Spreek jy Vrees of Vrede?

Spreek jy Vrees of Vrede? – Kobus Kok

Wat is jou vrese?

Ons almal vrees iets, ons almal vlug van iets en bou vestingsmure om ons brose harte om ons te beskerm teen die seer wat die lewe ons kan aandoen. Wat is dit wat jy vrees? Sommige mense vrees dat hulle uitgevang gaan word, dat hulle hulle werk gaan verloor, of dat iemand waarvoor hulle baie lief is hulle gaan los. Sommige mense vrees dat hulle verlede en hulle keuses hulle gaan inhaal. Sommige mense het vrees oor hulle toekoms en hulle ou dag. Baie mense vrees die moontlikheid van mislukking of verlies. Hoeveel dinge is daar wat jy vrees? Op watter manier het jy woorde en gedagtes en mites om jou geskep wat soos ‘n donker kombers jou lewe omvou en jou beweging inhibeer?

Die dissipels en hulle vrese

In Sy voetspore het hulle gestap, tree vir tree oor die dorre landskap van Israel – ‘n plek wat in die tyd van Jesus min hoop gehad het. Die magtige Romeinse Ryk het die Jode onderdruk en die meeste mense het sonder noemenswaardige lewensmoontlikhede daarna uitgesien. Die meeste mense in Jesus se tyd het onder die broodlyn geleef. Toe Jesus op die dorre landskap verskyn, het ʼn stroom van nuwe lewende water in die harte van mense begin vloei. Jakobus en Johannes was opgewonde oor die moontlikheid wat hierdie Charismatiese leier vir hulle toekoms ingehou het. Tog het hulle verkeerd verstaan. Jesus was nie ʼn politieke Messias wat met ʼn perd en ʼn swaard sou heers nie. Sy koninkryk het gekom in die vorm van ʼn genesende hand en ʼn ope hart.

Die weerstand teen Jesus en sy beweging het met tyd al groter begin groei – dit sou skaars drie jaar hou. Bykans van alle kante het die teenkanting gekom. Uiteindelik word Jesus gekruisig en die dissipels se grootste vrees en skok word waar. Dit waarvoor hulle letterlik hulle lewe gegee het vir soveel jaar het skielik gestol in impotensie.

In Johannes 20 lees ons hoe die dissipels in vrees vir die Jode agter geslote deure wegkruip. Die Griekse woord “fobos” word deur Johannes gebruik en illustreer iets van die gevriesde status waarin die dissipels in “limbo staat” verkeer het. Hierdie gevriesde status inhibeer moontlikhede. Dit inhibeer kreatiwiteit en lewe in oorvloed. Hierdie tipe vrees verstar.

Jesus se vrede

Maar dan verskyn Jesus skielik op die toneel van die gevriesde, gestolde situasie wat dan op ʼn besondere wyse oopgebreek word in lewe-skeppende moontlikhede. Jesus breek deur die grense van ons eie bestaan as hy deur die geslote deure loop en woorde spreek wat die dissipels se harte van vrees in vrede omskep. Jesus se belangrike woorde spring uit die teks – Vrede vir julle! Vrees inhibeer, vrede aktiveer en energeer. Juis om hierdie rede stuur Jesus sy dissipels dan uit met die woorde: “Soos die Vader my gestuur het, net so stuur ek julle ook!”

Jesus se sending was ʼn liefdes-sending. Dit lees ons in Johannes 3:16. Jesus stuur sy mense om die wêreld nie met gestolde vrees te ontmoet nie, maar met bewegende vrede en liefde te infiltreer met woorde wat lewensmoontlikhede oopmaak en kreatiwiteit ontsluit.

Spreek vrede wat ontvries

Mag my en jou woorde van vrees in woorde van vrede oor-vloei. Spreek vrede in plaas van vrees oor jou lewe. God gee lewe, nie dood nie. God gee geleenthede, nie verleenthede nie. God vries en stol nie, God ontvries en stuur. As ons instrumente in God se hand is deur wie Hy werk, word ons ook geroep om mense te wees wat ander mense se vrese help ontvries deur die Vrede-gewende Lewe wat deur ons vloei.

Video: klik op http://youtu.be/GIKVdryNGBA

Wenk: Kyk gerus na die volgende youtube video waar ek die boodskap in ʼn visuele formaat vir u aanbied. Hou die control knoppie in en Dubbel-klik op die skakel – dit behoort u direk na die video te neem. Alternatiewelik kan die skakel “copy” (ctrl+c) en in internet explorer paste (ctrl+v)

Skrywer: Prof Kobus Kok




Vrees, verlies aan beheer en konflik

Doubt is the refusal to pay the rent to the owner of the vineyard: unwillingness to give up usurped rights over property; the assertion of the autonomy and sovereignty of reason in opposition to the summons to return to dependence on the God who gives and who demands. – Emil Brunner

Vrees, verlies aan beheer en konflik

Vrees vir die verlies aan beheer is dikwels die oorsaak vir teologiese konflik. David G. Brenner, ‘n sielkundige, skryf oor gebeure waar daar verskille oor idees, ideologieë en wat ons van God dink, is. Teologiese verskille is nie noodwendig verkeerd nie – dit moet nie te alle koste vermy word nie. Maar as konflik gesoek, of selfs geskep word, en die verdelings wat volg as die wil van God beskryf word, mag vrees ‘n rol speel. Hierdie vrees is dat jy dalk teologies verkeerd mag wees en dus beheer oor jou persoonlike en groepsverhaal mag verloor.

 

Ons moet egter versigtig wees: die teenwoordigheid van verskille is nie ‘n teken van vrees nie. Dinge soos woede, wen-ten-alle koste, aggressie is wel tekens van vrees. In sy boek, Surrender tot Love: Discovering the Heart of Christian Spirituality, sê Benner onder andere dat een van die dinge wat vryheid van vrees verhoed, is dat mense nie dink hulle is bevrees nie – hulle besef nie die ware aard van hulle innerlike nood nie. Vrees vir eksterne dinge, daarenteen, word maklik herken. Dit is moeilik om hierdie innerlike vrees te identifiseer. Sommige mense vrees intimiteit; ander mense vrees afsondering. Sommige mense vrees verlies aan beheer; ander mense vrees verlies van hulle beeld. Sommige vrees aandag, ander vrees verontagsaming. So kan ons aangaan.

Diegene wat goed is om die bron van hulle vrees te vermy, mag tot die gevolgtrekking kom dat vrees nie deel van hulle storie is nie. Verkeerd. Alhoewel die vrees dalk nie ondervind word nie, is dit steeds teenwoordig en bind ons steeds.

Die voorwerp van vrees is feitlik irrelevant. Mense met vrees stem baie ooreen. Vrees kry ‘n lewe van sy eie. Mense met vrees leef in beperkte grense. Hulle is of baie versigtig en konserwatief of hulle vernou die horisonne van hulle lewens deur vermyding en gedwongenheid.  Hulle is baie waaksaam en sorg dat die lewe nie buite die grense waarbinne hulle gemaklik is, beweeg nie. Daarom lei vrees tot beheer. Mense wat in vrees leef, voel dat hulle in beheer moet bly. Hulle probeer hulleself en die wêreld beheer. Dit spoel dikwels oor na die beheer van ander. Hulle kan hulle nie in ‘n lewe sonder beheer indink nie. Vrees veroorsaak ook dat ons nie teenoor ander reageer nie – vrees onderdruk die impuls vir liefde. Energie nodig om veiligheid en gemak te verseker, put energie benodig vir liefde vir ander uit.

Moenie aanhoudend vrees nie.




Vrees God?

Vrees God? – Dirk Venter

Andre vra:

Iets wat my al ‘n geruime tyd pla, is al die verse in die Bybel wat sê “Vrees/Fear God.” Ek is God se kind en weet dat Hy my liefhet, hoekom staan daar “Fear God” Kan u my dalk help hoe om bogenoemde te verstaan

Antwoord:

Ds. Dirk Venter antwoord:

Vrees God?

Die konsep van die “vrees vir God / die Here” is algemeen in die hele Bybel, en veral in Deuteronomium, die Psalms en die Wysheidsliteratuur (bv Spreuke). Om dit reg te verstaan, moet ‘n mens die “andersheid” van God in gedagte hou. God is nie ‘n mens nie: Hy is almagtig, groot, ontsagwekkend. ‘n Mens kon nie sommer maar net voor sy aangesig verskyn, asof jy met ‘n vriend of dalk ‘n menslike koning gaan praat nie, want jy sou sekerlik sterf (vgl. Eksodus 19:20-22, 1 Konings 19:11-13 ens.)  Om hierdie rede was daar telkens ‘n element van skrik betrokke wanneer God Homself op ‘n manier aan mense openbaar het. Dink bv. aan die brandende bos (Eksodus 3:6) en die verskyning van God op Sinaï (Eksodus 20:18). Om die Here te “vrees” beteken dus om groot ontsag en respek vir Hom te hê, want Hy is die Almagtige God.

Hierdie “vrees vir die Here” staan egter nie teenoor ons liefde vir die Here of sy liefde vir ons nie. Kyk net hoe mooi verduidelik Deuteronomium 10:12-13 (OAV) hoedat “vrees vir die Here” juis beteken om Hom lief te hê: “En nou, Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die HERE en sy insettinge…“. ‘n Diepe ontsag en respek vir God sluit dus ook liefde vir Hom in. En natuurlik word hierdie groot respek wat ons vir God het, wat ook ons liefde vir Hom insluit, ons diepste motivering om Hom te gehoorsaam en te lewe op so ‘n manier dat dit Hom verheerlik. Dis dus nie omdat ons vir God bang is, of bang is dat Hy ons gaan straf, dat ons aan Hom gehoorsaam is nie, maar omdat ons Hom respekteer en liefhet en daarom wil doen wat Hy van ons verlang!

Hoewel aardse ouers nie altyd goeie voorbeelde is nie, kan ons ontsag en liefde vir God tog vergelyk word met kleiner kindertjies se ontsag en liefde vir hul (goeie) pa. Klein kindertjies is bewus daarvan dat hul pa ‘n “grootmens” is, en hulle is nog kindertjies – hy is anders as hulle, hy weet meer en beter, hy is sterker ens. Daarvoor het hulle respek. Verder handhaaf ‘n goeie pa ook die nodige dissipline ten opsigte van sy kinders, met die gevolg dat sy kinders hom respekteer en gehoorsaam, en weet wanneer hulle besig is om ‘n kans te vat! Te midde hiervan het hulle hul pa lief, en hy vir hulle. Om ‘n diepe ontsag en respek vir jou pa / Hemelse Vader te hê, staan dus nie teenoor die liefde wat julle vir mekaar het nie, maar is eintlik juis deel van dieselfde pakket.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter