Die vrou van 2 Johannes 1 – Jan van der Watt

At  vra:

Daar is ook n gedeelte in 2 Johannes 1 waar hy praat van die oudste aan die uitverkore vrou en haar kinders
Johannes was die oudste van al die apostels wat oorleef het en die uitverkore vrou die Kerk en die die kinders persone wat die Evangelie wat Jesus en apostels verkondig het aangeneem het in die geloof.

 Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord: 

In 2 Johannes 1 lees ons dat die skrywer die kort briefie rig aan ‘Die uitverkore vrou en haar kinders’. Die vraag is nou of dit letterlike bedoel is (dit is aan ’n fisiese persoon geskryf) en of dit figuurlik is, met ander woorde dat die ‘uitverkore vrou’ eintlik verwys na die gemeente.

Oor die antwoord op hierdie vraag is daar nogal verskil van mening. Daar is ondersteuning vir altwee opinies. Natuurlik is die belangrikste manier om so vraag te beantwoord om na die konteks te kyk en hier lê die probleem juis. In sommige gevalle lyk dit of die brief vir ’n gemeente geskryf is en soms lyk dit of dit vir die vrou as leier in die gesin geskryf is. Hoe los ons die probleem op?

Ons moet onthou dat die Christene destyds nie in kerk bymekaar gekom het nie, maar in huise (sg. huiskerke). Dit beteken dat die huiseienaar ’n sekere seggenskap gehad het oor wat daar in sy of haar huis gebeur het, hoewel die huiseienaar nie altyd noodwendig die leier van die gemeente was nie (sien 3 Johannes). As ons in 2 Johannes 4 lees dat van die kinders van die vrou nie meer volgens die waarheid lewe nie, en hulle in verse 5-9 aangespreek word soos die skrywer in 1 Johannes die gemeente aanspreek (sien 1 Joh 2:7-11; 4:1-5), dan lyk dit of dit hier om ’n gemeente en nie ’n individuele vrou met haar probleme gaan. Buitendien, word daar nie melding gemaak van ’n vader nie wat ook meer op ’n figuurlike situasie dui.

Aan die ander kant word die woorde vrou en kinders letterlik verstaan en na 2 Johannes 10 verwys waar daar van ’n huis in die enkelvoud (in Grieks) gepraat word.

Die meeste Bybelverklaarders meen egter dat die verwysing na ’n figuurlike vrou (die gemeente) is en nie na ’n fisiese vrou met haar kinders nie. Die ‘vrou en haar kinders’ is eintlik die gemeente. Dit is ’n algemene manier waarop daar na gemeentelede verwys word. Johannes doen dit ook in sy eerste brief (1 Johannes 2:1, 12, 18 ens.) en in Openbaring waar die vrou (die bruid) na die Christene as geheel verwys (Open 19:6-8; 21:2).

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Vroue as predikante – Hermie van Zyl

Johan vra:

Ek sien dat die NG Kerk geswig het onder druk van die wêreld deur vroue as predikante op te lei. Hoekom laat hulle dit toe?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Oor hierdie onderwerp is daar al volledig geskryf op ons webblad, Bybelkennis.co.za. Ek verwys ons vraagsteller dus graag na die volgende artikels:

  • Geloofsvrae: Die vrou in die amp (Adrio König)
  • Vroue in leierskapsposisies? (Kobus Kok)
  • Die vrou in die amp (Hermie van Zyl)

In hierdie artikels behoort die vraagsteller goeie antwoorde te vind waarom die NG Kerk (en ook ander Kerke) vroue tot die predikantsamp toelaat.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die vrou in die amp – Hermie van Zyl

Charl vra:

Slegs uit die Bybel kom die antwoord oor wat God se wil is. Die wêreld mag miskien ‘n opinie hê, maar dit is van geen waarde vir die kind van God nie.

Die feit dat die vrou in die wêreld geleerdheid opdoen en hoë poste beklee mag ‘n impak hê op baie besluite, maar behoort nie in ag geneem te word in ‘n gesprek oor wat die Bybel sê nie. Net soos die populêr aanvaarde norm vandag dat mense saam bly sonder om te trou – dít verander nie die Woord nie.

Die kern, in my nederige opinie, is die gesin. Die vrou is geskape vir die man, uit die man. Sy is geskape as deel van die man en daarom leef hulle as een. Daar mag nie tweespalt wees tussen man en vrou nie. Die gesin moet uit een mond praat en dit is deur die mond van die hoof van die huis.

Dit maak nie die vrou minderwaardig nie. Sy het ‘n doel. Dit is om vir Adam as maat te dien. Maar God leer ons om nederig te wees en ons posisie soos wat hy bepaal het, te aanvaar.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ons vraagsteller gooi sy navraag oor die boeg van die “die vrou in die amp”, maar uit die manier waarop hy die saak verwoord, is dit duidelik dat dit oor meer gaan. Dit gaan eintlik oor die posisie van die vrou teenoor die man, vanuit Bybelse perspektief gesien. En volgens die vraagsteller is die vrou uit en vir die man geskape. Haar hoofdoel is dus om ‘n maat vir Adam te wees. Sy moet hierdie posisie nederig aanvaar en haar nie daarteen verset nie. Dít sou dan die Bybelse weg wees. Geen ontwikkeling wat in die “wêreld daarbuite” plaasvind, kan ‘n streep trek deur hierdie “Bybelse perspektief” nie. Alles wat die sekulêre samelewing aan die vrou wil toeken anders as hierdie “Bybelse posisie” – soos bv gelyke regte in alle opsigte – sou dan per definisie onbybels wees.

Ek hoop dat ek hiermee ons vraagsteller se standpunt reg weergegee het. Ek gaan in my antwoord dan oor hierdie basiese standpuntinname handel en nie soseer oor die vrou in die amp nie, want ‘n mens se siening oor hoe die Bybel verstaan moet word rakende die posisie van die vrou vis-à-vis die man is bepalend vir hoe mens sal dink oor die vrou in die amp.

Ek handel vervolgens eers oor Skrifbeskouing in die algemeen, dan oor die posisie van die vrou, en laastens meer spesifiek oor die vrou in die amp.

Skrifbeskouing. Die meeste kerke opereer lank nie meer met ‘n fundamentalistiese Skrifbeskouing wat wêreldvreemd is in die tyd waarin ons vandag leef nie. Ja, ons erken en bely dat die Skrif gesagvol, betroubaar, duidelik en voldoende is wat kerngeloofsake betref, maar ons erken daarmee saam dat die Bybel as God se Woord ook in mensetaal na ons toe kom. Dit behels dat die Bybel oor ‘n lang periode van meer as ‘n duisend jaar tot stand gekom het en daarom gegiet is in die denkpatrone van die tye waarin hierdie geskrifte ontstaan het. So het baie van die tipies kulturele gebruike en opvattings van hierdie tye ook onmiskenbaar deel geword van die Bybel. As ons dus vandag die wil van God probeer peil vir ons eie tyd, moet ons rekening hou met hierdie tyds- en kulturele afstand tussen toe en nou. Ons kan nie sonder meer elke opvatting en gebruik wat in die Bybel voorkom in daardie selfde vorm as God se wil vir vandag oorneem nie. Neem byvoorbeeld die offerkultus wat so ‘n belangrike rol in die Ou Testament speel. Uitvoerige reëls en voorskrifte word daaroor gegee, maar ons ag ons nie meer vandag daaraan gebonde nie. Hoekom nie? Omdat ons oordeel dat die offerkultus in Christus vervul is en dat dit dus nie meer nodig is om letterlik offerandes aan God te bring nie. Dit is veel belangriker om gehoorsaamheid aan God te bewys, ‘n gedagte wat reeds in die OT voorrang geniet (1 Sam 15:22; Ps 40:7; ens). Hierdie gedagte word in die NT verdiep as Paulus sê dat ons ons hele lewe met alles wat ons doen as ‘n lewende offer aan God moet wy (Rom 12:1-3). Net so is daar baie ander kwessies wat ook nuut bedink moet word in elke tyd waarin die kerk leef. Soos wat die tyd voortgaan, ontstaan nuwe omstandighede wat nie voorheen daar was nie. En die kerk moet hierby aanpas. Want ons moet onthou dat God nie net die God van die Bybel is nie, maar ook die God van die hele wêreld. Ja, God het die ewige verlossing in Christus bewerk, en dit sal nooit verander nie – dít is die kernwaarheid van die Bybel waaruit ons leef – maar God openbaar Hom ook in die natuur en in die samelewing, en Christene moet ‘n fyn neus ontwikkel vir waarheen God met ons op pad is. Alles moet natuurlik getoets word aan die kernwaarheid van die Bybel soos hierbo geskets, maar dit beteken nie dat ons nuwe ontwikkelinge summier kan afwys net omdat ons nie ‘n teks in die Bybel daarvoor het of omdat daar tekste is wat na ons mening iets anders sê nie.

Die Bybel behou dus vir seker sy gesag vir gelowiges vir alle tye. Maar ons moet onderskei tussen die teologiese of godsdienstige gesag van die Bybel, enersyds, en sy historiese gesag, andersyds. Wanneer ons sê dat die Bybel die gesagvolle Woord van God is, doen ons primêr ‘n uitspraak oor die godsdienstige gesag van die Bybel en nie oor sy historiese geloofwaardigheid nie. Dit behels dat die Bybel gesagvol spreek oor sake wat die kern van ons verhouding met God en ons naaste raak, maar nie noodwendig oor historiese aangeleenthede nie. Byvoorbeeld, die Bybel praat met gesag wanneer hy sê dat Christus vir ons sonde gesterf het, of dat ek God bo alles moet liefhê en my naaste soos myself. Maar ons hoef nie die Bybelse uitspraak dat die aarde plat is en op vier pilare rus, as gesagvol te aanvaar nie. Laasgenoemde het te make met die spesifieke wêreldbeeld van die antieke mens waarin ons nie meer deel nie. Hiermee word nie beweer dat al die historiese gegewens in die Bybel ongeloofwaardig is nie – glad nie! Al wat gesê word is dat die gesag van die Skrif nie primêr in die histories-kulturele gegewens lê nie. Christengelowiges moet voortdurend probeer peil waarin presies die gesaghebbendheid van Bybeluitsprake vandag geleë is.

Die Skrifbenadering soos hierbo geskets, waarmee ek my graag vereenselwig, sou ons soos volg kon saamvat:

Die feit dat ons bely dat die Bybel God se Woord is, beteken nie:

* dat die Bybel vereis dat ons ons denkvermoë, wat ‘n gawe van God is, moet opoffer nie;

* dat die Bybel gesien kan word as ‘n eksakte handboek vir historiese of wetenskaplike kennis nie;

* dat die hele Bybel so maklik is om te verstaan dat enige mens selfstandig en onmiddellik alles daarin kan begryp nie;

* dat die Bybel vir ons die volle kennis oor alle aspekte van die werklikheid gee sodat geen verdere menslike nadenke of navorsing nodig is nie.

Posisie van die vrou. Indien mens nou bogenoemde Skrifbenadering toepas op die kwessie van die vrou se posisie in die samelewing – destyds én vandag – is dit miskien die maklikste om dit aan die hand van wat Paulus oor man en vrou in die huwelik sê, te beredeneer. En dan kan ons van hieruit die implikasies vir die vrou se posisie in die breër samelewing probeer aflei.

Ons moet begryp dat baie uitsprake in die Bybel oor die verhouding tussen man en vrou teen die agtergrond van die algemene opvatting in die antieke midde-Ooste hieroor verstaan moet word. Ons weet dat dit ‘n mangesentreerde samelewing was. In die antieke tyd het ons ‘n streng patriargale samelewing gehad waar daar nie veel beweegruimte vir die vrou was nie. Haar hele lewe het gedraai om die man as die enigste een wat werklik regte, mag en gesag gehad het. Die bietjie regte wat vroue geniet het, het hulle gehad by die grasie van die man. En binne die Joodse gemeenskap was dit verder die opvatting dat die vrou kragtens die sondeval ‘n permanente ondergeskikte posisie ten aansien van die man het (Gen 3:16; 1 Tim 2:12-15).

Ons moet dus nie van Bybelskrywers verwag dat hulle ewe skielik sou ontpop as tipiese 21ste eeuse kampvegters vir vroueregte nie. Wanneer hulle oor die vrou skryf, word die algemene destydse opvattings oor die vrou outomaties gereflekteer in hulle uitsprake. Tog is daar aanduidings dat veral Paulus anders begin dink het oor die posisie van die vrou. Neem bv Ef 5:21-33 waar hy oor man en vrou in die huwelik handel. Gewoonlik haal mense net Ef 5:22-23 aan waar staan dat die vrou aan die man onderdanig moet wees, siende dat hy die hoof van die vrou is. Maar gerieflikheidshalwe word die res van die hoofstuk weggelaat waar verduidelik word hóé die man se hoofskap oor sy vrou nou eintlik lyk. Hierdie siening van Paulus – dat man en vrou vennote in die huwelik is (kyk verder onder) – word veral gedra deur wat hy in Gal 3:28 sê, dat daar in die oë van God geen onderskeid is tussen Jood en Griek, vryman en slaaf, en man en vrou nie; in Christus is hulle één. Dat man en vrou gelyk is in die oë van God, dat die man geen voorrang bo die vrou geniet nie, was in terme van die algemene opvattings van daardie tyd niks minder nie as ‘n rewolusionêre uitspraak.

En dit is vanuit hierdie inklusiewe denke van Paulus dat ons nou meer spesifiek na sy uitsprake in Ef 5:21-33 oor die rol van man en vrou in die huwelik kan kyk. Vir daardie tyd se mangesentreerde samelewing het Paulus nogal radikale uitsprake oor die huwelik gemaak, wat terselfdertyd rigtinggewend is vir ons vandag. Ja, Paulus gebruik in 5:22 die bekende terminologie van sy tyd (vrouens, wees onderdanig aan julle mans), maar dít is nie die eintlike punt wat hy wil maak nie. Die hele trant van sy betoog in Ef 5:21-33 lê ingebed in 5:21: “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.” Die vrou én die man kry die opdrag om onderdanig te wees. Dít moes vir die destydse man ‘n nuwe konsep gewees het. En om dit verder in te vryf, sê Paulus vervolgens dat mans hulle vrouens moet liefhê (v25). Pligte, ja, maar liefhê? Nog ‘n nuutjie. En boonop liefhê soos hulle hul eie liggame liefhet en versorg, én soos Christus sy gemeente liefgehad het deur sy lewe vir hulle op te offer. Dit alles moes vir daardie tyd se mans na radikale uitsprake geklink het, omdat die verhouding tussen man en vrou nie juis in terme van liefde verstaan is nie (dis ‘n moderne konsep), maar in terme van respek en eerbied (vrou teenoor man) en pligte (man teenoor vrou). Maar nou bind Paulus man en vrou in liefde aan mekaar, en hierdie liefde word gedefinieer vanuit Christus se alles-opofferende liefde vir die kerk en hoe die man normaalweg sy eie liggaam versorg.

Kom ons sê dit in die woorde van Gen 2:18: Man en vrou is metgeselle van mekaar; hulle vul mekaar aan omdat hulle mekaar se gelykes is. Daarom dat in Ef 5:25-30 die man se hoofskap geherdefinieer word: Goed, as jy dan hoof (l w: nie “baas” nie) van jou vrou wil wees, moet jy die volgende doen: wees haar “verlosser” (m a w, bevry haar van sleur, maak vir haar die lewe so aangenaam moontlik); wees lief vir jou vrou soos Christus die gemeente liefhet en sy lewe vir haar opgeoffer het; wy jou aan haar en dra haar belange op die hart; versorg haar soos jy jou eie liggaam versorg. Hoofskap het dus niks te make met baasspelerigheid nie, maar alles met diensbaarheid.

Vir die vrou word daar eintlik nie veel gesê nie, behalwe dat sy aan haar man “onderdanig” moet wees (soos die man aan haar “onderdanig” is – 5:21) en hom moet respekteer. Nou, sou ek wou byvoeg, watter vrou sal nie aan haar man “onderdanig” wil wees as sy so deur haar man op die hande gedra word nie? Maar dit gaan eintlik oor ‘n wedersydse onderdanigheid, maats wees vir mekaar, ondersteunend dáár wees vir mekaar.

Dít is die liefdesorde wat God vir die huwelik daarstel. En binne hierdie orde kan man en vrou die verdeling van rolle, pligte en verantwoordelikhede orden soos dit hulle die beste pas. Hoe man en vrou hulle onderskeie rolle vervul, het baie te make met die tyd en die soort sosiale opset waarbinne hulle leef, hulle persoonlikhede en opleiding, watter geleenthede beskikbaar is, ens.

Punt is: Paulus herinterpreteer die hoofskap van die man radikaal. Nie baasspeel en gewig rondgooi nie, maar dien en versorg.

Verder, ek glo dat hierdie uitsprake in Ef 5 wat primêr op die huwelik gemik is, ook as metafoor kan dien vir die vennootskaplike verhouding tussen man en vrou in die breër samelewing. Uiteraard verskil man en vrou, so is ons immers deur God gemaak. En dit moet ook ten volle eerbiedig word. Daar mag dus bepaalde rolverdelings wees wat pas by die eie aard van die man en die vrou. Maar dat die man in ‘n permanente heersersrol oor die vrou geplaas is, is nié die boodskap van die Bybel nie. Dis nie wat hoofskap beteken nie. Ek dink ook nie dat in die tyd waarin ons leef vandag die konsep van “hoofskap” van die man nog enigsins ‘n rol het om te speel nie.

Vrou in die amp. Laastens, vanuit bovermelde herposisionering van man en vrou in die huwelik (en in die samelewing), net ‘n paar opmerkings oor die vrou in die amp. Gewoonlik word baie klem gelê op 1 Kor 14:33-35 en 1 Tim 2:11-12 waar gesê word dat die vrou nie toegelaat word om in die gemeentelike byeenkomste te praat of onderrig te gee nie. Maar dan word gerieflik vergeet dat in 1 Kor 11:5 Paulus wel melding maak van vroue-profete wat in die gemeente opgetree het. En hoewel Paulus ‘n bepaalde orde vir man en vrou handhaaf in 1 Kor 11, noem hy in dieselfde asem dat vrou en man gelyk is voor God: ook die man is nie sonder die vrou nie, en in elk geval is beide onder God se gesag (1 Kor 11:11-12). Paulus werk dus in die rigting van die gelykheid van man en vrou voor die aangesig van God. En, soos reeds genoem, in Gal 3:28 stel hy dit ronduit dat man en vrou in Christus dieselfde status geniet. Dít is vir Paulus die belangrikste. Ja, die vroue moet ter wille van die vrede en hulle diensbaarheid in die gemeente die orde aanvaar soos deur God bepaal, maar die eintlike ding wat Paulus wil sê – revolusionêr vir sy tyd! – is dat God man en vrou gelyk ag voor sy aangesig en dat elkeen vanuit eie aard God van harte moet dien.

Dit is dus duidelik dat daar in Paulus se denke reeds ‘n prinsipiële en beslissende verskuiwing ingetree het oor die posisie en rol van die vrou in die huwelik, kerk en die breë samelewing. Ja, daar is in Paulus se gemoed nog ‘n proses aan die gang om hom aan die spesifieke kulturele voorskrifte, gebruike en taboes van sy tyd rakende die vrou te ontworstel, maar dit verander niks aan sy basiese oortuiging nie.

Dis is om hierdie rede dat baie kerke vandag volle status aan die vrou in al die kerklike ampte toeken. Dit mag vir sommige in teenspraak met bepaalde uitsprake van die Skrif wees, maar nie as die basiese uitgangspunte van Paulus en die Skrifbeskouing wat ek hierbo as vertrekpunt geneem het, in ag geneem word nie. Die punt is: Dit gaan nie oor die klakkelose repetering van tekste op die klank af nie, maar oor die Skrifmatige hantering van die Bybel, d w s, na sy bedoeling en teen die historiese agtergronde waarin die Skrifuitsprake voorkom.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Hoofbedekking van vrouens – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Hoofbedekking

1.1 Wat word bedoel met vroue moet hul hoofde bedek “ter wille van die engele” (1 Kor 11:10)?

1.2 Watter tipe bedekking word bedoel?

1.3 Is die verwysing na enige vrou, of getroude vrouens?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

  1. Hoofbedekking

1.1        Wat word bedoel met vroue moet hul hoofde bedek “ter wille van die engele” (1 Kor 11:10)?

Net eers ‘n bietjie agtergrond om hierdie vers in sy konteks te plaas: Paulus is in 1 Kor 11:2-16 besig om ‘n netelige situasie in die gemeente rakende die erediens te ontlont (11:4-5 – “bid of profeteer” – dui op handelinge in die openbare erediens). Daar was blykbaar vroue wat hulle nuutgevonde vryheid in Christus gebruik het om téén die gebruike van die tyd in sonder hoofbedekking die erediens by te woon (oor die hoofbedekking van vroue, kyk verder onder 1.2). Dit het baie gemeentelede ontstem, want dit het ‘n konnotasie met losbandigheid en prostitute meegebring. Loshangende hare, of hare wat heeltemal afgeskeer was, is veral met opstandigheid, losbandigheid en prostitute in verband gebring (vgl Paulus se argument in 11:5-6). Gemeentevroue wat hieraan meedoen, se goeie reputasie kom dus onder verdenking. Die situasie in die gemeente het gedreig om hande uit te ruk en Paulus probeer nou om orde te skep. Hy doen dit deur veral vier argumente te gebruik: die teologiese orde (11:3-7), die skeppingsorde (11:8-10), die natuurlike orde (11:14-15), en argumente uit die sosiale gebruike van destyds (die hele kwessie van vroue se haredrag, 11:5-6,10). Paulus se basiese argument is een van orde: dat God die hoof is van Christus, Christus die hoof van die man, en die man die hoof van die vrou. Die man en vrou moet daarom, volgens die gebruike van die tyd, ‘n sigbare aanduiding hê van hierdie gesagsverhoudings. En volgens die sosiale gebruike van destyds was ‘n hoofbedekking aanduiding dat die vrou die man se gesag aanvaar en haarself so gewillig laat inskakel by God se orde vir die gemeente.

Terloops, dit is moeilik om te sê of Paulus hier net van die getroude vrou praat. Nêrens word dit eksplisiet gesê nie. Vanuit wat ons weet van destyds, sal dit in die eerste plek hier gaan oor die getroude vrou, hoewel dit tog lyk asof Paulus opmerkings maak oor die posisie van man en vrou in die algemeen, getroud of nie.

In 11:10 maak Paulus dan melding van die dra van die hoofbedekking “ter wille van die engele”. Dit is deel van die skeppingsorde-argument. Engele het in die Joodse teologie van destyds ‘n belangrike bemiddelende rol gespeel. Hulle het dikwels as God se boodskappers opgetree (vgl Luk 2:10), en volgens Paulus het God selfs sy wet deur middel van engele aan die volk Israel gegee (Gal 3:19). Selfs nadat die skepping tot stand gekom het, het die engele/hemelwesens ‘n rol gespeel (Job 38:7). Hulle is getuies van alles wat God doen (1 Kor 4:9; Ef 3:10; 1 Tim 5:21). Hulle is dus ook getuies van die orde wat God in die skepping daargestel het vir man en vrou. Die mees voor die hand liggende verklaring vir “ter wille van die engele” is gevolglik dat Paulus die vrou oproep om nie net ter wille van die man nie, maar ook ter wille van die engele wat alles volgens God se orde wil laat geskied, die hoofbedekking te dra as simbool van haar aanvaarding van God se skeppingsorde. Paulus voer waarskynlik die engele in die argument in om dit vir die vrou makliker te maak om God se orde te gehoorsaam. As sy miskien nog twyfel oor die man se gesag, dan kan sy tog nie twyfel hê oor die engele nie. Hulle is God se diensknegte in die hemel. Ook hulle verwag dit van die vrou; hulle waak immers oor God se gesag, en die vroue wil hulle tog nie teleurstel wees nie.

Net vir die interessantheid: Daar is ook ‘n ander verklaring vir die uitdrukking “ter wille van die engele”, naamlik dat vroue ‘n hoofbedekking moet dra om hulle te beskerm teen die blikke van (bose) engele wat die vroue dan sou wou verlei (vgl Gen 6:2). Daar is egter te veel besware teen hierdie verklaring om dit ernstig te neem (bv, Paulus verwys nooit na bose engele in sy briewe nie). Dié verklaring word dus daar gelaat.

Dít is dan hoe die saak staan met die argument vir destyds. Die vraag is nou: wat moet ons met Paulus se argument maak vir vandag? Het dit nog enige relevansie vir hedendaagse kerklike verhoudings tussen man en vrou, of selfs vir die kleredrag van vroue – in die algemeen en in die kerk? Dit is duidelik dat Paulus se hele argument geklee is in die opvattings van destyds. Hy probeer verhoed dat ‘n potensieel plofbare situasie hande uitruk en die gemeente skade ly. Daarom waarsku hy dat mense nie twisgierig moet wees nie (11:16). Dis asof hy daarmee wil sê: die hoofbedekking-kwessie is na alles nie so belangrik nie; wat belangrik is, is julle gesindheid en houding oor en diensbaarheid in die gemeente volgens die orde wat God daargestel het. Aanvaar dit en konsentreer op die belangrikste dinge. Hy volg dieselfde strategie later ook in 1 Kor 13:13. Wanneer hy die gawes van die Gees behandel in 1 Kor 12 en 14, wat baie emosie gaande gemaak het, handel hy tussenin (1 Kor 13) oor die belangrikste, die liefde. Dis asof hy wil sê: die gawes is belangrik, maar die heel belangrikste is die liefde; daarsonder beteken die gawes eintlik niks.

Verder moet ons ook opmerk dat hoewel Paulus ‘n bepaalde orde vir man en vrou handhaaf in 1 Kor 11, hy in dieselfde asem ook noem dat vrou en man gelyk is voor God: ook die man is nie sonder die vrou nie, en in elk geval is beide onder God se gesag (11:11-12). Paulus werk dus in die rigting van gelykheid van man en vrou voor die aangesig van God. In Gal 3:28 stel hy dit ronduit dat daar nou in Christus nie meer man of vrou is nie, maar dat beide een is in Christus. Dít is vir Paulus die belangrikste. Ja, die vroue moet ter wille van die vrede en hulle diensbaarheid in die gemeente die orde aanvaar soos deur God bepaal, maar die eintlike ding wat Paulus wil sê – revolusionêr vir sy tyd! – is dat God man en vrou gelyk gemaak het voor sy aangesig en dat elkeen vanuit eie aard God van harte moet dien. In Ef 5:21-33, waar Paulus ook oor die verhouding tussen man en vrou handel (hier spesifiek oor die getroudes), sê hy ronduit dat man en vrou aan mekáár onderdanig moet wees – uit eerbied vir Christus (5:21). En hoewel hy later praat oor die man as hoof van die vrou, gaan dit vir hom meer daaroor om die man in te bind onder die gesag van Christus en om hom dit op hart te druk dat hy as hoof van die vrou haar moet versorg en liefhê soos Christus die gemeente liefhet (5:25-30). Dit gaan dus nie daaroor dat die een oor die ander heers nie, maar dat hulle mekaar in liefde dien.

Mens kan dus nie vanuit 1 Kor 11:2-16 op ‘n reglynige manier vandag daarop aandring dat vroue moet aantrek soos in die antieke tyd (hoofbedekking) as aanduiding daarvan dat hulle die man se hoofskap aanvaar nie. Dit was spesifieke opdragte vir ‘n bepaalde tyd en sosiale omstandighede. Intussen het opvattings verander en leef ons in ander tye. Die klem behoort nou meer te val op die vennootskaplike verhouding tussen man en vrou – waar take, verantwoordelikhede en wedersydse respek op ander maniere uitgeleef word as destyds. God se orde kan steeds gerespekteer word – mans hoef nie vroue te wees, en vroue nie mans nie, maar elkeen moet na eie skeppingsaard uitdrukking gee daaraan dat hulle gelyke vennote van mekaar in diens van God is.

 

1.2        Die tipe hoofbedekking wat destyds gegeld het, verskil van volk tot volk en van streek tot streek. Historiese ondersoek toon duidelik dat daar nie ‘n absolute eenvormige drag vir vroue was nie, ook nie wat die hare betref nie. Sommige het slegs die hare opgebind met ‘n ornamentele bandjie of strikkie in die hare (amper soos wat mens vandag sien), ander het sommer die los oorrok hoër opgetrek sodat dit die kop toegemaak het, nog ander het die tipiese loshangende sluier gedra wat die hare en soms ‘n gedeelte van die gesig bedek het. Ons kan dus nie met alle sekerheid sê dat ‘n vrou wat destyds in die openbaar sonder ‘n sluier verskyn het, sonder meer as iemand met losse sedes gesien sou word nie. Wat ons wel kan sê, is dat Joodse vroue, waar hulle ook al gewoon het in die destydse Romeinse Ryk, oor die algemeen meer beskeie geklee gegaan het as die gemiddelde Griekse of Romeinse vrou. Die meeste Joodse vroue het in die openbaar gesluier gegaan, wat die kop en gesig taamlik dig gesluier gelaat het sodat in bepaalde gevalle selfs die gelaatstrekke nie sigbaar was nie. Maar ook hier was daar nie ‘n vaste patroon nie.

Wat Paulus se voorskrifte oor die vrou se drag in 1 Kor 11 betref, moet ons eerder aanvaar dat hy na ‘n tradisie verwys wat in die kerke gevolg is wat uit sy bediening tot stand gekom het (11:16). Dit het spesifiek oor die drag en gedrag van vroue in die erediens gehandel. Hieroor was daar waarskynlik ‘n bepaalde tradisie waar vroue gesluier gegaan het (vgl 11:2) en wat breedweg met die sosiale patrone van destyds verband gehou het. Miskien het Paulus in navolging van strenger Joodse gebruike daarop aangedring dat vroue meer beskeie in hulle kleredrag moet wees en nie die avant-garde modegiere van bevryde Griekse en Romeinse vroue, in die kerk moet invoer nie. In die gemeentes van Christus gaan dit nie oor persoonlike vryheid wat ten alle koste nagejaag moet word nie, maar oor die onderwerping aan God se orde en gesag. En vir Paulus het dit tot uitdrukking gekom in ‘n meer beskeie kleredrag vir vroue, wat die sluier ingesluit het. Die klem moet op aanbidding en diensbaarheid val, nie op persoonlike vryheid en die nuutste modegiere nie.

1.3        Reeds beantwoord onder 1.1 hierbo.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl