernstige geloofstwyfel laat beland het. Psalm 73 is die klassieke voorbeeld. Die psalmdigter kry self baie swaar, maar “die goddelose se oë peul uit van vet” (v 7, 1953-vertaling). Dit is vir hom onbegryplik, want hy dien die Here in alle opregtheid, en saam met die ander “opregtes” bely hy dat God goed is vir Israel (73:1). Na ’n lang en hewige worsteling kyk hy na die goddelose se einde, en dan kry hy gemoedsrus: God sal hom vashou, en aan die einde sal hy in ere by Hom wees.

Dit is moontlik dat hy hier ’n perspektief op die situasie ná die dood het, al is dit baie skaars in die Ou Testament. (*Opstan­ding) Dit bly egter vir die gelowiges in die Ou Testament ’n uiters vreemde situasie dat iemand wat God opreg dien, swaarkry. Al die groot figure was ryk en voorspoedig: Abraham, Isak, Jakob, Dawid, Salomo, Job. (*Voorspoedsevangelie)

In die Nuwe Testament verander dit egter. In die Ou Testa­ment is die normale situasie dat jy vrede het, dus voorspoedig is, as jy God opreg dien. Om God te dien en om sy gawes van voor­spoed te geniet was ’n eenheid. Maar in die Nuwe Testament word hier­die eenheid verbreek. Omdat die bose magte op aarde oorgeneem en die heerskappy van God verduister het, word die kinders van God aangeval en vervolg omdat hulle die Here dien, presies die teenoorgestelde situasie as in die Ou Testa­ment. Die groot vrede word dus uitgeskuif na die toekoms wan­neer Christus weer sal kom om die mag van die Bose te vernietig en die aarde nuut te maak. Dan kom die groot en finale vrede wanneer God by sy kinders op die nuwe aarde sal woon. Dit is ’n omvattende vrede soos ons dit in die Ou Testament gekry het, maar op ’n ander vlak. (*Verheerliking, *Opstanding)

 

Skrywer: Prof Adrio König




Hoe om kop bo water te hou

Hoe om kop bo water te hou – Kobus Kok

Willie vra:

Filippense 4:6 – “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God terwyl julle Hom dank vir alles wat Hy doen. Dan vers 7 ” As julle so bid sal julle God se vrede beleef. ” My vraag is wat presies beteken die vrede waarvan hier gepraat word , hoe ervaar ons dit of hoe moet ons dit reg verstaan?  Vers 7 sê ons sal die vrede beleef- dit klink vir my ons sal dit fisies ervaar? Kan dit wees dat ek my minder sal bekommer en dat ek dan sal kan glo God het die probleem oorgeneem, in plaas daarvan dat ek my tot stilstand bekommer en so op die probleem fokus dat , al bid ek ,my fokus net op myself en die probleem is ?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Hoe om kop bo water te hou volgens Paulus

Hoe hou mens kop bo water wanneer probleme so groot word dat dit vir jou voel of jy daarin gaan verdrink? Dit is die vraag wat Paulus ook op ʼn goeie dag gevra het. Paulus skryf sy brief aan die Filippense terwyl hy in die tronk is. Hy het op verskeie plekke geskryf hoe hy vervolg is, hoe dinge nie volgens menslike planne gegaan het nie, en hoe hy ontsettend moes ly. Tog sien ons by Paulus iets merkwaardigs. Paulus illustreer die vermoë om bo sy slegte omstandighede uit te styg en nie in die see van sy probleme te verdrink nie. Sy geheim? Dankbaarheid en blydskap! In Filippense 4:4 doen Paulus die oproep op sy gelowige vriende dat hulle altyd bly en dankbaar moet wees. Blydskap en dankbaarheid loop hand aan hand. In jou moeilike omstandighede sê jy dankie vir alles wat God jou skenk en vir die gawes wat jy wel het. Dit gee weer dou-druppel energie om vorentoe te beweeg in die woestyn van moeilike omstandighede. Dikwels raak ons so toegegooi en deurdrenk deur alles wat nie reg gaan in ons lewe nie, dat ons heeltemal vergeet wat wel reg gaan. Paulus se geheim is om bekommernisse in gebed te omskep – dan sien mens skielik ook anders. Ek het eenmaal gehoor hoe iemand verduidelik dat wanneer hulle bid, dit vir hulle voel of hulle arendsvlerke kry en so effens buite hulle eie omstandighede kan uitkom en daar van bo af beter sin kan maak van die chaos daar onder. Gebed gee perspektief – God se perspektief op ons lewe. Dikwels praat ons te veel as ons bid en luister te min. Indien ons luister, sal ons spoedig Sy stem hoor wat vir ons ʼn alternatiewe prentjie kom gee in die konteks van ons vrees, stres,  ongelukkigheid en kommer. In gebed kom die geskenk van vrede na ons. God se vrede wat alle rasionele verstand te bowe gaan. Die woord vir vrede in die Hebreeuse taal dui op heelwording en die belofte van vrede, herstel en restourasie. God is in beheer van ons lewe. Al gaan dinge nie altyd soos ons dit beplan nie, kan ons weet dat God weet waar Hy met ons op weg is. Ons moet op Hom vertrou. Indien ons terugdink aan ons lewens, weet ons dat God getrou is. Die digter in Psalm 77 kla aanvanklik baie en betoon sy ongeloof terwyl hy wonder waar God is en uiteindelik sê dat God van hom vergeet het. Maar dan draai die psalm se klaaglied skielik om in ʼn loflied waar die digter terugdink aan God se groot verlossingsdade in die verlede – en dit gee hom hoop dat God hom ook uit hierdie moeilike tyd sal uittrek en na veilige waters sal lei.

Uiteindelik kom dit dus neer op ons gedagtes en manier van dink. In Filippense 4:8-9 gee Paulus die voorskrif aan sy gemeente dat hulle getrou moet bly aan God en dat hulle vas moet staan in hulle vertroue op God en in hulle geloof. Dit gaan dus ten diepste daarom dat mens reg moet dink en reg moet handel. Die woorde en gedagtes wat ons in ons koppe laat ingaan en huisves, bepaal ons hele lewe en bepaal hoe jy gaan reageer. Indien jy klaar hoop opgegee het sal jy passief word en die vrees sal jou verlam en jy sal jou tot stilstand bekommer. As jy positief en hoopvol is, en weet dat God in beheer is dan sal jy geënergeer word en nie vaskyk in jou probleme nie, maar God se wysheid ontvang en antwoorde kry op die pad vorentoe. So fokus mens nie op jouself nie, maar op God.

Lees gerus Prof Stephan Joubert se boek Beheer God Jou Denke?: Die Sleutel Tot ‘n Suksesvolle Geloofslewe is Binne Jou Bereik!

 

Skrywer: Dr Kobus Kok